5 bladsye.

Die Erediens van Sondag en die Erediens van die Lewe

kerk🔗

1. 'n Groot Misverstand🔗

Die wese van die erediens kan nie voldoende verstaan en beleef word nie as dit slegs gesien word soos dit op 'n Sondag funksioneer. Die eintlike sin en betekenis daarvan kom tot openbaring wanneer die erediens van die Sondag waar word in die erediens van die lewe. In die geskiedenis en vandag word hierdie twee groot sake te veel geskei. Dit kan na een van twee kante geskied. Dit kan gebeur dat die erediens losgemaak word van die lewe en 'n bestaan op sy eie gesoek word. So sterf dit en verloor dit sy karakter as ware erediens. Dan word dit 'n mistieke kultus in die sin van die heidene. Aan die ander kant kan die klem so val op die lewe dat die erediens as 'n tydverkwisting en 'n ongeregverdige luukse beskou word. Die "erediens" van die lewe is dan alles. Ook dit is 'n miskenning van die eer en dien van God. Só 'n godsdiens word gou verwêreld­lik en verloor sy betekenis. Dit is immers afgesny van sy lewensbronne.

2. Die Allernouste Wisselwerking tussen die Erediens en die Daag­likse Lewe🔗

Nie slegs om praktiese redes of in 'n afgeleide sin is die erediens van die Sondag en die erediens van die week 'n onskeidbare eenheid nie, maar dit vloei wesentlik uit die wese van die erediens voort. Waar hierdie eenheid deurgesny word, word die erediens in sy wese aangetas.

Die kerk in sy erediens kan hom nooit afsluit van die lewe en nood van die wêreld nie. Daarheen moet die erediens altyd lei en van daaruit word die erediens gekonfronteer. Aanbidding wat nie betrek­king het op die daaglikse lewe nie, is onwerklik, lewensvreemd en kragteloos, en versuim sy ware doel. Op geen manier mag die ere­diens losgemaak word van die lewe nie. Op geen manier mag die aksent óf op die een óf op die ander gelê word nie. Verder moet dit ge­sien word as 'n ritme waar albei reëlmatig ter sprake kom. Alleen in die gesonde wisselwerking tussen die erediens op Sondag en die erediens van die lewe kan die erediens reg verstaan word. Hierdie ritme kan op verskillende maniere en deur verskillende beelde ge­teken word:

saamkom en uitgaan
terugtrek en terugkeer/te voorskyn tree
ontvang en gee
hoor en verkondig
bid en werk, ora et labora
inasem en uitblaas
verenig en uitstrooi

die sistoliese en diastoliese werking, soos by die pomp en ver­samel van die bloed deur die hart — die erediens word as die hart van die gemeente gesien:

so the cult is for church life a pump which sends into circulation and draws in again, it claims and it sanctifies. It is from the life of worship ... that the Church spreads itself abroad into the world to mingle with it like leaven in the dough, to give it savour like salt, to irradiate it like light, and it is towards the cult ... that the Church returns from the world, like a fisherman gathering up his nets or a farmer harvesting his grain. The only parochial activities which have any real justification are those which spring from worship and in their turn nourish it.J.J. van Allmen, antw., 55, 56

Die hele lewe moet wees 'n verheerliking van God, maar veral in die erediens moet dit op 'n besondere wyse skitter en met volle akkoord opklink.

Die erediens en die alledaagse lewe se verhouding tot en betrok­kenheid op mekaar is gesien soos die klein en die groot bloedsom­loop in die menslike liggaam:

Soos die gemeente oop moet bly na die wêreld toe, so moet ook sy erediens na die wêreld oop wees… Alles wat in die erediens 'liturgies' geskied, elke enkele liturgiese element, staan in die nouste verband met die aldag, tot die lewe in die wêreld van die hede… Die erediens wat liggaamlik die hele lewe omvat. Erediens van die vergaderde gemeente en die ere­diens van die aldag staan tot mekaar in die verhouding soos die klein en die groot bloedsomloop in die liggaam. Deur die klein bloeds­omloop word die bloed gesuiwer/vernuut en deur die groot bloedsomloop gevoer na alle organe en ledemate.J. Dürr, Der reformier­te Gottesdienst und die liturgische Erneuerungsbewegung, Theol, Studien, 58, 1959, 10, 11

Bloedsomloop

Die erediens word gesien as ekklesia en diaspora, as versameling en verstrooiing (E. Lange, Chancen des Alltags, 1966, 141); as twee konsentriese sirkels:

Die erediens en die daaglikse lewe van die Christene staan nie teenoor mekaar as twee samehangende, maar afsonderlike sfere nie, maar soos twee konsentriese sirkels, waar­van die erediens die binneste is en van waaruit ook die buitenste sy inhoud en karakter kry.K. Barth

3. Die Bring van die Wêreld en Sy Nood voor die Aangesig van God🔗

Die mens en sy nood soos hy in die lewe van elke dag lewe en werk, gaan nie by God verby nie. Dit mag wees dat dit die nood van die gelowiges en die kerk is, maar ook van die nie-gelowige wêreld. Ook daaroor gaan die sorg van die Here. Hierdie mensewêreld met sy gekompliseerde en veelgestaltige behoeftes en stryd, moet steeds in die erediens voor die aangesig van die Here gebring word. Dit word ge­doen deur die voorbidding, die prediking, maar ook deur die hele houding en opset van die erediens. Om dit te kan doen moet die gelowiges en die gemeente as sodanig werklik in die wêreld wees, die mensewêreld van naby ken en die diepste nood duidelik kan stel — ons moet "borrow God's eyes to look at the world" (M. Quoist). Die nood is nie in die eerste plek allerlei regte en allerlei politieke en sosiale voorregte of vermeende voorregte en welsyn nie, maar die nuwe verhouding tot God, die bevryding van sonde en skuld en die nuwe lewe uit Christus.

Baie van die vroeëre kerke het hoë mure gehad met pragtige ge­brandskilderde vensters en hoë boë wat die oog en die aandag en die hele gang van die erediens gerig het na "bo", na God en die mens weggetrek het van die wêreld met al sy gewoel en ellende. So maklik het dit in praktyk daartoe gelei dat die aanbidders in die erediens nie die mensewêreld raakgesien het nie. Tans is die nuwe neiging om die kerke so te bou dat die vensters oop is na die straat en na die mens; die mure is laag en die blik val so skerp op die straat en die mens dat dit weer dreig om die blik weg te trek van God. Die ere­diens is in afsondering, maar dié erediens moet deurskynend, trans­parant word dat sy lig in die wêreld skyn.

Ook die gemeentelede wat gedurende die week verstrooid in die wêreld leef en werk, wat in hulle geloof moeg word, wat in baie op­sigte struikel en aangeveg word, kom dan hier vanuit die "wêreld" na die erediens.

Die kern van die saak is dat die gemeentelede op 'n Sondag in die erediens saamkom, verenig voor die aangesig van God met al hulle node, stryd, hulle neerlae, hulle aanvegting, hulle ontrouheid maar ook met hulle vreugde en oorwinnings. Hier waar hulle voor die aangesig van hulle Heer verenig word met mekaar en met Hom, daar kom hulle nie alleen nie, maar stel daarmee saam die wêreld en sy node voor die Here. Ons kan ook sê dat hulle plaasvervangend en verteenwoordigend van die wêreld voor die Here staan, intree en voorbidding doen. Juis omdat die gemeente deur die week so vol­op in die wêreld was, is hulle in 'n goeie posisie om die wêreld te ken na sy ware aard en daarmee ook voor die Here kom staan.

4. Die Bring van die Here se Genade na die Wêreld🔗

Dit is die om­gekeerde aksie van bogenoemde. Nou word juis vanuit die wonder­like omgang met die Here en die deelhê aan sy genade, waar die lidmate versterk en vernuut is, opnuut hulle roeping en taak ver­staan en besef het en die toerusting daarvoor ontvang het, weer die boodskap van die Here deur woord en daad, spontaan en georgani­seerd, op elke terrein van die lewe, uitgedra na die mense in die wêreld. Dit is mense wat nog nie van die Here gehoor het nie of wel gehoor het maar 'n skewe beeld van die Here en sy verlossing het. Die ware beeld van wie Jesus Christus is, word nou uitgedra en waar gemaak deur die lewe van die gemeentelede. Die erediens van die Sondag word nou voortgeset in die gewone lewe onder diegene wat dit nie meegemaak het nie, dit nie ken nie en allerlei verkeerde opvattinge daarvan het. Die wyse waarop die gelowiges die nuwe lewe uitlewe, voorlewe, moet waar maak en bevestig dat hulle in­derdaad 'n erediens gevier het en dat dit eg is.

ouers en kind

Die Nuwe Testament is vol indirekte verwysinge daarna dat in die erediens die gemeente kom en die Naam van die Here aanroep, Hom erken en as sodanig dien. Maar die Here wie se Naam in die erediens bely en aangeroep word, troon in die hemel en heers oor die wêreld. Die gelowiges erken dit, maar nie die mense van die wêreld nie. Hierdie erkenning van die Here se heerskappy in die wêreld geskied deur die gelowiges, al is dit nog so gebrekkig. E. Lange beklemtoon dit dat die boodskap van Jesus Christus in die wêreld vlees moet word deur die gelowiges en hierin is God self aan die werk. Goed het V. Pollanus dit raakgesien: Dat God in die erediens is, sal die duidelikste moet blyk in die lewe; dat Hy daar was op dien Sondag, sal moet uitkom deur die week.

Wat dit juis so moeilik maak, maar tegelyk so 'n heerlike ver­antwoordelikheid is wat op elke aanbidder van die Sondag rus, is dat in die week die gelowiges gewoonlik alleen, dikwels aan die verskillende fronte waar Christus nie erken word nie, die erediens van die Sondag moet waarmaak. Oral word hy op die proef gestel en is dit 'n worsteling om in alles getrou te bly. Die gelowige kan swig voor die aanvegting en sy Here verloën — dit is erg. Veel erger is dit as sy geloof sterf omdat hy vlug vir die aanvegting, en so toe­gee aan 'n veel groter aanvegting. Ons moet so naby aan die Here leef, dat ons inderdaad iets het om aan die wêreld uit te deel.

5. Die Erediens as Afkering van en Toekering na die Wêreld🔗

Die Christene wat op 'n Sondag uit die wêreld opgaan om saam met die ander gelowiges die Here te dien en te aanbid, breek met die wêreld. Hulle gee daarmee te kenne: ons is bevry van die wêreld en sy gees en sy ongeloof; ons laat ons nie vashou daarin nie; ons het 'n groot ontdekking gemaak; ons leef uit 'n ander beginsel en is inge­skakel by 'n ander wêreld en leef vanuit 'n ander aeoon, 'n ander bedeling waarvan Jesus Christus die Here en Hoof is. Dit is duide­lik 'n afgrensing van die wêreld.

Waar die gelowiges kom tot 'n duidelike grensbepaling teenoor die wêreld en erken daar is 'n andersheid, daar bejeën die wêreld die gemeente en sy erediens met 'n vyandigheid of verset, en trag om dit ongedaan of kragteloos te maak.

In die erediens deur die hele verloop daarvan, waar Jesus Christus as die Here erken en bely word, waar bely word dat Hy die Wêreld-heiland is en as die Regter sal kom om te oordeel die lewende en die dode, en dat die hele bestaande wêreld onder die oordeel van God lê, beteken dit duidelik dat die ware aard van die wêreld ge­sien word en dat hy raakgesien word as onder die oordeel van God.

Tog is die hele voorbidding vir die nood van die wêreld en die uitdra van die boodskap van die Here na hom, tegelyk 'n heerlike belofte om ook te kom en te deel in hierdie nuwe werklikheid.

Die gelowiges in die erediens en daarbuite moet steeds na die wêreld kyk sonder oogklappe, hom sien in sy ware aard en nood, en dit onderken en verhelp. Nooit mag egter die gelowiges resloos en kritiekloos opgaan in die wêreld nie; nooit mag die aansluiting by die wêreld 'n vereenselwiging daarmee wees nie; nooit mag die erediens so oopstaan na die wêreld dat hy doodbloei na binne nie.

Daar moet inderdaad 'n toegespitste toekering tot die wêreld in sy nood wees, maar tegelyk 'n duidelike afgrensing. Alleen so kan die erediens die Godgewilde taak in die wêreld verrig.

gebed🔗

6. Lewe in die Drievoudige Amp in die Wêreld🔗

Die gelowiges wat op 'n Sondag saamgekom het om die Here te dien en te verheerlik, moet in die erediens deur die week veral lewe in die drievoudige amp waarin elke gelowige geroep is, naamlik as profeet, priester en koning, en hierdie drie "ampte" hang ten nouste saam. Dit is drie sye van dieselfde roeping. Ook hang dit ten nouste saam met Chris­tus as die groot Ampsdraer wat die drie ampte heerlik vervul het en van waaruit die drievoudige amp van die gelowiges gevoed en gedra word.

Die Profetiese Amp:🔗

Die profeet is die persoon wat nougeset luister na wat God in sy Woord gesê en bedoel het, soos dit ook in die erediens tot uitdrukking kom, en dan moet hy hierdie woord in die daaglikse lewe spreek. Hy moet dit uitlê, dit vertolk, dit uitspel en al­tyd weer na sy ware bedoeling verkondig. Dit beteken om 'n getuie te wees van die saak van Jesus Christus. Om te vertel en voor te leef wat Jesus gedoen het en Wie Hy is. Die getuienis en die profetiese taak moet steeds gedra en gevoed word vanuit die erediens.

Die Priesterlike Taak:🔗

Die priester is die persoon wat bemiddelend staan tussen die mense en God. Waar Christus as die Groot Hoë­priester hier die middelaarswerk ten volle vervul het, kan die gelo­wiges nou slegs staan as die een tussen mense wat in alles na Hom wys. Ook is dit die taak van die priester om die dienende liefde van God onder die mense waar te maak. Christus het die ware inhoud daaraan gegee. Die gesindheid van dienende liefde van Christus, wat nie terugdeins vir die offer nie, moet onder die mense waar ge­maak en voorgeleef word. Die diens van barmhartigheid en die konkrete liefde is veranker in die erediens. Dit vind plaas rondom die nagmaalstafel en in die hele erediens. Hiervandaan kring dit uit oor elke faset van die lewe waar die mens in nood en leed van wat­ter aard ook al, leef. Die gelowiges dien die Here deur die week deur die medemens in sy nood raak te sien, hierdie nood in sy ware aard te peil, dit op allerlei maniere te verhelp en te lenig; deur die liefde van Christus konkreet te maak in 'n wêreld waar die haat die plek van die liefde ingeneem het. Niks spreek sterker as die dade van onselfsugtige liefde nie. Veral as dit gepaar word met die vrymoedige spreke in die Naam van Jesus en die aanwysing Wie Hy is in wie se Naam hierdie liefde moontlik geword het. Die liefde vloei uit die erediens, maar moet weer daarheen teruglei.

Die Koninklike Taak:🔗

Die koning is wat heers by die genade van die Here en so heers dat die ware koningskap van Christus tot open­baring kom. Die heerskappy van Christus kom eerstens voor in die lewe van die gelowiges, maar ook daarin dat oral in die lewe waar die koningskap van die Christus nie erken word nie, geywer word om dit met alle mag waar te maak.

Die lewe van die gelowiges as 'n koninklike taak, beteken veral 'n lewe van gehoorsaamheid teenoor die Here, wat as sodanig erken en bely word. Die gehoorsaamheid is die noodsaaklike komple­ment van geloof. Geloof kom tot uitdrukking in die toegewyde lewe van gehoorsaamheid aan die Here. Wat 'n geweldige boodskap is dit nie indien al die gelowiges wat op 'n Sondag in aanbidding bely het dat hulle deur Jesus bevry is van die mag van sonde en Hom as Here en Meester erken, dit inderdaad in die harde lewe waarmaak deur hulle gehoorsame lewe! Die gehoorsaamheid is tans nog ge­brekkig, maar moet in groter wordende mate in die lewe van die ge­lowiges waar word. Waar dit nie gebeur nie, kanselleer dit grootliks die boodskap.

Vandag word baie gepraat van die heerskappy van Christus ook op politieke terrein. Inderdaad moet die gelowiges verkondig en hulle daarvoor beywer dat Jesus die Here en Hoof van alle volke en regeerders sal wees, en bely dat Hy die lotgevalle van die nasies in sy hande hou. Die gelowiges moet hulle verder beywer vir die regstelling van enige vorm van sosiale onreg, maar ook teen enige vorm van verabsolutering van die mag. Dit is egter iets anders as meegaan met die rewolusie en aktivisme, waar sonder die duide­like beginsels van Christus en met miskenning van sy Naam en ge­sag, die erediens gebruik word vir allerlei menslike en wêreldse oog­merke.

Die erediens van die Sondag moet lei tot die erediens van die lewe op die verskillende vlakke. Verder is dit nie slegs periodieke en be­sondere optredes wat staan in die lig van die Sondagse erediens nie, maar daar moet 'n nuwe lewenswyse, 'n nuwe lewenstyl ont­plooi word. Niks maak die erediens op die Sondag meer geloof­waardig as die konsekwente lewe van gehoorsaamheid aan Christus in die drievoudige amp van profeet, priester en koning, deur elk­een, elke dag, nie. So word die hele Christelike lewe 'n erediens, dan word die hele lewe 'n huis van God. So word die erediens dan die lewenskool vir die transformasie van alles tot die groot liturgie van God. So gaan die liturgie oor in die groot sending, missio Dei, in die konkrete wêreld.

evangeliseer

7. Erediens, Evangelisasie en Sending🔗

Uit wat reeds hierbo gesê is, het dit duidelik geblyk dat ons nie in die dwaling mag verval as sou die erediens los staan van, of selfs teenoor evangelisasie en sen­ding nie. Immers, die erediens vind sy voltooiing en geloof­waardigheid in die uitgaan in en gerig wees tot, die wêreld in sy nood. Hierdie boodskap wat die versamelde gemeente verlewendig het, moet juis hulle beweeg om met dieselfde boodskap uit te gaan na diegene wat van Christus en sy kerk vervreemd is (evangelisasie), sowel as na diegene wat nog nie die boodskap gehoor het nie of nie voldoende gehoor het nie (sending). In die erediens moet die werk op die terrein van die evangelisasie en van die sending, 'n volwaar­dige plek kry. Hulle mag nooit uit die blikveld verloor word nie. Vanuit die erediens moet die boodskap en gebeure van die ontmoe­ting met die Here deurwerk na hulle. Die groot doel is steeds dat die persone op die terrein van die evangelisasie en die sending so deur die erediens van die Sondag en die erediens van die lewe geraak sal word, dat hulle ook volwaardige deelgenote van die aanbidding, die erediens, sal word. Dit alles tot die grotere eer en verheerliking van God en tot groei van die gemeente.