Bron: Kompas, 2001. 3 bladsye.

Die Gebed van Jabes

Slegs twee verse in die geslagsregister van Kronieke is aan hom gewy. Maar dit is genoeg om ’n gebeds-hype te ontketen. ’n Boekie oor Jabes se gebed is tans nommer 1 op die lys van Christelike topverkopers in die VSA. Daar is reeds meer as 4 miljoen eksemplare verkoop. Plaaslik is die boekie vertaal en uitgegee onder die titel ‘Jabes se gebed. Bloudruk vir ’n geseënde lewe’.

Die skrywer van die boekie is dr Bruce Wilkinson wat bekend geword het as stigter van ‘Walk thru the Bible Ministries’. In die voorwoord skryf dr Wilkinson:

Ek wil jou leer hoe om ’n waagmoedige gebed te bid wat God altyd sal verhoor.

Dr Wilkinson rapporteer dat duisende gelowiges wat hierdie gebed daagliks bid “gereeld wonderwerke sien gebeur” (p. 7). Hyself het die Jabes-gebed sowat dertig jaar gelede begin bid en hy doen dit nog elke dag. Baie Amerikaners bid dit daagliks, en daar gebeur groot dinge. Huwelike word gered, sakemanne kry kontrakte, sendingaksies toon goeie resultate.

Wat presies is die gebed van Jabes? Dit word vermeld in 1 Kronieke 4:9,10:

Jabes was meer geëerd as sy broers; en sy moeder het hom Jabes genoem en gesê: Ek het met smart gebaar. En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat my geen smart tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het.

Op die oog af gaan dit in hierdie gebed oor ’n goeie en gelowige man wat God gevra het om hom ryklik te seën en toe het God dit gedoen. Dit is ’n voorbeeld van hoe die Here sorg vir sy kinders. Jabes het gevra en die Here het besluit om sy gebed te verhoor. Die fokus is op God en sy voorsienigheid in die lewe van gelowiges.

’n Belangrike element is ook die feit dat Jabes hom met hierdie gebed verset teen die negatiewe stempel wat sy naam op sy lewe gedruk het. Sy ma het hom ‘Jabes’ genoem omdat sy hom met smart gebaar het (die naam Jabes is afgelei van die Hebreeuse woord vir smart). Jabes wou blykbaar nie hê dat sy lewe bepaal word deur die bygeloof dat jou naam jou lewensgang bepaal nie. Hy het geglo dat ons lewe nie deur die noodlot bepaal word nie, maar deur die genadige God van Israel. Daarom het hy die Here gebid dat sy lewe nie bestempel word deur sy naam nie, maar deur die seën van die Here. Die Here het sy gebed verhoor en Jabes se naam word met eer in die Bybel genoem.

Resep🔗

In die boekie van ds. Wilkinson kry die gebed van Jabes egter ’n ander funksie. Volgens dr Wilkinson is die gereelde bid van die gebed ’n resep vir ’n geseënde lewe. Hy daag ons uit om die Jabes-gebed ’n deel van ons daaglikse roetine te maak. Reeds na enkele weke sal ons beduidende verskille in ons lewe opmerk. Dr Wilkinson glo dat daar baie “onopgeëiste seëninge” by God vir ons wag. As ons daarvoor vra, sal ons dit ontvang. As ons nie vra nie, bly al hierdie seëninge in die hemelse stoorkamers lê soos nie-afgehaalde presente.

Dr Wilkinson is daarvan oortuig dat fantastiese dinge sal begin gebeur as ons Jabes se gebed daagliks bid. Ons moet die vier versoeke van Jabes ons eie maak en gereeld bid:

  1. Stort u seën oor my uit,

  2. Vergroot my grondgebied,

  3. Neem my onder u beskerming,

  4. Weerhou onheil van my.

Vir dr Wilkinson gaan dit dus nie in die eerste plek oor God se genadige en soewereine verhoring van Jabes se gebed nie. Dit gaan daaroor dat Jabes die regte formule gevind het om God se seën te verkry.

Sonder om ’n uitvoerige bespreking aan die boekie van dr Wilkinson te wy, wil ek tog enkele opmerkings maak. Ek wil graag begin deur ’n moontlike positiewe effek van die boekie te noem. Dit mag wees dat lesing van ‘Jabes se gebed’ Christene aanspoor om meer tyd aan gebed te bestee. Dit is ongetwyfeld waar dat ons dikwels te min van God verwag en dat ons daarom ook te min vra. Die apostel Paulus verwys min of meer daarna as hy in die brief aan die Efesiërs skryf dat God “mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efesiër 3:20). Jakobus verwys in sy brief ook na die gevaar van biddeloosheid en die gevolge daarvan: “Julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:2). Ons kan hierby ook dink aan die Here Jesus se aansporing tot gebed: “Bid, en vir julle sal gegee word” (Matteus 7:7).

’n Tweede positiewe effek mag moontlik wees dat ons met meer vrymoedigheid bid. Miskien is ons as gereformeerdes soms té beskeie in wat ons van God vra. Ons vra nie maklik dat God ons “ryklik” sal seën nie. Of ons vra dit wel, maar ons voeg onmiddellik by “maar laat u wil geskied”. Tog sing ons in die kerk Totius se beryming van Psalm 81:

Open julle mond, eis van My vrymoedig op my trouverbond: Al wat jul ontbreek, skenk Ek as jul smeek mild’lik en oorvloedig.

Mildelik en oorvloedig, ja, dit is hoe die Here vir Jabes geseën het. Ons mag daardie mildelike seën ook vir onsself afsmeek en verwag.

Kritiek🔗

Ondanks hierdie positiewe opmerkings het ek ook kritiek teen die manier waarop dr Wilkinson die gebed van Jabes hanteer.

  • In die eerste plek het ek ’n probleem met sy aansporing om die Jabes-gebed daagliks te bid. Die Here Jesus het ons geleer dat ons nie moet dink dat die krag van ons gebed in die gedurige herhaling daarvan lê nie.

    "As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word" Matteus 6:7.

    Ons lees nêrens in die Bybel dat God wil hê dat ons ’n sekere formule aanhoudend in ons gebede moet gebruik nie. Ook die Onse Vader is nie bedoel om ’n gebedsformule te wees nie. Dit is eerder as ’n riglyn vir ons gebede bedoel.

  • In die tweede plek het ek ’n probleem daarmee dat die Jabes-gebed as die Christelike gebed aangeprys word. Dit staan op gespanne voet met die feit dat die Here Jesus self vir ons die Onse Vader gegee het om te bid. Daarmee skiet ek die Jabes-gebed nie af nie. Dit is ’n mooi gebed wat deur God verhoor is. Nogtans is die inhoud van Jabes se gebed nie vergelykbaar met die ryke inhoud van die Onse Vader nie.

  • In die derde plek laat dr Wilkinson dit voorkom asof God nie ’n keuse het nie. As ons die regte gebed bid, kan Hy nie anders as om ons gebed te verhoor en ons allerhande seëninge te gee nie. Daarmee is daar nie meer plek vir God se soewereine voorsienigheid nie. In plaas daarvan lê die aksent op die mens se veronderstelde vermoë om God sodanig te beïnvloed deur middel van die regte formule, dat Hy nie anders kan as om te gee wat ons vra nie. Die Skriftuurlike visie op God se omgang met ons is anders. Volgens die Skrif begin God met ons ’n bindende en persoonlike verhouding (‘verbond’ genoem), waarin Hy belowe om ons te seën en waarin ons onder andere moet leer om ons te onderwerp aan sy goeie wil. Ons moet leer aanvaar dat die Here soewerein is en dat Hy die reg het om te doen wat Hom behaag. In hierdie verbondsverhouding mag dit wees dat God vir ons ‘nee’ sê. My huwelik kom nie reg nie, my sake-onderneming bly sukkel, en my gesondheid verbeter nie. Tog mag ons glo dat God in alles die beste vir ons soek (Romeine 8:28). Mag ons dan nie bid vir genesing en voorspoed nie? Ja, ons mag. Maar God bly soewerein en Hy behou die reg om in sy liefde en wysheid anders te besluit as wat ons konkreet gevra het.

  • In die vierde plek beweeg dr Wilkinson se benadering gevaarlik na aan die voorspoed-evangelie van mense soos Hagin en Copeland. Toegegee, dr Wilkinson probeer hard om egoïstiese gebede te vermy. Jabes se gebed om uitbreiding van sy grondgebied word deur hom geparafraseer as ’n bede om ’n wyer bediening vir God. Dit klink baie mooi en heel altruïsties. Nogtans kan die effek van die boekie maklik wees dat mense verwag dat die daaglikse herhaling van die Jabes-gebed noodwendig tot meer voorspoed moet lei. En as dit dan nie gebeur nie? Daarvoor het dr Wilkinson geen raad nie, want hy waarborg sukses. Die boekie bevat geen bespreking oor die vraag wat ’n mens moet doen as dit lyk asof die gebed nie help nie (as jou kind sterf, as jou huwelik faal, as jy jou werk verloor, ensovoorts). ’n Mens voel jammer vir al die mense wat Jabes se gebed probeer en bedroë daarvan afkom.

Ons finale konklusie: Die Jabes-gebed is ’n mooi gebed, maar ons moet dit nie gebruik as ’n daaglikse gebedsformule nie. Ons moet oppas vir die tipe resultaat-gerigte geloof wat in hierdie benadering weerspieël word.

Die ware Christelike geloof is ’n diep, bestendige, liefdevolle verhouding met ons hemelse Vader waarin ons krag gegee word om te volhard in geloof, sowel in tye van voorspoed as in tye van teenspoed.