1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Groot Verdrukking

Die groot verdrukking van die eindtyd word druk bespreek, en is ʼn bron van baie verskille tussen Christene. Dit is inderdaad van groot belang vir die volk van God. Moet die groot verdrukking wat in Matthéüs 24:21 beskryf word nog plaasvind, of is dit reeds verby? Sal daar verdrukking wees wanneer die einde aanbreek? So ja, gaan die lede van die kerk aan dié verdrukking onderwerp word, of sal hulle van die aarde weg wees teen die tyd dat die laaste verdrukking kom?

Sulke vrae is noodsaaklik omdat hulle ons beskouing van die toekoms en van ons eie roeping en die roeping van die kerk vir die toekoms raak. Die vrae weeg swaar terwyl die eindtyd nader kom en ons en ons kinders op die moontlikheid van vervolging moet voorberei, sou dit wel gebeur.

Ons glo dat vervolging die lot van die volk van God is, en tot die eindtyd sal wees. Daarvan word in Skrifgedeeltes soos Romeine 8:7 en 2 Timótheüs 3:12 getuig. Ons glo nie dat die lot van die volk van God beter sal word terwyl die eindtyd nader óf dat daar ʼn lang tyd van vrede en geestelike voorspoed, waarin vervolging ter wille van Christus ophou, sal wees nie. Ons glo ook nie dat die kerk weggeraap en weg sal wees wanneer die laaste groot verdrukking aanbreek nie.

Ons glo dat die groot verdrukking wat in Mattheüs 24:21 genoem word, nog moet aanbreek – dat tye vir die volk van God moeiliker, en nie makliker nie, sal word. Om die eerste deel van Mattheüs 24, mét vers 21 daarvan, in die verlede te laat, is so goed as om dit in die snippermandjie te laat. Die gedagte dat die volk van God afwesig sal wees, of dat die vervolging voor die einde sal ophou, strook ook nie met dié Skrifgedeelte nie.

Vervolging is ewenwel nie maar net iets wat ons moet verduur nie. Vervolging is inherent deel van ons verlossing. Mattheüs 5:10-12 verwys reeds hierna wanneer dit van die saligheid en vreugde van hulle wat ter wille van Christus ly, praat (lees ook Hand. 5:41). Filippense 1:29 sê dat lyding vir Christus een van die gawes van God deur Christus is, wat Hy deur sy dood aan die kruis vir ons verwerf het. Kolossense 1:24 sê dat sulke lyding die deel is van Christus se eie lyding wat ter wille van die kerk oorgebly het (lees ook 1 Pet. 4:13).

Ons weet ook dat lyding, wat nooit maklik of aangenaam is nie, tot ons beswil is. Dit is die vurige beproewing van ons geloof, en nie voorspoed en vrede nie, wat ons louter en nader aan God bring. Daarvan word in Psalm 11:5, 1 Petrus 1:7 en baie ander dele van die Skrif getuig.

Die waarde van vervolging word in die ou gesegde “die bloed van die martelare is die saad van die kerk”1 weerspieël. Daar is niks in die lewe van die kerk wat só oor die krag en die wonder van die genade van God getuig soos die gewilligheid van die volk van God om enigiets ter wille van die evangelie en ter wille van Christus te ly nie. Ons moet nie alleen sulke lyding verwag nie, maar dit ook gewillig en selfs met blydskap ly, ter wille van ons reiniging, ter wille van die kerk, en ter wille van Christus, wat alles ter wille van óns gely het.

Endnotes🔗

  1. ^ Die gesegde word toegeskryf aan Tertullianus (160-230 n. C.)