Bron: Kerk en Woord, 1996. 2 bladsye.

Die Handoplegging by Bevestiging van Proponente as Bedienaar van die Woord

hande oplê

Waar ’n proponent as bedienaar van die Woord bevestig word, moet die predikant wat hom bevestig en die vrae aan hom gestel het, “hom die regterhand op die hoof lê...” staan daar in die Formulier (bl. 141).

By die bevestiging van ds. Van Voore op 1 Oktober 1995 is hy nie net deur ds. Hope wat hom bevestig het, die hande opgelê nie, maar deur al die stuk of tien bedienaars van die Woord wat daar teenwoordig was.

Nou is die vraag: Wat is nou reg: die handoplegging deur die bevestiger of deur al die predikante teenwoordig? En waarom word die ouderlinge nie ook gevra om dit te doen nie? En wat is uiteindelik die betekenis daarvan?

Uit Matt 19:15, waar Jesus die kindertjies wat hulle moeders na Hom gebring het, die hande oplê, blyk dit ’n Joodse gebruik te gewees het.

Dit was teken daarvan dat so ’n handopgelegde aan God voorgestel en toegewy is en ook gawes van die Heilige Gees ontvang. Want as Paulus volgens Hand 19 twaalf dissipels daar in Efése die hande oplê, kom die Heilige Gees op hulle en begin hulle in tale praat en profeteer.

Handoplegging is in die vroeë kerk toegepas wanneer iemand vir ’n spesifieke taak geroep is en dan voor die gemeente bevestig is, Hand 6:3-6.

So bv. ook Paulus en Barnabas wat deur die Heilige Gees afgesonder is vir die verkondiging van die Evangelie aan die heidene en uitgestuur is deur die gemeente van Antiochië, Hand 13:2, 3.

Uit 1 Tim 5:17 e.v., waar dit gaan oor “ouderlinge wat arbei in woord en leer”, sien ons in vs 22 dat Paulus Timótheüs waarsku om nie “haastig iemand die hande op te lê” nie. Calvyn, Inst. IV.3. xvi, verklaar dit so: die handoplegging moes by die gemeente die waardigheid van die amp tuisbring. So het die kerk erken dat die Here iemand wat begeer het om in die woord en leer te arbei, ook daarvoor afsonder of roep en is hy met die handoplegging openlik in daardie diens gestel.

In ooreenstemming hiermee het die 16e eeuse kerkorde van 1586 tot 1905 bepaal dat die dienaar wat iemand in die amp van herder en leraar bevestig, sy hand op die kop van so ’n proponent moet lê.

In 1905 het die sinode (Nederland) egter toegevoeg dat ander dienaars wat teenwoordig is, ook daaraan kan deelneem, (B. Spoelstra, Geref. Kerkreg en kerkregering, bl. 58). En so is dit ook in die Bevestigingsformulier vir bedienaars in ons ou Psalmboek, nog voorgeskryf.

Met die redaksionele hersiening van die Kerkorde het die nasionale sinode van 1964 by art. 4 die woorde “wat met behoorlike stipulasies en vrae, vermaninge, gebed en oplegging van die hande van die dienaar wat die bevestiging doen (en van ander dienaars wat ook teenwoordig is) moet plaasvind...”, weggelaat.

hande op kop

Daarom dra die nuutste bewerking van die Formulier dié taak in ooreenstemming met die Kerkorde net aan die bevestiger op.

Aan die gebruik dat meerdere predikante aan die handoplegging deelneem, wat deur die Sinode van 1905 ingevoer is, word soms nog steeds by die bevestiging van ’n proponent vasgehou.

F.L. Bos stel die saak egter in die regte perspektief in sy verklaring van die Kerkorde. Hy sê dat die bevestiger met die handoplegging handel as verteenwoordiger van die roepende kerk, wat van Gods-weë die bevoegdheid besit om iemand in die amp te stel.

Die gedagte dat bedienaars van die woord kragtens hulle amp die reg sou besit om die amp aan iemand oor te dra, is nie Bybels nie.

Meer in ooreenstemming met die Skrif sou wees dat die hele kerkraad van die roepende gemeente, sowel die ouderlinge as diakens aan die handoplegging sou deelneem (F.L. Bos, De orde der Kerk toegelicht met kerkelijke besluiten uit vier eeuwen, bl. 31, 32). Die vraag is meer kere in die kerk gevra waarom die handoplegging dan nie by ouderlinge en diakens se bevestiging toegepas word nie. Volgens H. Bouwman is dit omdat hulle nie vir lewenslange diens gekies word nie, maar vir ’n bepaalde tyd. By die bedienaars van die Woord is dit by hulle intrede in die amp behou om aan te dui dat hulle ’n uitnemende diens betree waarin hulle hul lewenslank aan die Here sal toewy. Tog berus die handoplegging nie op ’n Goddelike voorskrif nie en sal dit geen sonde wees as die kerk dit ook vir die bevestiging vir ouderlinge en diakens verorden nie. Tog is die bestaande orde goed en moet dit gehandhaaf word (H. Bouwman, Gereformeerd Kerkrecht,   bl. 542).