Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Die Heilige in die Wêreld

Read Exodus 19

Verlore Gaan van Heiligheid🔗

Baie dinge het in die moderne wêreld verlore gegaan. Dit wat voorheen onafskeidbaar deel van ons leefwêreld en kultuur was, het uit ons wêreld verdwyn. Een van die belangrikste dinge wat uit ons moderne wêreld verdwyn het, is die besef van die “Heilige”. Wat bedoel word met “heilig” of “die heilige”, is dit wat onderskei kan word van die gewone en alledaagse. Die heilige is die “buitengewone” – dit wat van buite ons gewone menslike lewens in ons wêreld kom. “Heilig” dui op dit wat “in aanraking met”/naby aan God gekom het.

Dink byvoorbeeld aan die kultus rondom die “Stone Hedge” in Engeland. Drie kilometer wes van Wiltshire, is daar ʼn sirkelvormige klipstruktuur wat volgens argeoloë dateer vanaf 3000 v.C. Dertig regop klippe word aan die bokant verbind met dwars klippe om ʼn sirkel met ʼn deursnee van ongeveer dertig meter te vorm. Binne die sirkel is daar nog ʼn klipformasie in die vorm van ʼn perdeskoen met ʼn oop einde in die rigting van die opkomende son. In hierdie rigting is daar ʼn altaarklip geplaas. Dit is baie duidelik dat wat die betekenis van hierdie bekende rotsformasies ook presies was en vandag nog mag wees, daar rituele betekenis aan die plek toegeken is en as ʼn “heilige plek” in mense se lewens begin funksioneer het.

Christelike Geloof en “Ontheiliging”🔗

As die kerk nog nie hiervan bewus geword het nie, moet ons wel besef dat selfs die god-lose kultuur begin soek het na wat in hierdie wêreld nog heilig is. Kenmerkend van talle kultuurfilosowe se soeke aan die einde van die 20’ste eeu was en word steeds gekenmerk deur ‘n soektog na wat heilig is in hierdie wêreld. Dikwels word juis die Christendom verwyt dat ons geloof verantwoordelik is vir die verlore gaan van wat heilig is in hierdie wêreld. Hoe is dit moontlik dat juis die Christendom van so iets beskuldig kan word?

Die aanklag is as volg: Die invloed van die Ou Testament op die verdwyning van die heilige offerplekke word betreur. Die geweldige weerstand van die Here se profete teen die heilige hoogtes en altare, het die gevolg dat die wêreld ontheilig is. Die wêreld waarin mense gewoon het wat eers oral plekke en tekens van “god” gehad het, het totaal verander. Hierdie tendens is voortgesit deur die Christendom. Met die kerstening van Germane en Kelte, was al die heilige bome en plekke van die heidene omgekap en vernietig. Daarvoor moes die Engelse sendeling Bonifasius by Dokkum in Friesland, met sy lewe boet. Dit is inderdaad waar dat dáár waar erns met die geloof in die lewende Here gemaak is, het die bygeloof in allerhande heilige plekke, tye, voorwerpe en persone verdwyn.

Die boodskap van die Ou- en Nuwe Testament is een – die Here ons God is een. Daar is niemand naas Hom nie. Die “godewêreld” van die Grieke en Romeine is deur die evangelie “ontmitologiseer” en in daardie betekenis van die woord “ontheilig”. Dit is dus heeltemal waar – die Ou- en Nuwe Testament het nog altyd die doel gehad om die skepping te bevry van al haar “gode”. Een van die heel eerste geleerde kritici van die Christendom, Celsus, het die Christene selfs van “ateïsme” beskuldig! Die Christene het volgens Celsus die wêreld “god-loos” gemaak. Die skepping en God is los van mekaar gemaak – van mekaar onderskei. Só verloor volgens Celsus die skepping haar heiligheid.

Wat het dit alles te doen met Exodus 19 - waar die Here sy volk by sy berg ontmoet? As daar een plek is waar dit behoorlik duidelik word dat daar vir die Here werklik heilige mense, plekke, tye en voorwerpe in hierdie wêreld is, dan is dit by die berg van die Here. Tydens die volk se elf maande verblyf by die berg (Exodus 19 - 40, Levitikus tot Numeri 10) wil die Here juis hierdie een ding duidelik maak – hierdie wêreld waarin ons mag woon, is heilig. Dit is heilig, omdat die Here mense, plekke, tye en voorwerpe met Homself in verhouding laat staan. Dit wat enigiets in hierdie wêreld ‘n heilige karakter gee, is die werklikheid dat dit in ‘n verhouding, ‘n lewende band met die Here gebring word. 

En dan is dit so, dat vir die hele Skrif daar geen heilige plekke of mense of tye of voorwerpe los van hierdie band met die Here God bestaan nie. Los van die lewende band met die Here, is alles onheilig en moet dit ook so gesien en hanteer word. Niemand en niks in hierdie wêreld is heilig los van die Here nie. Los van my band met die Here, is ek onheilig. Dit gaan juis hieroor: die Here maak ons werklik heilig wanneer Hy ons na Hom toe bring. Dit is wat Hy met Israel gedoen het. Op arendsvlerke het Hy hulle na Hom self gebring (19:4) – dít het hulle ‘n nuwe identiteit, ‘n nuwe taak en plek in hierdie wêreld gegee.

Wanneer ons dink aan die bevryding van die nageslag van Abraham uit Egipte, dink ons dikwels dat die eindbestemming die beloofde land, Kanaän, is. Of dalk die berg in die woestyn Sinaï. En ja, dit is so dat die volk by die berg aangekom het. In Exodus is die berg met die eerste oogopslag die bestemming. Maar wanneer die volk by die berg kom en Moses dadelik op die berg gaan om met die Here te praat, gee die Here vir hom ‘n duidelike perspektief op hoe hulle hul hele verlossing uit Egipte en die reis tot by die berg, moet verstaan. Dit is opmerklik uit die geskiedenis van Israel, dat hulle later nie meer geweet het presies waar die berg Sinaï geleë is nie. Ja, êrens in Arabië, maar die presiese plek is glad nie meer belangrik nie. Die rede? Die Here het hulle nie na ‘n heilige berg gebring nie, maar na Homself!

‘n Koninklike Priesterdom🔗

Dit klink vreemd om te dink dat die Here self die bestemming van die volk was. Was Hy dan nie al by hulle in Egipte nie? Ja, die Here herinner hulle selfs aan wat Hy self aan die Egiptenaars gedoen het. Die herinnering aan die tien tekens en die verlossing deur die see, is genoeg om te besef dat die Here by hulle was – in die wolk- en vuurkolom! Op arendsvlerke het Hy hulle gedra. Wat ʼn pragtige beeld van ʼn dier-ouer wat met groot sorg en krag sy magtelose kleintjie versorg en beskerm. Vlerke wat kan dra wanneer die kuiken swak is. Vlerke wat kan oordek en beskerm wanneer daar bedreiging en gevaar naby is. Só naby was die Here. En tog was dit nie die eindpunt nie. Die eindpunt is om by die Here te wees in aanbidding. Geheel en al heilig. Heilig, omdat Hy self hulle volledige aandag het en naby Hom mag wees. Hy is nie net daar om hulle te help nie. Hy is daar om hulle geheel en al vir Homself te hê. Alles wat Exodus 19 voorafgaan, het hierdie een bestemming – Ek het julle op arendsvlerke na my gedra. 

Die teenwoordigheid by die Here, gee aan Israel ‘n besondere karakter en status. Wanneer die Here mense by Homself bring, maak Hy hulle heilig. Daarvoor word selfs ‘n heel spesiale beskrywing vir hierdie voormalige slawe gegee. Hulle word ‘n koninklike priesterdom. Slawe wat voorheen deur die koning van Egipte mishandel en misken is, word eg koninklik behandel. Hulle word in en by die koning van die hemel ontvang. Die bedoeling van die bevryding uit die kloue van Farao, is om in die heiligdom van die hemelse koning te mag kom. En om in die heiligdom van die hemelse koning te kom, beteken dat Hy aanbid word. Deel van hierdie aanbidding is dat hulle noukeurig sal luister na die stem van die Here. Die manier waarop hulle weer ‘n heilige lewe voor die Here sal kan lewe, sal wees om sy verbond te onderhou. Hulle moes weer erns maak met hóé ‘n lewe naby die Here ingevul moet word. 

Die hele aarde behoort aan die Here. Hy beskik oor alles. Maar tog word hulle wat naby aan die Here gebring word ’n heel spesifieke taak gegee. Die “koninkryk” van priesters moes in die wêreld ‘n heel spesiale posiesie beklee. Uit al die volke en afgesonder van hulle, het die Here die nageslag van Abraham geroep om ‘n spesifieke rol te vervul. ‘n Rol ten opsigte van al die ander nasies. Hulle moes laat sien wat dit beteken om naby die Here te leef. Die hele volk. Nie net die priesters nie. Dit wat in Exodus 19 beskryf word, is voorbereidings vir die volk om die Here te aanbid en om te gaan met Sy teenwoordigheid by hulle. 

Hoe kom daar weer heiligheid in hierdie wêreld? Die erkening en ervaring van die Here se teenwoordigheid. Heiligheid kom in die wêreld daar waar mense naby aan die Here gebring word. In sy teenwoordigheid ‘n plek gegee word. Nou is die pragtige dat die Here vir ons en ons kinders daardie plek wil gee. Ons kinders word selfs onderskei van die kinders van die ongelowiges. Ons kinders word heilig, omdat hulle in ‘n lewe met die Here gebring word. In ‘n wêreld wat in menige opsig onheilig geword het, is dit werklik moontlik om heilig te leef. Leef by en naby die Here. Maak erns met die aanbidding van die Here. Dit is hoe Israel hulle roeping om ‘n heilige volk te wees, moes uitleef. 

Die manier waarop hulle uitdrukking gegee het aan hulle heiligheid was soos volg. Nadat Moses aan hulle die woorde van die Here voorgehou het, het die hele volk geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die Here meegedeel” (vs.8). Die volk aanvaar die lewe naby aan die Here. Dan mag ‘n volk ervaar wat dit beteken dat alles in hierdie wêreld heilig is, want alles behoort aan Hom. Selfs die hele skepping is dan geen gode-wêreld nie, maar wel ‘n wêreld in diens van die Here om op arendsvlerke sy kinders te dra. Dan maak die Here selfs ‘n woestyn ‘n heiligdom. Die water wat eers nie gedrink kon word nie, word soet. ‘n Rots gee water. In die plek van hael wat gereën het om oeste te verniel, reën die hemel brood wat in die woestyn manna genoem is.  In die plek van sprinkane wat oeste verniel het in Egipte, word kwartels gestuur om oor te trek, sodat die volk gevoed kan word. 

Hy Kom na Ons…Immanuel🔗

Wanneer die Here so mense na Hom gebring het, word die woestyn ‘n plek waar Hy werklik na sy volk kom op ‘n heel spesiale manier. Op die derde dag het die Here na sy volk gekom op ‘n manier wat hulle werklik kon laat sien dat die hele aarde aan die Here behoort en die volheid daarvan – die wêreld en die wat daarin woon. Die hele berg Sinaï het gerook. Die berg het gebewe. Rook het opgetrek soos die rook uit ‘n oond, want die Here het in ‘n vuur op die berg neergedaal. Die wêreld is werklik nie ‘n onheilige god-lose plek nie. Die hele aarde behoort aan die Here en is heilig. Daardie heiligheid word sigbaar waar en wanneer ons in die heilige nabyheid van ons Here leef as ‘n koninkryk van priesters.