Die Heilige Gees en die Woord
Die Heilige Gees en die Woord
⤒🔗
Nuwe Belangstelling vir die Heilige Gees←⤒🔗
Dit stem tot dankbaarheid en vervul die hart met vreugde dat daar in Gereformeerde kringe, ook in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, ’n hernude belangstelling vir die persoon en die werk van die Heilige Gees gekom het. Die wonder van Goddelike inwoning, die inwoning van die Heilige Gees in ’n mensehart, het nuwe aandag gekry (kyk Kerkblad, Junie 13). Daarby word nie alleen gewys op die openbaringshistoriese betekenis van die inwoning van die Gees in die kerk nie, maar ook op die heilsordelike betekenis van hierdie geweldige heilsfeit: die Gees van God wat woon in ons hart.
God verbind Hom deur sy Gees baie intiem met ’n mens, maar die Heilige Gees bly God. ’n Mens kan nooit oor die Gees beskik nie. Die Heilige Gees is en bly altyd soewerein (kyk KB, Junie 27).
Gevare wat Dreig←⤒🔗
So nou en dan hoor ons die opmerking dat die Gereformeerde Kerk met hierdie beklemtoning van die persoon en die werk van die Heilige Gees ongemerk op die pad van die Pinksterbeweging gekom het. Dreig ons nie om by die charismatiese beweging uit te kom wanneer ons so ’n groot belangstelling vir die Heilige Gees openbaar nie?
Hier dreig inderdaad gevare. Ons moet dit goed onder oë sien. Ons kan so eensydig die persoon en die werk van die Heilige Gees in teologie, prediking en pastoraat beklemtoon, dat ons in die subjektivisme versand. Nou is die grondprobleem van alle subjektivisme dat die aandag van die Woord van God weggetrek word en eensydig op die mens se persoonlike ervaringe gerig word. Die tipe vroomheid wat ons by die Penta-kostaliste in die charismatiese beweging ontmoet, is ’n soort vroomheid wat na ’n direkte verhouding tot God strewe waarin die mens in eenwording met God eintlik bo homself uitgelig word.
Dit is die oermotief van die mistisisme en die spiritualisme dwarsdeur die eeue heen.
In die kerkgeskiedenis vind ons telkens weer die neiging by mense, wat die gemeenskap met God soek, om die Woord van God as iets uitwendig te beskou en om na ’n voller en dieper belewe van die gemeenskap met God deur die Heilige Gees te vorder. Die ontsaglike gevaar is hier dat mense meen dat die Heilige Gees met hulle praat en hulle wonderlike dinge laat ervaar, terwyl dit niks anders is nie as die menslike gees wat hulle beïnvloed. ’n Besondere belewing moet dan vir die mens bevestig dat sy verhouding tot God reg is.
Die Groot Verdienste van die Reformasie←⤒🔗
Daar was met die Reformasie ’n groot stryd teen die Roomse leer wat in hierdie verband die Heilige Gees die gevangene van die sakrament gemaak het, maar gelukkig het die Reformatore nie in ’n ander uiterste verval nie.
Die verleiding was daar, want die Doperse Beweging (wat saam met die Reformasie van Rome weggebreek het) het die klem laat val op ervaring, los van die Woord van God. Die Heilige Gees sou die mens dan vir God buite die Bybel om laat ervaar. So is die Heilige Gees dan van die Woord geskei.
Hierteenoor het die Reformatore telkens weer benadruk dat die Gees deur die Woord werk. As die Gees van Christus is die Heilige Gees ook die Gees van die Woord. In die geskrifte van die Reformatore word ook aandag gegee aan die geestelike ervaring. Maar die ervaring is nie by hulle, soos by die Doperse, grond vir die geloof nie. ’n Mens kan nie sy geloof op sy ervaring bou nie. Nee, by die Reformatore is die ervaring vrug van die geloof in Jesus Christus en in die Woord van God.
Calvyn maak in een van sy kommentare die pragtige opmerking dat die Heilige Gees Hom sedert Pinkster met ’n onverbreeklike band aan die Woord gebind het. Ons mag nie skei wat God saamgevoeg het nie.
’n Nuwe Gevaar←⤒🔗
Luther, Calvyn en Zwingli het elkeen op sy eie manier die geesdrywers van hulle tyd bestry. Hulle het skerp aangevoel dat die verbreking van die eenheidsband tussen die Gees en die Woord sou die kerk weer opnuut lei op die heillose pad van die mistiek. Dan is die Bybel daarmee heen.
Daarom het hulle met vuur en ywer verkondig dat die Gees geen nuwe openbaringe aan die mens skenk nie, maar dat Hy die Evangelie aan ons oordra.
Tog moet ons oppas om die Gees nie meganies of outomaties aan die Woord te verbind nie. Hierdie neiging vind ons veral in die latere Lutherse teologie. Dan word die Gees die gevangene van die Woord. Maar so word die soewereiniteit van die Gees nie meer voldoende erken nie. Dan gaan ons uit van die gedagte dat orals waar die Woord verkondig word, die Gees werk. Ons sien egter in die praktyk dat dit nie so is nie.
’n Misterie←⤒🔗
Die verhouding van Woord en Gees is wesentlik tog ’n misterie. Onsigbaar, geheimnisvol werk die Heilige Gees deur die Woord in die opbou van die gemeente, in die regering van die kerk is Christus en die Gees verbonde aan die Woord. Die Heilige Gees bring deur die Woord mense na Christus toe en maak hulle gehoorsaam aan hulle Hoof.
Calvyn skrywe in sy kommentaar op Romeine 10:16 dat die Woord van God alleen uitwerking het wanneer God met die lig van sy Gees verskyn.
Die Woord bring die Gees tot die hart van alle mens en die Heilige Gees bring die Woord van God in die hart.
Hoe moet ons dan verklaar dat dieselfde Evangelie deur die een gelowig aanvaar word en deur die ander in ongeloof verwerp word? Hier staan ons voor die misterie van die verkiesende vrymag van God. Die Gereformeerde vaders het hierby gepraat van ’n bykomende werking van die Gees in die harte van die uitverkorenes. Hierdie werking van die Gees mag egter nooit van die Woord losgemaak word nie (Calvyn, Inst. 4, 14, 17).
Die Gees Wil in Ons Woon←⤒🔗
Die Gees bly egter soewerein.
Daarom is die gebed om die Heilige Gees so belangrik.
In die ou Christelike Kerk was daar die epiklese, die gebed om die Heilige Gees. Daar het die epiklese in verband met die aanroeping van die Heilige Gees by die doop en nagmaal gestaan.
In die Skotse Presbiteriaanse Kerk het die epiklese weer ’n plek gekry as ’n gebed om die Heilige Gees oor die vergaderde gemeente.
In die Gereformeerde liturgie ken ons die gebed om die Heilige Gees voordat uit die Kategismus onderrig gegee word:
Daarom bid ons U dat U ons duistere verstand wil verlig met U Heilige Gees ... sodat ons, as ons U Woord hoor, dit reg verstaan en ons lewe daarna inrig.