Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Hel - Is dit 'n Werklikheid?

Van verskeie kante af gaan daar in die jongste  tyd stemme op dat die hel óf  nie bestaan óf geen betekenis het  waarmee rekening gehou  hoef te word nie. Hier word in die lig van die Skrif aangedui dat daar 'n hel is, wat die hel is en vir wie die hel is.

Die Hel — Opnuut 'n Brandpunt🔗

Onlangs het daar in twee bekende Afrikaanse tydskrifte artikels oor die hel verskyn. Die artikel in Huisgenoot van 7 Maart 1996 het as opskrif: Die hel — net 'n groot niks: kerke se nuwe siening van die ewige verdoemenis. 'n Soortgelyke arti­kel het in Sarie van 27 Maart 1996 verskyn onder die opskrif: Het die hel koud geword? So lyk die moderne siening van die hel.

Die aanleiding vir die skrywe van albei artikels was die besluit van die Anglikaanse Kerk in Engeland dat die hel wel bestaan, maar dat die voorstelling daarvan as 'n vreesaanjaende plek afgewys moet word as 'n produk van die verbeelding van mense in die Middeleeue.

Soos wat gewoonlik met artikels van hierdie aard in genoemde en dergelike tydskrifte gedoen word, het die skrywers heengegaan en 'n aantal predikante en teoloë van verskil-lende kerke geskakel om vas te stel wat hulle sienings oor die saak is. Hulle siening word dan in die vorm van 'n blote kompilasie weergegee.

Die standpunte van die betrokke predikante en teoloë wissel volgens die tydskrifte van 'n ontkenning van die bestaan van die hel tot die erkenning daarvan as 'n plek van ewige pyniging.  In die lig hiervan is dit noodsaaklik om vas te stel wat die Skrif oor die hel sê.

Daar is 'n Hel🔗

Die bestaan van die hel is in die loop van die eeue deur baie mense ontken. Die redes wat hulle daarvoor aangevoer het en nog aanvoer, was en is velerlei. Meesal word gesê dat God liefde is en dat so 'n straf in stryd sou wees met sy liefde. Ander sê weer dat hulle van oordeel is dat die mense — altans sommige — hulle hel reeds hier op aarde het. Nog ander loën die bestaan van die hel omdat hulle nie die nut daarvan kan insien nie.

Hoe hierdie sienings omtrent die hel ook al van mekaar verskil, hulle het almal dit in gemeen dat dit menslike opinies is wat pogings van die menslike hart verraai om die verskriklikheid van die ewige straf te omseil en die boodskap van die eindgerig vir alle mense aanneemliker te maak. Teenoor hierdie menslike opinies staan daar die getuienis van die Skrif dat daar wel 'n hel is.  So het Christus self byvoorbeeld verklaar. "Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My af, julle vervloektes!  Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is . . . en hier­die mense sal die ewige straf ontvang" (Matt. 25 : 41, 46).  Wie die bestaan van die hel loën, kom dus in botsing nie met die leer van mense nie, maar met die leer van Jesus Christus self.

Ons kan en mag God se liefde nie uitspeel teen sy toorn nie, want God se liefde is 'n heilige liefde, 'n liefde wat brand en verteer as dit vertrap en verag word.  Bowendien staan daar nie net in die Bybel dat God liefde is nie (1 Joh. 4 : 8), maar daar staan net so duidelik dat God 'n verterende vuur is (Heb. 12 : 29).

Wat die Hel Is🔗

Die woord waarmee die hel in die Grieks aangedui word, is "gehenna" en dit is afgelei van die dal van Hinnom wat naby Jerusalem geleë was.  In die tyd van konings Agas en Manasse van Juda is in daardie dal kinders geoffer aan die afgod Molog.  Dit was 'n gruwelike, duiwelse godsdiens.  Daarom het die vrome koning Josia die plek laat verwoes en dit as onrein verklaar. Later het dit die ashoop van Jerusalem geword waar allerlei onreine voorwerpe weggegooi en verbrand is.  Dooie diere en die liggame van veroordeeldes is daar gegooi om aan verrotting en verbranding oorgegee te word.

Hier was inderdaad vure wat nie uitgeblus is nie en wurms wat voortdurend verteer het. Hierdie dal van Hinnom het nou op grond van alles wat daarin plaasgevind het in die Woord van God die simbool en profesie van die hel geword. Rondom die beeld van hierdie verskriklike plek sentreer baie Skrifgedagtes oor die hel.  So noem Christus die hel "die onblusbare vuur. . . Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie" (Mark. 9 :45,46,48). In Openbaring 14 word weer gepraat van die rook van pyniging wat opgaan tot in alle ewigheid waar dag en nag geen rus is nie (Openb. 14 : 11).  Ook word daarvan gepraat as die brandende oond (Matt. 13 : 42, 50) en die verderf (Matt. 7 : 13).  In 'n ander verband word die hel genoem die diepste duisternis waar mense huil en op hulle tande kners. Die vraag kom by 'n mens op hoe dit moontlik is dat die hel sowel met vuur as met duisternis aangedui kan word, want vuur wat lig maak en duisternis sluit mekaar tog uit. Ons weet nie. By God is alle dinge egter moontlik. Hy kan vuur laat brand sonder dat dit lig maak.

In elk geval dui hierdie tweërlei benaming op die twee kante van die lyde in die hel; 'n negatiewe en positiewe.

Die duisternis wys op die negatiewe kant, om sonder die lig en heerlikheid en ewige vreugde te wees. Hierdie negatiewe kant van die lyde sien ons ook in die woorde van Christus: "Gaan weg van My af, julle vervloektes" (Matt. 25 : 41). Dit wys op uitsluiting en afsondering. Hulle mag nie deel aan die heerlikheid van die verlostes nie. Hulle mag nie aansit aan die bruilofsmaal van die Lam nie.

Gaan weg van My af!  Dit beteken dat die band met God en met Christus geheel en al van hulle losgemaak word. Hier op aarde het hulle nieteenstaande hulle sondes nog gedeel in die guns van God; Hy het sy Son oor hulle laat skyn; Hy het op hulle lande laat reën; Hy het hulle arbeid geseën. Maar van die oomblik af dat Christus aan hulle sê: "Gaan weg van My af . . ." moet hulle daardie goedheid van die Here ontbeer.  Dan sal hulle begin ervaar wat Christus gely het toe Hy uitgeroep het "My God, my God, waarom het U My verlaat?"

Gaan weg van My af!. . . Verlaat! . . . Buite!  So word die helse lyde negatief aangedui.

Die lyde in die hel het egter ook 'n positiewe kant: die vuur wat brand en nooit uitgedoof word nie; die wurm wat aanhoudend knaag sonder om te sterf; daar sal pyn en geween en knersing van tande wees; verdrukking en benoudheid sal ondervind word; die siel sal onophoudelik verteer word deur wroeging en spyt.  Kortom, die lyde daar sal onbeskryflik wees.  Daar sal eers die volle diepte van Christus se woorde verstaan word toe Hy gesê het: "Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan" (Matt. 10 : 28).

Natuurlik sal almal nie dieselfde lyde en smarte ondervind nie.  Die Skrif leer ons dat daar verskillende grade van straf sal wees.  Dit sal vir Sodom, die goddelose stad, verdraagliker in die oordeelsdag wees as vir Kapérnaum, die bevoorregte stad waar Christus so baie gepreek en soveel van sy tekens en wonders verrig het. Op 'n ander plek sê Christus dat dié wat geweet het wat reg is en verkeerd gedoen het, 'n swaar straf sal kry, maar dié wat nie geweet het wat reg is nie en  verkeerd gedoen het, sal 'n ligte straf kry (Luk. 12 : 47 - 4?).

Uit al hierdie Skrifuitsprake blyk duidelik dat die hel inderdaad 'n oord van verskrikking en 'n plek van smarte genoem kan word.

Vir Wie die Hel Bestem Is🔗

Behalwe dat die hel bestem is vir die duiwel en sy engele (Matt. 25 : 41) en vir die Antichris en die Valse Profete (Openb. 20 : 10), is dit verder die eindbestemming van al die ongelowige en goddelose mense.

In Openbaring 21 : 8 lees ons: "Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelike bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars — hulle deel is  in die poel wat met vuur en swawel brand, dit is die tweede dood".

In Matteus 25 word gesê dat Christus dié aan sy linkerkant weggestuur het na die ewige vuur. En wie is hulle? Christus sê dit is dié wat toe die geringste van sy broeders honger gehad het, nie aan hulle kos gegee het nie; toe hulle dors gehad, nie aan hulle iets te drinke gegee het nie; toe hulle siek en in die gevangenis was, hulle nie besoek het nie. Met ander woorde, dié in wie se lewens daar geen werklike liefde tot hulle medemens gewees het as dankbare antwoord vir die groot liefde wat Christus aan hulle bewys het nie.

Dit kom dus daarop neer dat almal wat glad nie of nie werklik in Christus geglo het nie, weggestuur sal word na die ewige straf.

Die Skrif leer ons dat daar baie sal wees wat sal dink dat hulle die reg het om in die ewige heerlikheid in te gaan, maar dan sal moet hoor: "Gaan weg van My af . . ." Christus waarsku ons trouens ook: "Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie" (Luk. 13 : 24).

Hulle sal hulle daarop beroep dat hulle in Christus se teenwoordigheid geëet en gedrink het — miskien aan die nagmaalstafel; en dat hulle in sy Naam baie kragte gedoen het — miskien soos sekere moderne "gebedsgenesers", maar Christus se antwoord aan hulle sal wees: Ek ken julle nie — Gaan weg van My af!

Die Troos🔗

Uit die leerstuk aangaande die hel vloei daar vir die gelowige egter ook om Christus ontwil 'n heerlike troos voort. Daarop vestig ons Kategismus baie duidelik die aandag. As gevraword: "Waarom volg daar: neergedaal het na die hel?", dan word geantwoord: "Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat myHere Jesus Christus my deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe maar veral aan die kruis gely het, van die helse angs en pyn verlos het" (HK 16 : 44).