Bron: Kerk en Woord, 1999. 11 bladsye.

Die Hermeneutiek van die Wet

Die wette

Die Bybel kan vanuit verskillende wet­tige perspektiewe benader word. Wan­neer 'n mens egter die sinvraag en die doelvraag van die Bybel wil beantwoord, word die benaderingswyses heelwat minder. Paulus het die doelvraag en die sinvraag van die Bybel teenoor Timótheüs beantwoord in 2 Timoteus 3:

Vs 15: en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Vs 16: Die hele Skrif is deur God inge­gee en is nuttig tot lering, tot weerleg­ging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.

Vs 17: sodat die mens van God volko­me kan wees, vir elke goeie werk volko­me toegerus.

Die doel van die Bybel is ook in die NGB omskryf.

Artikel 3 oor die geskrewe Woord van God: Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens ge­stuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Petrus 1:21). Daar­na het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid, sy dienaars, die profete en apostels, beveel om sy geo­penbaarde Woord op skrif te stel en Hy het self met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en God­delike Skrif.

Artikel 5 oor die gesag van die heilige Skrif: Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aan­vaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaas­vind.

Artikel 7 oor die volkomenheid van die heilige Skrif: Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe is, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Galasiërs 1:8). En aange­sien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deuteronomium 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of die opvolging van tye of persone, of kerkvergaderings of verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want dié waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulle­self leuenaars en nietiger as die nietig­heid self (Psalm 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: Ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is (1 Johannes 4:1). En: As daar iemand na julle toe kom wat 'n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie (2 Johannes 1:10).

Bogenoemde drie artikels toon aan dat die Bybel bedoel is om in die besonder die werking van God se salige ver­houding met die mens te beskrywe. Dit is God se bekendmaking aan ons oor hoe hierdie verhouding werk. Dan is dit insiggewend dat kiemspore van hoe die mens se verhouding met God werk, pas na die skepping, in die tuin van Eden, uitgedruk word in die opdragte wat God aan die mens gee.

Daarna het die sondeval plaasgevind wat 'n growwe skending aan die ver­houding tussen God en mens veroor­saak het. Wanneer God van sy kant af weer die verhouding herstel, voorsien die geskiedenisse van die Aartsvaders kosbare gegewens. Die mees volledige uitdrukking van hoe die HERE sy ver­houding met die mens beoefen, is egter die wetgewing by Sinai. In die dekaloog vind ons die wortel van die verbond van God. Net soos wat die gebed, die Onse Vader, dien as kernkode vir die breë gebedslewe van die Christen, net so ook dien die Dekaloog as die kernkode vir die verhouding tussen God en mens, met as opsomming: Liefde tot God en liefde tot die naaste.

Kyk nou vanuit Eksodus 20 na die betekenis wat Deuteronomium vir die openbaringsgeskiedenis het, sowel wat die res van die Ou Testament betref asook vir die lewe en leer van die Here Jesus en die res van die Nuwe Testa­ment. Dit is min of meer waar dit op neerkom wanneer ons die onderwerp oordink hoedat ons die hermeneutiek van die Wet van God moet bekyk. Dit is immers nie sonder rede dat in die Nuwe Testament baie keer die term "die Wet en die profete", gebruik word as 'n terminus technicus vir die hele Ou Testament nie.

Die hermeneutiek van die Wet van God dateer terug na die paradys. Daar het ons reeds die eerste twee interpre­tasies van die Wet van die HERE gekry. Sedertdien is dit ook hierdie twee interpretasies wat geldend gebly het. Die een is die interpretasie wat vra hoe kan ek dit wat God beveel so goed as moont­lik doen soos Hy dit wil hê, die ander interpretasie is die twyfel-interpretasie wat God se motiewe bevraagteken en sy woorde omdraai en vra hoe kan ek te werk gaan om tog dit wat God beveel nie na te kom nie.

vrugteboom

Een van die vrae wat die meeste dik­wels onder Christene voorkom, is die vraag wat die betekenis en die toepas­likheid van die Ou Testamentiese Wet vir die kerk het. Hierdie vrae is nie net beperk tot die gelowiges nie, maar ook teoloë is verstrengel met die her­meneutiese kwessies wat in kruis-tes­tamentêre eksegese betrek word. Ver­sigtige antwoorde moet aan daardie vraagstukke gegee word om 'n fondasie te lê vir die regte verstaan van die lewe van die kerk en die kerklike samelewing.

Deuteronomium is een van die hoof­stoorkamers van die Israelitiese wet. Deuteronomium is ook as sulks aan baie navorsing onderwerp. 'n Deur­braak in die verstaan van die boek het in 1979 in Amerika gekom, toe Kauf­man sy voorgestelde ooreenkomste tussen die Deuteronomiese wette en die dekaloog gepubliseer het. Dit was blykbaar die eerste suksesvolle poging om so 'n ooreenkoms te trek en dit het reeds erkenning verkry as 'n stan­daardwerk in die veld van die studies oor Deuteronomium. In die Nederlande het ds. Van Rongen en in opvolging van hom ook prof. Holwerda reeds stan­daardwerke hieroor die lig laat sien.

Kaufman was van mening dat die organisering van die Deuteronomiese wette merendeels 'n literêre aangeleent­heid is en nie noodwendig die Israeli­tiese idee van 'n juridiese klassifikasie verteenwoordig het nie.

Daarmee word bedoel dat Deuterono­mium 'n preek (genre) van Moses is met hoofpunte, georganiseer volgens die wette van die Dekaloog en nie nood­wendig 'n organisasie van wette volgens 'n juridiese sisteem is nie. Sy ondersoek na die korrelasies van die verskillende afdelings van Deuteronomium met die dekaloog, suggereer dat die organise­ring van die materie van Deuterono­mium 'n literêre funksie dien. Eerder as dat dit noodwendig 'n klassifikasie­stelsel is waarvolgens die juridiese ma­teriaal vir Israel ingedeel is, het Moses die "gees" agter elkeen van die tien ba­siese wette van die Dekaloog blootgelê, soortgelyk aan hoe Jesus gedoen het in sy Bergrede.

Die implikasie van hierdie ontdekking is dat dit nie oorgelaat is aan Christus of aan Jeremia om te verkondig dat die tien gebooie wyer in reikwydte verstaan moet word as die "letter van die Wet" nie. Eerder moet die indiwiduele ge­booie dien as deure wat toegang verleen tot 'n bespreking van transendentale moraliteit. Anders gestel: die tien ge­booie is selfs reeds so vroeg as by Moses so verstaan dat dit by die indiwidu 'n lewenstyl van morele gedrag kweek teenoor God en teenoor medemens.

Hiermee kom dan onmiddellik die gesagsvraagstuk en die normatiewe karakter van die wet na vore. Die wyse waarop in hierdie aanbieding die her­meneutiek van die Wet beredeneer word, is dat ons dit literêr, letterlik, heilshistories en heilsordelik moet neem.

  • Literêr, as preek met hoofpunte en toepassings volgens die tien gebooie.

  • Letterlik, presies soos wat dit daar staan en in Hebreeus beteken.

  • Heilshistories, soos wat die HERE in die openbaringsgeskiedenis waar­lik gehandel het en presies dieselfde voorskrifte in en deur Christus tot vervulling laat kom het en in die res van die Skrif bekragtig en uitgebou het.

  • Heilsordelik, soos wat dit deur die gieting daarvan vir die mense aan wie dit eerste gerig is werklike heil gebring het op die werkswyse soos wat dit dwarsdeur die Skrif verkon­dig is en steeds vir ons geldig is.

Deuteronomium kan gedefinieer word as een stuk hermeneutiek van die Wet, maar dan geïnspireerde hermeneutiek. Daarin gee Moses die diepste begronding en agtergrond van die Wet, wat:

  • Berus op die grondstelling dat die HERE God 'n enige Here is.

  • Dat ons die HERE onse God sal liefhê met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en met al ons kragte, en ons naaste soos onsself.

  • Die letter van die wet in die terme van die Dekaloog volg.

  • En vierdens hoor ons ook die impli­kasies van die wet soos dit vir ons byvoorbeeld toegepas word in verskil­lende lewensomstandighede.

kinders op brug

Ons het afgesluit met die oorweging dat Deuteronomium gedefinieer kan word as een stuk geïnspireerde her­meneutiek van die Wet. Daarin gee Moses die diepste begronding en agtergrond van die Wet wat berus op die grondstelling dat die Here God 'n enige Here is, dat ons die Here onse God sal liefhê en ons naaste soos onsself, dat die letter van die Wet in die terme van die Dekaloog volg, met die implikasies in verskillende lewensomstandighede.

Dit is moontlik om in Deuteronomium vier hoofsake te identifiseer wat die Dekaloog aangee, en waaromheen die wette van Deuteronomium skynbaar georganiseer is. Hulle is:

Hoofsake Aangaande God en Aangaande die Mens🔗

1. Gesag🔗

Die eerste gebod, Deuteronomium 6-11
Die vyfde gebod, Deuteronomium 16-18

2. Waardigheid🔗

Tweede gebod, Deuteronomium 12
Sesde gebod, Deuteronomium 19-22
Sewende gebod, Deuteronomium 23
Agste gebod, Deuteronomium 23-24

3. Getrouheid🔗

Derde gebod, Deuteronomium 13-14
Negende gebod, Deuteronomium 24:8-16

4. Regte en Voorregte🔗

Vierde gebod, Deuteronomium 14-16
Tiende gebod, Deuteronomium 24-26

Gesag🔗

Die eerste gebod fokus op die gesag van God, terwyl die vyfde gebod met menslike gesag in verhouding tot goddelike gesag dui. Waar Kaufman die eerste en tweede gebod gekombi­neerd in Deuteronomium 12 toewys, is dit dalk beter om die eerste gebod nader verbind te sien met Deuteronomium 6-11. Hierdie hoofstukke verkondig dat God ons eerste Prioriteit asook die finale Gesag is en moet wees, en dat ons aan Hom voorrang en gehoorsaamheid verskuldig is.

Daar is twee regstreekse stellings van God se gesag in hierdie afdeling. Die eerste is in Deuteronomium 6:4 waar die welbekende woorde staan: "Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE."

Die tweede regstreekse stelling is in Deuteronomium 10: "Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie."

Behalwe hierdie regstreekse stel­lings is daar ook verskeie eksplisiete waarskuwings teen die aanbid van ander gode en wat praat van die enigste gesag van God, waarin dit duidelik is dat die eerste gebod in bespreking is (6:13-14; 7:3-5; 9:19-20; 10:20-21; 11:16). Eerder as om die implikasies van die eerste Gebod te bespreek in juridiese definiërings, gee hierdie hoofstukke eerder voor­beelde van maniere hoedat gehoor­saamheid/ongehoorsaamheid aan die eerste gebod gedemonstreer kan word.

Hierby is oproepe ingesluit om God lief te hê (6:5; 10:12; 11:1, 13, 22) en om sy gebooie te gehoorsaam (6:6, 17, 24-25; 7:11-12; 8:1, 6; 10:12-13; 11:1, 8, 13, 18, 22) en waarskuwings om God nie te versoek nie (6:16; 10:16). Laastens het Moses in Deuteronomium 6-11 baie tyd afgestaan om die leser daaraan te herinner hoedat God Homself waardig bewys het vir die respek en die plek wat Hy opeis. Byvoorbeeld stel Moses dat Israel uitgekies en bemin word (7:6-8; 10:14-15), dat Israel vermeerder is omdat God sy verbondsbeloftes gehou het (10:22), en dat Israel verlos is uit Egipte (6:21, ­23; 7:19; 8:2-5, 14-16; 11:2-7).

Verder is God in staat om voorspoed vir hulle te bring (6:10-12; 7:13-15; 8:7-13; 11:10-15) en om die vyande te verdrywe (6:19; 7:1-2, 16-18, 20-24; 9:1-6; 11:23-25) indien aan die voorwaardes van gehoorsaamheid aan Hom voldoen word. Dit wil met die eerste oogopslag voorkom asof hierdie hoofstukke ietwat deurmekaar is. Tog lyk dit of die konsep van God se gesag en sy prioriteit as 'n gemene deler gedien word en dit verskaf 'n sleutel om die gedagtes wat hierin uitgespreek word te verstaan.

In die vyfde gebod is die menslike gesag die tema. In Deuteronomium hoor ons egter hoedat die menslike gesag 'n uitdrukkingswyse is van die goddelike gesag. Die hooffunksie van menslike gesag wat beklemtoon word, is onderrig. In die direkte gebod (Deuteronomium 5:16) word ouers as die basiese skakel gesien vir die kommunikasie, die onderrig en die verteenwoordiging van Goddelike gesag. Die eer wat aan ouers gegee word, word in die konteks geplaas van die bewaring van die verbond ("dat jy lank mag bly in die land"), en dat bewaring bewerkstellig word wanneer die ouers die kinders onderrig. Hierdie gebod poog om 'n swak skakel te dek: As ouers nie hulle kinders reg onderrig nie, sal die voordele van die verbond in die slag bly.

Die verdere Deuteronomiese behan­deling van die vyfde gebod (Deuteronomium 16:18-17:13), praat nie oor die rol van die ouers nie, maar beweeg in die ge­sprek na ander vorme van menslike gesag. Dit het die voorkoms van 'n nasionale toepassing. Elke afdeling praat van die manier waarop die ver­skillende gesagsdraers die voordele van die verbond in gedrang bring deur hierdie swak skakel te identifiseer – ­die maniere waarop elke gesagsdraer kan faal om sy verantwoordelikheid uit te voer voor God.

Die eerste groep wat behandel word, is die regters wat verantwoordelik is om die verbond af te dwing (17:2-7). Elke keer wanneer 'n vonnis gevel word, is daar geleentheid vir onderrig en instruksie. Die swak skakel sal verskyn as die regters nie meer die integriteit van die sisteem bewaar nie. So praat die teks van omkopery wat die regspraak skend (16:19-20), beslissings wat nie afgedwing word nie (17:10-12) en sake waarin onderrig/instruksie nie gedoen word nie (17:10-12) of waar die les nie geleer is nie (17:13). Hier blyk die swak skakels in die gesag/onderrig-ketting te wees wat die verbondseëninge in gedrang sal bring.

regter

Die tweede amp wat behandel word is die koning (Deuteronomium 17:14-20). Die koning word gesien as God se verteen­woordiger wat vir die mense verant­woordelik gehou word deurdat hy 'n stelsel moet daarstel wat aan die vereistes van die verbond voldoen. Hy word sodoende gesien as die admini­streerder van die verbond. God regeer op 'n verbondsmatige manier. Die swak skakel verskyn wanneer die koning in beslag geneem word deur uitrusting en die grootheid van sy amp (vv. 16-17) of wanneer hy nalaat om die wet waar te neem.

Enige van hierdie situasies kan ver­oorsaak dat hy misluk om 'n admini­strasie daar te stel wat die verbond onderhou. Onderrig vind hier veral plaas deur voorbeeld. Die koning stel goddelikheid aan die volk voor deur op 'n wyse te regeer wat aan die vereis­tes van die verbond voldoen.

Die priesters en die Leviete het die verantwoordelikheid van dienslewe­ring wat insluit dat hulle die volk leer (17:10-12). Deuteronomium 18:1-8 praat van die versorging wat die priesters en Leviete by die volk verkry. Die swak skakel hier is wanneer die priesters nie voldoende versorg word nie, hulle nie behoorlik kon funksioneer nie, en die verbond word so geskend.

Die laaste groep is die profete (18:9-22). Hulle het die verantwoordelik­heid om God se boodskap deur te gee, en was so beide in God se gesag as in sy onderrig betrokke. Die swakste skakels verskyn wanneer verkeerde gesag gebruik word (vv. 9-14), as die mense weier om na die profete te luister (18:19), of as die profete hulle eie woorde spreek eerder as God s'n (18:20).

Deur met hierdie vier groepe mense te handel, het die "Bybelskrywer" terugbeweeg in die lyn van gesag wat met God self begin, wat sy instruksies aan die mense verkondig deur die pro­fete. Daarna het die priesters die ver­antwoordelikheid om die mense te on­derrig aangaande die Woord van God en dan het die konings die verantwoor­delikheid om 'n stelsel daar te stel en te onderhou wat gebaseer is op die ver­ordeninge wat God gegee het. Laastens het die regters die verantwoordelik­heid om hierdie stelsel wat daargestel is ook met wet en orde af te dwing.

Deuteronomium kan gesien word as dat dit sekere gebiede uitsonder waar die verbond geskend kan word waar die swak skakels van gesag en onder­rig in die ketting gebreek word. Mens­like gesag moet egter eerbiedig word deurdat hulle moet dien as 'n belang­rike skakel waardeur God se bevele tot sy mense gekommunikeer is. Aan die ander kant is dit die verantwoor­delikheid van die menslike gesagsper­sone om nie hulle ampte te misbruik deur perspektief op hulle eerste taak te verloor nie.

Waardigheid🔗

Die tweede gebod word skynbaar in Deuteronomium 12:1-32 gereflekteer. Die sleutelvers is vs 4: "So mag julle nie doen met die HERE julle God nie."

Hierdie hoofstuk spreek die feit aan dat Israel nie daardie plekke en dinge wat deel van die Kanaänitiese gods­diens was, mag gebruik nie. Die Israeliete mag JHWH nie op dieselfde manier dien as wat die Kanaäniete hulle gode gedien het nie. Hierdie is natuurlik regstreeks verwant aan die verbod van die tweede gebod dat geen beelde gemaak en aanbid mag word nie. Die behandeling van Deuterono­mium bevestig dat die verbanning van beelde spesifiek beelde van JHWH aangaan, en dat dit verder duidelik maak dat die verbod van beelde verstaan moet word in die konteks van die godsdienskultus.

Dit is maklik te verstaan dat God besorg was oor hoe die volk die land Kanaän in besit gaan neem. Sinkre­tisme is die weg van die minste weerstand. So het Hy dan 'n gesentra­liseerde heiligdom beveel, eerder as dat die bestaande heidense heiligdom­me omgeskakel word. Dit is gedoen om homogeniteit in die godsdiens te verseker en om 'n priesterlike kontrole op die godsdienstige praktyke aan te bring. Dit alles moet help waak en keer teen sinkretisme. Veral die rituele en seremonies moes met besondere verfynde aandag en sorg volgens voorskrif nagekom word. Deuteronomium 12:30-31 maak dus weer duidelik: "neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? — dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE 'n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode."

afgode

Die hoofsaak van die Deuteronomie­se behandeling is dus hoedat die ritu­ele aspek van die godsdiens moet plaasvind. Die Israeliete word beveel om nie die heidense seremonies (waar­van beeldediens 'n groot deel is) na te boots nie. Die ware godsdiens moet ook die ware en unieke andersheid van JHWH reflekteer, en dit word geskend wanneer Hy behandel word soos wat die heidene hulle gode behandel.

Ooreenstemmend met die tweede gebod en die bewaar van die waardig­heid van God, is daar drie gebooie (6, 7, 8) wat in verband staan met die beskerming van die waardigheid van die medemens. Die sesde gebod word skynbaar in Deuteronomium 19:1-21:23 be­handel. Hierdie afdeling, vir die grootste deel daarvan, deurtas die diepste rede agter die verbod om moord te pleeg deur verskillende voor­beelde te bespreek waar iemand an­ders se lewe geneem word, maar waar dit nie as moord gereken word nie. So vind ons dan in die behandeling van die sesde gebod, afdelings wat die volgende behandel:

  • Per ongelukkige doodslag en die aanverwante bespreking van die funksie van die Levitiese stede (19:1-13).

  • Die vereiste van twee getuies in 'n halsmisdryf aangesien die straf vir 'n halsmisdaad die neem van die lewe beteken (19:15).

  • Die behandeling van 'n valse getuie (19:16-20) wat ook doodgemaak moet word in die geval van 'n halsmisdaad.

  • Die lex talionis as 'n beskerming teen die wettige neem van 'n lewe waar die misdaad nie om so 'n ernstige straf roep nie (19:21).

Dan gaan hoofstuk 20 voort om die reëls vir oorlogvoering te bespreek, waar ook nie gereken word dat hierdie gebod gebreek word nie. In hoofstuk 21 word uiteenlopende sake bespreek soos hoe gemaak word met bloedskuld as die moordenaar onbekend is. Dit demon­streer dat die saak van moord nie alleen behandel moet word deur die moorde­naar te straf nie, maar ook om bloed­skuld van die land af te weer (21:1-9). Dan word ook behandel wat om met 'n rebel-kind te maak (21:18-21) en wat om te maak met 'n slagoffer van 'n halsmisdaad (21:22-23). So word die waar­digheid van die lewe van die naaste aan sy verskillende fronte beskerm.

Die sewende gebod lyk verbind te wees aan 22:1-23:14, en is ook een van die moeilikstes om aanmekaar te sit, 22:1-12 behandel 'n aantal ver­skillende sake, sommige waarvan aan waardigheid verbind kan word, an­dere wat weer beter sou pas by 'n on­derwerp soos integriteit, en nog ander wat lyk of hulle glad nie pas nie, 22:12-30 behandel verskillende soorte van ontug, almal wat die waardigheid van die gesin/familie aantas, 23:1-14 praat oor die verhouding van emansipeerde, onwettige en vreemde indiwidue in die vergadering asook die saak van reinheid in die kamp. Hierdie dinge het weer te doen met die beskerming van die waardigheid van die kamp.

Die agste gebod is die verbod om te steel, en word behandel in Deuteronomium 23:15-24:7 met die oog daarop om die waardigheid van die besit van die indiwidu te beskerm. Hier behandel hy die vraagstuk waarom diefstal verkeerd is.

Deur waardigheid as 'n basiese element agter die verbod om te steel te sien, is dit dus moontlik om ook ander terreine te behandel wat met hierdie verbod in verband staan. Deuteronomium 23:15-20 behandel die steel van on­aantasbare dinge. Die saak van die vreemde slaaf wat ontsnap het, is 'n situasie waar die Israeliete verbied word om hom van sy vryheid te beroof ('n waardigheidsaangeleentheid).

Deuteronomium 23:17-18 sonder dogters en seuns uit wat wanneer hul tot prostitusie geforseer word, hulle van hulle selfre­spek beroof word. Deuteronomium 23:19-20 verbied die heffing van rente in 'n situasie waar dit 'n medegelowige (jou broer) is, sodat hy nie beroof word van sy ver­moë om weer te herstel nie. Op die ein­de sou so 'n wandaad ook die mede­mens van sy selfrespek beroof.

Deuteronomium 23:21-23 praat van berowing van God deur nie geloftes te betaal nie. Dit blyk ongewoon binne die konteks van die menslike waardigheid, en tot nou toe is die rede vir die teenwoordig­heid van hierdie toepassing hier nog nie geïdentifiseer nie.

Deuteronomium 23:24-25 poog om 'n lyn te trek tussen wat dit is om te steel en wat nie, deur riglyne te gee vir dié optel van kos op iemand anders se eiendom. Dit is ook bedoel om die waardigheid van die arme reisigers te beskerm wat hulle onder­houd op hierdie manier verkry.

Deuteronomium 24:1-4 dek die welbekende saak waar 'n man verbied word om 'n vrou te hertrou van wie hy geskei het en wat intussen met iemand anders getroud is. Dit behandel nie soseer die saak van egskeiding nie, maar eerder die besker­ming van die vrou se selfrespek.

Deuteronomium 24:5-6 praat van die steel van items wat noodsaaklik is vir oorle­wing. 'n Pasgetroude jongman moet van militêre diensplig verskoon word vir 'n jaar om sy vrou nie van haar hu­weliksreg te beroof nie, en om haar ook nie van die eer te beroof om 'n kind in die wêreld te bring en die naam van die man in die nageslag voort te dra nie, want die man kan in die oorlog sneuwel.

Deuteronomium 24:7 behandel ontvoering: mensediefstal.

Daar kom in Deuteronomium vier hoofsake na vore wat die Dekaloog aangee en waaromheen die wette van hierdie boek skynbaar georganiseer is. In die vorige artikel is twee van hier­die hoofsake, gesag en waardigheid, bespreek. In hierdie, die laaste van drie, kom getrouheid asook regte en voorregte aan die orde.

diefstal

Getrouheid🔗

Dit blyk dat die derde en die negende gebod oor die saak van toewyding behandel.

Die derde gebod word vermoedelik in Deuteronomium 13:1-14:21 behandel en adresseer verskillende maniere hoe dit gebeur dat mense God nie ernstig neem nie. So byvoorbeeld die valse profeet (13:1-5) met verskeie wyses hoe die misdaad van valse profesie herken kan en behandel moet word.

So ook as familielede of vriende God se eer aantas (13:6-11) of as die hele dorp daarby betrokke is (13:12-18); dan mag geen genade betoon word nie. Dan vertel hoofstuk 13 van die saak waar getrouheid aan God op die mees blatante wyse oortree word om ander gode te dien, met die besondere wyse waarop in die geval opgetree moet word.

Dan kom hoofstuk 14 met al die maaltydswette. Om God in getrouheid te eer, betrek ook die manier waarop ons met ons liggame omgaan, die rein kos wat ons gebruik om ons liggame mee te versorg.

Die derde gebod word parallel met die negende gebod behandel en wel op drie gebiede:

  • Om jou ondernemings met jou medemens ernstig te neem.

  • Om te verwag en veronderstel dat jou medemens sy onderneming met jou ernstig sal neem.

  • Om nie valse beskuldigings te maak nie.

Die gemene deler in al hierdie sake wat 'n valse getuienis teen die mede­mens verbied, is die element van be­troubaarheid en waaragtigheid. Dit word alles behandel in Deuteronomium 24:8-16. Ander meen dat dit tot so ver as 25:4 gaan.

  • Die voorbeeld van Miriam wat Moses vals beskuldig het: 24:8-9

  • Om nie jou naaste se pand in wantroue te gaan haal nie: 24:10-13

  • Oor die getroue nakoming van beloftes en ede: 24:14-5

  • Verbied om iemand te straf wat nie die misdaad gedoen het nie: 24:16

Regte en Voorregte🔗

Dit lyk of die vierde en tiende gebod oor regte en voorregte praat. Die vierde gebod = God se regte en die tiende gebod die saak van menseregte.

Die fokus wat die dekaloog in die vierde gebod gee is op die Sabbatdag. God het die reg om geëer te word en dat die volk hulle in God moet verlus­tig uit dankbaarheid vir hulle verlos­sing uit Egipte en in herinnering aan die Skeppingswerk. Deuteronomium 14:22-16:17 lyk daarna om ook ander dinge (as net ons tyd) te bespreek wat ons aan God moet toewy uit dankbaarheid vir ons verlossing:

  • Die tiende van ons inkomste: 14:22-29

  • Die kwytskelding van skulde in die sewende jaar uit dank vir die seën van die HERE: 15:1-3

  • Die gewilligheid om aan 'n arme onder Israel uit te leen: 15:4-11

  • 'n Ses-jaar keertyd om slawe-skulde af te handel: 15:12-18

  • Die offer van die eerstelinge: 15:19-23

  • Die Paasoffer: 16:1-8

  • Die fees van die weke en die eerste vrugte: 16:9-12

  • Die Loofhuttefees: 16:13-15

Dan is die tiende gebod teen die be­geer van wat aan die naaste behoort, 'n beskerming daarvan dat die naaste nie van sy reg beroof word nie, maar dat sy reg in stand gehou word. By­voorbeeld:

  • Die naaste se reg op geregtigheid: 24:17-18

  • Die reg van die onskuldige dat onreg teen die onskuldige voluit regmatig gestraf word: 25:1-3

  • Die reg van die os (?): 25:4

  • Die reg van die broersweduwee, en van die broer om sy nageslag be­stendig te verkry deur die swaers­huwelik: 25:5-10

  • Die regte van die slagoffer wat aan­geval is: 25:11-12

  • Regverdige behandeling op die markplein: 25:13-16

  • Die voorbeeld van die Amalekiete wat onregverdige voordeel gegryp het uit die swakkes onder Israel: 25:17-19

  • Die eerste vrugte, die regte en voorregte van die Israeliete wat kan geniet wat hulle voorvaders nie kon geniet nie, die derde jaar tiende en alles wat as die regte van die armes behandel moet word: 26:10-15

Begeer

Praktyk vir Vandag🔗

Wanneer ons nou na die res van die Skrif gaan, ontdek ons dat die grond­stellings wat in die Dekaloog gemaak is en die diepere en wyere implikasies daarvan soos wat Moses dit in Deuteronomium verkondig het, as gesag­volle norm geneem is op grond waar­van

  1. die profete in die res van die Ou Testament sowel as

  2. die Here Jesus deur sy gesprekke en lering en in opvolging van Hom ook

  3. hoedat die apostels in die res van die Nuwe Testament met ekstrapolasies van die wet voorskrifte gegee het wat geldig en Goddelik gesagvol is vir die kerk van alle eeue.

Daar bly allerlei praktiese vrae soortgelyk aan hoedat Paulus sy briewe aan die Korinthiërs geskrywe en ook hoe­dat Jakobus se brief gekonstrueer is. Aan die een kant moet ons hoor hoedat Paulus aan die Kolossense (Kolossense 2) ver­kondig dat die onderhouding van die wette en die oorleweringe van die ou mense nie meer nodig is nie, en tog gaan hy in hoofstuk drie tog voort om voorskrifte vir die Nuwe Testamentie­se gemeente te gee.

Uit die voorskrifte van die apostel­konvent in Jerusalem (Handelinge 15) was dit afgespreek dat die seremoniële wet wat met die skadubeelde in verband staan wat in Christus vervul is, nie meer as las op die Nuwe Testamentiese gelowiges gelê word nie (vgl. die Hebreërbrief en ook NGB art 25). Tog het dieselfde konvent ook besluit dat die gelowiges hulle moet onthou van die afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. Die boodskap daarby was wel duidelik dat die evangelie nie beplan om van die heidene ook model-Jode te maak nie, maar wel dat daar in die lewenswyse van die Christene uit die heidene 'n baie duidelike onderskeid sal wees van die heidene wat afgode aanbid (vgl. 1 Tessalonisense 1:9, 10).

Voorbeeld: Neem Deuteronomium 22:8. Dit is 'n uiteensetting volgens ons indeling, van die basisstelling van die sesde ge­bod wat doodslag verbied. Jy mag nie doodslaan nie, is dan die stelling, en 'n implikasie van hierdie letterlike stelling is dat 'n leuning om die dak van die bovertrek gemaak moet word sodat daar geen bloedskuld op jou huis gebring word as iemand daar van bo afval nie.

Wat sal dan die universele en geldige beginsel wees vir die toepassing van hierdie wet? Die implikasie wat Moses met 'n voorbeeld toelig, is dat ons genoegsame veiligheidsmaatreëls moet tref om sterwensongelukke te voor­kom. Dink aan ander tekste in ekstra­polasie van dieselfde saak: 2 Konings 4:38-41 toe Elisa die giftige kos vir die profeteseuns veilig gemaak het, Lukas 22:35-38 oor die twee swaarde, ook Handelinge 20 verse 8-12 hoedat Paulus met Eutiches gehandel het, en Handelinge 27 die episode van die skipbreuk.

Nuwe ontwikkelende en tegnologies­ontwikkelende wêrelde kan hierdie selfde wet heel konkreet kontekstuali­seer: veiligheidsnette oor swembad­dens, veiligheidsgordels in motorvoer­tuie, veiligheidskakelaars en deure in hysbakke, plastiekhandskoene vir dokters. Dit gaan oor al die moontlike maniere tot ons beskikking om le­wensverlies en lewensbedreiging te voorkom. Dit is die sesde gebod.

Om die Wet hermeneuties te behan­del sal van ons vra om

  1. Die stelling van die bepaalde wet in die dekaloog taalkundig te ont­leed om die presiese betekenis daar­van in konteks te begryp. Daarna

  2. Om in die verdere verduidelikings van die bepaalde wet in die Penta­teug te sien watter praktiese impli­kasies die bepaalde wet ingehou het.

  3. Om verder intertekstueel oor die skopus van die hele Bybel te beweeg om te sien hoedat in verskillende omstandighede die wet verkondig en toegepas is. Dit moet ons daartoe bring om die dogmatiese of leerstel­lige beginsels wat aan die betrokke wet verbonde is, wat as ewigduren­de beginsels dien, daaruit vas te stel en te definieer. En laastens

  4. Om in die ontleding van ons eie le­wensomstandighede die verskil­lende terreine van ons lewe as toe­passingsterreine te sien waarin die Wet van die Here volgens die grond­beginsels daarvan tot praktiese gedrag gebring moet word.

  • Veiligheidswetgewing in abattoirs oor hoe diere geslag en vir die publiek beskikbaar gemaak word, val nie sommer uit die lug nie.

  • Die beginsel dat twee of meer getuies vir 'n saak moet getuig voor­dat dit as waar aanvaar kan word, is nie 'n moderne uitvindsel van die regswetenskappe nie.

  • Die daarstelling van waterleiding en rioolstelsels vir die veiligheid en sindelikheid van 'n samelewing is nie sommer net 'n moderne Westerse uitvinding nie.

  • Dat Paulus vir Timoteus voorskrywe om nie langer water alleen nie, maar ook 'n bietjie wyn te neem vir sy maag en sy ongesteldhede, is 'n voorskrif wat ons in alle letter­likheid en krag kan oorneem met die wete en bedoeling dat Paulus graag wil dat Timoteus die beste beskikbare medisyne vir sy onge­steldhede neem. Hierdie beginsel moet ons vandag nog net so toepas deur die beste medisynes vir ons ongesteldhede te gebruik.

wyn drink

Die vraag is dan of ons moet sê dat daar faktore sodanig kan verander dat die wet of spesifieke toepassings van die wet nie geldig meer is nie. Iemand sal byvoorbeeld sê dat die onderskeid tussen die Christene en die heidene vandag anders daar uitsien as destyds met Deuteronomium, hoofsaaklik omdat ons nie meer as volk eenkant afgesonderd leef nie, maar tussen die heidenvolkere waaruit God sy kerk roep.

Daarom moet ons vandag anders nadink daaroor as 'n Christen 'n tatoeëermerk op sy lyf wil maak, of as hy 'n homoseksuele sekslewe verkies. Die heersende idee is dan blykbaar dat die onderskeid tussen Christen en nie-Christen in die gesindheid aanwesig is waarop sekere dinge gedoen of nage­laat word en nie noodwendig meer in veranderlike kultuuraktiwiteite nie.

Kremasie is een van vele aktuele mo­derne vraagstukke. Dit word meestal vandag in baie Christelike kerkver­bande as 'n adiafora (middelmatige saak) beskou. Dit is egter belangrik om te weet dat die manier waarop ons die liggame van ons ontslape geliefdes besorg, 'n saak van die tweede gebod is, en nie van die sesde, sewende of ander uit die tweede tafel nie.

Die rede waarom die HERE verbran­ding afwys, is omdat ons Hom nie moet onteer deur met ons afsterwe en wat met ons liggame gebeur, dieselfde te doen as wat die heidene doen nie. (Dit is nie vrae soos wat is fisiologies die grusaamste, 'n vuur teen 1000 grade Celsius of wurms in die grond, die gevare om in ons misdadige tye met veiligheid die graf te kan gaan besoek, die kostes, die Skrif se eis oor omgewingsbewaring, die hoë digtheid van bevolking, ens, wat ons moet laat bepaal nie.)

Wat ook al met ons liggame gebeur na sterwe word as 'n priesterlike, profetiese en koninklike saak gesien. Ons verkondig 'n belangrike boodskap met dit wat ons bewustelik met ons liggame laat doen nadat ons afgesterf het. Hoe Christene maak, hoe Christe­ne dink en wat Christene verkondig in skerpe antitese met ongelowiges, kom ook uit, en miskien veral uit, deur die wyse waarop hulle met hulle lig­game bewustelik laat maak na afster­we.

Hoe bepaal ons die norm wat vir ons geldig is:

  • Nie kontekstueel nie

  • Nie situatief nie

  • Nie eie goeddunke nie

Maar gehoorsaam eers luister na die volle reikwydte van wat God se me­ning oor die saak is en gehoorsaam soek om te doen wat na sy welbehae is. (Kyk HK So 33).

Vra by die praktyk wat gebesig word: Waar kom nou eintlik die idee van­daan om so iets op so 'n manier te doen? Die antwoord op hierdie vraag behoort voldoende aanduiding te gee of dit uit spontane gehoorsaamheid of uit eiewillige kreatiwiteit gedoen is. Saul, waar het jy aan die idee gekom om hulle so met die banvloek te tref dat hulle skape hier nog blêr en hulle beeste hier bulk, en hulle koning hier sit?

Waar kom ons jongmense aan die idee om sommer net saam te bly?

In 'n rede by 'n gradeplegtigheid van die Teologiese Skool te Potchefstroom met die titel: Sal ek swyg of sal ek spreek, het prof Harry van Rooy gesê: Daar staan nêrens in die Bybel dat gelowiges vir alle tye en omstandig­hede uit een drinkbeker die wyn van die nagmaal moet drink nie. Op hierdie opmerking kan voortgebor­duur word. Daar staan nêrens in die Bybel dat gelowiges vir alle eeue en alle tye en onder alle omstandighede:

  • by 'n tafel moet aansit en nagmaal gebruik nie

  • vrouens hoofbedekkings moet dra nie

  • vrouens lang hare en mans kort ha­re moet dra nie

  • die huwelik die manier is hoe man en vrou saam bly nie

  • dat ons gekant teen wêreld-eenheid moet wees nie

  • dat ons nie aan stadsontspanning mag deelneem nie

  • dat ons nie op Sondag koerant mag lees nie

  • dat ons ongewenste babas prema­tuur mag afdryf nie

  • dat ek van 'n buurman se saad kan gebruik om my vrou te bevrug nie.

koerantlees

Die teenvraag is egter: Waar kom mense aan die idee om die dinge te doen? Kry hulle die idee by die Here? Benader ek die Bybel om te soek wat ek daarin wil vind, of benader ek die Bybel omdat ek daarin wil vind wat ek moet soek. Ek is bevrees dat die argument van Van Rooy te veel klink na die soort argument van Eva voor­dat sy tog die vrug geëet het.

'n Slotopmerking🔗

Die Bybel is God se verbondsboek waarin Hy sy salige verhouding met sy verlostes volledig beskrywe. Daarin neem die Wet 'n sentrale plek in. Die hele Bybel is 'n uitleg wat God gee van sy eie Wet. Daarmee belig Hy meer as die letter van die Wet. Hy lê die gees van die Wet bloot, die grondbeginsel/s waarop die Wet berus. Hy verkondig ook die wye implikasies van sy Wet oor die volle spektrum van elke duim­breedte van ons totale lewe. Nie om ons tot kasuïstiese Fariseïsme te bring nie, maar om ons tot sy ewebeeld te vernuwe. Daarom neem ons dit letter­lik, literêr, heilshistories en heilsor­delik gesagvol om ons lewens en ons kultuur aan te pas en in te pas en te verander om daaraan gehoorsaam te wees.