Bron: Kompas, 2001. 4 bladsye.

Die Kerke en die ABO

’n Moderne oorlog is ontwrigtend vir die totale lewe. Huisgesinne, die land se ekonomie, die sosiale lewe en ook die kerke ly onder die gevolge. Die Anglo-Boereoorlog kan in hierdie betekenis van die woord in baie opsigte as een van die eerste moderne oorloë gesien word. Die kerke en die godsdienstige lewe het reeds gedurende die oorlog die gevolge van hierdie stryd begin ondervind.

Kerklike Indeling🔗

Die grootste kerklike gemeenskap onder die blanke bevolking was die NGK. Dit was egter geen kerk wat die grense van die vier gebiede (Kaap, Natal, OVS en ZAR) oorskry het nie. Elk van die vier gebiede het sy eie selfstandige NGK gehad – in die ZAR met die effens merkwaardige naam: Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk. Daar was uiteraard wel samewerking tussen die vier NG-kerke, maar daar was geen formele eenheid nie. Die samewerking was die duidelikste in die feit dat almal gebruik gemaak het van een teologiese opleiding, die Kweekskool in Stellenbosch.

Die GKSA was veel kleiner. Hierdie kerkverband het wel oor die grense van die vier politieke gebiede gegaan. Die gemeentes was oor die hele suidelike Afrika versprei. Hulle teologiese opleiding was in Burgersdorp in die Kaapkolonie gevestig.

In die ZAR was daar nog ’n derde kerk, die NH-kerk wat ’n spesifiek Transvaalse kerk was. Na die kerklike gebeurtenisse in die Transvaal, wat vroeër reeds in Kompas beskrywe is, het die NH-kerk baie van sy invloed verloor. Die getalle was nie groot nie. Daar was geen eie teologiese opleiding nie, predikante is uit Nederland beroep.

Teologies gesien het die NH-kerk en die NG-kerke naby mekaar gestaan. Daar was egter talle ander sake, wat oor die algemeen polities van aard en agtergrond was, wat dikwels wrywing veroorsaak het. Die teologiese verskille tussen bogenoemde kerke en die GKSA was baie groter en teenoor die “Doppers” is dikwels ’n mate van afstand bewaar. Die verskille was egter nie polities van aard nie.

Predikante op Kommando🔗

Met die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 moes alle blanke mans van 16 tot 60 jaar vir kommandodiens beskikbaar wees. Hoewel nie almal dadelik gekommandeer is nie, het die grootste deel van die manlike bevolking tog na die grense getrek. Dit het ’n ongekende situasie laat ontstaan. Die kerke is voor ’n groot uitdaging geplaas: die geestelike versorging van sowel die mans op kommando, asook dié van die agtergeblewenes. Die kommandowet het geen voorsiening ten opsigte van geestelike sorg gemaak nie, alle inisiatief is aan die kerke gelaat.

Die kommandostelsel het die burgers van wyke en distrikte gesamentlik in veldkornetskappe en kommando’s ingedeel. Daar was later wel ’n heen en weer beweeg van burgers van die een kommando na die ander, maar in die beginfase van die oorlog was daar tog ’n baie sterk ooreenkoms tussen wyk en veldkornetskap. ’n Predikant van ’n sekere gemeente kon dus een kommando besoek en daar die oorgrote deel van sy gemeentelede aantref. In dié opsig was die situasie eenvoudig. Daar was egter ander aspekte wat die saak moeilik gemaak het. Heelwat dorpe en gemeentes was baie geïsoleerd. In die tyd van die predikant se afwesigheid kon hulle dus geen of baie min hulp van buurgemeentes verwag. Dit is ook van belang om in gedagte te hou dat die oorgrote deel van die kerkraad ook op kommando kon wees. Verder het reise in die dae baie tyd geneem.

Wanneer alles in ag geneem word, kan ’n mens stel dat die kerke en die predikante oor die algemeen goed hul pligte nagekom het. In die beginfase van die oorlog, tot ongeveer April 1900, was daar byna 50 predikante wat reëlmatig op kommando geestelike versorging gebied het. Van hulle was 35 NG en 4 NH. Van die GKSA was daar 7 predikante, 5 uit die ZAR en 2 uit die Kaap, boonop het prof J Lion Cachet en proponent JD du Toit (Totius) na die sluiting van die teologiese opleiding in Burgersdorp, die kommando’s gedien.

Ander Kerkgenootskappe🔗

Hoewel die genoemde kerke die oorgrote meerderheid van die blanke bevolking verteenwoordig het, was daar binne die ZAR ook ander kerke werksaam. Met name aan die Witwatersrand was ander kerkgemeenskappe aanwesig. Hulle lidmate was dikwels geen burgers van die republiek nie, maar daar was onder hulle wat vrywillig die Boeremagte gaan help het. Ook buitelandse vrywilligers het by die Boere aangesluit, onder hulle was daar byvoorbeeld Skandinawiërs en Iere. Dit is dan ook nie verwonderlik om te lees dat aansoeke om geestelike versorging by die kommando’s aan te bied, toegestaan is aan Lutherse voorgangers, afkomstig uit onder andere die Berlynse sendingwerkers, aan ’n Roomse priester en aan ’n Wesleyaanse pastor. Hierdie besonderheid toon weer eens aan dat die samelewing in die Boererepublieke besig was om meer kosmopolities te word as wat algemeen gedink word.

Die Kentering🔗

Na die aanvanklik suksesvolle verdediging van die Tugelalinie het die militêre situasie na Februarie 1900 begin verander. Lord Roberts het sy massiewe aanval vanuit die Kaapkolonie na die noorde begin. Eers stadig maar teen ’n steeds vinniger tempo is die Boeremagte in wanorde gedompel. Wanhoop het duisende burgers die wapens laat neerlê, steeds meer dorpe en stede is deur die Britse magte beset en die oortuiging het posgevat dat die oorlog verloor en verby was.

Hierdie verandering het ook vir die kerke ’n verandering teweeggebring. Predikante uit gebiede wat deur die Britte beset is, moes besluit of hulle hul gemeente wou bly versorg of moes bly by die lidmate wat op kommando was. Om in al twee behoeftes te voorsien was nie langer moontlik nie. Net soos burgers wat die wapens neergelê het, is predikante gedwing om die neutraliteitseed af te lê. Gesien die verwarring in baie opsigte, kan dit die predikante nie verkwalik word dat hulle hul sorg in die eerste plek aan die gemeentes gewy het nie. Tog was daar ook predikante wat gekies het om hulle permanent by die Boeremagte aan te sluit.

Die Uittog🔗

Namate die guerrilla-oorlog vaste vorm aangeneem het en die Britse maatreëls daarteen toegeneem het, het die kerke onder groter druk gekom. Die verwoesting van plase, die vorming van kampe en die talle vlugtelinge wat onder beskerming van die Boeremagte – of daarsonder – weggekruip het, het die geestelike versorging baie moeilik gemaak. Die Britse vertolking van die neutraliteitseed het dit vir predikante moeilik gemaak om hul amp te bly uitoefen.

Predikante wat geweier het om die eed van getrouheid af te lê, moes onmiddellik padgee. So byvoorbeeld moes ds. Boshoff van Jacobsdal sonder seremonie en met net die klere aan sy lyf en sy fiets die pad na die naaste spoorwegstasie vat. Verbanne predikante kon selfs geen verlof bekom om onder die krygsgevangenes te werk nie. Daar is berigte oor predikante wat op owerheidsgesag na die Kaapkolonie verban is, ander is geïnterneer, verhoor en op parool vrygelaat. In die Vrystaat is sommiges nie eers toegelaat om hulle eie gemeentes te bedien nie en is letterlik uit hulle gemeentes verban. In die Kaap is sommige predikante wat onder verdenking gestaan het, ingevolge die krygswet hulle salarisse ontsê.

Hoewel ’n mens die vreeslike verwarring wat geheers het in ag moet neem, is dit tog opvallend dat slegs ’n klein minderheid onder die predikante hulle taak en roeping onder die vegtende burgers gesien het. Aan die ander kant moet ’n mens ook in ag neem dat ’n predikant wat hom by die bittereinders aangesluit het eerder as om sy verstrooide gemeente te probeer dien, meer deur nasionalisme as deur amptelike pligsbesef gedryf kon wees.

Guerrilla-Predikante🔗

Tydens die guerrillafase van die oorlog het verskeie predikante van kommando na kommando getrek om as swerwende dienaars die vegtende burgers by te staan. Party van hulle het in die lot van die vegtende burgers gedeel en is as krygsgevangenes weggevoer. Daar is geen gevalle bekend van predikante wat gesneuwel het nie. Daar was wel predikante wat vrywillig na die krygsgevangekampe gegaan het om die burgers geestelik by te staan.

Teen die einde van die oorlog was daar nog sewe predikante onder die bittereinders. Ses van hulle was NG-predikante en een was voorganger in die GKSA. Die bekendste onder hulle was seker ds. JD Kestell wat saam die kommando van genl. CR de Wet en pres. MT Steyn van die OVS rondgetrek het. Na hulle is as die driemanskap verwys: nl. die krygsman, die staatsman en die Godsman onderskeidelik.

Hierdie swerwende predikante het nie net die vegtende burgers bedien nie, maar ook die vrouelaers wat die konsentrasiekampe ontvlug het. In hierdie fase van die oorlog is daar geen onderskeid meer getref tussen die verskillende kerke nie. Lidmate van al die kerke is deur die predikante bedien.

Besondere Persone🔗

Onder die predikante wat besondere vermelding verdien is beslis die Nederlandse NH-predikant ds. MJ Goddefroy van Pretoria.

Reeds in die beginfase van die oorlog was hy nagenoeg permanent by die vegtende burgers. Hy het ook in die guerrillafase by die kommando’s gebly. ’n Ernstige graad van malariakoors het hom gedwing om by die Britte hulp te soek. Die uiteinde daarvan was dat hy as gewone krygsgevangene na Ceylon gestuur is.

Daar op Ceylon was reeds ’n ander predikant as krygsgevangene aanwesig, ds. PH Roux van Senekal. Hy het sy loopbaan as veldprediker begin, maar is vanweë sy erkende leierskap tot veggeneraal bevorder! Nadat hy gevange geneem en verban is, het hy op Ceylon sy geestelike werk weer ter hand geneem.

Ds Kestell vertel in sy dagboek dat ook aan hom die generaalskap aangebied is. Hy het egter geweier om sy amp vir ’n dergelike aanstelling te verruil.

Nog ’n predikant wat die dilemma gehad het was die Nederlander ds. HD van Broekhuizen wat as hulpprediker van die NG-predikant ds. HS Bosman in Pretoria gedien het. Tydens ds. Bosman se afwesigheid het hy as predikant waargeneem, daarna het hy self as veldprediker sowel aan die Tugela as aan die westelike front gedien en het hy gereeld sy Mauser en bandelier gedra en gebruik. Toe die Boeremagte begin verbrokkel, het hy by die bekende verkennerkorps van Danie Theron aangesluit en aan talle gevegte deelgeneem, terwyl hy Sondae in eredienste voorgegaan het. Na die inname van Pretoria moes hy kies tussen gevangenskap op Ceylon of terugkeer na Nederland. Hy het die laaste moontlikheid verkies en vervolgens in Nederland die Boere se saak ondersteun.

Meelewe🔗

Die Transvaalse en Vrystaatse kerklike lewe is deur die oorlog nagenoeg weggevaag. Slegs op enkele dorpe kon gedurende die oorlog van ’n mate van kerklike lewe sprake wees. Die Kaapse broederskap het sterk met hul verdrukte broers en susters meegelewe. Aanvanklik was daar net mondelinge en skriftelike proteste by die Kaapse en Britse owerheid. Namate die oorlog voortgegaan en wreder geword het, het ‘De Gereformeerde Kerkbode’ – die voorloper van ‘Die Kerkbode’ – breë aandag gegee aan die gebeure in die republieke. Veral die toestande in die konsentrasiekampe het wye dekking gekry.

Die meelewe is nie tot woorde beperk nie. Toe die eerste gevangenes in die Kaapkolonie aangekom en tydelik gehuisves is, het die kerke dadelik pastorale en materiële hulp gebied. Dit is later uitgebrei tot hulp aan die bewoners van die kampe oorsee en die konsentrasiekampe in die noorde. Die kerk in die Kaap het, ondanks die feit dat hy onder Britse gesag geleef het, geen valse neutraliteit geopenbaar nie.