Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Maatskaplike Werklikheid en Salomo se Wysheid

Die maatskaplike werklikheid het vandag dikwels die norm geword waarmee vraagstukke in die mediese etiek opgelos word. Dikwels is die gevolg hiervan dat die oplossing in stryd is met die wysheid van die Woord van die HERE en dat goed en kwaad van plek verwissel.

Onlangs het daar 'n artikel in die Nederlandse pers verskyn van Prof ATh van Deursen met die titel: "De maatschappelijke werklijkheid en Salomo". Die artikel raak 'n baie belangrike beginsel aan oor hoe ons vandag na etiese vraagstukke in die geneeskunde begin kyk het, en hoe ons in feite die wysheid van Salomo omgekeer het en ons tans ver daarvan verwyder is.

Die maatskaplike probleme wat ons in die werklikheid aantref word steeds meer die norm waarvolgens mediese handelinge beoordeel en voorgeskryf word.

Sy artikel begin deur 'n situasie te skets waar 'n moeder enkele jare gelede 'n aborsie gehad het in Duitsland vir 'n vir haar ongewenste kind. In daardie tyd was die doen van aborsies op aanvraag nie in Duitsland gewettig nie. Sy het daarom tereggestaan. Haar verduideliking aan die regter was: "Ek hou so baie van my kinders dat ek nie my kind aan vreemde mense sal wil afstaan nie." Daarom wou sy 'n aborsie hê. Haar redes klink op die oog af menslik. Maar as mens mooi daaraan dink is haar rede presies soos die tweede vrou in die oordeel van Salomo. "Hy sal nie myne en ook nie joune wees nie: sny deur!" (1 Konings 3:26)

In 1 Konings 3 lees ons van Salomo wat uitspraak lewer oor die vroue wat gestry het wie se seun lewendig en wie se seun dood was. Hy beveel dan om die saak op te los dat die lewendige kind in twee stukke gesny moet word en die helfte aan die een en die ander helfte aan die ander gegee moet word.

Die werklike moeder smeek dan by Salomo om tog nie haar kind dood te maak nie en die kind liewer aan die ander vrou te gee (1 Konings 3:16-28).

Dan volg Salomo se uitspraak:

Gee aan hierdie vrou die lewendige kind en maak hom in geen geval dood nie: sy is die moeder.1 Konings 3:27

Hierdie uitspraak het altyd deur die eeue gegeld as besondere wysheid. Ons lees dat die hele volk gesien het dat daar goddelike wysheid in die koning se binneste was om reg te doen (1 Konings 3:28). Hierdie koning het die middel gevind om te onderskei tussen ware en valse moederliefde. Vir byna drieduisend jaar lank is hierdie wysheid vertel totdat die abortuswet dit omgekeer het.

Vandag is die ware moeder daardie moeder wat eerder haar kind laat sterf as wat sy dit sal afgee aan 'n ander vrou. In hierdie nuwe moraal het goed en kwaad van plek verwissel. Die spreekwoordelike wysheid van Salomo word nie meer aanvaar nie.

Salomo het daarvan uitgegaan dat 'n moeder eerder haarself sal skade aandoen as wat haar kind sal skade ly. Hierdie oordeel van Salomo is later deur Christus in die bergrede in meer algemene sin bevestig.

Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.Mattheus 7:12

Hierdie woord van Christus laat geen opening vir die nuwe moraal nie.

'n Moeder wat hierdie wysheid beaam kan nie in die abortuskliniek beland nie.

Onlangs het die pous aan Duitse biskoppe beveel om geensins met die voorbereiding van 'n aborsie te doen te hê nie. Tog is daar steeds meer biskoppe in die Rooms-Katolieke kerk wat nie meer 'n probleem het om uiteindelik tog vir aborsie op aanvraag te kies nie. Dit is interessant omdat die Rooms-Katolieke kerk tot vandag die Protestantse kerke verwyt vir hul gemaklikheid met die praktyk van aborsie.

In Suid-Afrika sien ons iets soortgelyks. Al hoe meer mense wat hulself Christene noem, keur die praktyk van aborsie op aanvraag goed. Die rede wat hulle aanvoer is dan gewoonlik dat die maatskaplike probleme so 'n geweldige realiteit is, dat die paradigmaverskuiwing ook vir Christene noodsaaklik is. Ons beleef dit in klinieke, hospitale en by universiteite. Aborsie op aanvraag word so hanteer asof dit die gewoonste saak van die wêreld is.

'n Sekere Duitse biskop, Dyba, biskop van Fulda het egter in 'n onlangse onderhoud duidelik en ondubbelsinnig hom gedistansieer van die praktyk van abortus op aanvraag wat nou in Duitsland toeneem.

In 'n vraag of hy dan nie besef dat aborsie 'n maatskaplike realiteit is nie het hy geantwoord dat dit geen argument is nie. Ons kan nie aan die maatskaplike werklikheid normatiewe gesag toeken nie. Dit is geen maatstaf van goed of kwaad nie. Niemand sou dit beter moes weet as 'n Duitser wat uit sy eie geskiedenis geleer het nie. Wat was die maatskaplike werklikheid in die Derde Ryk onder die nasionaal-sosialisme, of in Oos-Duitsland onder die kommunisme? Almal weet wat die gevolg was toe Duitsland sy maatskaplike werklikheid in die eerste helfte van hierdie eeu bepalend gemaak het vir wat goed en verkeerd is.

Ook in Suid-Afrika sal ons moet oppas om die maatskaplike werklikheid tot norm te verklaar. Die maatskaplike probleem van aborsie op aanvraag mag nie ons oordeel vertroebel nie. Dit beteken nie dat ons geen oog het vir die praktyk van elke dag nie. "Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen."

Ware moederliefde offer nie die lewe van die kind op vir eie geluk nie, en doen dit ook nie onder die valse voorwendsel dat haar liefde vir die kind so groot is, dat sy hom of haar nie aan ander kan gee nie. Ware moederliefde ly eerder self skade as om die kind skade te berokken.

Dit is die wysheid van Salomo. Dit moet ons steeds vandag vashou, al gooi die mens aan die einde van die tweede millennium dit oorboord. Meer as drieduisend jaar, en nog steeds is die wysheid van Salomo geldig.

Ken ons as Christene dan nie die maatskaplike werklikheid nie? Ja, ons ken dit goed, maar ons gee dit 'n ander naam. Ons praat van sonde. Vandag voel baie mense wat hulself Christene noem, te swak om die sonde van aborsie op aanvraag te bestry. Daarom word 'n ander naam vir hierdie sonde uitgedink en die sonde word aanvaar as die praktyk van elke dag.

Aborsie op aanvraag word nou die maatskaplike werklikheid genoem. As die praktyk stelselmatig ingeburger is, dan styg die status van hierdie praktyk. Dit sien ons baie duidelik in Suid-Afrika. Dit is amper ouderwets en onbarmhartig om aborsie op aanvraag as sonde te beskryf.

Die maatskaplike werklikheid word aanvaar as algemeen geldende waarde en norm. Ja, maar dan volg die volgende stap. Ook die kerk moet leer om die sonde te aanvaar onder die naam maatskaplike werklikheid. Dit kan moeisaam wees, veral omdat die kerk dikwels groot verhale oor sonde en straf aan die arme mense opgedring het. Die kerk is wat dit betref werklikwaar 'n lastigheid vir die postmoderne mens.

Dit is duidelik. Die rolle is omgekeer. Nogmaals, kwaad en goed het plek verruil. Presies soos in die tyd van die nasionaal-sosialisme in Duitsland. As die wêreld daarna terugkyk word dit as barbaars en strydig met wat goed is, bestempel. Die moontlikheid om te lewe is aan sommige ontneem.

Met die verklaring van sonde (aborsie op aanvraag) as maatskaplike werklikheid en die inburgering daarvan as geldende norm wil die postmoderne mens 'n nuwe grens lê tussen lewe en dood. Die moontlikheid om te lewe word aan sommige (ongebore kinders) ontneem.

Nee, die wysheid van Salomo geld steeds.

Dit is ook die wysheid van Christus. Hy is meer as Salomo. As jy Christen wil wees, moet jy Christus volg.

Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Mattheus 25:40

Dit is baie belangrik dat ons wat in die gesondheidsberoepe werk hierdie beginsel sal vashou. Nie net t.o.v. van aborsie nie, maar t.o.v. van talle mediese vraagstukke geld die beginsel dat die werklikheid nie die norm van goed en kwaad soos ons dit in die Woord van die Here vind, mag vervang nie.

Die gevaar is groot dat ons onder die druk van die sondige werklikheid wat dikwels in 'n baie "menslike" verpakking na ons toe kom, oortuig word van die "nuttelose" wysheid van Salomo.

Van Deursen sluit sy artikel af met die dringende vraag:

Verkies ons om in naam van die maatskaplike werklikheid te lewe in 'n land waar Salomo geen regter sou mog wees nie?