1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Naam Vader

Vir God se volk is die naam Vader ʼn kosbare naam, want dit spreek van sy ewige liefde vir hulle. Dit is  ʼn naam wat God se verbondsverhouding met sy volk in Jesus Christus beklemtoon. Daarom is dit die naam wat hulle geleer word om bo alle ander name in hulle gemeenskap met Hom te gebruik (Matt. 6:9).

Die naam Vader is nie alleen sy naam in verhouding tot sy volk nie, maar ook sy naam in die Drie-eenheid. Hy word nie  ʼn Vader wanneer Hy ons aanneem nie. Dit sou sy onveranderlikheid misken. Hy is  ʼn ewige Vader as die Eerste Persoon van die Drie-eenheid.

Die teenkant van die ewige vaderskap van God in die Drie-eenheid is sy ewige liefde vir ons, sy kinders. Hy het ons in die ewigheid gekies en sy vaderskap oor ons gevestig. Hy is van ewigheid die Vader van sy volk. Is dit nie wonderlik nie?

In die Ou Testament is die naam Vader egter selde deur God se volk gebruik (Ps. 68:6; Ps. 103:13; Jes. 9:5; Jes. 63:16). Waarom?

Die rede waarom God se volk selde van Hom en met Hom as Vader gepraat het, lê aan die wortel van die verskil tussen die Ou en die Nuwe Testament. Dié verskil tussen die Testamente is nie  ʼn beginselsaak nie, maar het te doen met die feit dat die Ou Testament die tyd van belofte was en die Nuwe die tyd van vervulling.

Dit is Christus se koms in die vlees wat verskil maak in die gebruik van die naam Vader. God kom na ons deur Christus en woon by ons in die tempel van sy liggaam (Joh. 2:19-21). Deur Christus openbaar Hy aan ons die wonder van sy liefde en skenk aan ons die volheid van die saligheid

Ons kan dit miskien die beste verstaan as ons dink aan God se aanneming van ons as sy kinders. In die Ou Testament was gelowiges kragtens die belofte ook die kinders van God. God het hulle gekies om sy kinders te wees en hulle selfs sy liefde vir hulle geleer. Hulle is van die nasies afgesonder en tot sy eie familie gemaak, maar tog was God nog agter die voorhangsel en het Hy Homself net in tipes en skadu’s aan hulle openbaar.

Eers in die Nuwe Testament is die voorhangsel weggeneem en het ons vrye toegang tot die troon en teenwoordigheid van God (Heb. 10:19-22). Eers in die Nuwe Testament kom God só na aan ons dat ons één van been en vlees in Christus is (Ef. 5:19-22). Eers in die Nuwe Testament word ons as kinders vry van die diensbaarheid onder die beginsels van hierdie wêreld en word ons nie meer as diensknegte beskou nie (Gal. 4:1-5). Eers in die Nuwe Testament het ons daarom, deur die Gees van die opgestane en verhoogde Jesus, die vrymoedigheid om in elke land en elke taal uit te roep: “Abba, Vader” (Gal. 4:6,7).

Dit beteken nie dat die gelowiges in die Ou Testament niks gehad het nie, maar alleen dat dit wat ons onder die Nuwe Testament het, beter is. Wat aan die Ou Testamentiese heiliges beloof is, is aan ons in die Nuwe Testament vervul. Laat ons dit nooit vergeet nie.