Bron: De Wekker. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Is die Nederlandse Geloofsbelydenis Byderwets genoeg?

Hoe bly en dankbaar ons ook al mog wees dat ons 450 jaar gelede ons eerste gereformeerde geloofsbelydenis uit eie bodem ontvang het, kan die vraag tog opkom of die Nederlandse Geloofsbelydenis met die verloop van die tyd aktueel gebly het. Ons lewe immers in ʼn tyd van rasendvinnige verandering. Daar kan nouliks bygehou word met ontwikkelinge op kulturele, maatskaplike en wetenskaplike gebied. Daarbenewens het die kerk weereens met allerlei interne vrae en probleme te doen, soos die kwynende besef van verbondenheid aan ʼn kerk, van verlange na meer intense belewing en dies meer. Ons het in byna alle opsigte die gevoel dat die sestiende eeu ver weg is en dat ons nie meer kan regkom met die destydse kennis en benaderings nie. Sou ons Nederlandse Geloofsbelydenis hierop ʼn uitsondering kon wees?

Laat ons eerlik wees: Wie die Nederlandse Geloofsbelydenis lees, ontdek gou dat die dié geskrif uit die sestiende eeu stam. Dit kom al dadelik na vore in die sentrale plek wat die regverdiging deur die geloof, wat die belangrikste geskilpunt met die Rooms Katolieke Kerk gevorm het, inneem. Dit blyk ook uit die skerp afwysing van ander bewegings, soos die dopers, van dié tyd. Dit is duidelik dat daar in verskillende rigtings klarigheid geskep moes word. Die Rooms Katolieke vors Fillips II en sy verteenwoordigers moes weet dat die aanhangers van die ‘nuwe leer’ nie ʼn ‘nuwe lig’-sekte was wat met die geloof van die kerk van die eeue gebreek het en op verskillende punte van die klassieke belydenis afvallig geword het nie. Hulle het in teendeel met Luther onderstreep dat hulle niks anders doen as om die ‘ou kerk’ weer in ere te herstel nie.

Hulle wou dieselfde vors ook laat weet dat hulle hom as wettige, deur God ingestelde owerheid erken. ‘De koning van Hispanje heb ik altijd geëerd’. Hulle het hulle daarin van die dopers onderskei wat geglo het dat Christus nie ons sondige menslike natuur aangeneem het nie, maar in bepaalde sin as hemelse God deur die ‘kanaal’ van Maria na die wêreld gekom het en in die werklikheid van hierdie wêreld en sy strukture ingegaan het. Hierdie beskouing van die menswording van Christus het gevolge gehad vir hulle stand in die samelewing. As volgelinge van Christus, in Hom nuutgebore, het hulle gemeen dat hulle van hierdie wêreld en sy wette onthef is. Die gereformeerdes het ʼn ander beskouing gehad. Hulle het daarop gewys dat Christus die regmatigheid van die owerhede as instelling van God erken. Die gereformeerdes het goed verstaan dat dit nodig was dat die koning die verskil tussen hulle en die dopers duidelik sou sien.

Is dit nie ʼn nadeel dat die Nederlandse Geloofsbelydenis die tyd van sy ontstaan so duidelik vertoon nie? Beteken dit nie onvermydelik dat dit ʼn tydgebonde geskrif is wat opgedateer of deur ʼn nuwe belydenisskrif vervang behoort te word nie? Of erger: as ʼn belydenisskrif duidelik die kenmerke van sy ontstaanstyd vertoon, is daar dan ʼn waarheid wat vir alle tye geld? By die uitspreek van die apostoliese geloofsbelydenis in die erediens voeg ons dikwels by dat dié geloof altyd, oral en deur almal bely is. Kan ons dit waar maak?

Pastorale dogmatiek🔗

Kom ons kyk eerstens hoe dit in die loop van die geskiedenis van die kerk met die belydenisse gegaan het. As ons die drie ekumeniese geloofsbelydenisse bekyk dan sien ons in een oogopslag dat hulle kort en saaklik is. Hulle vat bondig saam wat die ortodokse leer is en kan as sodanig ʼn plek kry in die liturgie, maar het tog ook nog uitleg en toepassing nodig. Daarvoor is die preek en die onderrig in die kerk.

Die behoefte aan uitleg en toepassing van die geloof van die kerk is presies wat die mense in die tyd van die reformasie ook gevoel het. Eeuelank is die mis, wat die geloofsbelydenis ingesluit het, voorgelees in Latyn Die geloofbelydenis het vir die mense nie soveel beteken nie, vir hulle gevoel was die sakramente veel belangriker. Die Roomse leer was immers dat die sakramente die genade van God direk aan ons gee. Die ergste wat jou kon oorkom, was dat die kerk jou die sakramente ontsê. Dan ontvang jy nie langer die heil van God nie! Die kerk het hier dus ʼn groot plek ingeneem, dit was ʼn tussenganger tussen God en mens.

Met die Reformasie het dit verander. Christus deel sy genade uit deur sy Woord en Gees; die kerk beskik nie daaroor nie. Maar dan kom dit aan op persoonlike geloof! Wanneer die Heidelbergse Kategismus oor die apostoliese geloofsbelydenis leer, lei hy dit in met vraag en antwoord 22:

“Wat moet 'n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

Die geloofsbelydenis is nie ʼn soort mantra, ʼn verpligte stuk liturgie wat jy met dreunsang nasê nie, maar jy mag, en moet daarmee besig wees. Dit is immers die samevatting van die beloftes van die evangelie!

Die opskrif bo-aan hierdie paragraaf, ‘pastorale dogmatiek’, klink miskien ietwat vreemd. Dit kom van die Nederlandse teoloog O. Noordmans, wat die eie aard van die belydenisskrifte daarmee gekenmerk het. Die geloof van die kerk word in die belydenisskrifte só uiteengesit dat dit op ons hart gerig word en ons harte kan geval. Mens kan dit ook gebruik in onderrig oor die geloof. Die bekendste voorbeeld hiervan is die Heidelbergse Kategismus wat uitdruklik daarvoor bedoel is. Dit neem nie weg dat ook die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls passasies met ʼn duidelike pastorale toon bevat nie.

Teen hierdie agtergrond kan ons ook verstaan waarom Calvyn die geloof ‘kennis’ noem, kennis van hoof en hart. Glo is nie kerk toe te gaan om jou plig te doen en jou verstand uit te skakel nie – nee, dit is kén; op grond van die Woord van God wéét op Wie ons vertrou.

Hy wat in die waarheid lei...🔗

Is dit dan tog nie jammer dat ons nie één belydenis vir alle tye het nie? Sou dit nie baie beter wees en ook ʼn sterker boodskap na hulle wat buite staan nie? Dit is stellig goed as kerke en lede van kerke mekaar in die allerheiligste geloof herken. Tog hoef dit nie te beteken dat almal altyd en oral presies dieselfde sê nie. Dit sal vir sommige miskien verrassend wees om te hoor dat dit nie gereformeerd is om ons aan een bepaalde belydenis te verbind en dit te verklaar as verpligtend vir almal nie. Dit veel eerder gereformeerd om met vreugde te sien hoedat die Heilige Gees mense oral in hulle eie taal en konteks die evangelie laat verstaan en laat uitspreek waarop dit aankom. Daar bestaan soms nuanse- en aksentverskille – soos dit tewens ook in ons drie Formuliere van Eenheid onderling voorkom! – maar dit doen nie afbreuk aan die diepe eenheid in die belydenisse nie. Die één waarheid van die geloof word hier meerstemmig besing.

Dat ʼn belydenis die spore van sy bestaanstyd dra, is teen hierdie agtergrond dan ook nie ʼn betreurenswaardige gegewe wat ons so gou moontlik moet uitstryk nie. Nee, dit is ʼn bewys dat die Heilige Gees self die kerk in die hele waarheid lei! Ons lewe van die Woord én Gees van God wat ons oë én ons harte open en ons vernuwe tot kennis van God in Christus. Hy ken die tye, Hy weet wat ons in elke tyd nodig het, Hy is die eerste outeur van die Woord en kan in elke tyd en vir elke mens daaruit haal wat ons nodig het.

Dit help ons ook om vandag op ʼn goeie en vrugbare manier met die belydenisse om te gaan. ʼn Belydenis is nie ʼn juridiese dokument wat ons op punte en kommas bind nie. Ons gereformeerde belydenisse is troosboeke, dit wil sê hulle is die vrug van luister na die Skrif, hulle is hulp by die luister na die Skrif en hulle bring so ook weer terug by die Skrif om langs die weg van volharding en vertroosting deur die Skrifte, vas te hou aan die hoop. Dankbaar vir die insig wat in die verlede aan die kerk geskenk is, moet ons moet nie vergeet nie dat dit belangrik is dat ons vandag sélf in gehoorsaamheid aan Woord en Gees dít uitspreek waarop dit aankom.