2 bladsye.

Die Omkeer van God se Hart

Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?

(Hosea 11)

Die profeet Hosea het die peillose diepte van God se heilige liefde op ’n unieke manier onder woorde gebring. Hosea het in die noordryk van Israel gelewe en geprofeteer, omtrent die middel van die agtste eeu voor Christus. Hy het die ondergang van die ryk van Israel vinnig sien naderkom. Met alles in hom het hy nog ’n laaste noodsein uitgestuur, en met hart en siel gespreek oor die onbegryplike liefde van God, oor God se verskriklike toorn, en oor die heiligheid van God wat nie loslaat wat sy hand begin het nie.

Die verkondiging van die barmhartigheid wat roem teen die oordeel, is nêrens aangrypender as in Hosea 11 nie. Jy sou amper sê: in hierdie gedeelte bevind ons ons nie ver van Golgota af nie ... Die hoofstuk begin en eindig met die belofte dat Israel ‘uit Egipte’ sal kom (verse 1, 11); maar tussen hierdie verse in staan egter die oordeelsaankondiging dat Israel ‘na Egipte’ sal terugkeer (vs 5).

Die hoofstuk bestaan uit twee gedeeltes: die verse 1-7 en die verse 8-11. In die eerste gedeelte hoor ons van God se vaderlike liefde vir sy volk. Hy het sy kind Israel liefgehad, sy seun uit Egipte geroep en alles gegee, in koesterende sorg. Israel se ondankbaarheid teenoor hierdie liefde is so permanent en diepgeworteld, dat die oordeel wel onherroeplik móét kom: terug na ‘Egipte’, die land van slawerny (in Hosea se dae was dit Assirië). Dit beteken niks meer of minder nie, as dat God se heilsgeskiedenis met sy volk Israel beëindig gaan word. God herroep die feit dat Hy Israel uit Egipte geroep het – wat in werklikheid die verkiesing en die verbond met God inhou. Dáár in Egipte het Israel God se ‘seun’ geword (vs 1). Maar dit is verby: terug, weg, uit. Aan die einde van die verse 1-7 is alles duidelik: in Israel se houding en gedrag is daar geen enkele aanknopingspunt meer vir ’n nuwe toekoms nie. ’n Ommekeer is uitgesluit, die ondergang onvermydelik.

Maar dan vind daar skielik ’n wonderlike wending plaas aan die begin van die tweede gedeelte van Hosea 11. In plaas van die verwagte oordeelswoord hoor ons:

Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?. (vs 8)

Die toon van hierdie woorde word gelê deur die eerste woordjie ‘hoe’, wat in die Hebreeus gereeld in klaagliedere gebruik word. Ons hoor God kla ... Eers is Adma en Seboïm en ander stede by die Dooie See deur God se vuurgerig ‘omgekeer’ (vgl. Genesis 19:21,25,29; Amos 4:11; Deuteronomium 29:22). Israel verdien nou dieselfde. Israel het homself immers ryp gemaak vir die oordeel. Maar wat word nou sigbaar? God kán dit nie doen nie! Israel sal nie ‘omgekeer’ word nie, maar in God se eie hart vind ‘n ‘omkering’ plaas. Ons vertaling lees in vers 8: “my hart is omgekeer in my”. Die grondteks kan egter baie goed gelees word as: “my hart keer hom teen My om”. Hierdie vertaling wys nog duideliker dat dit hier gaan oor ’n emosionele, hewige spanning.

Waarom keer God se hart homself om teen Hom? Omdat sy berou/medelye ten volle opgewek word (vs 8b). God se liefde verhinder dat Hy sy brandende toorn geheel ten uitvoer bring: "Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie... "vs 9.

Hoe geregverdigd die strafgerig ook al sou wees, God kan en wil nie Efraïm se roeping en verkiesing ongedaan maak nie. Laasgenoemde hang saam met God se heiligheid:

want Ek is God en nie ’n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie.(11:9)

God se liefdevolle vashou van Israel word gefundeer in sy heiligheid! Juis omdat God die Heilige is, kan Hy sy eie toorn laat halt roep. Sommige teoloë praat hier van die ‘on-logika’, ander van die ‘inkonsekwentheid’ van God se heilige liefde. Inderdaad: hoe kan ons dit ooit verstaan, hierdie eie-logika van die twee-eenheid van God se liefde en toorn, God se geregtigheid en barmhartigheid? Uitsluitlik deur die kruis op Golgota ... en ook dan kyk ons nog in ‘n spieël, soos in raaisels, en ons aanbid ...

Die vervolg van die teksgedeelte maak ondertussen duidelik dat die oordeel van die verse 5-7 nie sommer net verdwyn het nie. Israel sál Egipte toe gaan – maar dit is nie die eindpunt nie. Eendag kom die dag waarop God sy volk vir altyd uit Egipte sal lei (vs 10v). Hy maak van die eindpunt ‘n keerpunt, ’n nuwe begin. By hierdie goddelike omkeer skiet alle ooreenkomste met menslike gevoelens, gedagtes en handelinge tekort. Die wonderlike wending van God, waar God se barmhartigheid triomfeer oor sy toorn, is gegrond in sy heiligheid. Hy is die totaal Andere, ook in sy liefde. So is God se heiligheid ’n bron van eindelose hoop.