Bron: Vox Viva. 1 bladsye.

Die Reformatore oor Barmhartigheid

 (Die woorde in aanhalingstekens is die direkte woorde van die reformatore)

Luther (1483-1546)🔗

Luther trek dan ook die konklusie “dat ‘n Christenmens in Christus leef deur die geloof, in sy naaste leef deur die liefde; deur die geloof vaar hy bo himself uit in God, uit God vaar hy weer ondertoe deur die liefde”.

Afgesien van hoe die terme hier tog nog deur die mistiek van die Middeleeue beïnvloed is, sien ons hier die suiwere verhouding van geloof en liefde-tot-die-naaste.

“Waar geen liefde is nie, gebeur daar in werklikheid niks nie. Indien jy jou naaste nie help soos wat jy kan nie, is alle werke verlore, ook al doen jy meer as wat Christus en al die heiliges gedoen het. Liefde is ’n gunstige hart vir die nood van ander, en dit vergeet van homself”.

“Die liefde is nie ’n lui en slaperige ding wat in die hart stil en snorkend lê nie”.

Luther het opnuut aandag gevra vir die algemene priesterskap van alle gelowiges, wat homself moet bewys in die daaglikse saamleef van die gemeente as die volstrekte diens aan mekaar. “Elkeen moenie slegs daar wees vir sy naaste nie, maar hom oorgee vir sy naaste, al kos dit ons liggaam, lewe, goedere, eer en alles wat ons het”.

(J Faber, 1960)

Calvyn (1509-1564)🔗

“Die Here gebied ons om aan alle mense goed te doen, al is ‘n groot deel van hulle dit nie waardig as hulle volgens hulle eie verdienste getakseer word nie.  Die Skrif kom ons hier egter met die heel beste hulpmiddel tegemoet wanneer dit leer dat ons nie ons oë moet vestig op dit wat mense vanself kan verdien nie maar dat ons die beeld van God in almal in aanmerking moet neem, en daaraan is ons alle eer en liefde verskuldig”.

“Gevolglik het jy geen rede om te weier om iemand, wie hy ook al is, te help wanneer hy op jou pad kom en jou hulp nodig het nie. 

Gestel nou dat hy ’n vreemdeling is.  Maar die Here het sy teken op hom afgedruk, en dit behoort vir jou bekend te wees.  Daarom verbied Hy jou om jou eie vlees te minag. 

Gestel nou dit is ’n veragtelike mens wat niks werd is nie.  Maar die Here toon dat dit iemand is wat Hy waardig geag het om met sy beeld versier te word. Gestel nou dat jy geen diens aan hom verskuldig is nie.  Maar God het hom asof dit in sy plek is, gestel sodat jy soveel en sulke groot weldade waarmee Hy jou aan Hom verbind het, kan herken.  Gestel dat hy dit nie werd is dat jy selfs die geringste moeite ter wille van hom doen nie.  Maar die beeld van God waardeur hy by jou aangeprys word is dit werd om jouself en alles wat jy het, tot sy beskikking te stel.  Selfs as hy niks goeds verdien het nie maar jou met onregte en ook met wandade uitgetart het, is selfs dit nie ’n gegronde rede waarom jy daarvan moet afsien om hom met liefde te omhels en liefdespligte teenoor hom te bewys nie”. 

(Institusie III, 7,6)