15 bladsye.

Die Reg van die Kinderdoop

doop🔗

Inleiding🔗

Ons vra in die volgende bladsye vir 'n oomblik u aandag vir die reg van die kinderdoop. Want al is dit volgens die uitdruklike getuienis van die Kerkvaders al­reeds van die dae van die Apostels af in gebruik, tog is dit vroeër deur die Wederdopers en word dit vandag deur verskillende sektes nog met krag bestry.

Hulle leer met groot nadruk,

  1. dat die kinderdoop nie berus op die Skrif nie.

  2. dat klein kindertjies nog nie kan glo nie en, omdat die doop alleen vir die ge­lowiges bedoel is, hulle dus nie gedoop mag word nie,

  3. dat die doop nie in die plek van die besnydenis ge­kom het nie,

  4. dat die kinderdoop eers later deur die kerk ingestel is, en

  5. dat die doop alleen deur onder­dompeling en nie deur besprenkeling bedien mag word nie.

Ons stel hierteenoor kort en bondig:

  1. dat die kin­derdoop wel op die Skrif berus,

  2. dat die kinders van gelowige ouers wel gedoop moet word,

  3. dat die doop wel in die plek van die besnydenis gekom het,

  4. dat die kinderdoop nie eers later deur die Kerk, maar al­reeds deur die Apostels ingestel is, en

  5. dat die doop nie alleen deur onderdompeling nie, maar ook deur be­sprenkeling bedien mag word.

Vooraf verklaar ons uitdruklik, dat dit ons nie daar­om te doen is om persone seer te maak nie. Ons wil graag glo dat baie werklik uit oortuiging die kinderdoop bestry. Maar ons stel daarteenoor, met net so sterk, so nie nog sterker nadruk, dat ons uit volle oortuiging die reg van die kinderdoop wil verdedig.

Vir die gemak van die leser sal ons bogenoemde punte agtermekaar bespreek.

1. Die Kinderdoop en die Skrif🔗

Die eerste stelling is: die kinderdoop berus wel op die Skrif. Die Baptiste (en hierby moet ons maar dink aan al die groepe en rigtings wat die kinderdoop be­stry) ontken dit ten sterkste. Hulle eis van ons: noem dan maar een voorbeeld uit die Skrif dat daar kin­ders gedoop is; of een teks waarin God beveel dat hulle gedoop moet word! Wie daarop geen antwoord kan gee nie, is verslae en staan dikwels verleë. Maar ons ontsê hulle die reg tot hierdie eis. Hierdie eis is onregverdig en ook onskriftuurlik! Onregverdig, omdat die Baptiste, net soos ons, verskillende ander geloofstukke uit die Skrif haal sonder dat hulle letterlik en woordelik in die Skrif staan, byvoorbeeld: die Drie-eenheid, die voorsienigheid van God, die rusdag op die eerste i.p.v. op die sewende dag. En so is dit ook met die doop. Nêrens staan tog letterlik in die Bybel dat die water by die doop teken is van Christus se bloed en Gees nie. Wel staan daar van die brood by die Nagmaal: dit is my liggaam, en van die drinkbeker: dit is die Nuwe Testament in my bloed. Maar nêrens lees ons van die doopwater: dit is my bloed en Gees, nie. Tog neem ons teëstanders dit saam met ons aan, omdat dit duidelik uit die Skrif afgelei kan word, byvoorbeeld uit Handelinge 22:16, waar Ananias by Paulus daarop aandring: "Staan op, laat jou doop (nl. met water) en jou sondes afwas" (nl. in die bloed van Christus). Kyk verder ook: Handelinge 10:47; 1 Johannes 1:7; 1 Korintiërs 6:11.

En dit is ook baie belangrik, want as die water by die doop nie 'n teken is van die bloed en die Gees van Christus nie, dan beteken en verseël die doop nie die af­wassing van die sondes, die begrafnis van ons ou en die opstanding van ons nuwe mens nie! Die water op homself kan tog nie ons sondes afwas nie. Al sou ons ook in die see gedoop word, dit sou ons nie baat nie. Die hoeveelheid water bewerk dit nie. Alleen die bloed en die Gees van Christus reinig ons van ons sondes (1 Johannes 1:7; 1 Korintiërs 6:11). As ons teëstanders nou saam met ons erken dat dit nie letterlik in die Skrif staan nie, maar by gesonde en eerlike verklaring uit die grond­elemente van die Skrif afgelei kan word, is dit dan eer­lik en regverdig om by die vraag wie gedoop moet word, 'n woordelike bevel te eis: "die klein kinders moet gedoop word", en anders is die kinderdoop ongeoorloof?

Buitendien is dit ook onskriftuurlik! Die Heilige Skrif is tog geen uitgewerkte stelsel van geloofsleer of 'n wetboek, waarin die titels van die verskillende geloof­stukke agtermekaar voorkom nie, maar dit is die bron van die Godskennis, die goudmyn van die genade, waarin alleen die grondelemente vir die verskillende geloof­stukke aanwesig is. Wel, ook die grondelemente vir die kinderdoop lê duidelik in die Skrif. Hulle is kortliks die volgende:

1. Die Skrif gaan in die Nuwe Testament van die Volwassedoop Uit🔗

Dit kan ook nie anders nie. Die Christelike Kerk was eerste sendingkerk en moes uit bekeerde Jode en heidene gestig word. Dit het al begin met Johannes die Doper, wat die doop van bekering tot vergewing van sondes gepreek het (Lukas 3:2, 3); dit wil sê, eers moet die Jode hulle be­keer; in die weg van die bekering verkry hulle die ver­gewing van sondes en daarna ontvang hulle die doop as teken en seël van die sonde-vergewing. Hy het dus alleen die volwasse Jode gedoop wat met berou oor hulle sondes tot God gekom het.

Dit blyk verder uit Matteus 28:19: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies", ens. Die volgorde in hierdie teks is: Eers alle volke onderwys, dit is, tot dissipels maak, deur die prediking van die Evangelie; daarna: hulle doop, dit wil sê hierdie dissipels onder die volke, wat deur die prediking van die Evangelie byeengebring is; en verder moet hierdie gedooptes geleer word om alles te onder­hou wat Christus beveel het.

Dit blyk ook uit Markus 16:15, 16: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Hier is die volgorde weer: eers die prediking aan die ganse mensdom, dit wil sê aan Jode en heidene sonder on­derskeid, en dan die eis van die geloof as die volstrekte voorwaarde vir saligheid, en ten slotte die doop as die teken van inlywing in die Christelike Kerk.

volwassedoop

Ge­loof en doop is dus albei noodsaaklik vir die saligheid. Maar daar is verskil in die soort van noodsaaklikheid. Die geloof is volstrek, beslis noodsaaklik: sonder geloof is die saligheid onmoontlik. Die doop egter is betreklik noodsaaklik, naamlik uit die oogpunt van gehoorsaamheid aan die bevel van Christus en dien dan tot versterking van die geloof. Want daar staan mos: maar hy wat nie glo nie, (en dan volg daar nie weer: en hy wat nie ge­doop is nie) sal veroordeel word.

2. Die Belofte van die Saligheid kom volgens die Skrif nie net aan die Volwasse Gelowiges nie, maar ook aan hul Kinders Toe🔗

Alreeds in die Ou Testament neem God die kinders van die gelowiges saam met hulle ouers in die genadeverbond op. Die grondslag lê alreeds in die moederbelofte (Genesis 3:15): want die Here stel vyandskap nie net tussen die slang en Eva nie, maar ook tussen die saad van die vrou, dit wil sê haar gelowige nageslag, wat op Christus uitloop, en die saad van die slang, dit wil sê haar ongelowige nage­slag, wat die Satan as geestelike vader het.

By Abraham is dit nog duideliker. Die Here sê vir hom nie net: om vir jou 'n God te wees, nie, maar Hy voeg daarby: en vir jou nageslag na jou (Genesis 17:7). As die bestryders van die kinderdoop gelyk sou gehad het, sou daar alleen staan: Ek sal vir jou 'n God wees en ook: nog nie van jou nageslag nie. Tog reken die Here die nageslag van Abraham daarby.

Maar in die Nuwe Testament is dit nog duideliker. Dit blyk on­middellik al op die Pinksterfees. Diegene wat so diep in hulle hart getref was, vra:

Wat moet ons doen, broeders? En dan antwoord Petrus: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus…  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal roep.Handelinge 2:37, 38, 39

Die belofte is die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees (Joël 2:28 e.v.) en alles wat daarin opgesluit is. Die be­lofte kom julle toe, sê Petrus tot hulle wat getref was, dit wil sê dit is vir julle, julle het daar reg op, dit is julle regmatige eiendom. 'En julle kinders' dit wil sê die klein kinders van daardie mense wat in hulle hart getref was.

Wel, sê die bestryders van die kinderdoop: hierdie kinders is geen klein kinders, maar geestelikes, weder­gebore en dus volwasse kinders, want Joël het gespreek van seuns en dogters, diensknegte en diensmaagde, en aan die slot van hierdie vers staan: "die wat die Here onse God na Hom sal roep". Maar alreeds Calvyn het opgemerk hoe ongerymd hierdie verklaring is. Petrus het tot die getroffenes onder die breë Joodse skare gespreek en sê: "Daar lê ou beloftes vir julle en ook vir julle kinders, dit wil sê vir julle nageslag." Petrus spreek hier nie van volwassenes nie, maar van kinders, sonder ver­dere bepaling, dus van klein en groot kinders in die algemeen. In die oorspronklike taal staan daar: teknon, dit is 'kind' van tiktoo, dit is 'om te baar', om voort te bring. Dit sien dus baie meer op klein, onmondige, as op groot en mondige kinders. God het ons en ons kinders in genade aangeneem en daarom ook sy belofte geskenk.

3. Daarby kom nog, dat Gesinne in die Geheel deur die Doop in die Christelike Kerk Ingelyf word,🔗

naamlik die huisgesin van Cornelius (Handelinge 10:2, 47) van Lydia (Handelinge 16:14-15), van die Sipier (Handelinge 16:30--34); van Crispus (Handelinge 18:8); en van Stefanus (1 Korintiërs 1:16).

Oor hierdie vyf gesinne wil ons 'n paar opmerkings maak.

  1. Hierdie gesinne is baie betwiste getuienisse. Die teëstanders van die kinderdoop sê: daar staan glad nie dat daar kinders in daardie gesinne was nie; julle ver­onderstel dit wel, maar dit staan daar nie, en julle mag tog nie op 'n veronderstelling gaan bou nie, want so 'n veronderstelling is geen sekerheid nie! Ons van ons kant sê weer: Julle veronderstel dat daar in hierdie vyf huis­gesinne geen kinders was nie en dat hierdie huisgesinne, sonder dat die Skrif daarvan melding maak, uitsonde­ringe was op wat die Bybel gewoonlik onder 'n huis­gesin verstaan. Ons gaan dus uit van die reël, wat Skrif en natuur albei aangee, dat tot 'n huisgesin gewoonlik ook kinders behoort. Ons teëstanders gaan egter uit van die gedagte, dat al vyf huisgesinne kinderloos was; en dit sonder dat die Skrif daarvoor enige aanwysing gee! Al staan dit ook nie uitdruklik daarby nie, waar­skynlik is dit wel, dat ook hierdie ouers met kinders geseën was. En as daar wel kinders was, is hulle ook saam gedoop, want Cornelius was vroom saam met sy hele huis (Handelinge 10:2) en Petrus het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here (Handelinge 10:48). Lydia is gedoop en haar huis (Handelinge 16:15), die Sipier van Filippi is onmiddellik gedoop en al sy mense (Handelinge 16:33), Crispus, die hoof van die sina­goge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo en ook hy is met sy mense gedoop (Handelinge 18:8); en Stefanus is met sy huisgesin deur Paulus gedoop (1 Korintiërs 1:16). Inderdaad is hierdie gesinne sterk bewyse e silentio, dit wil sê stilswyende bewyse.

  2. Die krag van bewys lê egter nie in die besonder in die waarskynlikheid dat daar kinders was nie, maar baie meer in die feit, dat nie alleen die hoofde van hierdie gesinne, wat bekeerd is, maar ook die ander gesinslede deur die doop in die Kerk ingelyf is. Die grondverskil tussen die voorstanders van die sogenaamde 'groot­doop' en ons lê in die individualistiese en organiese doopsbeskouing.

    Hulle gaan uit van die gedagte dat God die genade individualisties meedeel, dit wil sê dat Hy hier en daar iemand tot bekering bring sonder verdere verband met mekaar. Ons glo dat God die genade organies mee­deel, dit wil sê dat Hy die afsonderlike uitverkorenes in die lyn van die geslagte verkies. As hulle gelyk het, dan moes alleen die hoofde van genoemde gesinne toegebring gewees het en uiters nog enkele lede van hulle gesinne afsonderlik, maar nie die hele gesinne gesament­lik nie. Noudat egter hierdie hele gesinne ingelyf is, blyk duidelik dat Hy sy genade in die lyn van die ge­slagte voortplant.

  3. Ons laaste opmerking is dat dit volgens ons be­stryders alleen die volwasse huisgenote was wat gedoop is. Onbewuste kinders kan die prediking nog nie bewus hoor en nog nie glo en mag dus ook nie gedoop word nie. As daar in Handelinge 16:32 staan dat Paulus en Silas die Woord van die Here spreek tot almal wat in sy huis was, dan sluit dit volgens ons teëstanders die onbewuste kinders uit.

    Maar ons vra: hoekom? Preek ons nie ook tot die onbewuste kinders nie? Lees ons die Skrif ook nie vir al die huisgenote, vir die kinders net so goed as vir die volwassenes nie? Maar die onbewuste kinders kan tog nog nie bewus hoor en glo nie en die tronkbewaarder het hom verheug, dat hy met al sy mense gelowig ge­word het. Al die huisgenote het gelowig geword en dit kan klein kinders nog nie!

    Ons antwoord: Klein kinders hoor meer as wat ons dink! En al kan hulle nog nie met 'n heldere besef glo nie, tog kan hulle die beginsel van die geloof besit en daarom as gelowige gesinslede saamgereken word. Watter vrees het ons teëstanders tog vir die saligheid van die klein kindertjies! Ons dink daaraan dat Jesus sê: "Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele." Matteus 19:14

    ''Want die ongelowige man is (deur sy huweliksge­meenskap met die gelowige vrou) geheilig (dit wil sê uit­wendig in die Christelike huwelik en in die Christelike lewensfeer opgeneem, sonder om nog inwendig geheilig, dit is wedergebore te wees); en die ongelowige vrou is geheilig deur die man." En hierdie laaste saak, naamlik dat die ongelowige party deur die huweliksgemeenskap met die gelowige party geheilig is, dit is uitwendig in die Christelike lewensfeer opgeneem word sodat ons daar met 'n Christelike huwelik te doen het, bewys hy met hierdie toevoeging: ''Want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig".

    Laat ons nou maar vir 'n oomblik, soos sommige en ook ons teëstanders doen, hierdie heiligheid van die kinders in uitwendige sin opvat, dan wil dit tog in alle geval sê, dat dit kinders uit 'n Christelike gesin, en dus verbondskinders is en dan sou hulle selfs op hierdie standpunt nog reg op die doop hê! Maar daar is ander, soos byvoorbeeld Calvyn, wat hierdie heiliging anders opvat. Hier­die ongelowige manne is heilig, nie in uitwendige sin nie, maar alleen insake die huweliksgemeenskap met die gelowige vroue en omgekeerd. Die huweliksgemeenskap met die onheilige man het vir die gelowige vrou geen onheilige gevolge gehad nie: ''Want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig". Paulus ontleen hier 'n bewysgrond aan die gevolg: julle meen dat julle huwelik voortaan onrein is, maar as dit waar sou wees, sou die kinders, wat daaruit gebore is, ook onrein wees; maar hulle is heilig, dus is u huwelik ook nog heilig en mag u van u kant nie skei nie. Die woord 'heilig' wil hier dan sê, dat die kinders van die vloek, wat van nature op hulle lê, verlos is en in die genadeverbond opgeneem is en dus in beginsel deel het aan die genade-weldade van die verbond en dus ook reg het op die doop.

    Nou weet ons wel dat die wederdoperse sektes nie met hierdie opvatting saamstem nie. Maar nou moet hulle tog nie met soveel stelligheid verklaar: die eerste opvatting is die enigste wat reg is en die ander opvatting is totaal verkeerd, nie. Dis opmerklik dat ervare en vroom wetenskaplike godgeleerdes van die hoogste rang baie beskeie is en aan iemand anders se standpunt gewoonlik laat reg geskied; maar dat tweederangse geleerdes dikwels gekenmerk word deur opmerkings soos: So is dit en anders kan dit nie wees nie; die sterkste bewys teen die kinderdoop is 1 Korintiërs 7:14, ens.!

    Ons sien in 1 Korintiërs 7:14 juis een van die sterkste be­wyse vir die kinderdoop, want as die kinders uit so 'n gemengde huwelik heilig is, in die genadeverbond op­geneem is en dus reg op die doop het, des te meer dan tog die kinders uit 'n heeltemal gelowige huwelik

doopfont🔗

4. En Ten Slotte Stel ons die Vraag: Het Christus ook nie vir Ons Kinders Gesterf en het Hulle ook nie aan Christus Deel nie?🔗

Lees maar self wat Jesus hiervan sê in Matteus 21:16. Die owerpriesters en skrifgeleerdes het Hom baie kwalik geneem dat Hy Homself deur kin­ders laat hulde bewys het. Hulle roep Hom in groot woede toe: "Hoor U wat hulle daar sê?" en Jesus ant­woord hulle: "Ja, het julle nooit gelees: uit die mond van klein kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?"

As God nou aan die kinders sy genade nie onthou nie, sal ons aan hulle dan die teken van die genade onthou? Dit mag mos nie!

2. Die Kinderdoop en die Geloof van die Kinders🔗

Nou volg die tweede beswaar. Die teëstanders leer die doop is alleen vir die gelowiges en omdat die klein kinders nog nie kan glo nie, mag hulle ook nie gedoop word nie! Laat ons hierdie redenasie 'n bietjie verder ondersoek. Dit bestaan uit twee stellings en 'n gevolg­trekking.

1. Met die eerste stelling as sodanig, naamlik dat die doop vir die gelowiges is, stem ons saam. Die Skrif leer dit uitdruklik in Markus 1:4; Lukas 3:3; Handelinge 2:38; 8:37; 13:24; 18:8; Galasiërs 3:26-27. En op grond van hierdie Skrifplekke het ons vaders hierdie stelling alreeds bely in artikel 34 van die Geloofsbelydenis:

So het hy dan bevel gegee om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop.

Maar wel verskil ons oor enkele onderdele van hierdie stelling, naamlik oor die vraag: hoe moet ons die geloof verstaan, en by wie behoort die kinders? Die teëstanders verstaan die geloof uitsluitend as 'n daad van die mens, 'n werksaamheid van sy redelike verstand. En dit ontbreek by kinders juis. Suiglinge – so roep hulle uit – kan die blye boodskap nie deur die geloof aanneem en ook nie deur ongeloof verwerp nie.

Ons leer daarteenoor: om te glo is wel 'n daad van die mens, maar die geloof self is 'n gawe van God. Paulus sê dit duidelik in Efesiërs 2:8: "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julle self nie: dit is die gawe van God." Hy sê dus: Hierdie geloof is nie uit julle nie, dit is God se gawe, want die voornaamwoord 'dit' slaan volgens die Grieks op die voorafgaande woord 'geloof' terug, en nie op die begrip: uit genade gered word, soos sommige wil nie. As hulle dus beweer: klein kinders kan nog nie glo en mag daarom dus nie gedoop word nie, dan is hulle daarmee nog nie klaar nie. Want net soos ons, om te kan sien, die gesigvermoë, en om te kan hoor, die gehoorvermoë moet hê, so moet ons ook om te kan glo, die geloofs­vermoë besit. En daardie geloofsvermoë kan die Gees van God ook in kinderharte werk.

Die vraag is dus verder: by wie behoort die klein kinders? Ons sê: Die klein kinders behoort óf by die gelo­wiges, en word, as hulle sterf, salig; óf by die onge­lowiges, en gaan, as hulle sonder wedergeboorte sterf, verlore. Daar is dus maar twee moontlikhede; 'n derde is daar nie. Maar die Wederdopers van die 16de eeu het alreeds die dwaling verkondig, dat die klein kin­ders nóg by die gelowiges behoort, nóg by die ongelowiges, maar 'n derde groep van innocentes, dit is onskuldiges, vorm. En agter hierdie dwaling sit nog 'n erger dwaling, naamlik die ou dwaling van die algemene ver­soening, dat Christus die skuld van Adam se sonde vir alle mense, dus ook vir die klein kindertjies, hoof vir hoof voldoen het. Hulle beweer dan ook: die klein kin­ders is aan die een kant nie meer aan die erfskuld on­derwerp nie en maak hulle aan die ander kant nog nie aan werklike sondes skuldig nie; hulle behoort dus nie tot die kerk en ook nie tot die wêreld nie; nie tot die gelowiges en ook nie tot die ongelowiges nie; hulle vorm 'n derde groep van 'onskuldiges', en word dan ook, as hulle in hulle kinderjare sterwe, in hulle onskuld salig.

En dat die teenswoordige bestryders van die kinderdoop daar nog net so oor dink, blyk wel uit 'n boekie van Schoemaker, Die Kinderdoop, wat op bl. 10 skrywe:

Wat egter die saligheid van die kinders betref, so glo ek, dat dit by God moontlik is om hulle te behou deur die bloed van Christus sonder geloof of doop, as hulle in hulle kinderjare te sterwe kom.

Baie versigtig kom hier dieselfde Pelagiaanse dwaling om die hoekie loer, dat die klein kinders sonder geloof in hul onskuld salig kan word. En die bewys? Wel, Moses sê in Deuteronomium 1:39: "Julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie – hulle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en hulle sal dit in besit neem." Maar Moses spreek hier tot die Israeliete, wat die twee verkenners verag het en die tien geglo het, en verklaar nou, dat alleen Josua en Kaleb en die kinders, wat op daardie oomblik van geen goed of kwaad weet, en dus aan die bepaalde sonde geen deel het nie, in Kanaän sou ingaan. Hy sê dus nie, dat die kinders in die algemeen onskuldig en nie aan die erfsonde onder­worpe is nie.

Die Skrif leer ons twee dinge duidelik:

  1. Dat die kinders aan Adam se sonde onderworpe is. Paulus sê in Romeine 5:12 dat almal in Adam gesondig het en in vers 18 dat deur een misdaad dit vir alle mense tot veroordeling gekom het. Dawid bid in Psalm 25:7: "Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!" En nog duideliker bely hy in Psalm 51:7: "Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang." Ons sondige aard gaan dus tot die oom­blik van ons ontvangenis en geboorte terug.

  2. Dat die weg van die saligheid vir die kinders die­selfde is as vir die volwassenes. Die teëstanders leer van die kinders: erfskuld het hulle nie meer nie en werk­like sondes het hulle nog nie; hulle word dus as on­skuldiges salig. Die Skrif leer dat die kinders, net soos die volwassenes, alleen deur genade salig word en alleen deur wedergeboorte ingaan in die koninkryk van God (Johannes 3:3, 5). Natuurlik kan die kinders die wederge­boorte nog nie toon nie, maar kan hulle wel al wedergebore wees. Die Heilige Gees is by die weder­geboorte tog nie aan die bewussyn gebind nie. Hy ver­nuwe die onbewuste kinderharte net so goed soos dié van die bewuste volwassenes. En as Hy werk, wie sal dan keer? Die klein kinders behoort dus óf by die ge­lowiges, óf by die ongelowiges. 'n Derde stand van onskuldiges is daar nie.

2. Ons tweede stelling lui dan ook dat God die kinders van die gelowiges by die gelowiges reken. Dit blyk duidelik uit die volgende gegewens van die Skrif.

  1. Daaruit, dat God die gelowige ouers saam met hulle kinders in die verbond van die genade opgeneem het. Die teëstanders beperk die genade tot die vol­wassenes. Maar God het dit uitgebrei van die vol­wassenes tot die kinders. Dit blyk onmiddellik al uit Genesis 3:15, waar die Here sê dat die saad van die vrou (dit is die gelowige saad, wat op Christus sal uitloop) die Satan se kop sal vermorsel. By Abraham blyk dit reeds duideliker. Die Here sê tot hom nie net: "Ek sal my verbond oprig tussen my en jou", nie, maar voeg daarby: "en jou nageslag na jou in hulle geslagte, tot 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag na jou."

    En hierdie selfde lyn loop deur in die Nuwe Testament. Lees maar Handelinge 2.39: "Want aan julle kom die belofte toe en aan julle kinders", ens. En wat Paulus verklaar in Romeine 11:16: "En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook", dit wil sê as die aartsvaders in die verbond van die genade opgeneem is, dan behoort ook hulle na­geslag tot die verbond, want God het dit met hulle en met hulle nageslag opgerig. Dit geld nie alleen vir die gelowiges uit die Jode nie, maar ook vir die uit heidene!

  2. Daaruit, dat die Heilige Gees die genade reeds in die harte van die klein kinders werk. Jeremia is hier­van 'n duidelike bewys. Daar staan tog duidelik in Jeremia 1:5: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken", dit is, verordineer, bestem om 'n profeet te wees. "En voordat jy uit die liggaam voort­gekom het, het Ek jou geheilig", dit is afgesonder om as profeet op te tree. Daarin lê dus tweërlei: eerstens die voorafgaande verkiesing tot profeet, en tweedens, die voorafgaande heiliging, dit is mededeling van die genade- en amptelike gawes. Verder blyk dit ook by Johannes die Doper. Want die engel sê vir Sagarias (Lukas 1:15b): "en hy sal met die Heilige Gees vervul word, reeds van die moederskoot af". Die woordjie: 'reeds' beteken dat die Heilige Gees hom reeds in die moederskoot vervul het en hom bly vervul het van sy geboorte af aan. Die Heilige Gees het hom dus van sy eerste begin af vervul met sy saligmakende en amptelike genade. Die teëstanders werp hier nou weer teë, dat daar geen geloof is sonder kennis en dat klein kinders nie kan ken nie en dus ook nie kan glo nie. Maar wat hulle ook al beweer, hier staan duidelik, dat die Heilige Gees ook in kinder­harte werk.

  3. Daaruit, dat klein kinders alreeds van God se genade spreek en roem. Die teëstanders slaan die hande saam van verbasing en roep: Wie het al ooit die klein kinders van God se genade hoor roem en spreek? Ons antwoord: Jesus self, want Hy verklaar in Matteus 21:16, dat Hy in die hosanna-geroep van die kinders in die tempel, toe hulle Hom huldig as die Seun van God, die vervulling hoor van Psalm 8:3: "Uit die mond van die kinders en suigelinge het U sterkte gegrondves". En wat die Heiland self daar verklaar, word nog steeds bewaarheid. Elke gelowige kan in sy eie omgewing die klein kinders op ongedwonge en kinderlike manier hoor spreek en roem van God en goddelike sake. Daar is klein kinders, wat van kleinsaf in tere godsvrug opge­voed is en al vroeg van Jesus se liefde en ontferming spreek en sing.

  4. Daaruit, dat volgens Matteus 19:13-15 die kinders net so goed reg het op die koninkryk van die hemele as die volwassenes. Daar kom ouers uit die omgewing met hulle kinders by Jesus, "sodat Hy hulle die hande sou oplê en bid" (vs. 13). Die dissipels het blykbaar gedink, dat die kinders buite die koninkryk van die hemele staan en die Heiland Hom nie met hulle sou bemoei nie. Hulle weer dan ook die ouers af. En wat sê Jesus nou? Gee Hy sy dissipels gelyk en sê Hy vir die ouers: "Gaan weg met julle kinders, want hulle staan buite die koninkryk van God"? Nee! Jesus sê vir hulle: "Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele." Hy sê nie: hulle sal die koninkryk beërwe, nie, maar: aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele, nou, vandag. Hulle het daar reg op, nie vanweë hulle onskuld of waardigheid nie, maar vanweë God se bestem­ming. Daar staan ook nie: aan hulle, dit is aan hierdie spesifieke een of twee kinders nie, maar aan sulkes, dit is die kinders van die verbond in die algemeen. Die kinders van die gelowiges het dus volgens Jesus se eie verkla­ring net sowel reg op die koninkryk van die hemele as die volwassenes. Hy ontvang hulle dan ook met ope arms en seën hulle (vs. 15). Sou ons hulle dan afhou van die doop?

    Trouens, die vraag van die saligheid van ons kinders is van groot belang. Want 'n groot deel van die mensheid sterf voordat hulle tot bewussyn gekom het. As daar nooit 'n kind sou sterwe, sou mens kon sê: laat hulle self kies, as hulle volwasse geword het. Maar daar sterf duisende kinders jonk! Al die vroegsterwende kinders is net so goed soos die volwassenes aan die erfsonde onderwerp. Die vraag is dus van geweldige belang: kan hulle salig word, ja of nee? Op hierdie vraag antwoord die Heiland, ja, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele! Maar staan die koninkryk van die hemele dan sommer vir alle kinders oop? Nee, want Jesus sê met nadruk in Johannes 3:3: "Voorwaar, voorwaar. Ek sê vir jou: as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie"; vers 5: "nie ingaan nie". Sonder wedergeboorte kan dus ook geen kind die hemelryk binnegaan nie.

  5. Daaruit, dat die Skrif die kinders van die gelowi­ges by die gemeente reken. Dit blyk duidelik uit Efesiërs 6:1-3. Volgens hoofstuk 1:1 skryf die apostel "aan die heiliges wat in Efése is, en die gelowiges in Christus Jesus". En hier­die gemeente van gelowiges bestaan dan uit verskillende groepe, naamlik 'n groep van vroue (5:22-24); van manne (5:25-33); van kinders (6:1-3); van vaders (6:4); van diensknegte (6:5-8); en van meesters (6:9). Hierdie almal behoort tot die gemeente van gelowiges. Ook die kin­ders, want hy vermaan hulle (6:1): "Kinders, julle moet julle ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg."

    Hulle moet nie net gehoorsaam wees nie, maar gehoorsaam wees in die Here, dit is in betrekking tot Christus, asof hulle in Christus is; "want dit is reg", dit is volgens die wet van God.

    En verder uit Kolossense 3:20. Weer spreek hy die ge­meente aan as heiliges en gelowige broeders (1:1-2); as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes (3:20), ens. En tot hierdie gemeente behoort dan weer 'n groep van vroue (3:18); van manne (3:19); van kinders (3:20) ens. Aan die een kant reken Paulus dus die kinders van die gelowiges by die gemeente en reken hulle as gelowiges totdat die teenoorgestelde bewys is. Hulle is van die heidenkinders onderskei, nie omdat hulle in hulleself beter is nie, maar omdat God hulle in sy verbond op­geneem het. Aan die ander kant hou hy ook daarmee rekening, dat daar geveinsdes, huigelaars en ongelowiges onder die gelowiges is. Want die Kerk kan nie oor die hart oordeel nie. As dit later by die opgroei blyk dat die kinders geen gelowiges is nie, dan moet hulle ernstig vermaan word, en as daar geen bekering volg nie, met die ban afgesny word.

klein kind

3. Ons gevolgtrekking is dan ook kort en bondig, dat die kinders van die gelowiges by die gelowiges behoort en daarom ook gedoop moet word. Die doop is vir die gelowiges (eerste stelling). Die kinders van die gelowiges word deur die Skrif by die gelowiges gereken en vir gelowiges gehou (tweede stelling). Dus moet die kinders ook gedoop word (gevolgtrekking).

Maar – werp die wederdopers dikwels op – is die beskouing van die Doopsformulier nie daarmee in stryd nie? Dit gaan mos van die gedagte uit dat die kind voor die doop nog nie in Christus ingelyf is nie, volgens die verklaring in die begin "dat ons met ons kinders in sonde ontvang en gebore word en daar­om kinders van die toorn is, sodat ons in die ryk van God nie kan kom nie tensy ons weer gebore word". Voor die doop staan hulle dus nog buite die koninkryk van God. Daarop laat die formulier die gemeente saam met die ouers vir hierdie kind bid: "…ons bid U, by u grondelose barmhartigheid, dat U hierdie kind van U genadiglik wil aansien en deur u Heilige Gees in Jesus Christus u Seun wil inlyf…" En ten slotte volg dan die danksegging: "…ons dank en loof U dat U ons en ons kinders … tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u kinders aangeneem het; en dat U dit aan ons met die heilige Doop beseël en bekragtig". Nou is al hulle sondes hulle vergewe en is hulle as lidmate aangeneem.

Maar wanneer is hulle aangeneem? Voor die doop was hulle nog nie, ná die doop is hulle wel aangeneem. Dus deur die doop? Maar dit verwerp die Gerefor­meerdes as 'n Roomse dwaling! Maar wanneer dan? Miskien net voor die doop, tussen die gebed en die gaan na die doopbak? Dit lyk baie na die Roomse leer!

Ons antwoord daarop die volgende: Hierdie selfde beswaar sou mens ook kan inbring teen die sterk uitdrukking van God se Woord oor die doop van Paulus (Handelinge 22:16). Paulus was alreeds bekeerd op die pad na Damaskus en Ananias het dit geweet, want die Here het dit vir hom gesê: "Staan op en gaan … na ’n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid", (Handelinge 9:11); en vers 15: "hy is vir my 'n uitverkore werktuig". Ananias spreek homself alreeds aan as 'n 'broeder' (vs. 17). En tog sê Ananias aan hom (Handelinge 22:16): "Staan op en laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep", asof hy die afwassing van sy sondes voor sy doop nog nie ontvang het nie en eers deur sy doop verkry het. Rome wys dan ook met nadruk op hierdie teks om te bewys dat die wedergeboorte deur die doop bewerk word. Maar alreeds die "Kanttekeninge" van die ou Statebybel verklaar (en die meeste Reformatore stem daarmee saam) "Dit is tot 'n teken en verseëling, dat u sondes deur die bloed en die Gees van Christus afge­was is"; 'n manier van spreek, wat vir die sakramente dikwels gebruik word (Markus 1:4; Efesiërs 5:26, wat nader verklaar word in Matteus 3:11; 1 Petrus 3:21; 1 Johannes 1:7). Ananias gebruik hier 'n sakramentele spreekwyse, dit wil sê hy ken aan die teken (die doop) die af­wassing van die sondes toe, terwyl dit alleen deur die Gees gebeur. Paulus was alreeds 'n bekeerde en ge­lowige. Hy mag alleen gedoop word omdat hy glo en ontvang dus in die doop die teken en seël van die af­wassing van die sonde.

En so moet ook hierdie gedeeltes uit die Doopsfor­mulier verklaar word. Die formulier gaan uit van die gedagte dat die kinders saam met die ouers "in Chris­tus geheilig is", en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te word. As die gemeente bid: "dat U hierdie kind van U in U liewe Seun Jesus Christus wil inlyf", dan beteken dit nie: deur die doop in Chris­tus inlyf nie, maar dit is 'n sakramentele spreekwyse, wat beteken: dat U hierdie kind van U in die doop die teken en seël van die inlywing in Christus wil skenk.

3. Die Kinderdoop en die Besnydenis🔗

Nou volg 'n derde geskilpunt, naamlik insake die besnyde­nis. Ons leer dat die doop in die plek van die besny­denis gekom het en, aangesien die kinders in die Hebreërs besny is, moet hulle ook in die Nuwe Testa­ment gedoop word. Die teëstanders dink egter ook hieroor heeltemal anders. Die verskil raak ook nie al­leen die punt van besnydenis nie maar die hele Ou Testamentiese bedeling van die genadeverbond, dus die Ou Testament self. Die kort bestek van hierdie boekie laat egter 'n volledige behandeling nie toe nie. Ons beperk ons daarom tot 'n tweetal punte.

1. Die Eenheid van die Verbond🔗

Ons leer dat die ou en nuwe verbond in wese een is en alleen in bedeling verskil. Maar die teëstanders leer dat ou en nuwe verbond in wese verskil en teenoor me­kaar staan.

  1. As die verbond van die besnydenis en die ver­bond van die genade. Immers, so sê hulle, die besny­denis was by Israel geen teken en seël van die genadeverbond nie, dit was 'n verbond op homself, in wese en aard van die genadeverbond onderskei. Die verskil kom in beginsel reeds by Abraham uit, so beweer hulle, want God rig met hom nie een verbond op nie maar twee, naamlik in Genesis 12:3, in beginsel reeds die genadeverbond, toe hy 75 jaar oud was, maar dit is eers in die bloed van Christus bevestig en geld alleen vir die gelowiges; en in Genesis 17:11 die verbond van die besnydenis, wat alleen die vleeslike saad van Abraham uit Sara gegeld het en later deur die wet op Sinai bevestig is. Hulle bewys dit dan met Handelinge 7:8 waar staan dat die Here aan Abraham die "verbond van die besnyde­nis" gegee het. Ons het egter hier in Handelinge met 'n sakramentele spreekwyse te doen. Stefanus noem hier alleen die teken, naamlik die verbond van die besnydenis, maar bedoel die saak, naamlik die verbond van die genade. Trou­ens in Genesis 17:11 staan uitdruklik dat die besnydenis "'n teken sal wees van die verbond tussen My en julle". Dit was dus nie die verbond self nie maar 'n teken van die verbond. En nog duideliker blyk dit uit Romeine 4:11 waar ook uitdruklik staan dat Abraham "die teken van die besnydenis ontvang het as 'n seël van die geregtig­heid van die geloof." In een van die boekies van die bestryders lees ek: "Nêrens sê hy (Paulus) dat die be­snydenis die seël van die verbond is nie." Nee, so sê Paulus dit nie. Maar in Genesis 17:11 staan wel dat dit die "teken van die verbond", en hier in Romeine 4:11 sê hy dat dit die seël is van een van die weldade van die verbond naamlik die geregtigheid van die geloof. Van 'n ­afsonderlike verbond van die besnydenis was dus in die Ou Testament geen sprake nie. Die besnydenis was ook toe reeds 'n teken en seël van die verbond van die ge­nade, wat God reeds direk na die val (Genesis 3:15) ingestel het en by Abraham nader bevestig het met die teken van die besnydenis.

  2. As die voorwaardelike en onvoorwaardelike ver­bond. Die ou verbond, so sê hulle, is voorwaardelik, want dit eis die onderhouding van die besnydenis en die wet en eers na die volbrenging van die voorwaardes skenk God die aardse seëninge van die verbond. Die nuwe verbond, daarenteen, is onvoorwaardelik, want daarin sê God nie: jy mag en jy mag nie, maar: Ek sal. Dit is dan ook 'n verbond van die beloftes, 'n beter, 'n nuwe verbond (Hebreërs 8:6-13).

    Maar die skerp teëstelling tussen die Ou en Nuwe Testament kom voort uit die dwaling van die Gnosti­sisme, 'n wysgerige stelsel in die tweede eeu na Chris­tus, waarin heidense en Christelike elemente vermeng is. Die Ou Testament was volgens die Gnostieke van 'n veel laere God afkomstig as die Nuwe Testament, naamlik van die God van die wet, van die geregtigheid en van die wraak, wat die Jode aan streng wette gebind het. Die Nuwe Testament was van die God van die genade en van die liefde, wat in Christus verskyn het en die mense vrygemaak het van die wet. Die Ou Testament bevat dus die wet. Die Nuwe Testament die Evangelie. En in gewysigde vorm keer hierdie prinsipiële teëstelling tussen Ou Testament en Nuwe Testament telkens terug, naamlik in die Anabaptisme, die Socianisme, die Arminianisme en on­getwyfeld ook in die Baptisme. Dit is dus geen nuwe verskynsel nie, maar 'n ou dwaling; en dit waarsku ons hoe versigtig ons moet wees met sulke skoonskynende leringe.

    Ons leer dan ook dat die Ou Testament en die Nuwe Testament in wese een is en alleen in bedeling verskil. Natuurlik straal die lig van die genade in die Ou Testament nie so helder soos in die Nuwe Testament nie, maar dit is dieselfde lig. Ou Testament en Nuwe Testament is van dieselfde God (Hebreërs 1:1); dit bevat dieselfde Evangelie (Galasiërs 3:8; Hebreërs 4:2); verkondig dieselfde Middelaar (Hebreërs 13:8; Johannes 8:58); en vir beide is daar maar een weg tot saligheid, naamlik die weg van die geloof (Galasiërs 3:6, 7). Maar hulle verskil in bedeling en staan tot mekaar in verhouding as wet en genade (Johannes 1:17); be­lofte en vervulling (Handelinge 13:32); as skaduwee en werk­likheid (Kolossense 2:17); as diensbaarheid en vryheid (Romeine 8:15); as nasionaal en universeel (Efesiërs 3:5-6). Dit is soos ons vaders reeds gesê het: die Nuwe Testament is in die Ou Ver­bond verborge, en die Ou Testament het in die Nuwe Testament tot vervulling gekom.

2. Die Tekens en Seëls van die Verbond🔗

Die vraag is dus of die Doop in die plek van die be­snydenis gekom het. Hulle sê: nee! Ons sê: ja!

Die besnydenis kom ook wel by ander volkere voor, soos byvoorbeeld die Egiptenare, die Ismaeliete, die Edomiete, ens., maar dan as 'n gesondheidsmaatreël, dit wil sê as 'n middel om verskillende siektes teen te gaan en om die vrugbaarheid te bevorder. By Israel het dit egter 'n ander karakter gedra, want die Here het dit ingestel as teken en seël van sy verbond. Genesis 17:11: "en dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en julle".

En hy het die teken van die besnydenis ontvang as 'n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie.Romeine 4:11

Dit was dus 'n teken, dit is 'n aanduiding van iets wat werklik aan­wesig was, naamlik die verbond met sy belofte; en nog ster­ker, dit was ook 'n seël, dit is 'n bevestiging en verseke­ring van die geregtigheid van die geloof wat hom reeds in die voorhuid toegereken was.

Die teenstanders beweer nou:

  1. Dat die besnydenis nie in die doop kon oorgaan solank die verbond van die besnydenis nog bestaan nie (Genesis 17:9-11), want die besnydenis was die verbond self (Handelinge 7:8).

  2. As die doop waarlik in die plek van die besny­denis gekom het, moes dit in die Nuwe Testament duidelik aan­gewys gewees het, te meer omdat die vraag of die heiden-Christene die besnydenis moet onderhou om salig te word juis aan die orde was. Jesus en die apostels het egter geen enkele verklaring daaroor afgelê nie. Dit is dan 'n duidelike bewys dat doop en besnydenis niks met mekaar te doen het nie.

    Ons antwoord: Hierdie bewering gaan weer van 'n foutiewe grondgedagte uit, naamlik dat die Ou Testament en die Nuwe Testament vyandig teenoor mekaar staan as wet en Evangelie, as vloek en seën. Ons sê: die verhouding is skaduwee en werklikheid, belofte en vervulling. En Christus staan as middelpunt daar tussenin. Die Ou Verbond met die besnydenis is nie vernietig en die Nuwe Verbond met die doop daarvoor in die plek gestel nie. Nee, die oue wys na Christus heen en is in Hom vervul, en die nuwe gaan van Hom uit. As dus in die Ou Testament die kinders besny is, spreek dit vanself dat hulle in die Nuwe Testament gedoop moet word. Dit hoef nie opsetlik gebied of beveel te word nie.

  3. Hulle beroep hulle ook op Handelinge 21:21, waar staan dat die gelowige Jode Paulus nie vertrou het nie, omdat hulle gehoor het dat hy die Joodse Christene geleer het dat hulle die kinders nie moet besny nie en nie meer volgens die wet van Moses hoef te lewe nie. Toe Jakobus en die ouderlinge hom aangeraai het dat hy hom enkele dae moes afsonder, om aan die Jode te toon dat die gerug ongegrond was, het Paulus aan die raad gehoor gegee en daarin lê dan opgesluit dat die sere­moniële wet met die besnydenis van die Jode geldig gebly het.

    Ons sê: Paulus het toegegee aan die raad om die swakheid van die Joodse Christene tydelik te dra, dus om tyd te gee vir die deurwerking van die beginsel: "Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God" (1 Korintiërs 7:19). Hy verklaar ook later in Galasiërs 5:2: "Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie."

besnydenis

Ons leer dan ook dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het en wel op die volgende gronde:

  1. Omdat Christus die einde van die besnydenis en die aanvang van die Christelike doop is. Die besnydenis gaan met bloedstorting gepaard. Dit bestaan in die afsny van die voorhuid van die vlees. En alle bloedstorting is in Christus vervul (Hebreërs 9:12-13). Toe Chris­tus besny is (Lukas 2:25) toe het die besnydenis tot sy einde geloop; en toe Hy gedoop is (Matteus 3:13-19), toe het die doop in beginsel 'n aanvang geneem. In werk­likheid het die besnydenis nog 'n tydlank langs die doop bestaan en het die oorgang slegs langsaam plaasgevind. Die Ou Verbond met die besnydenis was soos 'n blomknop, wat langsaam oopgaan; eers as die blomblare afval word die vrug gesien. Die besnydenis moes dus ophou en deur 'n onbloedige teken vervang word, omdat dit in die bloedstorting van Christus vervul is.

  2. Omdat Paulus in Kolossense 2:11-12 uitdruklik leer dat die besnydenis in die doop oorgegaan het. Joodsgesinde dwaalleraars het die dwaling verkondig dat die heiden-Christene hulle ook moet laat besny om salig te word. Hulle wou die Christedom aan die Jodendom onder­werp. 'n Christen moes Jood word om salig te word. Daarteen waarsku Paulus uitdruklik. Die heiden-Chris­tene te Kolosse hoef hulle nie te laat besny nie. Hulle is reeds besny, naamlik in Christus en wel met 'n besnydenis wat sonder hande geskied wat nie soos die Joodse be­snydenis met hande, dus vleeslik, maar geestelik plaasvind. Dit bestaan in die aflegging van die liggaam van die sondige vlees, dus in die doding van die vleeslike, sondige natuur; en dit vind plaas deur die besny­denis van Christus, dit wil sê deur middel en uit krag van die besnydenis wat Christus in sy dood ondergaan het waardeur hy ons sonde versoen het, of soos ander wil, deur die sinnebeeldige besnydenis, dit is die Christelike doop."Omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het."

    Daarin sê hy wanneer dit plaasgevind het, naamlik op die oomblik toe hulle in die doop met Christus begrawe en opgewek is. Immers die dood van Christus is 'n volkome aflegging en oorwinning van die sonde. Deur sy dood is dus die betekenende saak van die besnydenis, naamlik die afsnyding van die sonde, eers ten volle verwerklik, en is die teken van die besnydenis dus verouderd en het in die doop tot sy vervulling gekom.

Daaruit volg nou:

  1. Dat die gelowiges te Kolosse en alle Nuwe Tes­tamentiese gelowiges nie meer besny hoef te word nie, want die besnydenis is deur die dood van Christus ver­vul. Die besnydenis was tog tweërlei, naamlik 'n teken en seël van 'n bestaande saak, naamlik van die regverdigmaking van die geloof (Romeine 4:11), en van 'n besnydenis van die harte, dit is van die wedergeboorte en heiligmaking (Deuteronomium 10:16; 30:6; Jeremia 4:4; Romeine 2:28, 29; Kolossense 2:11), maar dit was as bloedige teken ook 'n skadu van iets toekomstig, naamlik van die dood van Christus, waardeur alle bloedstorting vervul is.

  2. Dat die doop dus meer is as die besnydenis, nie in wese nie, want dit is beide tekens en seëls van dieselfde genade, maar in graad, want die besnydenis het heen­gewys na die dood van Christus en die doop gaan van die dood van Christus uit. Die besnydenis eindig in sy dood, die doop begin by sy dood. Wanneer die kinders van die verbond in die Ou Testament dus reeds besny moes word dan moet hulle in die Nuwe Testament sekerlik gedoop word, want die doop is tog nie armer as die besnydenis nie. Daarom kan Paulus ook teenoor die Joodse yweraars, wat die heiden-Christene onder die juk van die Mosaïese wet en die besnydenis wil hou, betuig, dat die wet slegs 'n tug­meester tot Christus was en dat die gelowiges nou in Christus van die tugmeester ontslae is.

    Galasiërs 3:24-29: "Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus ge­doop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename."

    Die ou verbond met die besnydenis is in Christus ver­vul. Almal wat nou in Christus Jesus gedoop is (die doop het dus in die plek van die besnydenis gekom vir die gelowige Jode en heidene beide) hulle het hulle met Christus Jesus beklee.

  3. Dat die doop nie alleen aan die manlike maar ook aan die vroulike kinders mag bedien word. Die vroue was wel reeds in die verbond begrepe (Genesis 34:14; Joël 2:16), maar die sakrament van die verbond kon alleen aan die manlike geslag toegedien word (Genesis 17:10). 'n Seuntjie was met die moeder maar sewe dae onrein (Levitikus 12:3), en kon dus op die agtste dag besny word; maar 'n dogtertjie was met die moeder 14 dae onrein (vs. 5), en kon dus nie op die agtste dag besny word nie. In Christus het die onderskeid egter weggeval. Galasiërs 3:28: "Daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus."

  4. Dat die doop nie meer aan die agtste dag gebonde is nie. Onder Israel deel die kind in die onreinheid van sy moeder. 'n Seuntjie was met sy moeder sewe dae onrein en kon dus nie eerder as op die agtste dag besny word nie. Maar waar hierdie wet van die onreinheid in Christus vervul is en die kinders van hulle geboorte af in die verbond opgeneem is, het hulle ook van hulle geboorte af reg op die doop.

4. Die Kinderdoop en die Kerk🔗

Daar is nog 'n vierde diepgaande verskil. Die teë­standers sê tog dat ook volgens die kerkvaders die doop in die derde eeu deur die kerk ingestel is en nie van die apostels afkomstig is nie; dat dit voortgekom het uit 'n valse beginsel, naamlik dat die saligheid aan die doop verbonde is; en dat 'n kind ewegoed reg sou hê op die nagmaal as op die doop. Ons sal probeer om die teen­oorgestelde te bewys.

1. Die doop is Volgens die Getuienis van die Kerk­vaders wel van die Apostels Afkomstig en is nie eers later deur die Kerk Eiemagtig Ingestel nie🔗

Ons gee eers enkele getuienisse omtrent die kinders en die kinderdoop in die algemeen.

Justinus Martyr, wat geleef het van 89-166 n.C. skryf soos volg: "Daar is onder ons baie sestig- en sewentigjarige manne en vroue wat van kindsbeen af Christene gewees het en steeds onbedorwe gebly het." Die Baptiste leer dat die kinders eers later, as hulle groot geword het, Christene kan word, omdat hulle dan eers daadwerklik kan glo, maar Justinus verklaar hier, dat hierdie manne en vroue van kindsbeen af Christene was. Voorts verklaar hy ook dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Hy skryf in sy boekie Twis­gesprek met die Jood Trypho:

En ons wat hierdeur die toegang tot God het, het nie die vleeslike maar die geestelike besnydenis ontvang. En ons het dit ontvang deur die doop. En vir almal is dit geoorloof om dit te ontvang op dieselfde wyse.

Dit is 'n duidelike bewys dat dit toe reeds welbewus aanvaar is dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, 'n feit wat die teëstanders tans nog bestry.

'n Getuienis uit die Ou Egiptiese verordeninge (laaste helfte van die 2de eeu) lui soos volg: "Eers moet die kinders gedoop word. Die wat in staat is om vir hulle self te antwoord moet spreek, maar vir hulle, wat daartoe nie in staat is nie, moet die ouers of naasbestaandes die antwoord gee." Dis ook 'n duidelike bewys dat die kinders toe gedoop is.

Tertullianus (150 of 160-220 n. C.) bestry die kinderdoop en wil dit uitstel tot 'n rypere leeftyd, maar hy bestry dit nie op Skriftuurlike gronde nie, maar op nuttigheidsgronde. Hy skrywe:

Daarom is die uitstel van die doop nuttiger met die oog op elkeen se persoonlike toestand en gesteldheid en ook leeftyd, veral ook wat betref die klein kinders.

Alleen by dringende noodsaaklikheid, byvoorbeeld as 'n kind siek was en dreig om te sterf, wou hy ook doop, maar anders nie. Hy het blykbaar gevrees dat dit, as dit groter word, kon afwyk. Die kinderdoop bestaan dus reeds, want wat nie bestaan nie, hoef nie bestry te word nie.

Daar is nog 'n getuienis van Cyprianus (200-258 n. C), 'n leerling van Tertullianus, maar wat die doop betref, van teenoorgestelde gevoelens. Uit sy geskrifte blyk dat die kinderdoop, ondanks die sterk bestryding van Tertullianus, toe algemeen bekend was; voorts dat dit aanvaar is dat die doop in die plek van die besnyde­nis gekom het; en ten derde, dat hy die doop met die erfsonde in verband gebring het. Die pasgebore kind, so skryf hy, het nog geen sonde nie, maar staan skuldig aan die sonde van ander, naamlik aan die van Adam, en moet daarom gedoop word.

Nou volg die getuienisse van die kerkvaders dat die doop wel van die apostels afkomstig is en nie eers later deur die kerk ingestel is nie.

Allereers die getuienis van Origenes (185-254 n. C.). Hy verklaar drie dinge:

  1. Dat die doop volgens die reël van die kerk ook aan die klein kinders bedien word, en hy vra wat die rede daarvoor is;

  2. dat hy die doop vir die kinders nodig ag vanweë die erfsonde waaraan die kinders onderworpe is;

  3. dat die kerk kinderdoop by wyse van oorlewering van die apostels ontvang het. Hy skryf: “Vroeër het die kerk van die apostels die oorlewering ontvang om die doop ook aan die klein kinders toe te dien." Die getuie­nis is so duidelik dat teëspraak onmoontlik is.

Ten slotte wys ons nog op die getuienis van Augus­tinus (354-430 n. C.). Hy verklaar uitdruklik dat die kinderdoop nie deur 'n konsilie ('n kerkvergadering) ingestel is nie, maar van die apostels afkomstig is: "En indien iemand in hierdie saak (naamlik insake die kinder­doop) na die Goddelike gesag vra, hoewel die hele kerk die doop beoefen, wat ook nie deur 'n konsilie ingestel is nie, maar altyd onderhou is, en nie anders as deur apostoliese gesag regstreeks oorgelewer geglo is nie, tog kan ons na waarheid uit die besnydenis van die vlees wat die ou volk vroeër ontvang het, opmaak wat die sakrament van die doop vir die kinders beteken." Hierdie uitspraak is nog duideliker. Tog hou die teëstanders, teen al die oortuigende uitsprake in, vol dat die kinder­doop eers later deur die kerk ingestel is.

2. Die Kinderdoop het nie Voortgekom uit die Dwa­ling dat die Doop die Wedergeboorte Werk nie, maar uit die Skrifleer dat die Kinders van die Gelowiges in die Verbond van die Genade en in die Gemeente Begrepe is🔗

Die teëstanders sê dat die kinderdoop eers in die derde eeu na Christus ontstaan het, toe die doop reeds met die wedergeboorte verwar is; dus uit die afskuwelike dwa­ling dat die wedergeboorte deur die doop plaasvind. Ons antwoord daarop: hierdie Roomse dwaling het later die leer van die doop wel misvorm, maar het op sy oorsprong en aanvanklike toepassing geen invloed gehad nie. Daar kleef geen vitium originis, dit is geen fout in oorsprong aan die kinderdoop nie. Dit het voortge­kom uit die twee beskouinge:

  1. Dat volgens die Skrif die kinders van die gelowi­ges met die ouers in die verbond van die genade en in sy gemeente begrepe is. Namate die Christelike sen­dingkerk in gevestigde kerk oorgegaan het, het ook die volwasse doop in die kinderdoop oorgegaan.

  2. Dat die kinders van hulle eerste aansyn af aan die erfsonde onderworpe is. Aanvanklik was daar van die betekenis van die sonde van Adam vir die kinders maar 'n flou besef, maar toe dit al meer tot die bewussyn deurdring dat die kinders weens die sonde van Adam aan die dood onderworpe is en ook alleen deur genade salig kan word, het ook die behoefte aan die kinderdoop meer algemeen en lewendig geword. Veral Cyprianus het daartoe baie bygedra.

  3. Dat die kinders wel reg het op die doop, maar nog nie op die nagmaal nie. Die teëstanders bestry die doop ook nog met die argument dat uit die­selfde dwaling, waaruit in die derde eeu die doop ge­kom het, naamlik dat die kind deur die doop wedergebore word, toe ook die kindernagmaal opgekom het. Kinderdoop en kindernagmaal is dus tweelinge van dieselfde dwaling en het in die Roomse Kerk tien eeue lank en in die Griekse kerk tot vandag toe langs mekaar be­staan. Een van twee is dus waar: óf die kinders mag nie gedoop word nie, óf, indien mens hulle wel doop moet mens hulle ook tot die nagmaal toelaat.

kinder nagmaal

Ons antwoord daarop:

  1. Daar is geen verskil in wese tussen doop en nagmaal nie; beide is tekens en seëls van die weldade van die verbond, maar daar is wel verskil in toepassing. Die doop mag reeds aan onbe­wuste kinders, die nagmaal eers aan bewuste volwasse­nes toegedien word.
  2. Reeds in die Ou Testament was die be­snydenis vir die kinders van die manlike geslag (Genesis 17:12), maar die Pasga moes in Jerusalem gevier word (Deuteronomium 16:5-7), sodat die klein kinders daarvan uitgesluit was.

  3. By die doop is die kind lydelik, passief. Dit word gedoop. Maar mens gaan na die nagmaal, mens neem en eet die brood, ens. En daarvoor het God bepaalde eise gestel, naamlik mens moet jouself kan beproef (1 Korintiërs 11:28), en die liggaam van die Here kan onderskei (vs. 29). En klein kinders is daartoe nog nie in staat nie. Die doop is wel vir kinders maar die nagmaal alleen vir vol­wassenes.

5. Die Kinderdoop en die Besprenkeling🔗

Die teëstanders van die kinderdoop val ons ook nog aan oor die besprenkeling. Hulle betoog met klem en nadruk dat die grondwoord vir doop (baptizen) alleen deur indompeling vertaal word en dat die doop dan ook oorspronklik uitsluitlik deur onderdompeling plaasge­vind het; verder dat die woord doop telkens met die voorsetsel in verbind word, byvoorbeeld in die Jordaan (Matteus 5:6), in water (Matteus 3:11; Johannes 1:26) en eindelik dat die onderdompeling die betekende saak van die doop, naamlik met Christus in die dood ingaan en weer uit die dood opstaan (Romeine 6:4) veel beter uitdruk as die woord besprenkeling.

Ons antwoord daarop die volgende:

  1. Die Griekse woord doop (baptizein) beteken al­lereers indoop of indompel. Johannes 13:26: "En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskariot, die seun van Simon", maar dit is nie die enigste vertaling nie, want dit kan in ruimere sin ook 'was' beteken, byvoorbeeld in Markus 7:4: "die wassery van bekers en kanne", in Lukas 11:38: "dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie", en in Hebreërs 9:10: "verskillende wassinge", waar dieselfde grondwoord staan. Selfs word die grondwoord in oor­dragtelike sin gebesig byvoorbeeld in die uitdrukking: "Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur" (Matteus 3:11; Handelinge 1:5), en die verwysing na die lydensdoop in Matteus 20:22. Dit is dus nie waar dat die woord doop maar een betekenis het en maar een vertaling toelaat nie. Maar al stem ons toe dat indompel die eerste betekenis van die grond­woord vir doop is, daarin lê nie opgesluit dat die doop dus alleen deur onderdompeling en nie deur besprenke­ling mag geskied nie, want dan lê daar 'n gebiedende voorskrif in, wat daar nie in lê nie.

  2. Aanvanklik het die doop in die Christelike kerk in die reël deur onderdompeling plaasgevind, maar by ge­brek aan water of by die toediening aan krankes op hulle bed, het volgens die Didaché c.7 en volgens Cypri­anus toe ook reeds die besprenkeling voorgekom. Dit is toe reeds as geoorloof geag. In die Middeleeue is in die Weste die indompeling al meer deur die besprenke­ling vervang, vernaamlik om gesondheidsredes. In die 16de eeu het die Hervormers soos Luther en Calvyn hulle daarby aangesluit, omdat hulle nie alleen die onder­dompeling nie, maar ook die besprenkeling geoorloof geag het. Maar die wederdopers maak daarvan 'n beginsel. Hulle sê: die doop mag alleen deur onderdompeling ge­skied. Ons sê: hoewel die onderdompeling die beteke­nis van die doop ryker laat uitkom, is tog ook die be­sprenkeling geoorloof, en wel om die twee redes: in die eerste plek omdat die water slegs 'n teken en seël van die bloed en Gees van Christus is en dus nie die afwas­sing van die sonde self nie, sodat die hoeveelheid water van geen oorwegende betekenis is nie; en in die tweede plek omdat die betekende saak nie alleen 'n afwassing van sondes nie, maar ook 'n besprenkeling met rein water en met die bloed van Christus genoem word, byvoorbeeld in Esegiël 36:25: "Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al julle onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig", en in Hebreërs 12:24, waar staan dat die gelowiges uit die Nuwe Testament ge­kom het "tot die bloed van die besprenkelinge wat van beter dinge spreek as Abel" (lees ook 1 Petrus 1:2). Die verskil lê dus hierin dat die teëstanders daar 'n beginsel van maak en ons nie. Hulle sê: die doop mag alleen deur onderdompeling. Ons sê: die doop mag sowel deur onderdompeling as deur besprenkeling toe­gedien word.

    Maar as dan beide, onderdompeling en besprenkeling, geoorloof is, sou mens kon vra, is dit dan nie veiliger om die onderdompeling as 'n verpligtende reël te stel nie? Ons antwoord: nee, want terwyl die Baptiste dit doen, bind hulle daarmee die gewetens aan 'n eis wat die Skrif nie stel nie. En om aan die Skrif iets toe te voeg is net so sektaries as om van die Skrif iets weg te laat.

So het ons in kort die vernaamste besware weerlê en die gronde vir die kinderdoop aangetoon. Mag dit onder Gods seën 'n goeie ingang vind en diensbaar wees tot oortuiging van die goeie reg van die kinderdoop.