2 bladsye.

Die Seëngroet

hand groet

Daar het 'n ontwikkeling in Nederland plaasgevind en wat ook na Suid-Afrika oorgeplant is, naamlik dat die votum direk gevolg word deur die seëngroet. In die geskiedenis van die liturgie is dit uiters ongewoon. Hierdie kombinasie tref ons nie aan in die liturgieë van die tyd voor die Reformasie en van die Reformasie nie. Vanaf die Vroeë Kerk was daar die gebruik dat die diens begin het met die seëngroet en sedert die Reformasie weer die gebruik om dit te laat begin met die votum. Die twee kom egter nie naas mekaar voor nie. In die gebedsdeel van die Roomse mis kom die adjutorium en trinitariese formule van die votum voor, sowel as die seëngroet, hoewel nie naas mekaar nie. Die groet is egter nie opgeneem in die Gereformeerde ordes nie, behalwe by Bucer. Die orde van die Palts het begin met die groet.

Hoewel dit liturgies vreemd is dat die votum en groet naas mekaar staan, word hierdie ontwikkeling behou, omdat dit tog sinvol gebruik kan word.

Die openingsgroet word oral in die ou liturgieë aangetref in een van twee vorms:

  • Die voorganger (biskop) groet die gemeente: "Die Here is met u", waarop die gemeente antwoord: "En met u gees" – dit is 'n Semitiese parallelisme.

  • "Vrede vir julle", die gewone Oosterse groet.

Albei is van Joodse oorsprong (Rut 2:4; Rigters 19:20; Johannes 20:19v.)

Dan is daar verder die groet aan die begin van die verskillende Nuwe Testamentiese Briewe.

Hierdie groet aan die begin van die erediens het 'n ryke betekenis:

  • Dit is nie maar die persoonlike groet van die voorganger aan die gemeente nie, maar is die groet wat hy namens die Here aan die gemeente mag oorbring.

  • Deur hierdie groet word aan die gemeente bekendgemaak dat God hulle met sy guns en genade bejeën, dat Hy kontak soek met die gemeente. God wil met die gemeente iets te make hê.

  • Deur die groet maak die Here dit onmisverstaanbaar bekend aan die gemeente dat Hy die besondere gemeenskap met die gemeente wil en dit inderdaad wil bewerk. Hy gee aan sy gemeente die versekering van sy genade en vrede. "God geeft er mee te kenne wat Hij als de God van ons heil voor de gemeente Zijns zoons is: God van genade, God van vrede. Door zijn dienaar doet Hij haar zijn genade en zijn vrede in Christus verzekeren" (H.H. Meulenbelt).

  • Hierdie groet is die versekering dat die Here hierdie gesprek met sy gemeente wil voer. Dit is die duidelike uitnodiging tot die gemeente om Hom hierin te vertrou en te volg. Dit is 'n bemoediging om met die aangevange gesprek verder te gaan, in die sekerheid dat die Here op sy eie besondere manier met sy seën en genade teenwoordig is.

  • In die groet en deur die hele diens is dit die Here self wat sy seën en genade skenk. Daarom kan hierdie groet nooit magies beskou word of daarvan 'n magiese werking verwag word nie.

Die seëngroet mag nie verwar word met die seën aan die einde van die diens nie. Vir 'n lang tyd is dit nie genoegsaam onderskei nie en is die seëngroet as 'n gebed opgevat en is ook albei hande opgehef. Dit is egter 'n misverstand. Omdat dit 'n groet is wat die liturg aan die gemeente oorbring, daarom doen hy dit met geopende oë en kyk hy die gemeente in die oë. Hy kan sy regterhand ophef soos by 'n groetgebaar.

Ten onregte word die seëngroet dikwels as 'n besonder heilige handeling beskou en dat dit slegs gedoen mag word deur 'n geordende leraar. Teologiese studente en selfs proponente mag dit volgens hierdie beskouing ook nie doen nie. So verkry dit 'n sakrosante betekenis, wat beslis vreemd is aan die Bybelse en Reformatoriese beskouing. Verder beteken dit dat 'n belangrike element van die ere diens agterweë bly indien daar by geleentheid nie 'n geordende leraar is nie. Die groet is nie heiliger of belangriker as die Skriflesing, die lees van die Wet, die genadeverkondiging en die gebed, nie.

Na reg behoort die gemeente die groet te beantwoord.

Ook hier geld die beginsel dat slegs die goedgekeurde seëngroet gebruik mag word, maar dat daar ook die ruimste, sinvolle variasie moet wees.

Die seëngroet soos aan die begin van die Nuwe Testamentiese Briewe:

  • "Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus! " (Romeine 1:7).

  • "Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en Christus Jesus onse Here! " (2 Timoteus 1:2). Dit kan trinitaries aangevul word met "deur die werking van die Heilige Gees".

  • "Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here" (2 Petrus 1:2).

  • "Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor die troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die owerste oor die konings van die aarde" (Openbaring 1: 4, 5).

Dit verdien ernstige oorweging om die ou, bekende wisselgroet as ʼn wisselvorm te gebruik:

Voorganger: "Die Here is met u".

Gemeente: "En met u gees" of "ook met u is die Here".

of ook:

Voorganger: "Die vrede van die Here is met u almal".

Gemeente: "en sy genade is met u".