Bron: De Reformatie. 1 bladsye.

Die Sekularisasie en Ons Gebede

Hoe staan die sake rondom ons gesamentlike gebede in die 'huislike erediens'? In baie gesinne word by elke maaltyd gebid. Meestal doen pa of ma dit hardop. Wat en hoe word daar gebid? Alle aanduidings is daar om te veronderstel dat die tafelgebed in ʼn groot aantal gesinne meestal uit vaste en steeds dieselfde woorde bestaan, al is dit deur middel van ʼn 'formuliergebed' of nie.

Met gebruikmaking van sulke vaste bewoording word daar ongetwyfeld dikwels hartlik en opreg gebid! Tot sover hoef ons seker niks negatiefs hieroor te se nie. Maar tog loop 'n mens daarmee wel ʼn bepaalde risiko, wat ons in verband kan bring met die verwêreldliking (sekularisasie). Die gevaar is dat 'n gebed met vaste en steeds dieselfde woorde en terme en onderwerpe ver weg staan van ʼn groot deel van ons en ons kinders se daaglikse leefwêreld.

Ek is bang dat in heelwat gesinne die gewone lewe, die daaglikse gebeure en die eie ervarings nie in die gebed terug te vinde is nie. Dogter Ellen is vanmiddag, oppad huis toe met die fiets, amper deur ʼn motor raakgery. Alles het gelukkig goed afgeloop! Dank ons dan saam hiervoor in ons gebed? Dogter Marieke skryf vandag ʼn moeilike eksamen en is baie gespanne daaroor. Bid ons vir haar om kalmte en ʼn goeie uitslag? Dit is moedersdag. Dank ons die Here vir die seën wat Hy in ons eie vrou en ma gee en vra ons Hom om haar krag te gee?

En so kan ons nog baie dinge opnoem: ʼn aangrypende berig oor die ellende in Bosnië-Herzegovina, ʼn aaklige stryery tussen twee van ons kinders net voor die ete, die jeugvereniging waar ons kinders vanaand heengaan, ʼn bespreking aan die etenstafel oor ʼn popgroep of oor die kyk van ʼn sekere televisieprogram, ens.

Gelukkig is daar ouers wat naas die vaste formulering (van die gebed) tog ook by verskillende geleenthede eie woorde kan kies. Dan word op ʼn heel besondere manier die persoonlike en lewende godsvrug hoorbaar. Laat hulle besef dat dit groot waarde het in die stryd teen die verwêreldliking!

Want die kern van verwêreldliking (sekularisasie) is tog dit – dat God afwesig is in die lewe van die moderne mens. Wanneer ons gewone lewe (ʼn ongeluk, ʼn eksamen, ʼn berig, ʼn verjaarsdag) afwesig is in ons gebede aan tafel, d.w.s. in ons omgang met God, dan maak ons die poort vir sekularisasie oop. Die aanhoor van gebede word ʼn sleur. Ons spreek ons formules nog wel uit, maar dit ontgaan ons kinders watter verhouding die gebed met die werklikheid het. Die gebed kan so maklik ʼn soort ritueel en magiese formules word. En die gewone lewe gaan sy eie gang, op groot afstand van die gebed, op groot afstand van God.

Dan lyk dit of die Christen elke dag dieselfde is, asof hy geen enkele geestelike groei deurmaak nie, en asof hy steeds maar dieselfde standaard nood en behoeftes het. Dan word daar geen noue verbinding gelê tussen jou gewone alledaagse lewe en die Here God nie. Dit het twee wêrelde geword. En dit is die kern van die verwêreldliking (sekularisasie): dat God en ons gewone lewe van mekaar geskei is en geen verbinding meer het nie.

Dieselfde geld trouens nog breër. Dit geld byvoorbeeld ook vir ons invulling van die Skriflesing by die huis en van ons preke en gebede in die kerk. As die gewone lewe nie in ons 'godsdiens', in ons omgang met die Here, voorkom nie, kom God nie in ons gewone lewe voor nie. Daar ontstaan heel subtiel ʼn stille vervreemding. Kortom, 'wêreld-vreemde' gebede gee aanleiding vir ʼn 'God-lose' leefwêreld.