Bron: De Wekker, 2005. 2 bladsye.

Die Sondag Onder Druk

leë kerk

In De Wekker skryf prof CG den Hartog oor ʼn verskynsel waarmee ook ons kerke dikwels te doen kry: die afnemende kerkbesoek van die aanddienste. Hy sê verskeie dinge om ter harte te neem:

In Nederland is onlangs herdenk dat die Tweede Wêreldoorlog sestig jaar gelede geëindig het. Bevrydingsdag, soos dit in Nederland genoem word, het hierdie keer saamgeval met Hemelvaartsdag. Dit het mooi bymekaar gepas, want die ware bevryding is mos geleë in die genade van die Koningskap van Christus. Dat die viering van Bevrydingsdag begin het met ʼn kerkdiens waarin die troonbestyging van Christus sentraal gestaan het, kon dus eintlik nie beter nie. Ware vryheid moet gevul word met inhoud, steeds weer.

In die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer, wat in die laaste weke van die oorlog gehang is, diep nagedink oor die vraag: hoe verder na die oorlog? Dit het hom daartoe genoop om in sy werk Ethik, waaraan hy in die begin van die jare veertig gewerk en wat hy nooit voltooi het nie, ook ʼn ontwerp vir ʼn skuldbelydenis van die kerk op te neem. Dié ontwerp het hy geskryf in die tweede helfte van 1941, toe die Duitse leërs in Rusland vertoef het en Hitler op sy magtigste was en sy gewildheid ʼn hoogtepunt bereik het. Bonhoeffer het dit nodig geag dat die kerk in Duitsland na afloop van die oorlog ʼn skuldbelydenis sou uitspreek. In sy ontwerp praat hy ook oor die vierde gebod, en hy sê: “die kerk bely haar skuld aan die verlore gaan van die rusdag, aan die doodsheid van haar eredienste, en aan die veragting van die Sondagse rus. Sy het haar skuldig gemaak aan die rusteloosheid en onrus, asook aan die uitbuiting van die arbeidskrag bo ʼn normale werksdag uit, omdat haar prediking oor Jesus Christus swak en haar eredienste kragteloos was.”

Aan hierdie verwysing na die vierde gebod voeg hy tegelykertyd ʼn verwysing na die vyfde gebod toe: “Die kerk bely dat sy skuldig is aan die ondermyning van die ouerlike gesag. Die kerk het die veragting van die ouderdom en die verering van die jeug nie weerspreek nie, uit vrees om daardeur die jeug en daarmee die toekoms te verloor – asof die jeug haar toekoms is! Daardeur is sy skuldig aan die verwoesting van ontelbare gesinne, aan die verraad van kinders teenoor hul vaders, aan die selfverafgoding van die jeug en daarmee aan die prysgewing van die jeug aan die afval van Christus.”

Hierdie dinge moes vir Bonhoeffer swaar op die hart gedruk het. In die Europese somer van 1944, toe hy al langer as ʼn jaar in die tronk was, skryf hy ʼn verklaring van die Tien Gebooie waarin hy ook oor die rusdag skryf. Daarin noem hy die Sondagsrus die sigbare teken dat die mens uit die genade van God lewe, en nie uit werke nie. Hy voeg daaraan toe dat die Sondagsrus die onmisbare vooronderstelling van die Sondagsheiliging is, en die Sondagsheiliging die inhoud van die Sondagsrus.

Dis opmerklik dat ʼn man soos Bonhoeffer soveel waarde aan die Sondag geheg het! As volgens hom die aantasting van die rusdag en die Sondagsheiliging ʼn rol gespeel het in die aanloop tot die nasionaal-sosialisme en uiteindelik die gruwelikhede van die Tweede Wêreldoorlog, wat staan dan nie vandag op die spel nie?

Die Tweede Erediens Onder Druk🔗

Om te begin word gekyk na watter argumente almal na vore gebring word in die diskussie oor die tweede erediens. Gaan dit eintlik maar net oor die tweede erediens? Een ding wat wel duidelik is: almal kom agter dat die bywoning van die aanddiens afneem, en dit is broodnodig om ons te besin oor die vraag hoe dit verder kan en moet gaan. Maar as ʼn mens mooi luister, hoor jy teenstrydige geluide.

Ons het ervaring van gemeentelede wat op geen enkele manier aangespreek wil word oor hul afwesigheid tydens die aanddienste nie. As ʼn mens ʼn aantal vrugtelose gesprekke gevoer het, het ʼn mens meer as genoeg daarvan gehad. In elk geval neem die lus en die moed om by ʼn volgende besoekpunt weer daaroor te praat, sterk af.

Bybel

ʼn Mens weet ook reeds tevore wat hulle verweer hierteen gaan wees. “Waar in die Bybel staan dit dat ʼn mens twee keer kerk toe moet gaan? Nêrens? Nou sien!” Hieruit blyk ʼn manier van omgang met die Bybel wat ʼn mens tot treurigheid stem. Want hieruit spreek afstand en vervreemding van die dinge van die geloof! In sulke verwerings kom in elk geval nie ʼn egte geestelike houding na vore nie.

Mense beweer ook dat die tweede erediens net by ons die gewoonte is, en dat dit ons eintlik belaglik maak. “Wanneer ons met vakansie gaan, is die kerklike lewe elders heeltemal anders, en die Sondag is ook nêrens soos by ons nie.” Hierdie argument word egter selde gebruik wanneer dit kom by biltong, beskuit of koeksisters. Daarvan neem ons graag die nodige saam wanneer ons oor die landsgrense gaan. Maar nog belangriker: dit is weer eens nie ʼn inhoudelike argument nie. Dit is ʼn dooddoener.

ʼn Beswaar wat minder geopper word, is dat dit moeilik is om twee preke per Sondag in jou op te neem. Mense dink terug aan die tyd toe dit nog ongehoord was om reguit te sê dat die tweede diens na jou mening nie nodig is nie of dat jy geen behoefte daaraan het nie. Ons is nou verder in die tyd en mense sê soms, sonder om doekies om te draai, dat hulle net een keer kom. En sommiges het selfs al daaraan toegevoeg dat hulle dit doen sodat hulle nie voorgestel sal word as kandidate vir die kerkraad nie.

Besef hierdie mense ooit dat hulle met hierdie argumente hulself verraai? Verraai, omdat hulle nie voortdurend die vraag voor oë hou hoe ons optimaal inhoud kan gee aan die lewe met die HERE nie? Verraai, omdat die kultuur hul denke baie meer beïnvloed het as wat hulle self besef? Dit gaan nie om die tweede erediens as sodanig nie, maar om die feit hoe ons met en vir die HERE lewe.

Verder is daar ook druk vanuit die evangeliese rigting. Daar is die voorbeeld van ʼn egpaar wat oorgegaan het na ʼn evangeliese gemeente. Die vrou het later vertroulik vertel dat sy moeite gehad het om gewoond te raak aan net een kerkdiens en ʼn Sondag wat totaal anders is. Tydens hul vakansie het hulle op die eerste Sondag nie sover gekom om kerk toe te gaan nie; die tweede Sondag sou hul seun miskien nog ʼn draai kom maak, dus het hulle ook maar albei tuis gebly. Dit alles sogenaamd in die naam van Christelike vryheid, maar hulle het nie onderken nie dat die hart van Christenwees hier in die geding is. Dit is nie net ʼn kwessie van een of twee eredienste nie, maar van: in watter teken staan die Sondag?