Bron: Kompas, 2001. 7 bladsye.

Die Tekens van die Tye – Wat Maak Ons Daarmee?

Wat is die tekens van die tye? Is dit tekens wat onmiddellik voor Christus se wederkoms sal plaasvind? Moet ons dink aan buitengewone, katastrofale en opsienbarende gebeurtenisse wat wys dat dit nou werklik die einde is? Wat is die doel van die tekens? Wat maak ons daarmee?

Deur die eeue heen het mense uitgekyk na tekens wat die wederkoms van Jesus Christus sou aanwys. In die Nuwe Testament hoor ons reeds die vraag na die teken van Christus se koms. Dit na aanleiding van ’n opmerking van Jesus oor die verwoesting van die tempel.

Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?. Mattheus 24:3

Waar dink ons aan as ons oor die tekens van die tye praat? Dikwels word inderdaad gedink aan tekens wat onmiddellik voor Christus se wederkoms sal plaasvind, katastrofale en opsienbarende gebeurtenisse. Mense is geneig om te dink dat buitengewone omstandighede die periode voor Christus se wederkoms sal kenmerk. Oorloë, aardbewings, groot tekens en wonders, die optrede van die antichris.

Tog waarsku die Bybel uitdruklik teen hierdie identifikasie. In Lukas 17:20, 21 sê Christus:

Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.

Ons moet ook onthou dat die valse profete (Mattheus 24:24) en die mens van sonde (2 Thessalonisense 2) en die dier uit die aarde van Openbaring 13 (die valse profeet) baie sal verlei met groot tekens en wonders. Baie van die tekens van die tye verwys na gewone gebeurtenisse van hierdie Nuwe Testamentiese periode.

Bowendien leer die Skrif ons dat die groot massa die tekens van die tye nie sal raaksien nie. Soos in die dae waarin Noag die ark gebou het. Christus verwys daarna in Lukas 17:26,27:

En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.

Mense sal dus gewoon met hul lewe en werk aangaan totdat Christus skielik voor hulle staan.

Die Doel van die Tekens🔗

Christus het die tekens nie gegee om die presiese datum van sy koms te bepaal nie. Ook nie om allerlei ontwikkelinge voor die dag te kan voorspel nie. Waartoe dien dan die tekens? Om ons te wys dat die huidige geskiedenis na die dag van die Here voortbeweeg. As aanwysings dat Christus aan die kom is, soos Hy belowe het. Om ons daaraan te herinner dat Hy aan Vader se regterhand sit, en dat Hy van daaruit ter wille van sy kerk regeer en die geskiedenis na sy bestemming lei. Eintlik is Christus self die groot teken van die tyd. Die fokus moet volkome op Hom gerig wees.

Dit is interessant om te sien dat die enigste plek in die Nuwe Testament waar die tekens van die tye letterlik genoem word, dit ’n verwysing na Jesus Christus is. In Mattheus 16:1 vra die Fariseërs en Sadduseërs vir die Here Jesus om hulle ’n teken uit die hemel te wys. Daarop antwoord Jesus:

Julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?

Daarmee verwys Jesus na sy werke wat bevestig dat Jesus die beloofde Messias is. Dade soos genoem in Mattheus 11:5:

Blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.

Jesus Christus is die groot teken van die Messiaanse tyd. In Hom sien ons God se beslissende ingryping tot verlossing van sy volk. Die hele toekoms lê dan in die verlengde van die beslissende optrede van Jesus Christus in die volheid van die tyd, sy dood en opstanding, sy hemelvaart en die uitstorting van sy Gees.

Wat is dan die funksie van die tekens van die tye? Om ons te wys na Jesus Christus wat aktief besig is om sy koninkryk te vestig en sy verlossingswerk te voltooi. Die hoogtepunt van die bekende hoofstuk oor Christus se koms (Mattheus 24) is die oproep om waaksaam te wees. Christus spoor sy leerlinge aan om hulle nie in verwarring te laat bring deur allerlei geluide aangaande die laaste dae nie. So beantwoord Jesus die vraag om ’n teken. Hy temper die ongeduld en laat sien waaroor dit werklik gaan in die toekomsverwagting: geen opsienbarende beskrywing van die scenario van die toekoms nie, maar geloofsvolharding en waaksaamheid. Die tekens sê ons nie soseer wanneer die Here kom nie, maar dat Hy kom.

Die Tekens van Mattheus 24🔗

Oor watter tekens praat ons? Mattheus 24 noem verskeie tekens. Wat ons by Mattheus 24 egter moet onthou, is dat ’n groot gedeelte van die hoofstuk handel oor die ondergang van Jerusalem en sy tempel. Die dissipels vra:

Wanneer sal hierdie dinge (die verwoesting van stad en tempel) wees en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?

Hulle vra dus na drie dinge:

  • die wanneer van die verwoesting van die tempel,

  • die teken van Christus se koms,

  • en die teken van die voleinding van die wêreld.

Volgens die verklaring van ds. S Braaksma en ds. Tj Boersma handel die eerste gedeelte van Mattheus 24, naamlik die verse 4-14, oor die ondergang van Jerusalem. Die verse 15-28 sou dan ’n beantwoording wees van die dissipels se tweede vraag, naamlik wat is die teken van u koms? Daarby sou dit dan gaan oor Jesus se koms om Jerusalem te oordeel. Eers in vers 29 sou dit gaan oor die voleinding van die wêreld.

Indien ons die hoofstuk so moet verstaan, dan sou die tekens wat in die verse 6 tot 27 genoem word, nie direk op Christus se wederkoms betrekking het nie. Dit is die bekende woorde oor valse christusse, oorloë en gerugte van oorloë, hongersnode, aardbewings ens. Dit sluit selfs in die woorde oor die evangelie wat eers in die hele wêreld verkondig moet word (vers 14) en die teken van die groot verdrukking in vers 21.

Beteken dit dan dat al die tekens wat ons nog altyd aangeneem het as tekens van Christus se wederkoms skielik vir ons geen tekens meer sou wees nie? Nee! Ook al sou die verklaring van Mattheus 24 juis wees, dan is die res van die Skrif duidelik genoeg oor vergelykbare tekens wat na Christus se wederkoms verwys. Bowendien mag ons die dinge wat as tekens van die verwoesting van Jerusalem genoem word, ook as tipes beskou van die tekens wat daarna gaan gebeur. Daar loop ’n regte lyn van die val van Jerusalem na die wederkoms van Christus. Daarom lees ons in vers 29:

En dadelik na die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word en die maan sal sy glans nie gee nie en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.

So word die dag van die Here oor Jerusalem en die allerlaaste dag van die Here nou aan mekaar verbind. Jerusalem se ondergang lui die groot wêreldkatastrofe in. Hoewel dit sal blyk dat gebeurtenisse baie eeue van mekaar geskei is. Christus sien hulle in een perspektief: dis dieselfde gerig van God wat in die jaar 70 na Christus oor Jerusalem kom as wat oor die afvallige wêreld sal kom by Christus se wederkoms.

Dit is wat ons die profetiese perspektief noem. Ons sien dit dikwels in die Ou Testamentiese profesieë wanneer dit gaan oor die toekoms. In een beeld word die toekoms geskilder. Gebeurtenisse wat in tyd ver uitmekaar lê, word onmiddellik agter of langs mekaar geplaas. Soos by ’n tekening van ’n vergesig: ’n berg wat in werklikheid ver weg is, lyk onmiddellik agter die bome en geboue op die voorgrond te lê. So het die profete die eerste en tweede koms van Christus dikwels in een beeld in mekaar geskuif. Dit lyk asof Jesus Christus dieselfde doen in Mattheus 24. So het die tekens wat daar genoem word nie slegs betrekking op Christus se oordeel oor Jerusalem nie. Baie van hulle verwys ook na Christus se wederkoms. Ons moet daarom ook let op die tekens wat die Here hier vir ons noem.

Die Onderskeie Tekens🔗

In sy boek ‘The Bible and the Future’ onderskei prof A Hoekema drie soorte tekens.

  • Eerstens, tekens wat die werking en triomf van God se genade wys. Daaronder val hoofsaaklik die verkondiging van die evangelie.

  • Tweedens, tekens wat wys op die intensivering van die konflik tussen die koninkryk van Christus en die ryk van die Antichris. ’n Konflik wat sal uitloop op die oorwinning van Christus en die onderwerping van alle dinge onder sy voete. Hieronder noem Hoekema vier dinge: verdrukking; die groot verdrukking; die afval; die Antichris.

  • Die derde soort tekens is dié wat God se oordeel openbaar en vooruitwys na die finale oordeel by Christus se wederkoms. Daaronder noem Hoekema dinge soos oorloë en gerugte van oorloë; hongersnode en aardbewings en die finale stryd en oorwinning oor God se vyande.

Tekens van die Werking en Triomf van God se Genade🔗

Laat ons eers kyk na die verkondiging van die evangelie. Die evangelie word in Romeine 1:16 genoem: “’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek”. Die verkondiging van die evangelie aan alle volke is een van die duidelikste tekens dat ons in die laaste dae van die heilsgeskiedenis leef. Dis dae waarin God se Ou Testamentiese beloftes vervul word en die triomf van sy genade in Christus sigbaar word. God het daarvan gespreek tot die aartsvaders. In Abram sou al die geslagte van die aarde geseën word. Die Psalmiste het gesing van die volke wat die Here sal prys. Die profete het geprofeteer van die nasies wat na Sion sal toestroom. In Mattheus 24:14 sê die Here Jesus: hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Die prediking van die evangelie is dalk die belangrikste teken van die tye. Dit bewys die triomf van God se genade in die geskiedenis. Dit berei die weg vir die wederkoms van die Here Christus in heerlikheid.

Wat beteken dit vir ons? Dit leer ons om des te meer die prediking te beklemtoon. Die prediking van Christus se koninkryk. Daar is geen rede om minderwaardig oor die prediking te dink nie, of om die vertroue daarin te verloor nie. Juis die prediking is ’n teken dat ons leef in die laaste dae. Christus regeer. Niks kan die offensief van die evangelie en die vergadering en bewaring van Christus se kerk uit alle volke en tale stop nie. Daarin sien ons die koms en oorwinning van God se koninkryk. Dis nou die tyd van genade en verlossing. Nou-nou sal die einde daar wees. Dan sal die evangelie nie meer gepredik word nie. Daarom moet ons vandag elke geleentheid uitbuit om die evangelie getrou te verkondig. Solank dit nog ’n tyd van genade is.

Die groot opdrag van Christus se kerk tussen hemelvaart en wederkoms is:

Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Mattheus 28:18-20

Tekens van die Konflik tussen Christus en die Antichris🔗

Die tekens van die tye benadruk dikwels die antitese tussen die koninkryk van God en die magte van die bose. Die koms van die Here Jesus deur sy Gees en Woord wek die teenstand en vyandskap van die wêreld op. Die konflik tussen die waarheid en die leuen intensiveer. Hierdie intensivering maak nie Christus se triomf onseker nie. Inteendeel. Dit bevestig juis dat alle dinge ryp gemaak word vir die oordeel en die voltooiing van die geskiedenis. Christus voorspel verdrukking en vervolging vir sy volgelinge. Dink aan die bergrede. Dink ook aan die woorde van die Here Jesus in Johannes 15:20:

Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. (vergelyk ook Johannes 16:33)

Mattheus 24 bevestig dit wanneer dit spreek van verdrukking en vervolging. Geen gelowige moet verras wees deur die vyandskap en teenstand van die wêreld nie. Christus het dit ’n teken van die laaste dae genoem.

Hierdie verdrukking sien op moeite en smart as gevolg van jou toewyding aan Christus, sy woord en sy koninkryk. Die verdrukking kan allerlei vorme aanneem: vervolging, vyandskap, gevangenskap, valse beskuldiging, bespotting, veragting, vernedering, finansiële nood, eensaamheid, innerlike verdriet. Enige van hierdie vorme kan nie uitbly nie. Dit getuig van die egtheid van ons gemeenskap met Christus sowel as van ons toewyding aan Hom en sy evangelie. Hierdie verdrukking, soos die ander tekens, getuig nie van die onsekerheid van Christus se saak nie, maar van sy oorwinning. Die uitsig op die verdrukking hoef ons nie bang te maak nie. Inteendeel, dit getuig van die triomf van God se verlossingswerk. Dit herinner ons daaraan dat God se koninkryk sal oorwin. Dis slegs die laaste stuiptrekkings van Satan wat daarin sigbaar word.

Die omstandighede van verdrukking is in die lewe van die gelowige dikwels ’n geleentheid tot groei en volharding. Jy besef des te skerper die diepte en omvang van jou gemeenskap met Christus. Verdrukking leer my om in navolging van Christus myself te verloën en geduldig te wees. So groei ek in volharding en hoop.

Nou iets oor die groot verdrukking. Leer die Bybel dat daar teen die einde van die tyd ’n geïntensiveerde verdrukking sal wees, ’n groot verdrukking? In Mattheus 24 leer Christus ons dat daar nie slegs ’n algemene verdrukking sal plaasvind voor die verwoesting van die tempel nie, maar ook ’n geïntensiveerde verdrukking. Dit voorspel ’n geïntensiveerde verdrukking voor Christus se wederkoms. Ons lees in Openbaring 7 van die groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale voor die troon. Van hulle word gesê dat hulle uit die groot verdrukking kom. In Openbaring 20 lees ons van die ontbinding van Satan vir ’n kort tydjie na die duisendjarige binding. Dit lyk op ’n kort tydjie van geïntensiveerde opposisie teen Christus en sy kerk. Die openbaring van die mens van sonde, die seun van verderf van 2 Thessalonisense 2, wys ook in die rigting. Dit lyk daarop dat die teenstand teen Christus geïntensiveer sal word namate die dag nader kom.

Hier moet ons wel versigtig wees met die trek van konklusies. Die informasie oor die groot verdrukking is nie duidelik genoeg om harde en vaste konklusies te trek oor die aard en verloop daarvan nie. Ons weet nie of die verdrukking ons skielik sal oorkom of dat dit geleidelik geïntensiveer sal word nie. Ons weet ook nie of so ’n groot verdrukking die hele kerk op elke plek gelyktydig en op dieselfde manier sal raak nie. Baie bly onseker. Daarom kan ons nie te dogmaties daaroor wees nie.

Een ding is egter absoluut seker: hoe intensief die verdrukking en die opposisie teen Christus se saak ook al mag wees, Christus regeer totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het (1 Korinthiërs 15:25). Verdrukking, selfs groot verdrukking sal ons nie kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Romeine 8:35-39).

Onder die tekens wat die teenstand teen die evangelie van Christus wys, is die teken van die afval en ontrou onder die volk van God. Christus voorspel dat baie tot struikeling gebring sal word en mekaar sal verraai en haat. Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei (Mattheus 24:10-12). Christus voeg daaraan toe: Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei (vers 24). Die kerk sal dus ook van binne uit aangeval word. God se volk sal in die huidige bedeling in hul trou aan Christus en sy woord swaar beproef word. Dit word bevestig op verskillende plekke in die Nuwe Testament. Paulus skryf dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom (2 Timotheüs 3:1). In 1 Timotheüs 4:1 het hy reeds gewaarsku dat die Gees uitdruklik sê dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang. 2 Thessalonisense 2 lyk daarop te wys dat dit teen die einde geïntensiveer sal word. Daar waarsku die apostel dat eers die afval moet kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (vers 3). Die afval onder Christene is dus ’n teken dat die dag nader.

Hierdie teken herinner ons daaraan dat die grootste vyand van die kerk nie van buite af kom nie, maar van binne uit. Daarom kan ons nooit ’n gearriveerde houding aanneem en in knus selfvoldaanheid onsself verhef nie. Slegs die kerk wat waaksaam en onverskrokke die geloof bewaar, kan haarself beroep op die belofte van die Here dat die poorte van die doderyk of hel haar nie sal oorweldig nie. Wanneer Paulus van die komende afval praat dan haas hy hom om die gemeente te bemoedig om vas te staan en hulle te hou aan die voorskrifte wat hulle geleer is (1 Thessalonisense 2:15). So sien ons dat hierdie teken ons nie slegs waarsku nie, maar ook bemoedig. Ons mag weet dat Christus ’n getroue volk sal bewaar.

Dan kom ons by die teken van die Antichris. Daar is oor geen teken soveel gespekuleer as oor hierdie teken van die Antichris nie. Die naam Antichris kom slegs letterlik voor in die briewe van Johannes. Daar praat hy oor baie Antichriste, wat reeds is en wat sal kom. Wat hulle tipeer is hul verloëning van die evangelie van Jesus Christus. Hierdie teken dien om ons te waarsku om nie verlei te word nie. Nie almal wat Christus se naam dra is waarlik Christus se dienaars nie. Sommiges is wolwe in skaapsklere. Sommiges is miskien Antichriste, d.w.s. teenstanders van die waarheid betreffende die persoon en werk van Christus.

Maar spreek die Bybel ook nie van die koms van die Antichris nie? Hierby word dan verwys na die mens van sonde uit 2 Thessalonisense 2. Is dit dieselfde as die Antichris?

Dit lyk asof hulle verskillend is. Die Antichris waaroor Johannes praat, lyk op ’n kerklike figuur wat uit die afvallige kerk opkom. Die Antichris word getipeer deur die leuen, die dwaalleer. Met die mens van sonde lyk dit anders te wees. Dit laat ons eerder dink aan ’n buitekerklike figuur of mag wat hom in die kerk nestel. Soos Antiochus Epifanes in die Ou Testament. Die wêreld kry mag in die kerk en onttroon God. Ons moet 2 Thessalonisense 2 ook lees teen die agtergrond van Daniel 11 waar Antiochus Epifanes aangekondig word. Wat was toe in geding? Die poging om die hellenisme aan die Joodse kerk op te dring. D.w.s. die kerk moes gelyk gemaak word aan die ander volke. Daarby moes allerlei godsdienste saamgesmelt word in die een wêreldgodsdiens. Hierdie godsdiens van die hellenisme was ’n dodelike bedreiging vir die ware godsdiens.

As ons hierdie agtergrond besef, dan sien ons des te beter dat ons daardie mens van sonde nie in die toekoms hoef te soek nie. Die proses is vandag reeds gaande. Daarby hoef ons ook nie aan ’n bepaalde persoon te dink nie. In 2 Timotheüs 3 gee Paulus ’n tekening van die laaste dae. Hy sê dat daar swaar tye sal kom want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God, ens. Die mense. Met die woord dui Paulus die mensheid in die algemeen aan. Ons sou ook kan sê dat hier ’n beeld geskets word van die mens van die toekoms. ’n Totale mensbeeld, waarin die uitsonderings weggelaat word. Die mens soos hy in die massamedia na ons toekom. Die mens wat die beliggaming is van alles wat in 2 Timotheüs 3 genoem word en wat in 2 Thessalonisense 2 toegeskryf word aan die mens van sonde.

Die mens van sonde hoef dus nie ’n bepaalde mens te wees nie. Ons kan dink aan die goddelose mensheid, ’n mag wat van buite kom en hom in die ontroue kerk nestel. Dan hoef ons nie hierdie woorde oor die mens van sonde na die toekoms te verwys nie. Ons sien dit reeds in werking. Nie God se woord nie, maar die tydgees gee in die moderne teologie die toon aan. Die wêreld bepaal wat die kerk nog sal glo en bely. Die norme van die moderne tydgees neem oor in die kerk. Die moderne mens deel in die kerk die lakens uit.

Laat ek enkele voorbeelde noem. ’n Bekende Ou Testamentiese teoloog van UNISA leer dat die mens die Bybel nie meer as God se Woord kan lees nie. Dit sou slegs mensewoorde oor God wees. Daarom word ook die menswetenskappe bo die Bybel verhef. Die mens moet in vryheid die Bybel kan kritiseer. ’n Ander teoloog skryf dat die evangelie nie ’n boodskap is wat van bo af na die mense kom nie, maar van onder af. Dit beveel mense nie om te glo nie, maar lok hulle eerder. Dieselfde teoloog sê vir ons dat Allah nie ’n ander God as die ware God is nie, maar as ‘t ware ’n swak foto van Hom. Daarom kan Moslems ook sonder geloof in Jesus Christus gered word. ’n Derde teoloog beweer dat daar geen objektiewe waarheid is nie, en dat ons slegs werk met die mens se ervarings. God en mens sou gelyke vennote vir mekaar wees. Goeie prediking sou wees om die teologie wat uit mense se harte en monde kom, aan die woord te stel.

Wat is nou opvallend by al die uitsprake? Dit, dat hulle nie van buite die kerk kom nie, maar dat hulle almal van bekende, vooraanstaande teoloë kom. Dit maak dit so erg en so gevaarlik. Die mens van sonde het hom in Suid-Afrikaanse kerke genestel. Geen wonder dat die menswetenskappe dikwels ook in kerke die lakens uitdeel nie. Die mens het homself tot god verhef. Hy aanvaar nie langer ’n God wat van buite af Homself aan hulle openbaar nie en wat oor hom gesag het nie. Hy aanvaar geen objektiewe waarheid wat van God kom nie. Die moderne mens en in navolging daarvan die moderne teologie het God onttroon en die mens op die troon gesit. Daarom verander dinge so drasties in verskillende kerke.

Dit moet uiteindelik daarop uitloop dat van die Christelike geloof niks oorbly nie. Intussen beroep die mense hul vir al die godlose teorieë op die Bybel. Daarvoor het Paulus ons gewaarsku. Sodat ons die afval van God se woord sal onderken en die mens van sonde eweneens. Sodat ons Jesus Christus sal bly verwag wat nou-nou sal kom en die ongeregtige met die asem van sy mond sal verdelg en deur sy heerlike verskyning (2 Thessalonisense 2:8).

Tekens van God se Oordeel🔗

Nou nog iets oor die derde groep van tekens, die tekens van God se oordeel as voorspel op die laaste oordeel. Ons dink hierby aan oorloë en gerugte van oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings, ens.

Hierdie tekens herinner ons daaraan dat God se verlossingswerk in Christus nog nie ten einde is nie, maar dat dit gou sover sal wees. Hulle herinner ons ook daaraan dat God se koninkryk oor al sy vyande sal triomfeer. Al die tekens het reeds in die Ou Testament voorgekom. Sedert die sondeval lê die wêreld onder die vloek van God. God openbaar sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense (Romeine 1:18). Die tekens is voorbodes van die groot dag van oordeel. Christus regeer en sal oor al sy vyande triomfeer. Dit loop dan uit op die finale stryd waarin Christus definitief met sy vyande sal afreken (Openbaring 16:16; 17:14; 19:19; 20:8).

In Mattheus 24 sê Christus:

Leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.

Wat beteken dit vir ons vandag? Dit beteken vandag: besef dat jy in die laaste dae leef en dat Christus besig is om met haas terug te kom. Sonder jou aan berekeninge skuldig te maak, kan jy aan die gebeurtenisse in ons tyd sien met hoeveel haas Christus op pad is na sy wederkoms. Ons sien dit veral in die voortgang wat die evangelie reeds in die wêreld gemaak het en in die groot afval in ons dae. Die afval het altyd al gepaard gegaan met die voortgang van die evangelie maar groei na ’n klimaks toe. Laat ons waaksaam wees, die geeste van die tyd onderken en volhard in die stryd vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.