Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die veranderingskrag van God se Woord

Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur

2 Konings 22:11

Lees: 2 Konings 21:1-6; 22:1 – 23:6.

By die herdenking van die Hervorming loop 'n mens gevaar om teen mense vas te kyk – om Luther en Calvyn en die ander Hervormers op die voorgrond te plaas. Ons moet egter verby hulle kyk en agter hulle Hom raaksien wat eintlik die kerk hervorm: die Here God self.

Dat dit die Here is wat self hervorming in sy kerk bewerk, sien ons op baie tye en plekke in die geskiedenis. Ons kan selfs so ver teruggaan soos die geskiedenis van die kerk van die Ou Testament. Ons teks neem ons terug na die geskiedenis van Juda in die tyd van koning Josia. Toe Josia koning geword het, was hervorming vir die volk van die Here baie nodig, want die volk was in 'n ernstige toestand van verval. Josia se oupa, koning Manasse, het die volk verlei om agter vreemde gode en godsdienste aan te loop.

In hoofstuk 21 het ons gelees dat Manasse die Kanaänitiese afgodery in Jerusalem ingevoer het: altare vir Baal en heilige boomstamme is opgerig. Van die Assiriese afgodery het hy die aanbidding van sterrebeelde ingevoer en uit die primitiewe bygelowe van weleer het hy teruggebring praktyke soos goëlery, waarsêery en die oproeping van geeste. En te midde van alles was die tempel van die Here in Jerusalem gesluit!

Die volk in Jerusalem en die hele Juda was duidelik op die pad van die heidendom. Maar God sou dit nie so toelaat nie. Kragtens sy verbond was hulle sy volk. En Hy laat vaar nie die werk van sy hande nie. Daarom sou Hy hulle na Hom laat terugkeer. Hy sou 'n hervoming in die midde van die volk laat plaasvind. Dit het God gedoen deur 'n verrassende wending wat Hy in die geskiedenis laat gebeur het.

Hierdie verrassende wending het begin met 'n klein seuntjie wat koning van Juda geword het: Josia, agt jaar oud – kwalik iemand van wie ons 'n groot hervormingsdaad sou verwag. Maar dan moet ons onthou dat die Here in werklikheid self die Hervormer is. Josia sou maar net die instrument in sy hand wees. Deur sy Gees het die Here in die hart van die jong Josia gewerk. Die gevolg? Van Josia is opgeteken dat hy "anders as sy voorouers, gedoen het wat reg was in die oë van die Here" (2 Konings 22:2).

Toe Josia 26 jaar oud geword het, het hy besluit – deur die krag van die Gees, hoe anders? – dat die tempel van die Here wat sovele jare al in verwaarlosing gestaan het, weer oopgesluit en herstel moes word. En toe gebeur 'n wonderlike ding. Terwyl die priesters besig was om die tempel op te ruim, ontdek hulle onder die stof en puin van jare se verwaarlosing 'n boek. Die wetboek, word dit in ons teksvers genoem.

Sommige verklaarders meen dat hierdie boek Deuteronomium was, ander weer dat dit die eerste vyf boeke van die Bybel (van Genesis tot Deuteronomium) was. Hoe dit ook al sy, hierdie boeke is boeke wat God eeue tevore laat opteken het. Dit was van God afkomstig. Dit was Bybel. Die Bybel wat vir soveel jare toe en vergete gelê het, is weer ontdek. God het dit beskik, omdat Hy deur die Bybel spreek. Die Bybel is sy Woord en God se Woord is 'n woord van krag.

Daarom het hierdie Boek met koning Josia op 'n kragtige manier gewerk, want in ons teksvers staan daar dat "toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur". Dit het hy gedoen as 'n teken van rou. Ja, Josia was in rou, want die woorde van hierdie wetboek van God het Josia se hart oopgeskeur. Hy het besef hoe ver die volk van die Here weggedwaal het. Dit het hom in rou gedompel. In vers 13 hoor ons Josia se rouklag: "Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot." En as teken van droefheid en rou het Josia sy klere geskeur.

Maar by roubetoon het dit nie gebly nie. Gedryf deur die krag van die Gees, het Josia ook iets aan die saak gaan doen. Hy het 'n groot hervorming in Jerusalem en in die hele Juda geloods. Hy het die volk byeengeroep en die Boek wat hy ontdek het, aan hulle voorgelees. Hy het die volk saam met hom gevat op die pad terug na die verbond van die Here.

In hoofstuk 23:3 lees ons dat Josia 'n "verbond met die Here gesluit het en beloof het om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom". Ons lees ook dat die volk die verbond aanvaar het. So het God sy kerk van die Ou Testament weer na sy verbond teruggebring. Op geen ander manier nie as deur die herontdekking van sy Woord; om geen ander rede nie as dat Hy getrou bly aan sy verbond.

En God se verbondstrou bly staan, al gaan daar ook eeue verby. Ongeveer vyf eeue na die groot godsdienstige hervorming van Josia het God die beloftes van sy verbond in groot heerlikheid laat deurbreek. Daarvan lees ons op die bladsye van die Nuwe Testament. Die Nuwe Testament getuig hoe God sy beloftes laat waar word het in Jesus Christus, sy Seun.  Hy het Jesus gestuur in die vlees – 'n klein kindjie, gebore in 'n nederige stal in Betlehem, maar tog die Koning van alle konings; uiteindelik soos 'n misdadiger gekruisig buite Jerusalem, maar tog die soenoffer om God se volk na Hom toe terug te bring. So het God se beloftes waar geword, nie net vir die volk Juda nie, maar ook vir sy uitverkorenes in al die nasies, die Nuwe-Testamentiese kerk, die volle Godsvolk wat God in sy verbondsliefde styf teen Hom vashou.

God se verbondsliefde skitter weer helder in die sestiende eeu. Die Rooms-Katolieke Kerk van die sestiende eeu is in 'n ernstige toestand van verval – besmet met heidense bygeloof en afgodery. Hoe het dit gebeur? Dit het gebeur deurdat die Roomse Kerk oor verloop van eeue stadig maar seker die Woord van die Here na die agtergrond geskuif het. Allerhande ander dinge het belangrik geraak: seremonies, die sakramente, indrukwekkende optogte met togas en kruise en kandelare te midde van pragtige koorsang. En die Bybel? 'n Toe boek. In die erediens en daarbuite. In die plek daarvan het beeldediens gekom, verheerliking van die sakramente en aflaatboetes vir jou sonde.

So het die kerk in die vyftiende en sestiende eeu al verder weggedryf van die Woord van God, en van God self. Maar God sou nie toelaat dat dit so aanhou nie. Want in sy verbondstrou sien Hy toe dat sy kerk na sy Woord toe terugkeer. Daarom het Hy dit so beskik dat daar manne moes kom wat die Bybel vir die kerk as't ware weer moes ontdek.  Deur hulle werk en toewyding sou die Here sy kerk weer onder sy Woord bring – hervorm.  Dit was manne soos Maarten Luther en Johannes Calvyn. Deur hulle werk is die kerk van die Reformasie weer onder die gesag van die Bybel gestel. As gevolg van hulle volhardende ywer is die kerk onder menslike gesag uitgehaal en het dit weer onder die gesag van God te staan gekom, met Jesus Christus as hulle Hoof en Koning.

Die naloop van die groot Hervorming wat God in die sestiende eeu bewerk het, is dat ook die gereformeerde kerke in Suid-Afrika bykans vyf eeue later steeds op God se Woord as hoeksteen gestel is. Dit is genade, en tegelyk ook roeping. Want die hoeksteen roep om voortdurende reformasie. En telkens wanneer dit gebeur, is dit uiteindelik ook God se werk.

Want watter deug het ons om ons op te beroem? In die een en twintigste eeu loop ons immers steeds die gevaar om die Bybel te wil begrawe onder 'n stapel van menslike oorwegings: wetenskaplike uitvindings, rasionele argumente, menslike prestasies. Maklik raak ons so verblind deur dit wat mense doen en vermag, deur die eise wat die wêreld aan ons stel en die geleenthede wat die moderne samelewing vir ons bied, dat ons blind raak vir die krag van God en sy Woord. Kort voor lank is die Bybel vir ons 'n toe boek.

Maar deur die krag van sy Woord en Gees buig God ons harte om sodat ons soos Josia op ons knieë voor Hom beland: "Ons het ver van U weggedwaal, o Here; ons het swaar teen U gesondig." Die Here stel ons voor Hom met geskeurde harte oor ons kleingeloof, ons ongeloof. Op elke geskeurde hart lê God dan die genesende vinger van die evangelie van sy Seun: Jy, mense-kind, moet dit hoor en weet: In sy verbondstrou het God jou sondes weggeneem. Deur Christus, die gekruisigde, is jy verlos, vrygespreek van jou sonde. Hy bring jou terug by God.

Daarom: Lééf by God, elke dag van jou lewe. Luister na sy Woord. Dien Hom in liefde. Aan Hom alleen die eer.