Bron: Kerk en Woord, 2001. 9 bladsye.

Die Vrou en die Verbond van God

tou hart

Die verbond is ’n sentrale verhoudingstruktuur waarvan die HERE gebruik maak om die parameters van sy salige verhouding met die mens te beskrywe. In die geskiedenis van die Reformasie het die bekendstelling van die verbond van die HERE as ’n openbaringsgegewe ’n kenmerkende klem in die teologie gekry.

Dit was veral na aanleiding van die aanslag van die wederdopers dat die Reformatore, besonderlik Calvyn, die gegewe van die Verbond van God na vore gebring het. Sedertdien is die verbondsmatige denke kenmerkend van die Gereformeerde teologie.

Die Vrygemaakte teologie, met hulle besondere stryd teenoor die Kuyperiaanse verbondsteologie, in weerlegging van die sogenaamde verbondsoutomatisme en veronderstelde wedergeboorte, het ’n baie spesiale en regmatige klem op die bestaan en die werking van die verbond van God in die teologie gebring.

Die eerste keer waar die term “verbond” in die Bybel voorkom, is in die gesprek van God met Noag (Genesis 6:18): “Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou.”

Ons kan aanvaar dat die begrip van ’n verbond dus reeds by Noag bekend moes wees. Verskillende teorieë oor die herkoms van die sondvloedverhaal ten spyt, is dit steeds die Gereformeerde aanvaarding (soos gedefinieer in die openlike verklaring van gereformeerde kerke by meerdere vergaderings, Kerkordeboekie 1979, p 65) dat die optekening van die sondvloed op historiese gronde berus, veral omdat dit tekstueel uit Noag se reaksie duidelik blyk dat hy God se gesprek met hom korrek verstaan het.

Telkens wanneer die HERE reddingskragtig met een of meer mense opgetree het, en Hy Homself aan hulle bekend gemaak het, sy verlossingsdaad vermeld het, sy verbondseise, beloftes, bedreigings gestel het, herken ons die besondere kenmerkende verbondstaal, verbondsargumente en verbondsformaat. Kyk maar na Abraham, Isak, Jakob, die wetgewing te Sinai, Deuteronómium, die Profete, die Bergrede, die sendingopdrag, Pinkster, ens.

Die terminologiese gebruike van die verbond vind ons reeds by die skepping en die sondeval, en telkens weer by die ontvouing van elke nuwe fase van die heilsgeskiedenis. Dit blyk dan wel dat die formele afmetings van die verbondsbegrip met verloop van tyd in die oergeskiedenis sy herkoms gekry het, maar dit blyk ook dat hoewel die inhoudelike daarvan van tyd tot tyd gewissel het, die formele verhoudingstruktuur wat daarin verpak was, altyd gebly het.

Trouens, dit blyk dat die latere ontvouing van die verhouding van God met die mens altyd weer teruggryp na die oorspronklike verhouding wat God daargestel het (1 Korinthiërs 11:3, 1 Tim 2:13, 1 Petr 3:7, ens.). In die lig van die oorspronklike verhouding stuur God alle dinge na die vervulling van sy einddoel daarmee.

reenboog🔗

Die Basiese Verbondstruktuur Vind Uitdrukking in die Volgende:🔗

a. Die Kenmerkende Formeel-geykte Opeenvolging van Argumente🔗

Verskillende navorsers het ook verskillende formele indelings van die verbonde voorgestel. Die Hetitiese Vasal-verdrae is miskien die mees geykte. Standaardelemente wat onderskei kan word, is byvoorbeeld:

  1. Selfbekendstelling (titulêre deel wat die partye noem)
     
  2. Historiese proloog (wat die geskiedenis van die verhouding beskrywe)
     
  3. Eise/stipulasies en beloftes en dreigemente
     
  4. Afsluiting en bewaringsklousules
     
  5. Al die gode wat as getuies dien

Verskeie navorsers meen dat Deuteronomium duidelik die Hetitiese verdragsformaat aanneem.

b. Bekende Formules wat in die Verbondsluiting van die HERE voorgekom het:🔗

  1. jy en jou nageslag na jou, in hulle geslagte: om aan te dui dat God sy verbond nie noodwendig met een persoon oprig nie, maar kollektief, in die huishoudingskon­sep tot in die nageslagte.
     
  2. want ek is die HERE jou God: baie van die voorskrifte word met hier­die refrein gemotiveer. Die kerk­mens van die Ou Testament (vgl Hebr 11) staan in ’n lewende en salige verhouding met die HERE na wie se beeld hulle veronderstel is om hoe langer hoe meer gelyk­vormig te word.
     
  3. My verbond: Die verbond is die HERE se verbond, nie die volk s’n, of gesamentlik syne en die volk s’n nie, selfs al is die verbond ’n vaste verhouding tussen God en die volk, met ’n dupleuriese wer­king, druk die HERE altyd die besitlike karakter of dan wel ook die genetivus by die verbond uit na aanleiding van die monopleu­riese instelling daarvan. Hy het die verbond ingestel en daarom sê Hy: My verbond.

c. Kenmerkende Simbole en Tekens:🔗

Die maaltyd met offerandes, die oprig van gedenkstene, die opskryf van die verbondstipulasies op dokumente wat bewaar is, die besnydenis en pasga in die Ou Testament, die doop en die nagmaal in die Nuwe Testament.

d. Kenmerkende Verhoudings:🔗

Behalwe dat die Verbond (berit/diatheke/suntheke) as ’n terminus technikus kan dien om God se verhouding met sy verlostes aan te dui, is dit met die eksplisiete verstandhouding dat die verbond ook 'n intermenslike verband daarstel, waarbinne ons gesamentlik die HERE dien.

Hier kan veral die verhoudinge en take in die huis asook in die samelewing, maar veral in die kultiese diens genoem word. Kyk Deut 29:10-12.

  • Die huweliksverhouding word verbondsmatig uitgedruk in onder meer Hosea 6:7, 8:1, 10:4. Die verhouding tussen God en sy volk word in Hosea besonderlik na aanleiding van die huweliksverhouding wat in gevaar gestel word deur ontrou en weer herstel word, uitgedruk. In Mal 2:14, 15 word ook op die basiese verbondsverhouding met God se afbeelding in die huweliksverhouding gewys. Die man se vrou waaraan hy getrou moet bly soos die HERE getrou is aan sy kerkvolk, is die vrou van sy verbond.
     
  • Die ouer-kind-verhouding word verbondsmatig uitgedruk: Deut 6: 4 -10, Ps 105, Spreuke, Mal 1:6. Die kinders is dan ook verbondskinders en die ouers is verbondsouers.
     
  • So ook die heer-slaaf-verhouding (vgl. Mal 1:6, Jes 41:8 e.v.) (Hy het sy verbond gesluit met Abraham, sy kneg...)

Jesus het self die Ou Testamentiese verbondsbepaling kernagtig opgesom met die aanhaling uit Deuteronómium: Kyk Israel, die HERE, jou God is ’n enige HERE, daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand en met al jou kragte. Dit is die eerste en die groot gebod, en die tweede wat hieraan gelyk is, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Hieraan hang die hele wet en die profete.

trouringe

Waar ons in die Nuwe Testament meer die begrip testament kry soos ontleen uit die Hellenistiese wêreld, vind ons by die Bybelskrywers gedurig ’n teruggrype na die Ou Testament.

Hierdie gegewens wil aantoon dat God die mens geskep en georden het binne die intermenslike bande van die huishouding. Francke stel dit soos volg:

Er is eerst de verhouding Schepper – schepsel: tegelijk met hun schepping stonden Adam en Mannin onder Gods wetten voor leven en functioneren van dat leven; zij begonnen hun leven als het begin van het eeuwige leven in Gods gemeenschap. Welnu, hun leven als schepsel voor Gods aangezicht ging dadelijk over in een leven al kind van God. Vandaar dat God dadelijk met hen verbondsafspraken maakte. De schepsel-verhouding werd daardoor verbonds-verhouding. Dat verbond kwam niet op uit de schepping, niet uit Gods natuur en evenmin uit de natuur van de mens dus geen natuur-verbond – maar uit Gods goedheid en gunst…

So word hierdie eerste verbondsverhouding dus nie werkverbond – na aanleiding van die Kuyperianisme – genoem nie vanweë die bedenklike leerstellige implikasies van so 'n benaming, maar God se gunsverbond met Adam en Eva.

Francke gaan verder:

Er waren twee partijen: God en de mensheid in Adam... De tweede partij was Adam met Mannin, de ontvanger van het verbond, waarby Adam optrad als hoofd en verteenwoordiger van zijn zaad (de eenheid van zijn nageslacht is in de term zaad besloten). Hij is hoofd in tweërlei zin. In de eerste plaats geslachtshoofd of natuurlijk hoofd (Latijn caput naturale aut caput seminale) en in de tweede plaats verbondshoofd (caput foederale).

Saam het hulle van God af die wonderbare bevoegdheid en opdrag gekry om met mekaar te verenig en te vermenigvuldig en so die saak van die mens in die skepping gesamentlik te behartig.

Die dinamika van God se optrede teenoor sy volk, en die gedrag van sy volk in haar huislike, sosiale en kultiese verbande is altyd verbondsmatig. So skryf Van der Waal, 1990, pp 13-30: “De vrouw wordt volledig betrokken in het onderwerpen van de aarde, maar zij ontvangt haar plaats en opdracht niet buiten de man om, maar juist in en door Adam”.

Besonderlik die Plek en Taak van die Vrou?🔗

In hul boek: Recovering Biblical manhood and womanhood, a Response to Evangelical Feminism, laat skryf Grudem & Piper deur Raymond C. Ortlund, Jr., hfst. 3, p 1:

My purpose in this essay is to demonstrate from Genesis 1-3 that both male-female equality and male headship, properly defined, were instituted by God at creation and remain permanent, beneficent aspects of human existence.

Die Eenheid van die Skrif as Verbondsboek en die Posisie van die Vrou🔗

Die oortuiging van die Gereformeerde benadering soos gedefinieer in die openlike verklaring by sinodes (Kerkordeboekie) is dat die Skrif in sy geheel, vanuit sy ryke verskeidenheid van literatuur, nogtans as die een boek van God se verbond met die mens gesien kan word, en hoewel vanuit verskillende “bronne” opgebou, nogtans met inbegrip van die verstaan van destyds en ook met die verstandhouding dat die betekenis van destyds selfs die begrip van destyds te bowe gegaan het, herken ons die Bybel as die boek wat sy een boodskap op die allerrykste wyse met verskeie invals­hoeke, maniere en tye, nogtans telkens dieselfde boodskap oor en oor bevestig, versterk, uitbou, positiveer, verduidelik, bekragtig.

Dit moet raakgesien word dat die grammaties-historiese verklarings-wyse van die Skrif nie die belydenis: “Sola Scriptura” mag ontkrag nie. Hierdie laaste standpunt is egter nie meer die heersende beskouing aangaande die Skrif nie. Trouens, dit is ook nie net iets wat vandag eers gebeur nie. Van der Waal, 1990, pp 79-88, beklemtoon tereg die eenheid van die verbond teenoor die Marcioniste en die gnostiek van die vroeë Nuwe Testamentiese kerk asook van die Dispensionalisme van vandag.

feminisme

Vir baie navorsers is die Skrif ’n blote samevoeging van dokumente, ’n fragmentebundel waarvan die onderlinge stukkies nie veronderstel is om ander te verklaar of deur ander verklaar te kan word nie. Vir feministe is dit nog boonop ’n bundel fragmente wat slegs deur mansmense saamgestel is wat in hulle eie belang die patriargale struktuur afforseer het, en is daarom nie objektief relevant nie.

As ons egter die inspirasiegedagte aanvaar, sien ons hoedat die objektiewe Heilige Gees vir die mens sy plek aangewys het. Ou Testamentiese skrywers het die dinge van die Nuwe Testament verkondig. Hulle het selfs dinge geprofeteer wat nie vir hulself nie, maar vir die Nuwe-testamentiese bedeling bedoel was (1 Petr 1:10-12).

Ons lees dan ook uit die Evangelies hoedat Jesus die Skrifte van die Ou Testament op Homself betrek het (Joh 5) en hoedat die Nuwe-testamentiese Bybelskrywers uit die Ou Testament put. Dan begryp ons dat alles uit die mond van Een Outeur, die Heilige Gees, tot stand kom (2 Petrus 3).

Die werklikheid van die inspirasie as hoofbepaler by die totstandkoming van die Bybelse geskrifte (2 Tim 3:16, 17) en ook die sorg van die Heilige Gees by die bewaring, versameling en bundeling van die geskrifte, mag nie in die wetenskaplike omgaan met die Skrif ignoreer word nie (NGB art 3).

Die Verbond is deurgaans in die Skrif die basisstruktuur van God se salige verhouding met die mens in die mens se intermenslike verhoudinge. In die Ou Testament vind ons dit met die begrip berith, en in die Nuwe Tes­tament met diatheke/suntheke. Dit word in verskillende openbaringsfases geopenbaar.

Francke, 1985, onderskei verskillende fases in die voortgang van die verbond: Die skepping, die sondeval tot op Noag, vanaf Noag tot Abraham, vanaf Abraham tot Moses, vanaf Moses tot Christus, en vanaf Christus tot die laaste dag. Die bedoeling hiervan is dat die Skrif as ’n eenheid en ’n volheid beskou moet word en nie as ’n fragmentebundel nie, en as sodanig een verbondsdokument.

As Jesus in sy Bergrede sê dat geen jota of titteltjie van die “wet” ooit sal verbygaan totdat alles gebeur het nie en wat daarop volg (Mat 5:18 e.v.) dan praat Hy oor niks anders as van die Verbond van God wat Hy deur bemid­deling van Moses en die Profete met sy volk gesluit en in stand gehou het nie. En so druk Petrus (2 Petr 3:2) asook Judas (Judas 1:17) dit uit, dat die Nuwe-testamentiese gelowiges gebonde is om die woorde van die profete tevore asook die van die Apostels van die Here Jesus te onthou.

Dat hierdie voorskrif ernstig is, word bewys in 2 Thess 3:14, waar Paulus waarsku dat dit gebiedend is dat die gemeente aan die woord van sy brief aan hulle gehoorsaam moet wees, of andersins gesensureer moet word.

Die Posisie van die Vrou as Verbondspartyder🔗

a. Spreuke 31 as Magistrale Verkondiging van die Vrou se Verbondsmatige Plek en Taak in die Huis, die Samelewing en die Verbondsgemeenskap🔗

Met Spreuke 31 word nie alleen aan die seun (koning Lemuel) vanaf sy moeder riglyne gegee van hoedanige vrou hy moet soek as lewensmaat nie, maar word ook met ’n kenskets aan vroue hulle besondere taak en plek openbaar wat hulle in die verbondsgemeenskap moet volstaan.

Die bedoeling van Spreuke 31:10-31 is dat dit ’n akrostiese lied is wat as singende gedig in die hart van die volk moet leef. Dit kom voor aan die einde van die leerrede van koning Lemuel se moeder (Spr 31:1).

Hier het ons ’n beskrywing en ’n bekragtigende lied – geïnspireerd uit die mond van ’n vrou, oor die vrou. Lof aan die godvresende verbondsvrou. Uit wat hier van die ywerige vrou gesê word, blyk a) dat sy nie as indiwidu op haarself vir haarself nie, maar verbonde aan verskillende menseverhoudinge gesien word en b) dat sy ’n geëerde posisie in Israel gehad het.

Treffend is die basisstruktuur dat net soos met die man, ook die vrou haar lewenswaarde asook die sin van haar bestaan binne die geskape verbande van die skepping (en nie daarbuite nie) vind. Vandaar dus die sogenaamde patriargale huishouding.

spinwiel

Die patriargale verbondsgemeenskap is nie ’n uitvinding van manne nie, maar van Hom wat man en vrou geskape het. Maar dit blyk nie dat hierdie sinduiding vir die vrou ’n vernedering is nie, inteendeel. Sy het die vertroue van haar man geniet (vs 11), en sy is vir hom goed (vs 12). Sy is arbeidsaam (vs 13) en sorgsaam (vs 14) en reël alles vir haar gesin (vs 15). Sy bewerk selfs die uitbreiding van die familiebesit (vs 16). Sy span haar fluks in en werk dag en nag (vs 15, 18), sy spin (vs 19) en steun die behoeftiges (vs 20) en is dus nie net op die heil van haar gesin bedag nie. Sy gaan die winter onbevrees tegemoet, want sy het haar gesin teen die koue toegerus (vs 21). Sy maak goeie klere (vs 22), en deurdat sy so werksaam is, kom ook haar man in aansien (vs 23).

Haar man behartig die regspraak en die regering van die land en die stad. Sy kan handel dryf (vs 24). Waar sy verskyn, is sy indrukwekkend en sy is onbevrees vir die toekoms (vs 25). Sy spreek met vriendelike wysheid (vs 26). Niks in haar gesin gaan haar verby nie (vs 27), geen wonder dat haar kinders en haar man haar prys nie. J.P. Lettinga, 1984, p 124, lewer hierop die volgende kommentaar:

Het gaat om een ideaalbeeld. Maar uit deze vrouwenspiegel blijkt duidelijk dat de vrouw in oud-Israel lang niet altijd de slavin was van haar heer en meester. Hier geen spoor van geringschatting, maar een tekening van de vrouw zoals God haar bedoeld heeft: een passende, gelijkwaardige hulp van haar man.

b. Die Man word Telkens as die Eerste Verantwoordelike Verbondspartyder gehou en die Vrou word by hom Inbegrepe🔗

Ons bemerk in die handele van die HERE met die mens telkens ’n bepaalde orde waarvolgens Hy die man as die eerste verantwoordelike verbondspartyder in sy verhouding met die mens behandel.

  • Hy waarsku naamlik vir Adam om nie van die boom van kennis van goed en van kwaad te eet nie (Gen 2:16-17) voordat Hy vir Adam sy mannin skep (Gen 2:18-25).
     
  • Met sy wandeling in die aandwin­djie en sy soeke na die mens in die tuin, roep Hy na die man (Gen 3:9-11).
     
  • Die Here eis ook eerste aangaande die misdaad wat man en vrou saam gedoen het onder inisiatief van die vrou, rekenskap van die man (Gen 3:11-12).
     
  • ​Die HERE se wegstuur van die mens uit die tuin van Eden is ’n daad wat Hy met die man doen en sy vrou by hom inbegrepe (Gen 3:23-24).
     
  • Die HERE se plan met die verderf­like mensheid en sy verbond met die 8 mense wat Hy wil verlos sluit Hy met Noag, en alles wat Noag moet doen spreek Hy met Noag af (Gen 6:13 e.v.) en sy seuns, en sy vrou en sy seuns se vroue word by hom as verbondshoof inbegrepe.
     
  • ​Die HERE sluit sy genadeverbond met Abraham wat Hy roep om weg te trek en Sara word in Abraham by die verbond inbegrepe (Gen 12, 15, 17).
     
  • Ook die verbondsluiting by besonderlik soos dit verwoord is in die dekaloog, vertoon ’n kommunikasiestruktuur waarvolgens die HERE met die manne as verbondshoofde praat, en onder hulle verantwoordelike sorg insluit:

    - by die 4e gebod: "Jy of jou seun of jou dogter of jou dienskneg of jou diensmaagd of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poort is..."
    - by die 5e gebod: "eer jou vader en jou moeder (volgorde)."
    - by die 10e gebod: "Nie jou naaste se vrou begeer nie..."
     

  • Paulus bevestig hierdie handelings­beginsel van God met die mens in 1 Korinthiërs 11:3: “Christus is die hoof van elke man en die man die hoof van die vrou en God die hoof van Christus.” (So ook Ef 5:23).

man en vrou🔗

c. Die Verwordinge en Sondige Vertrekkinge van God se Goeie Verbondsmatige Samelewingsinstituut🔗

Die sondige geneigdheid van die vrou om die man te verswelg (begeer) en sy reaksionêre sondige geneigdheid om oor die vrou despoot te speel (heers), het noodwendig gelei tot onterende en diskriminerende skeeftrekkings. Kultuur-historiese navorsing asook argeologiese opgrawings van al die antieke kulture bewys dit.

In gevalle waar ’n hegte tradisionele en kultuurgebonde lewenswyse gehandhaaf is, en steeds vandag nog gehandhaaf word, is die verbondsmatige huishouding soms banaal verabsoluteer. Drie tot vier geslagte van ’n familie wat in een huis leef, tesame met slawe waar die grootvader as die aartspatriarg optree. Daar is dit waar dat vroue baie keer tot doofstomme slawe en seksobjekte gedegradeer kan wees. Maar so is dit hoedat die heidense kultuurontwikkeling die godgegewe strukture steeds in stand gehou het.

Enersyds kan hiervan gesê word dat dit enigsins goed was dat die heidene dit gedoen het omdat dit dan ook die manier is hoedat God die mensheid enigsins in toom gehou het (vgl. Rom 2:14-16).

Maar dan vind daar deesdae nie alleen die uitholling van die bevrydende inhoudelike van die verbondstruktuur plaas nie, maar ook die totale omverwerping/vernietiging daarvan. Al hoe meer geïndividualiseerd word kinders uit die huislike struktuur losgemaak en grootgemaak. Weens gemaklike egskeiding en losse saamblyery is daar al hoe meer enkel-ouer-gesinne. Al hoe meer straatkinders wat maar self oorleef. Al hoe meer homoseksuele en lesbiese gesinstrukture waarin selfs kinders aangeneem en grootgemaak word – bandeloos.

Sowel die verdrukking binne die Godgegewe verbondstruktuur as die omverwerping daarvan is buite die oorspronklike goeie skeppingsordening van God. Sy verlossing soos dit in die heilsgeskiedenis tot openbaring kom, toon ook aan hoedat Hyself in en deur Christus vir sowel die man asook die vrou vernuwing en bevryding verskaf binne-in die oorspronklike verbondstruktuur.

d. Die Geduld van God in Sy Verbondsmatige Opvoedingsprogram, ook Betreffende die Posisie van die Vrou🔗

By die bestudering van die verbond sien ons wel dat God op ’n genadige wyse ’n opvoedingsprogram volg. Daar was tye van onkunde toe die heilsplan nog nie so helder in Christus gesien is nie. Daarom was daar skadubeelde en seremonies. Hy het dan oor sekere sake ook nie so streng met sy kerkvolk gehandel nie, maar namate die heilsplan in vervulling gegaan het, en sy heilsgawes duideliker aan die lig gekom het, Hy ook die verantwoordelikhede wat daaraan verbonde was met skerper verwagtings opgeëis. En gevolglik het ook sy opdragte dermate weer die bedoelings van sy oorspronklike skeppingsplan vertolk.

Die Heidelbergse Kategismus verduidelik hierdie openbaringsplan van God betreffende ons kennis dat Jesus Christus die enigste geskikte Middelaar en Verlosser vir die mens is (Sondag 6). Soortgelyk is ons kennis van die Triniteit. Algaande in die openbaring word dit duideliker dat die God wat Homself sedert die Skepping aan ons openbaar het, Homself as een wese en drie persone openbaar. Maar ook wat God se plek en taak vir die vrou betref.

Dit word veral raakgesien in die wyse waarop die verhouding tussen man en vrou na die sondeval verword het. Waar sy by die skepping beplan was om na analogie van hoe Adam soekende name gegee het vir die diere, maar nie vir homself ’n maat gekry het wat by hom pas nie, die HERE vir hom ’n maat geskep het wat by hom pas. Vlees van sy vlees, been van sy gebeente, mannin.

man en vrou

Die maat word genoem sy hulp wat by hom pas. Eerstens om sy hulpbehoewendheid aan ’n maat wat by hom pas uit te druk, en ook om die status en taak van die maat wat by hom pas uit te druk. (Kyk Van Bruggen 1984, pp 53-6).

Maar na die sondeval het die vrou in die daaglikse praktyk meer as’t ware die posisie van ’n besitting van die man ingeneem, soos dit byvoorbeeld in al die groot verbondsgemeenskappe plaasgevind het (vgl. Rigters 19 – die gruwel van die inwoners van Gibea). Sy is inklusief by die man ingereken (soos byvoorbeeld by die toediening van die verbondsteken, die besnydenis). Sy moes ook baie keer saam met ander vroue een man deel. Poligamie is geduld en selfs deur die HERE geseën (Kyk Gen 29 en 30).

Maar in die Nuwe Testament moet weer terugbeweeg word na die skeppingsorde (Mt 19:8). Jesus wys die Fariseërs hierin tereg, dat dit nie van die begin af so was dat mense se harte verhard was, en dat hulle sommer om enige rede kon skei nie. Voorgangers (ouderlinge en diakens asook die verkose weduwees) mog slegs van een vrou man wees of van een man vrou wees (1 Tim 3, Titus 1:6). Voorgangers met die bedoeling dat die res van die gemeente en gemeenskap hulle hierin sou navolg (Hebr 13:4-7).

Die geheimenis daarvan is dat die verhouding tussen man en vrou die vertolking moet wees van Christus se verhouding met sy Kerk (Ef 5:32). In ’n vergelyking tussen Gen 3:16 en Ef 5 bemerk ons in die verskuiwing van terminologie hoedat die verlossing van die man en die vrou in Christus ook deurwerk in hulle verhouding tot mekaar. “Begeer” en “heers” verander tot “onderdanig soos aan die Here” en “liefhê soos Christus die gemeente.”

Waar daar in die heidense wêreld dikwels voorskriftelik sonder respek teenoor die vroue gehandel is en die vroue ’n minderwaardige posisie en plek ingeneem het, het dit binne die verbond van God met Israel doelgerig anders as by die heidene gegaan deurdat maatreëls deur die HERE ingestel is om die vrou se eer te beskerm. (Kyk byvoorbeeld Lev 12 en 15). Die eer van die vrou in haar posisie en taak het egter reeds met die verbondsluiting en verbondslewe van Abraham en Sara tot sy reg gekom, selfs sodanig dat die apostel Petrus die geloofsoptrede van Sara aan die susters van die Nuwe-testamentiese Kerke voorskryf (1 Petr 3:5-6).

e. Die Voortgang van die Verbond in die Kultiese Godsdiens en die Posisie van die Vrou - VolwaardigeLidmaat en Hulpbiedend tot die Besondere Ampte🔗

Behalwe die algemene diens aan God kragtens ons kultuuropdrag, het daar na die sondeval, besonderlik met die uittog van Israel uit Egipte, ook nog die kultiese diens bygekom. Daar was dus ’n ernstige breuk in die guns-verhouding tussen God en mens met die sondeval (vgl. Francke, 1985, p 23).

Dit sou uitloop op die vervloeking van die hele aarde om die mens se ontwil. Die gunsverhouding moet verander tot ’n genadeverhouding. Die mens se kultuuropdrag sou dan ook in ’n gebrokenheid en met sweet en moeite gepaard gaan. Maar dan tree die HERE self binne om op ’n besondere wyse die bediening van die versoening daar te stel. Die genadeverbond. So het die kultiese diens aan God na die kultuuropdrag ontstaan.

Die aanvanklike en sporadiese sakramentele offerdiens sou met die aankoms van die volk by Sinai tot ’n volskaalse versoeningsbediening ontvou. Daarin moet die verhouding van God en sy verloste volk tot uitdrukking gebring word. En aangesien die kultiese diens in baie opsigte sakramenteel van aard was, moes in hierdie diens sekere mense optree wat die plek en optrede van God by en met sy volk tot uitdrukking bring. So het die besondere ampte van priester, profeet en koning tot stand gekom. Besonderlik op so ’n manier dat hierdie ampte in Christus Jesus tot vervulling sal kom.

Wat ons veral betreffende hierdie diens moet weet, is dat nie enige en alle persone (hetsy mans of vroue) hierdie diens kon verrig nie. Die HERE het self ’n onderskeid en keuse vir die kandidate vir sy diens gemaak en dit nogal op die bloedlyn van een stam in Israel. Nie vroue nie, en ook nie alle manne nie, maar slegs die manne wat sonder gebrek is, uit die geslag van Levi.

Op sekere uitsonderings na was die besondere ampte aanvanklik geskei van mekaar. Stelselmatig het die profetiese vergesig na vore gekom dat al die lidmate in dieselfde salwing as die van die besondere ampte deel. Met die koms van Christus as die gesalfde Verlosser is die ampte saam in Hom verenig en het hulle in Hom vervulling verkry.

keuse maak

Nadat Hy sy versoeningsdaad volbring het, moes sy kerk verder vergader en onderhou word. Die verhouding tussen Hom en sy vergaderde gemeente as ’n geloofsgemeenskap, het dus voortgegaan met besondere aansluiting by die sinagogale instituut. Hy het die bediening van die versoening deur die diens van besondere ampsdraers in sy kerk laat behartig. Deur hul diens sou Hy sy kerk verder vergader, beskerm en onderhou.

Deurgaans word sowel mans en vroue betrek, maar vroue nooit direk in die besondere ampte nie. Waarom nie? As daar geskikte susters kon wees vir byvoorbeeld die apostelamp, sou dit tog sekerlik sy moeder, Maria, of Maria Magdalena kon wees. Hierdie vroue het deurgaans saam met die dissipelkring met Jesus rondbeweeg. Hulle was selfs eerste ontvangers van die opstandings­berig. Tog, nogtans, nie in die besondere ampte nie, maar wel hulpverlenend tot die besondere ampte.

Indien die teenwoordigheid en optrede van Christus as bruidegom van sy bruid, die gemeente, deur vroue bedien moes word, sou dit vir die gemeente moeilik (indien nie onmoontlik nie) wees om met Hom as Bruidegom te identifiseer in deelnemende afwagting na die bruilofsmaal van die Lam.

Die verbondskonteks wat die plek en taak van vroue in die huis, in die samelewing en ook in die kerk moet bepaal, asook die sakramentele karakter van die ampsdiens om Christus se teenwoordigheid by sy kerk te bedien, bepaal waarom Jesus nie eerder die potensieel meer getroue en dalk selfs geskikte vroue nie, maar gebrekkige manne uitgekies het om hierdie take te vervul. Verfynd uit­gewerk leer die Skrif ons om nie die broeders nie, en ook nie die susters as individue nie, maar in hulle verbondsmatige samehang met mekaar te beskou.

Christus wat die vervulling van die Ou Testamentiese heilsgeskiedenis is (Joh 5:39), het nie die verbond ontbind nie, maar juis bekragtig (Van der Waal, 1990, p 90-6). Dit beteken dat susters binne die in-Christus-veranderde patriargale verband ’n plek en ’n taak vind sowel in die huis, in die samelewing en in die kerk. Sonder die besef van hierdie onderliggende inbedding van die Skrif is dit onmoontlik om tot ’n korrekte plasing van die vrou in die kerk en die samelewing te kan kom. Hierby geld die volgende belangrike uitkomste:

  • Die susters se taak (voorbereidend en praktiserend) in die daarstelling van godvresende huishoudings wat die kerk en die samelewing Christelik sal dien.
     
  • ​Die susters se taak in die opvoeding van verbondskinders.
     
  • Die susters se taak in die bemiddeling (toerusting) van ’n huishouding.
     
  • Die susters se taak in die diens van Barmhartigheid en verskaffing van lewensmiddele. (Daar kan dus gekyk word na die formele erkenning in die kerklike gemeenskap van die koinoniale taak wat susters tans georganiseerd in gemeentes verrig).
     
  • Die susters se betrokkenheid by die uitreik van sending en evangelisasie, gebedsdiens, siekes, oues van dae.
     
  • Die susters as huisbesoeksters.
     
  • Die susters rondom die Woord in geestelike verryking.
     
  • Die susters in die onderlinge opskerping van afgedwaaldes en verwaarloosdes.
     
  • Die susters as priesteresse, profetesse en koninginne.