4 bladsye.

Die wedergeboorte

Minder aktueel?🔗

Hierdie onderwerp lyk nie op die oomblik so aktueel nie. Daar was ʼn tyd waarin die kerk meer doenig was met die wedergeboorte as wat nou die geval is. Dr. L. Van Hartingsveld skryf in ʼn studie oor die wedergeboorte dat mens nie moet dink dat iets nie belangrik is, omdat dit nie die middelpunt van belangstelling is nie. Is dit nie ʼn kommerwekkende teken dat daar so min oor nagedink word nie? Van Hartingsveld het ʼn uitgesproke mening daaroor: ‘Daar word gekla oor die agteruitgang van die geestelike lewe van die gemeente. Dit hang waarskynlik saam met die feit dat ʼn fundamentele saak soos die wedergeboorte volkome op die agtergrond geraak het’.

Wanneer daar in ons dae ander vrae na vore kom, mag dit nie tot gevolg hê dat ons stilswyend by die wedergeboorte verbygaan nie. Die Bybel stel die onderwerp uitdruklik aan die orde.

Soms word wedergeboorte verbind aan reïnkarnasie. Die leer van reïnkarnasie wek hedendaags weer belangstelling. Hier het mense te make met ʼn ou opvatting wat al uit die Hindoeïsme bekend is. By reïnkarnasie, wat eerder sielsverhuising genoem kan word, bevind ons ons in ʼn heel ander sfeer as by die wedergeboorte waaroor die woord van God praat. In die Bybel gaan dit oor die algehele vernuwing van die mens deur die Heilige Gees.

Wat sê die Skrif?🔗

Ons tref die woord ‘wedergeboorte’ nie in die Ou Testament aan nie. In die Nuwe Testament wel, maar as selfstandige naamwoord (die Griekse palingenesia) net in Matteus 19:28 en Titus 3:5. Die werkwoordsvorm sien ons meer. Om te begin, kom ons dit teë in Johannes 3. Die Here sê vir Nikodemus: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (v. 3). Hy noem dit ook gebore word uit water en Gees, en om uit die Gees gebore te word, wat noodsaaklik is om die ryk van God in te gaan.

By die lees van die Griekse teks van Johannes 3:3 moet ʼn mens jou afvra of die bywoord wat by ‘gebore’ (letterlik vertaal: verwek, of voortgebring word) staan, hier ‘weer eens’ of ‘van bo’ beteken.1 ʼn Argument ten gunste van die tweede betekenis is dat dit op die twee ander plekke waar dit in die vierde evangelie voorkom, so verstaan moet word (Johannes 3:31 en 19:11). Elders dui dit ook op God. Jesus sê aan Pilatus: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie” (Johannes 19:11). So gesien, korrespondeer die uitdrukking ‘van bo gebore’ in Johannes 3:3 en 7 met sowel ‘uit die Gees gebore’ (Johannes 3:8) as met ‘uit God gebore’ (Johannes 1:13). Vir die betekenis ‘weer eens’ of ‘opnuut’ kan aangevoer word dat dit is hoe Nikodemus die woord van Jesus verstaan het. Hy vra immers: “Hoe kan ʼn mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ʼn tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” (Johannes 3:4). Wat Nikodemus daarin gehoor het, is egter nie deurslaggewend nie, maar wel wat Jesus daarmee bedoel het.

Myns insiens gaan dit oor ʼn ‘van bo’ gebore word, ʼn geboorte uit God. Dit is waar dat as iemand van bo gebore word, hy of sy ook opnuut gebore word. Dit is die begin van ʼn nuwe lewe, wat ʼn nuwe oorsprong het. Dié geboorte is ʼn wonder van God.

Waarskynlik het by Nikodemus, soos by baie Jode van sy tyd, die vraag bestaan wat mens moet doen om die koninkryk van God te beërwe. Volgens die destydse Joodse teologie het dit op die werke aangekom. Mens sou baie daarvoor doen. Jesus hou dit egter aan hom voor dat daar ʼn radikale vernuwing van die lewe voor nodig is, wat net so min binne die vermoë van die mens lê as wat dit ons eie mag was om gebore te word.

Vanuit die mens kan dit nie voortkom kom nie, wat ons ook al self daarvoor probeer doen. God verander mense. Hy maak ons lewe nuut deur sy Gees wat soewerein in sy werk. Dit is die evangelie van die wedergeboorte volgens Johannes 3.

Dié Skrifgedeelte leer ons ook dat die wedergeboorte nie opsigself staan nie. Asof Jesus net wou sê: God moet die mens ʼn nuwe lewe gee want anders bly die poort van die hemelse koninkryk vir hom gesluit! Wanneer die Heiland sy onderrig voortsit, bring Hy aan die lig dat die kenmerk van die geboorte van bo, die geloof in die eniggebore Seun van God is. Ingang in die koninkryk van God is dieselfde as om ewige lewe te hê. Daarvoor is die wedergeboorte of, anders gesê, geloof (vgl. Johannes 3:16) nodig.

Die wedergeboorte word kenbaar in die geloof. Andersom geld ook dat die gelowige aanneem van Christus, voortkom uit die gebore wees uit God. Sien Johannes 1:12 en 13. In 1 Johannes 5:1 word op dieselfde manier daaroor gepraat: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore”. Trouens, nie alleen die geloof is ʼn kenmerk van die nuwe lewe wat uit God is nie, maar ook die doen van geregtigheid en die liefde vir mekaar.

In Johannes 3:5 staan: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie”. Heelwat eksegete dink hier aan die water van die doop. Maar die doopwater kan tog nie as die bewerkende oorsaak van die wedergeboorte gesien word, soos wat die Gees dit is nie? Die doop teken wel vir ons die onmisbare vergewing en vernuwing en die beloftes en genade van God, waaraan die heil van wedergeboorte te danke is.

Paulus sê dat God ons uit sy ontferming gered het, en nie as gevolg van werke van geregtigheid wat ons sou gedoen het nie. Met die bad van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat die Apostel in die verband noem, kan die doop aangedui word. Dit wil nie sê dat wedergeboorte deur die doop hier geleer word nie. Blykens die grondteks, wat duideliker is as ons vertalings, staan die woorde ‘deur die bad van die wedergeboorte’ nie op dieselfde lyn as ‘deur die Heilige Gees’ nie. Die Heilige Gees is die bewerker van alle heil. Terme soos wedergeboorte en vernuwing kan die doop kwalifiseer, en daarmee ook die heil, waarvan die doop teken en seël is.

In Matteus 19:28, waar die woord ‘wedergeboorte’ ook voorkom, gaan dit nie oor die innerlike verandering van mense nie, maar oor die herskepping van die heelal. Aanstons maak God alles nuut. By sy nuwe wêreld hoort nuwe mense.

Die Heilige Skrif sê ook hoe die Heilige Gees die wedergeboorte tot stand bring. Hy doen dit deur middel van die Woord. Die gelowiges is wedergebore deur die lewende en blywende Woord van God (1 Petrus 1:23). Hiermee kan Jakobus 1:18 vergelyk word: “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees”.

Ten slotte wys ek op twee ander tekste uit die Nuwe Testament. Die eerste is: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ʼn lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Petrus 1:3). Die nuwe lewe wat God skenk aan die wat aan Hom behoort, is die lewe wat Christus deur sy opstanding geopenbaar het. Die tweede teks is 2 Korintiërs 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword”. Die vernuwing van die lewe is so volkome dat daar van ʼn nuwe skepping gepraat kan word. Dit is ʼn uitdrukking wat die rabbyne soms gebruik het vir ʼn nuwe mens. By Paulus val die volle nadruk op ‘nuut’ en op ‘skepping’. Die mens kan homself nie tot ʼn nuwe mens ontwikkel nie, maar wel in ʼn nuwe mens herskep word. Dié wonder is werklikheid vir almal wat met Christus verbonde is.

Ons het by die Nuwe Testament begin, maar kan nie daarmee volstaan nie. Al word die woord ‘wedergeboorte’ nie gebruik nie, is daar tog ook in die Ou Testament sprake van ʼn radikale vernuwing van die lewe deur God se genade. Ons dink aan Esegiël 11:19 en 20, waar ʼn hart van klip teenoor ʼn hart van vlees gestel word. God sal aan sy volk ʼn nuwe gees gee. In Esegiël 36:26 en 27 keer die belofte terug en sê God boonop: “En Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ʼn hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen”. Nog bekender is die profesie van Jeremia 31:31-34. Met name bestaan die heil van die nuwe verbond in die vernuwing van die hart en die vergewing van sondes. Die Nuwe Testament laat ons sien hoe hierdie profesie vervul word.

Enkele aspekte van die leer van die wedergeboorte🔗

As ons die Skrif laat spreek het, is die belangrikste gesê. Wanneer die leer van die kerk goed is, sluit dit geheel by die Skrif aan.

1) Dit moet voorop gestel word dat wedergeboorte vir elkeen noodsaaklik is. Dit gaan met ons so sleg dat ʼn verbetering nie genoeg is nie. Ons moet nuut begin, maar hoe? By ons ontbreek sowel die vermoë as die wil. Met die woorde van die Heidelbergse Kategismus: Ons is glad nie in staat om iets goeds te doen nie en geneig tot alle kwaad. Die doopsformulier praat dieselfde taal: Ons kan nie in die ryk van God inkom nie, tensy ons opnuut gebore word. Ons hoor hierin die klank van die onderrig wat Jesus aan Nikodemus gegee het.

2) In verskeie kerke word geleer dat ons deur middel van die doop weergebore word. Dit lees ons nie in die Bybel nie, ook nie in Johannes 3:5 of Titus 3:5 nie. Volgens die Skrif is die Woord van God die middel wat die Here gebruik. Daarom word in die Dordtse Leerreëls bely dat God die evangelie bestem het ‘tot ʼn saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel’. Dit beteken dat ons daarop aangewese is.

3) Kuyper het onmiddellike of veronderstelde wedergeboorte geleer. Die Woord sou dan nie die middel wees waardeur die Gees die nuwe lewe skep nie, maar die middel waardeur ons daarvan bewus word. Feitelik sou die wedergeboorte die roeping voorafgaan. In die gemeente waarin die Woord van God verkondig word, mag en moet mens dan veronderstel dat ook die klein kindertjies wedergebore is. Dit kan nie as vas beskou word nie, want die teendeel kan later blyk.

Daar word tereg hierteen ingebring dat dit ʼn valse gerustheid laat ontstaan. Bavinck oordeel skerp hieroor: hierdie opvatting beroof die prediking van die evangelie van sy erns en sy krag. Die diepste prinsipiële beswaar is dat die leer van die onmiddellike wedergeboorte nie in ooreenstemming met die Skrif is nie. Terwyl die redenasie van Kuyper was dat God tog nie mense roep wat nog doof of dood is nie, sê ons op Bybelse gronde dat God ons deur sy Gees en Woord tot nuwe lewe roep.

4) Die wedergeboorte is noodsaaklik. Dit moet egter nie aan ons verbygaan nie dat die een persoon daarby meer sal dink aan die wedergeboorte vóór die geloof en die ander aan die wedergeboorte deur die geloof. Dit hang saam met ʼn verskil in terminologie, wat deur Kuyper die ou en die nuwe terminologie genoem word.

In ruimer sin staan die wedergeboorte vir die gehele vernuwing van ons lewe, wat ʼn voortgaande proses is. Die titel van ʼn hoofstuk van die Institusie van Calvyn is: ‘Deur die geloof word ons weergebore’ (III.3). Die Nederlandse Geloofsbelydenis sê van geloof dat dit die mens weergebore laat word en tot ʼn nuwe mens maak (artikel 24). Dus, wedergeboorte deur die geloof.

Hoewel die nuwere terminologie al in die eeu van die Reformasie voorgekom het, het dit eers gangbaar geword in die tyd daarna. Veral in die stryd teen die Remonstrante is in die gereformeerde teologie beklemtoon dat die nuwe lewe reeds in sy aanvang al ʼn gawe van God en ʼn werk van sy genade is. Dit is onmoontlik dat ons self ons daartoe kan opwerk deur goeie gebruik van ons eie moontlikhede of van ʼn verligting wat ons reeds sou ontvang het. Die mens is eerder besig om sy wedergeboorte teen te werk as om daaraan mee te werk.

Die konflik met die Remonstrante kan verklaar waarom die herskeppende en vernuwende werk van God met die sterkste bewoording beskryf word. Dit is die vernuwing, nuwe skepping, opwekking uit die dood en lewendmaking wat God sonder ons in ons werk (Dordtse Leerreëls III/IV, 12).

Bybels gesien, is dit korrek om sowel die aanvang as die voortgang van die radikale vernuwing van ons lewe, wedergeboorte te noem. Die Skrif praat nie alleen van die geskape wees van die nuwe mens nie, maar ook van hervorming deur vernuwing van die denke.

5) Ewemin as wat wedergeboorte in die Bybel op sigself beskou word, is dit die geval in die geloofsleer. Anders sou die wedergebore mens met sy kenmerke daarin sentraal te staan kom: ’n beskrywing van allerlei vlakke van wedergeboorte. Dan vra mens jou af uit watter kenmerke die wedergeboorte bestaan.

In die Bybel het die wedergeboorte sy plek, hoe belangrik ook, in ʼn groter samehang. Dié kenmerk van hulle wat uit God gebore is, is dat hulle die Here Jesus gelowig aanneem.

Wie in Christus is, is ʼn nuwe skepsel en selfs ʼn nuwe skepping. Wedergebore mense is deel van ʼn groter geheel: die nuwe wêreld van God. En God maak alle dinge nuut.

Literatuur🔗

R.J. Dam, B. Holwerda, C. Veenhof, Rondom ‘1905’, Terneuzen 1905.

S. Greijdanus, Actuele vragen in verband met de wedergeboorte, Terneuzen 1905.

D. J. De Groot, De wedergeboorte, Kampen 1952.

l. van Hartingsveld, De wedergeboorte, Apeldoorn 1952.

A. Kuyper, Het werk van den Heilige Geest, Kampen 1927, pp. 379-446.

J.J. Van der Schuit, Dr. AS. Kuyper en de sluimerende wedergeboorte, Dordrecht 1926.

(Sien ook die literatuur by die artikel ‘Die roeping’).

Endnotes🔗

  1. ^ Die Griekse woord anōthen wat hier gebruik word, is naamlik vir beide betekenisse vatbaar - Vertaler.