Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Diens en Vergewing

Die Aktivering van die Gemeente🔗

Op die predikante-samekoms wat in verband met die eeufees van die Teologiese Skool op 8 en 9 April te Potchefstroom gehou is, het prof. Hugo du Plessis in sy referaat "Sendingroeping" op 'n indringende wyse gepleit vir aktivering van die gemeente in die werksaamhede van die koninkryk van God.

Daar is 'n studie nodig, aldus die hoogleraar in die sendingwetenskap, om na te gaan hoe ons die lidmate van die kerk kan aktiveer tot arbeid in die koninkryk van God. Op sy eie manier het hy met betrekking tot die arbeid in die koninkryk van God gevra: "Moet alles in die konsistorie afgespeel word?" En hy het ernstig gewaarsku om in die sendingarbeid tog nie net 'n predikantskerk onder die Bantoes te stig nie.

Prof. Du Plessis het baie klem gelê op die subjek van die sending en in verband daarmee op die aktivering van die amp van die gelowiges. Die besondere amp van predikant, ouderling of diaken kan so sterk beklemtoon word, dat die algemene amp, die amp van die gelowiges, met die woord van H. Kraemer as "die vergete amp in die kerk" aangedui kan word.

Uit die Nuwe Testament kan ons leer dat die gemeenskap van die heiliges een van die belangrikste dryfvere was tot aktivering van die kerk. Die geweldige aktiwiteit van die jong kerk in die Handelinge van die Apostels is gewortel in die gemeenskap. Die gelowiges te Jerusalem het volhard in die leer van die apostels én in die gemeenskap (Hand. 2 : 42). Die volharding in die gemeenskap was 'n wesentlike element in die lewe van die eerste gemeente te Jerusalem.

Die Gesinskarakter van die Kerk🔗

Die kerk in die Nuwe Testament vertoon vir ons die beeld van 'n gesin. Die gebed van die Here wat Jesus vir sy dissipels geleer het, begin met die woorde: Onse Vader. Die gelowiges is kinders van God, kinders van dieselfde Vader. Die kerk van die Here is opgebou uit huisgesinne maar is self ook weer 'n huisgesin, die huisgesin van God. Jesus wys op die gesinskarakter van die kerk in Markus 3:31-35. Met gesinsfigure soos 'n moeder, broer en suster dui Hy die gemeenskap van die gelowiges aan.

Ook  Paulus teken  die gesinskarakter  van  die kerk wanneer hy in sy briewe die gelowiges aandui as huisgenote van God (Ef. 2 : 19) of huisgenote van die geloof  (Gal.  6 :10).  Die oorspronklike woord vir huisgenote dui op persone wat tot dieselfde huisgesin behoort.

Kenmerkend vir 'n huisgesin is die gemeenskap. Die lede van 'n goeie gesin is altyd bereidwillig om mekaar te dien. Wanneer Paulus in Galasiërs 6:10 die  kerk  aandui as  'n huisgesin  dan  doen hy dit om die hulpbetoon aan mekaar te onderstreep. Die huisgenote moet vir mekaar sorg (1 Tim. 5:8). Die gelowiges word opgeroep om mekaar in die liefde te dien.

Die diens of diensbetoon vloei voort uit die gesinskarakter van die kerk. In die Nuwe Testament word al die arbeid in die koninkryk van God, sowel die prediking van die Woord van God as die onderlinge hulpbetoon, 'n diens genoem. Die woord diensbetoon, diakonia, dui op 'n nederige diens, 'n diens in selfverloëning. Almal wat behoort tot die huisgesin van God is diensknegte. Diensknegte van Christus en van mekaar. Die onderlinge diensbetoon is 'n onmisbare voorwaarde vir die gemeenskap van die heiliges.        

Aangesien die gemeenskap van die heiliges deur sonde, misverstand, wanbegrip, vooroordeel en wat nie al nie so dikwels geskend word, is een van die vernaamste diensaspekte die diens van die vergewing.

Die Diens van die Vergewing      🔗

In Lukas 17:3, 4 wys Christus sy dissipels op hierdie diens van die vergewing. As 'n broeder teen ons sondig, al is dit sewe maal op 'n dag, wanneer hy terugkom en berou het, dan móét ons hom vergewe. Dit beteken dat ons alles in die werk moet stel om 'n geskonde gemeenskap weer te herstel.

Nou is dit besonder opvallend dat die eerste aanwysing wat deur Christus gegee word in verband met die gemeenskap van die heiliges wanneer die verhoudinge versteur is, soos volg lui: "Pas op vir julleself" (Lukas 17:3). Ons is in die kerk van die Here maar te geneig om alleen na ons naaste te kyk. Ons hou ons medelidmaat dop en ons vergeet so dikwels onsself. Daarom sê Christus: "Pas op vir julleself". In verband met die funksionering van die gemeenskap van die heiliges moet elke lidmaat leer om homself op te pas. Dit beteken dat elke lidmaat van die kerk homself moet ondersoek en vir homself moet vra: Is my lewe, my gedrag, my woorde, ja my hele lewenspatroon nie 'n struikelblok vir my medebroeder of medesuster nie? Ons moet altyd weer by onsself begin. Ons moet altyd bereid wees om ons eie lewe onder die lig van die Woord van God te bring.

Eers moet ons na onsself kyk en dan het ons ook die reg om na ons naaste te kyk. Want Christus vervolg: "En as jou broeder teen jou sondig bestraf hom; en as hy berou kry  vergewe hom" (Luk. 17:4).  Dit beteken dat daar in die onderlinge verhoudinge van die lidmate  van  die  gemeente openheid moet wees. Ons is geneig om met 'n derde oor die sondes van  ons  medelidmaat  te  gaan   praat.   Maar  dit  is verwoestend vir die beoefening van die gemeenskap van die heiliges.  Daarom  sê  Christus vir elke  lidmaat: Jý moet met jou medebroeder of medesuster wat teen jou gesondig het, gaan praat, bestraf hom of haar! Jý moet jou naaste oppas. Maar ons kan ons naaste dan eers goed oppas, wanneer ons geleer het om onsself op te pas.

Vir die beoefening en die opbou van die gemeenskap van die heiliges is van die allerhoogste belang dat ons leer om openhartig met mekaar om te gaan, om vir mekaar openlik en eerlik te sê wat ons pla, wat die gemeenskap verhinder. 'n Medebroeder of medesuster besef miskien nie dat hy of sy gesondig het nie. Miskien is dit onnadenkend gedoen. Ons moet hulle gaan help. Ons bewys mekaar 'n liefdediens wanneer ons mekaar op hierdie wyse bestraf.

Veral wanneer ons onsself ken en weet van ons eie sondes en swakhede teenoor die Here en ons naaste dan sal ons ook mild wees in ons vermaninge teenoor ons naaste wat teen ons gesondig het. Selfkennis maak ons sagmoedig teenoor foute on gebreke van ander mense. Daarom skrywe die apostel Paulus vir die gelowiges te Rome, dat hulle vol van goedheid moet wees, want dan is hulle in staat om ook mekaar te vermaan (Rom. 15:14).

Ons moet altyd goed onthou dat ons ons medebroeder of medesuster moet vermaan met 'n bepaalde bedoeling: om te kan vergewe (Luk. 17:4). Dit wil sê: om die gemeenskap van die heiliges weer te kan geniet.

Die broeder of suster wat gesondig het, moet tot berou opgewek word sodat die pad vir die vergewing oopgemaak word. Waar vergifnis geskenk word, daar word die gemeenskap weer herstel. So is dit in die verhouding tot God en so is dit ook in die onderlinge verhoudinge van  mens tot mens.

Die Moet en die Kan🔗

Dit is egter nie so maklik om altyd maar te vergewe nie. Ons voel soms: ek moet vergewe, maar ek kan nie vergewe nie. Die apostels het dit ook besef. Daarom vra hulle vir Christus: "Gee ons meer geloof" (Luk. 17:5). Hierdie woorde is 'n belydenis en 'n gebed. Hulle bely dat hulle geloof besit, hulle weet van hulle eie sondes en van God se vergewing. Hulle bely egter ook die swakheid van hulle geloof. En hulle besef daar is geloof nodig, 'n groot geloof en 'n sterk geloof om altyd te kan vergewe. Daarom bid hulle ook om meer geloof.

Wanneer die Bybel praat van geloof, dan word altyd bedoel geloof in God se vergewing. Dit het ons nodig om mekaar te kan vergewe. Wie deur geloof insien wat die Here hom daagliks moet vergewe, die vind ook die krag om sy broeder of suster van harte te vergewe (kyk Matt. 18:23vv).

Deur die ware geloof ontvang ons die genade om onsself goed op te pas. En dit maak ons ook geskik om ons broeder of suster goed op te pas en hom of haar te vermaan waar dit nodig is. En dit gee ook vir ons die genade om altyd vergewensgesind te wees: wanneer dit moet, selfs sewe maal op 'n dag. Diegene wat vergewing ontvang het, is ook in staat om vergewing te skenk. En hoe sterker die geloof is hoe groter is ook die bereidheid om te vergewe. Pas op vir julleself. Dit beteken: bring ook die lewe van jou medebroeder of suster onder die lig van God se Woord.

Wandel self in die lig en wandel saam met jou broeder of suster in die lig en julle het gemeenskap met mekaar, die gemeenskap van die heiliges.