Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Ds. Dirk Postma en die Klassieke Tale

Dit is opmerklik hoe dikwels in geskrifte vermeld word dat ds. Dirk Postma ’n groot voorliefde vir die ou tale gekoester het, en veral vir Hebreeus. Sy seun, ds. Martinus Postma, wat saam met sy vader in die tagtigerjare van die vorige eeu aan die Teologiese Skool op Burgersdorp doseerwerk gedoen het, skryf dan ook die volgende: “Hebreeus was Vader se lieflings­vak waarin hy dit ver gebring het.” Dit was egter nie net Hebreeus wat sy belangstelling geprikkel het nie. Hy het hom ook toegelê op die studie van Latyn, Grieks, Chaldeeus (Aramees), Siries en Arabies.

Struikelblokke🔗

Hierdie besondere kennis van die ou tale word nog meer indrukwekkend as in aanmerking geneem word op watter wyse hy kennis van die ou tale opgedoen het. Sy begeerte om bedienaar van die Woord te word het hom in aanraking met die ou tale gebring, maar die weg tot bereiking van hierdie doel was vol struikel­blokke. Hy het oor geen finansies beskik om die studie te bekostig nie, en ten tweede was daar nog geen teologiese skool van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk nie. Hoewel die klassis Wanswerd, by wie hy ’n versoek om opleiding as predikant voorgelê het, hom baie simpatiek gesind was, kon hulle nie die nodige reëlings vir opleiding tref nie.

Na afloop van ’n paar jaar het daar ’n oplossing gekom toe ds. T.F. de Haan ook aangesluit het by die Afskeiding en genoemde klassis op 12 Junie 1839 hom versoek het om die opleiding van Postma te behar­tig. Dit was ’n beskikking van die Here, want ds. De Haan was ’n per­soon van buitengewone hoedanig­hede en was later by die opening van die Teologiese Skool te Kampen as een van die eerste dosente aange­stel. De Haan het sy opleiding aan die Universiteit van Leiden ontvang en daarna sy kandidaatseksamen in teologie in Groningen afgelê. Hy was ’n man van uitgebreide kennis, veelsydige wetenskap en het ’n sterk geheue gehad. Hy het ’n besondere voorliefde vir tale gehad, veral Arabies, Hebreeus, Siries en Ara­mees. Sy sterk punt was egter Hebreeus en dit word van hom ver­tel dat hy “zoo maar die vormen van een Hebreeusche woord kon noemen en ook wist waar en hoe dikwijls het in de Schrift voorkwam.” Hy het ook die kuns verstaan om op eenvoudige manier onderrig te gee selfs aan die mins begaafde. Postma het dus ’n bekwame leermeester ontvang.

Nadat die opleiding begin het, het die kerkraad van Wanswerd en Postma, uit vrees dat die opleiding baie lank sou duur, ’n skrywe aan die klassis Wanswerd gerig met die versoek dat by die Provinsiale Sinode aansoek gedoen sal word dat Postma sonder die kennis van die ou tale tot die bediening toegelaat sal word, ’n weg wat die Sinode van die kerk reeds in 1837 oopgelaat het. Ds. De Haan was egter nie vir die reë­ling te vinde nie en het sy saak soos volg aan die klassis gestel: “Dat die eksaminering nog wat behoorde uitgesteld te worden dewijl Postma nog niet genoegzaam bekend was met die nederduitsche taal het wel toch noodsaakelijk was wilde hij niet beschaamd worden.” Hiermee het De Haan dus Postma se loop­baan tot ’n groot mate bepaal. Postma is presies ’n jaar nadat die opleiding begin het in Junie 1840 deur die Provinsiale Sinode van Friesland geëksamineer in die teo­logiese vakke en ook in die ou tale, en toegelaat tot die bediening.

Besondere prestasie🔗

In hierdie verband moet opgemerk word dat die kennis van die ou tale in daardie dae as ’n besondere pres­tasie beskou is. Baie was van oor­deel dat dié kennis noodsaaklik was vir iemand wat predikant wou word en dat dit die predikant onderskei het van die oefenaar wat sonder kennis van tale toegelaat is. Hierdie opvatting het dikwels tot jaloesie gelei teenoor dié wat opleiding in tale ontvang het. Dit verklaar mis­kien die snydende opmerking van ds. H.J. Wind oor Postma waarin hy sy jaloesie ten opsigte van Postma se taalkennis nie kon verberg nie. Met die bevestiging van ds. Postma se Middelstum is aan ds. Wind meegedeel dat Postma onduidelik is in sy uitspraak. Ds. Wind konklu­deer dan: “Dit is zeker een uitvloei­sel van de taalkunde. Als zulks uit de kennis van talen voortvloeit, dan wensch ik nooit talen te leeren, want toen Postma oefenaar was, deed hij zulks niet”.

Gebrekkig toegerus🔗

Dit spreek egter vanself dat Postma se kennis van die ou tale toe hy toe­gelaat is tot die bediening, nie baie diepgaande kon wees nie, as in aanmerking geneem word dat hy slegs ’n jaar daarin onderrig ont­vang het, en verder dat daar ook baie opleidingsfasiliteite ontbreek het. Wat egter nie weggeredeneer kan word nie, is dat ds. De Haan ’n deeglike grondslag gelê het vir die studie van die tale. Die verdere ontwikkeling van Postma as taalkenner is ook tot ’n groot mate aan die deeglike werk van ds. De Haan te danke.

Postma het egter self besef dat hy nog maar gebrekkig toegerus was ook wat die talekennis betref, en dit was ook vir hom die motivering om homself deur selfstudie verder te bekwaam. Te midde van druk gemeentelike arbeid in meer as een gemeente en in die kerkverband en tegelyk nog die opleiding van drie studente vir die amp het hy nog tyd ingeruim vir verdere taalstudie. Die vrug van die onvermoeide inspan­ning word daarin openbaar as hy aan die Provinsiale Sinode wat op 27 April 1847 in sitting sou wees, ’n versoek rig om persone te benoem om hom te eksamineer in Latyn, Chaldeeus, Siries en Arabies. Die Sinode kon slegs iemand aanwys wat hom in Latyn kon eksamineer. Hierdie gebeure het groot indruk gemaak op sy tydgenote, tot so ’n mate dat toe dieselfde Sinode beraam om meer leerkragte by Groningen te benoem, Postma aangewys as dosent in tale is. Hierdie voorgestelde uitbreiding het egter nooit werklikheid geword nie.

Postma het dus student gebly en dit blyk ook uit sekere gewoontes. Hy het bv. elke dag een of ander stuk uit die Latynse en Griekse skrywers gelees en selfs by huis­godsdiens is van meer Bybels gebruik gemaak as net die Holland­se Bybel. Party kinders moes in die Hollandse Bybel lees, terwyl die groter broers dit in die Griekse teks en in die Latynse vertaling moes kontroleer, terwyl hy self die Hebreeuse Bybel voor hom gehad het. Interessant is verder die volgende aantekening in sy dagboek op 29 Januarie 1859: “Ik las in mijn Grieksche Testament met veel vertroosting Markus 15 : 41.” Miskien omdat hy self as jongmens so gesukkel het om kennis van die ou tale te bekom het hy sy twee seuns, Petrus en Martinus, Latyn begin leer respektiewelik van hulle negende en sewende jaar af.

Belangrike plek in eksaminering🔗

Die vraag ontstaan waarom Postma so ’n prys gestel het op die kennis van die ou tale. Dit kan gedeeltelik verklaar word uit sy voorliefde en aanleg vir die tale, maar dit is bepaald nie die enigste rede nie. In sy boek ‘Mijne Handleiding voor de Godgeleerdheid’ stel hy die vol­gende vraag en antwoord oor die grondtale van die Skrif: “Is de Heilige Schrift in den grondtekst alleen van gezag goddelijk? Ant­woord: Buiten twijfel: want 1. In die taal is ze ingegeven en 2. Is hare samenstelling daarin oorspronke­lijk.” Die grondteks van die Skrif is vir hom die enigste teks wat godde­like gesag het en daarom is dit noodsaaklik dat die bedienaar van die Woord dié tale moet ken. Op ’n ander plek verklaar hy dat om tot ’n suiwere verklaring van die Skrif te kom, moet die Skrifondersoeker ’n wedergeborene wees en moet hy kennis van die grondteks hê.

Begryplik is dit dan dat onder sy invloed die kennis van die ou tale so ’n belangrike plek ingeneem het in die eksaminering van teologiese kandidate.

Die volgende was byvoorbeeld deel van die kandidaatseksamen van student J.L. Cachet op Burgers­dorp in Mei 1868: Latyn uit Caesar: De Bello Gallico, Lib 1, Cap. 1-20; Cicero: De Officiis: Lib. 1; Cap. 1-10 ; Nepos ; Ad Aperturam. Hebreeuwsch: Uit Genesis, Cap. 1-20; Ps XIX en LXXII; Ruth: Ad Aperturarn. Chaldeeuwsch: Daniël 2:4-20.

Die volgende eienaardige by­voeging kom ook in die verslag van die eksamen voor: “Na het examineren in bovengenoemde stukken, werd de examinandus ook onderhouden over de gronden van elk dier talen in het bijzonder.” Sou uit hierdie opmerking nie afgelei kan word nie dat die waarde van die tale vir die eksegese van besondere betekenis is, en dat dit aan die student gestel is? Tereg skrywe L.J. du Plessis op 11 Junie 1874 die volgende in ’n brief: “Hy (Postma) was besonder gesteld daarop dat de studenten grondig in talen onder­richt zouden worden.”

Groter wetenskaplikheid🔗

In die lig van die belangrikheid van die kennis van die grondtale vir die bedienaar van die Woord het Post­ma hom dan ook steeds beywer vir groter wetenskaplikheid aan die Teologiese Skool te Burgersdorp. Sy gedagtegang kom duidelik uit in die volgende woorde van hom: “En nog heden en dage meen ik moeten we deze stelling vasthouden: hoe beter onze studenten literarisch ontwik­keld zijn, des te beter theologische studenten zullen ze worden.”

Die geheim van Postma se groot kennis van die ou tale moet dus verklaar word uit sy diepe begrip van die roeping en taak van die be­dienaar van die Woord. Die gesegde: ‘Geen teologie sonder filologie’ was vir Postma ook belangrik.