Bron: Kompas. 3 bladsye.

Een is Ons Meester

na hemel wys

Kerkorde en kerkreg is woorde wat nie altyd bly verwelkom word nie. Is dit nie dinge wat net vir deskundiges is en wat ook al vir baie ellende gesorg het nie? Die woorde kerkorde en kerkreg kan mense ook laat skrik omdat hulle baie slegte ervarings met die kerkreg het. Kerke wat vir die waarheid van God se Woord gestry het, is dikwels in naam van die kerkreg uitgewerp, troue ampsdraers is geskors en afgesit en het al hulle besittings kwyt geraak.

Kerkreg is die Reg van Christus🔗

Wanneer die kerkreg ’n saak van baie reëls en wette word en daar selfs aktuarisse nodig is om te kan besluit wat kerkregtelik reg is, het dit ’n saak van deskundiges geword. Dan het dit ’n juridiese saak geword met allerhande tegniese slaggate en nie meer die eenvoudige reg van Christus in die kerk nie.

Nogtans is kerkverband en kerkorde goeie sake waartoe Christus ons roep. Die reg wat Christus in sy gemeente wil handhaaf is nie ’n ingewikkelde saak nie, maar sy eenvoudige reg wat ons almal kan verstaan. Dan sien ons dat dit vir kerke wat Christus volgens sy Woord wil volg nooit ’n bedreiging kan wees nie. Dit is juis ’n ekstra beskerming. Indien dit dan ’n bedreiging vir die waarheid word, kan die plaaslike kerk die band verbreek sonder dat dit invloed op daardie gemeente het.

Enkele Belangrike Feite uit die Geskiedenis🔗

Toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom het, het Christus se kerk in ons geliefde Suid-Afrika gekom. Die kerk in die Kaap was deel van die Gereformeerde Kerke in Nederland. Hoe het hierdie kerke in Nederland mekaar gevind en volgens watter Skriftuurlike reëls het hulle in ’n kerkverband saamgeleef?

Christus het daarvoor gesorg dat die ware evangelie ook in Frankryk en die Nederlande verkondig word. Ook hier ontstaan weer ware kerke van Christus teenoor die Roomse Kerk. Hierdie kerke bly nie lank sonder probleme nie. Hulle word vervolg. Die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis Guido de Bres sterf in 1567 in Valenciennes die marteldood. Vanaf 1568 woed die Tagtigjare Oorlog in die Nederlande. Die gevolg van die vervolginge is dat baie gereformeerdes uit die Nederlande vlug. So ontstaan daar Nederlandse vlugtelinggemeentes in onder andere Londen, Frankental en Embden. Die gemeentes wat in die Nederlande agterbly, word die kruiskerke genoem. Dit is vanweë die vervolging baie moeilik om as kerke in ’n kerklike vergadering saam te kom. Dit is daarom dat die eerste Algemene Sinode van die Nederlandse Kerke buite Nederland in Duitsland gehou word. Hierdie sinode is in 1571 in Embden gehou. Die voorbereiding vir hierdie vergadering het drie jaar daarvoor plaasgevind in Wesel. Ook in Duitsland.

Geen Oorheersing nie🔗

Een van die kenmerke van die vergadering waar die kerkverband van Gereformeerde Nederlandse Kerke ontstaan het, is die sterk afwysing van elke oorheersing van persone en van kerke oor mekaar. Opvallend is o.a. dat die eerste artikel van die Handelinge van die Sinode van Embden lui:

Geen kerk mag oor ’n ander kerk, geen dienaar van die Woord, geen ouderling en diaken, mag die een oor die ander heerskappy voer nie, maar enigeen moet hom vir die verleiding om heerskappy te voer wag.

In ons eie Kerkorde is daar nog ’n duidelike herinnering aan hierdie woorde in art 83: “Geen kerk mag oor ander kerke, en geen ampsdraer oor ander ampsdraers, op watter manier ook al, heers nie.”

man onder duim

Hoekom was hierdie woorde toe en is hulle vandag so belangrik? Laat ons eers teruggaan na die tyd dat ons vaders besig was om Christus se kerke in ’n kerkverband te verenig.

As die broeders in 1568 in Wesel saamkom, gedra hulle hul nie soos mense wat alles self nog moet uitvind nie. Hulle let op voorbeelde van gereformeerde kerke in ander lande wat al ’n kerkverband gevorm het. ’n Belangrike voorbeeld vir hulle was die kerkorde wat vanaf 1559 deur die Franse gereformeerde kerke aangeneem is. Die Franse kerke het weer veral na die kerkorde van Genève gekyk. Nogtans was ons voorvaders nie slaafse navolgers nie. Hulle het ook met hul eie onderskeidingsvermoë en insig gewerk. Die broers wat daar saamgekom het, het in die jare wat agter hulle lê, gesien hoe gevaarlik en sleg dit is as predikante probeer om oor die gemeente te heers. Die konvent van Wesel sluit aan by die Kerkorde van Genève wanneer hulle twee lyste opstel van sondes waarvoor veral leraars moet oppas. Die eerste lys noem die sondes wat in ’n leraar nie verdra mag word nie. Die ander is ’n lys van sondes wat aan ’n leraar vergewe kan word, maar waardeur hy wel strafwaardig geword het. Die Nederlandse broers voeg aan die eerste lys toe dat ’n leraar “nie openlik na heerskappy oor die kerk en sy ampgenote mag streef nie.” Aan die tweede lys voeg hulle toe: “eersug en ydele roem en die in die geheim daarna streef om heerskappy oor die kerk of ampsgenote te voer.” Die konvent van Wesel het baie duidelik die gevaar van die heerskappy van leraars raakgesien en dit afgewys.

Die beginsel is dat Christus Here en Meester is. Hy en sy Woord moet in alles as die hoogste norm geëerbiedig word. Dit is ook daarom dat die konvent van Wesel van die leraars o.a. uitspreek: “hulle is in die diens van ons Here Jesus Christus op geen enkele manier eie meester nie.” (IV,12) Na die konvent in Wesel wil meerdere kerke nou werklik tot ’n gereformeerde kerkverband kom. Die konvent van Wesel was nog nie ’n Sinode nie. Dit was ’n konvent wat nie bindende besluite kon neem nie.

Angs vir Kerkverband🔗

Ons moet onthou dat die gereformeerde kerkverband nie sonder besware en teenstand tot stand gekom het nie. Ook onder gereformeerdes was daar angs vir ’n kerkverband. Sommiges meen dat dit weer die slawerny van die plaaslike kerke aan ’n hoër gesag sal terugbring. Hulle is bang dat die tyd van die Pous en die Roomse kerk weer sal terugkeer. Hulle is bang dat ’n Sinode die plek van die Pous sal inneem. Die kerke wat hulle inspan om in 1571 die Sinode in Embden saam te bring, kry teenstand. Daar moet baie gepraat en geskryf word. Die gereformeerde kerk in Embden self is nie entoesiasties oor die idee van ’n sinode en ’n kerkverband nie. Hierdie gemeente hou hom dan ook afsydig, al word die sinode in hulle eie stad gehou. ’n Ander deel van die Nederlandse Kerke wat probleme met hierdie vergadering het is die Hollanders.

’n Invloedryke Hollander, Laurens Jacobz Reael, sien in die planne vir ’n Algemene Sinode ’n manier om na die bevryding van die Nederlande die ware kerklike en geestelike vryheid weer in te perk. Hy noem dit die nuwe pousdom en saam met ander Hollanders sien hy dit net as menslike instellings. Dieselfde geluide was ook al daar by die vorming van die kerkverband van die Franse Gereformeerde Kerke. Daar is die aanvoerder van die beswaarmakers Morily. Hy en sy volgelinge wou hê dat elke plaaslike gemeente as ’n demokrasie funksioneer.

Die brief waarin die kerke na die Sinode van Embden genooi word, beklemtoon dan al dat die gesamentlike oorleg en die besluite wat daar geneem sal word, nie die doel het om oor ander te heers nie. Ook die laaste artikel van die Handelinge van die sinode van Embden maak dit duidelik. Daar word die volgende gesê:

Deze artikelen, de wettelijke en behoorlijke orde der kerken betreffende, zijn alzo met gemeen akkoord gesteld, dat ze (zo het de nuttigheid der kerken vereist) veranderd, vermeerderd en verminderd mogen en behoren te worden. Nochtans zal het geen bijzondere kerk vrij staan, zulks te doen. Maar alle kerken zullen arbeiden deze te onderhouden, totdat in een synodale vergadering anders besloten word.

Ons sien op die Sinode van Embden dat die selfstandigheid van die plaaslike kerk beklemtoon word, sonder dat dit die roeping en funksie van die kerkverband ondergrawe.