Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Ek, Paulus, wat 'n Ou Man is

ou man🔗

Paulus se selfgetuienis🔗

In een van sy briewe wat die apostel uit die tronk geskryf het, sê hy van homself dat hy oud is. Hy skryf vir Filemon ‘Ek is nou 'n ou man (Filemon 1:9). Hoe oud, weet ons nie.

Mense was vroeër vinniger oud as vandag. Hippokrates vertel dat 'n man oud is tussen 49 en 65 jaar. Is hy ouer as 65, dan is hy 'n grysaard.

In 'n apokriewe geskrif oor die apostel, die Acta Pauli, word gesê dat Paulus klein en skraal was. Ons het geen bewys vir hierdie uitspraak nie. Deur die eeue is probeer om 'n chronologie van Paulus se lewe op te stel, om daarmee ook sy ouderdom te bepaal, maar al daardie pogings het nie geslaag nie.

Wil ons iets weet van die ou apostel Paulus, dan moet ons na homself luister. In sy briewe vertel hy een en ander van homself, beskryf hy hoe hy sy ouderdom beleef.

Paulus – 'n man met milde humor🔗

'n Eerste ding wat ons van die ou Paulus kan sê, is dat hy 'n gevoel vir humor gehad het. Lees daardie persoonlike klein briefie wat hy aan Filemon geskryf het. Op 'n fyn manier vertel hy vir hierdie medebroeder hoe hy sy slaaf wat by hom weggeloop het, terug moet verwelkom.

In die gemeente te Filippi baklei twee vroue met mekaar. Paulus vermaan hulle en dan voeg hy ietwat ondeund by: ‘Pasop, ek stuur 'n man na julle om julle reg te ruk’ (Filippense 4:3).

Paulus – 'n man met goeie menseverhoudings🔗

Selfs op sy oudag tref dit ons dat die apostel belangstelling in mense het. Hy dra sy medewerkers op die hart. Hy verneem na hulle welstand. Hy bemoedig hulle waar dit nodig is. Hy doen navraag oor hulle arbeid.

In die loop van sy arbeid het hy 'n groot kring van medewerkers rondom hom versamel. Noudat hy oud is, het sy belangstelling in sy medewerkers en vriende nie verflou nie. Lees maar die laaste hoofstuk in sy laaste brief (2 Timoteus 4). Dit doen sy ou hart goed as hy verneem dat daar lidmate van die kerk te Filippi is wat nog aan hom dink (Filippense 4:10).

Paulus as 'n man wat kon relativeer🔗

Namate 'n mens ouer word, moet hy leer om meer die betreklikheid van dinge te sien. So was dit by die ou Paulus. Wanneer hy in die tronk is, verneem hy dat daar predikers is wat jaloers op hom is en wat in hulle naywer probeer om hom te diskrediteer. Dan is sy nugter antwoord: "Maar wat maak dit saak?" (Filippense 1:18).

Paulus – die man met die sagte hart🔗

Dit tref ons dat Paulus op sy hoë leeftyd so vol deernis en meegevoel met ander is. Hy bekommer hom oor sy medewerker Epafroditus wat ernstig siek geword het (Filippense 2:27). Hy is besorg oor die gesondheid van sy medewerker Timoteus. Hy moet ophou om alleen maar water te drink. “'n Bietjie wyn is goed vir jou maag” (1 Timoteus 5:23). Hy voel hartseer dat hy Trofimus siek in Miléte agtergelaat het (2 Timoteus 4:20). Die vertrek van Demas het hom diep geskok (2 Timoteus 4:10).

wyn🔗

Paulus – die man met 'n positiewe lewensuitkyk🔗

Tot op sy oudag is die apostel baie positief oor die lewe. Hoewel hy baie swaar gekry het (hy gee in 2 Korintiërs 11:16-28 'n lang lys van ontberings wat hy deurstaan het), is die lewe tog vir hom die moeite werd. Hy gee ook 'n verklaring hiervan: "Want vir my is die lewe Christus" (Filippense 1:21).

Die Persoon en die werk van Christus was vir Paulus die allesoorheersende. Hy het 'n persoonlike, lewendige verhouding met Christus gehad. Dit blyk uit wat hy oor sy gebede vertel (Efesiërs 3:14-21) en die gebedsonderrig wat hy gee (1 Timoteus 2:1-2; Filippense 4:6-7).

Paulus – die man wat rustig die dood in die gesig staar🔗

Op sy oudag is die apostel besig met die probleem van die dood. Hy weet dat sy sterwensuur aanstaande is (2 Timoteus 4:6). Hy is nie bang nie. Want die angel is uit. Hy het mos al gesterwe, saam met Christus (Galasiërs 2:20). Wat voorlê, is die lewe met God (2 Timoteus 4:8). Die ou Paulus kyk dankbaar terug op 'n moeilike, maar vrugbare lewe. Hy kyk met verwagting vorentoe, want die dood is nie die einde nie. Die geheim van hierdie ou man met sy humor, sy goeie menseverhoudings, sy vermoë om te relativeer, sy sagte hart, sy positiewe lewensuitkyk en sy sterwensbenadering kan met een woord saamgevat word: Christus.

So is sy lewe vir ons, veral vir hulle wat ook reeds oud is, 'n prediking. Wanneer ons lewe ook in ons oudag in Christus veranker is, dan kyk ons dankbaar terug en met groot verwagting die toekoms in.