Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

En Nogmaals Misdaad en Geweld

Oor misdaad en geweld is daar al so baie geskryf dat ’n mens amper daarop teë is om weer ’n keer iets daaroor te moet sê. Kan ons nie liewer oor die mooi en positiewe dinge van die lewe praat nie? Beslis, maar wie in sy soeke na rus en vrede sy oë vir die werklikheid toeknyp, skep by homself ’n gevaarlike valse gerustheid.

Juis om hierdie rede moet ons maar weer oor hierdie negatiewe onderwerp praat.

Ons samelewing gaan gebuk onder wat byna as die elfde plaag bestempel kan word: die plaag van misdaad en geweld. Die plaaglike afmetings daarvan kan ’n mens sien in die feit dat misdaad en geweld ons hele lewenspatroon en ons lewensuitkyk beïnvloed. Ook dit wat mense van die kerk dink, word daardeur geraak.

Misdaad beïnvloed ons lewenspatroon en - uitkyk🔗

In die afgelope tyd het ons ’n vreeslik versigtige klomp mense geword. Oor-versigtig, sal iemand wat ’n ruk lank in die buiteland was, jou vertel. Almiskie, sal ons so iemand antwoord, maar dit is noodwendig so, ter wille van oorlewing. By ons sou dit bloot onverantwoordelik wees om met oop deure en vensters te slaap. Veiligheidsmaatreëls is nie meer ’n luuksheid nie. Dit het ’n noodsaaklikheid geword.

Nie net ons lewenspatroon nie, maar ook ons lewensuitkyk word deur die misdaadplaag vertroebel. Ons het wantrouig teenoor ons medemens geraak. Ons kan kwalik waag om ’n ryloper op te laai of iemand wat langs die pad gestrand is, te help. Daarvoor het ons eenvoudig net te veel berigte gehoor van barmhartige Samaritane wat op die ou einde deur die oënskynlik hulpelose persoon oorrompel, besteel of vermoor is. En om jou voordeur vir ’n onverwagte besoeker oop te maak, het ’n waagstuk geword. Daarom praat ons liewer met ’n vreemdeling deur die tralies van ’n veiligheidshek of oor ’n interkomstelsel. Maar om hom in jou huis in te nooi, is deesdae moeilikheid soek.

Vir die Christen veroorsaak hierdie toedrag van sake ’n gewetenskwelling. Ons vra onsself gedurig af: Waar is my geloofsvertroue dan heen?

Terwyl ons die vraag vra, besef ons egter ook dat die Here tog nie van sy kinders verwag om onverantwoordelik op te tree nie. Om jou aan ’n gevaarsituasie bloot te stel wat jy kon vermy het “omdat die Here ons mos beskerm” - dit is tog niks anders nie as om die Here te versoek. Dit is mos om by wyse van spreke van die tempel se dak af te spring! Daarom kan ons nie sê dat iemand wat sy eie lewe beveilig, minder op die Here vertrou nie.

Ons traagheid om vreemdelinge in nood te help, kan egter nie so maklik geregverdig word nie. Die Here het ons tog uitdruklik beveel om mense in hulle nood by te staan (Matt 25:34-46) en om gasvryheid aan alle mense te betoon (Heb 13:2). Die Christelike plig tot hulpvaardigheid en gasvryheid staan vas.

Maar wat nou van iemand wat sy Christelike plig getrou wil nakom, en dan daardeur die prooi van misdaad word? Kom daar tye wanneer ’n mens uit vrees vir ’n lokval liewer moet weier om hulp te verleen of mense te ontvang? Hoe kan ’n mens vooraf weet of dit werklik ’n lokval is?

Al hierdie vrae waarmee ons worstel, onderstreep maar net weer die gruwelike uitwerking van misdaad op ’n samelewing. Dit stel jou in ’n situasie wat bekend staan as ’n botsing van pligte. Om tussen die plig tot verantwoordelikheid en die plig tot hulpvaardigheid te moet kies, is beslis nie maklik nie, maar het ongelukkig ’n lewensnoodsaaklikheid geword.

Op die lang duur is die misdaadplaag besig is om ons samelewing tot uiterstes te dryf. Dit het die afgelope tyd sigbaar geword in die massa-optrede van mense by die verhoor van die man wat aangekla word van die moord op die sewejarige Sheldean Human in Pretoria. Daar was selfs diegene wat blykbaar geëis het dat die man aan “die mense” uitgelewer word “om hom reg te sien”.

Sodoende word normaalweg regskape mense deur die voortslepende misdaad gedryf om nóg ’n grens oor te steek, ’n grens wat die Here self gestel het. In Romeine 12:19 word dit uitdruklik gestel: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: My kom die wraak toe; Ék sal vergeld, spreek die Here.”

Misdaad beïnvloed ons siening van die kerk🔗

ln die hele proses is daar nóg ’n belangrike saak wat deur die misdaad-plaag onder druk geplaas word: ons beskouing van die kerk. In hoofsaak is daar twee maniere waarop mense reageer:

Aan die een kant wil mense hê dat die kerk meer betrokke moet raak in die stryd teen misdaad. Hulle sal gelukkiger voel as die kerk optogte en beswaargroepe op die been bring, buurtwagte organiseer en oor die algemeen die leiding neem in optrede teen misdaad. Daarom verwag hulle van kerkrade en sinodes om aktief tot die stryd toe te tree.

Wat egter uit die oog verloor word, is dat dit nie die kerk se taak is om die werk van ’n samelewingsorganisasie te doen nie, allermins om die pligte van die owerheid te wil oorneem. Die oomblik as die kerk hom amptelik met nie-kerklike sake begin bemoei, hou hy inderwaarheid op om kerk te wees.

Verder huisves die aandrang van lidmate dat “die kerk” teen misdaad moet begin optree, dikwels ’n verwronge beskouing van die kerk. Die kerk se optrede is immers nie in die eerste plek geleë in die “amptelike” optrede van kerklike vergaderings nie. Die verste wat kerklike vergaderings kan gaan en behoort te gaan, is om aan die landsowerhede te getuig dat hulle van God die plig ontvang het om moord en doodslag in bedwang te hou deur dit effektief te straf.

Wat egter dikwels uit die oog verloor word, is dat die kerk se optrede eintlik gesien word in dit wat sy lidmate doen. Want waar die gelowiges is, daar is die kerk. Dit geld ook vir betrokkenheid in die stryd teen misdaad. Samelewingsbetrokkenheid is elke lidmaat se roeping.

Hierdie roeping bring egter ’n groot verantwoordelikheid met hom saam. Ons verantwoordelikheid is om in elke ding wat ons sê en doen die kerk se naam nie skade aan te doen nie. Nog belangriker: om in alles wat ons sê en doen die Here se Naam in ere te hou. Hieroor is die Here se Woord baie duidelik: “Gedra julle waardig aan die evangelie van Christus” (Fil 1:27).

Aan die ander kant is daar mense wat van “die kerk” verwag om niks meer te doen nie as om mense se gemoedere te sus. Vir sulke mense is die doel van die erediens (en van alle ander kerklike optrede) om mense vir ’n slag weer goed te laat voel. Preke moet so ingeklee word dat dit as “emosionele inspuiting” vir die week kan dien. Moet my daarom nie op Sondag kom belas met prediking oor oordeel en oor sonde (veral my eie sonde!) en bekering nie. Na ’n vermoeiende week het ek ook nie lus vir preke oor die gesonde leer en oor etiese vraagstukke van ons tyd nie. Ek wil liewer net hoor van liefde en genade en vrede en blydskap.

Natuurlik moet die kerk die liefde van God verkondig. Die preke moet ook getuig van die vrede en blydskap wat God deur sy genade in Christus skenk. Maar as die kerk net by “mooi boodskappe” bly vassteek en ophou om die gesonde leer van Christus te preek en dwaalleer af te wys, dan raak hy ontrou aan sy opdrag. Die kerk wat ter wille van lidmate se gemoedsrus begin stilbly oor God se geregtigheid en sy oordeel oor die sonde, verkondig net ’n halwe waarheid.

Gerieflikheidshalwe word vergeet dat die Heilige Gees ons kom troos het juis deur ons te oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel (Joh 16:8). Die kerk se taak is om die volle waarheid te preek. Want as ons nie weet hoe groot ons sonde en ellende is nie, hoe sal ons ooit die hoogte en diepte van God se genade kon peil en hoe sou ons ooit die omvang van die verlossing in Jesus Christus kon begryp (Sondag 1. VIA 2)? Wie dus nie van sy eie sonde wil hoor nie, verbeur as’t ware die troos van die evangelie.

So word dit weer duidelik dat die mooi en die positiewe dinge van die lewe net sigbaar word as ons bereid is om die sonde en die gevolge daarvan, ook die misdaadplaag waaronder ons gebuk gaan, in die oë te kyk. Die stryd teen die sonde begin ook by onsself, in onsself. Dit is ’n stryd wat ons alleen met die krag van die Gees in Christus kan aanpak. Dit geld ook vir ons stryd teen die misdaad van ons tyd.

As elkeen sy plig doen, in biddende gelowige afhanklikheid van God, sal ook hierdie plaag op die lang duur onder bedwang gebring word. Want teen God se geregtigheid kan selfs die magte van die duisternis nie stand hou nie.