Hierdie artikel bespreek die wese en gevolge van die oorsprongsonde, en fokus so op erfsonde, erfskuld en erfsmet.

4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Erfsonde, Erfskuld en Erfsmet

wortels van boom

Erfsonde – die woord, die begrip alleen roep by baie wrewel en verset op. Hoe kan jy sonde erf?  ʼn Mens kan tog net verantwoordelik gehou word vir wat hy sélf gedoen en nagelaat het. Ons het oor die algemeen nie ʼn probleem daarmee om ʼn erfenis te aanvaar nie. Ons kan ook nog verstaan as ons skuld, byvoorbeeld van ons ouers, erf. Skulde wat deur ouers opgeloop is kan in bepaalde gevalle van hulle kinders verhaal word.

Maar stel jou nou voor dat ek moet opdok vir die skuld van verre voorgeslagte uit die sestiende eeu of die Middeleeue. Dit sou as onregverdig ervaar word. Hoeveel te meer wanneer die sonde van prehistoriese figure soos Adam en Eva aan my toegereken word. Wat het ek te doen met die gebeure uit so ʼn gryse verlede? Of, soos ʼn katkisant opgemerk het toe ek tydens ʼn les uit Genesis 3 op die geskiedenis van die sondeval ingaan: ‘Hoekom maak u so ʼn ophef van iets wat al so lank gelede gebeur het?’

Wortel en boom🔗

Kom ons hoor eers wat die Christelike kerk oor die sogenaamde ‘erfsonde’ bely. Dit word op klassieke wyse in artikel 15 van die Nederlandse Geloofsbelydenis saamgevat. Ons kan die saak soos volg voorstel: Adam, die eerste mens, is die wortel waaruit die hele boom van die mensheid voortgespruit het. Die wortel was bedorwe en daarom is die hele boom nou verdorwe, tot in die kleinste takkie en blaartjie. ʼn Ander voorbeeld: die sonde is soos ʼn inkvlek wat steeds groter uitbrei, sodat die hele mensheid daardeur aangetas is.

Dit word dwarsdeur die Bybel bevestig: Kain en Abel, die eerste kinders wat op die aarde gebore word, was sondaars. Abel erken dit deur die bring van sy offer; Kain wil niks daarvan weet nie en slaan sy broer dood. Die aarde word dan so vol ongeregtigheid dat dit God berou dat Hy die mens gemaak het. Die sondvloed kom as God se oordeel. Maar nadat Noag en sy gesin deur God se grondelose barmhartigheid behoue en bewaar bly in die ark, blyk dit dat die sonde saamgekom het in die hart van Noag en die harte van sy huisgenote.

Kort na die sondvloed moet die HERE, by die toringbou van Babel, wéér ingryp. Dan maak Hy ʼn nuwe begin deur Abraham te roep en hom af te sonder. Maar ook Abraham bly in homself sondaar, en wat moes God nie alles met sy nageslag verduur nie.

Die universaliteit, die algemene verbreiding van die sonde oor die hele mensheid, blyk onteenseglik in die hele Skrif. In Psalm 14:3 lees ons dan ook: “Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.”

Oorsprongsonde🔗

Wanneer ons nou hierdie werklikheid in oënskou neem, is dit duidelik dat die oppervlakkige teorie van die Britse monnik, Pelagius (± 350-425 n.C.), nie daaraan reg laat geskied nie. Pelagius het geleer dat die mens enkel en alleen deur navolging sondig. ʼn Kindjie sou dan gebore word met ʼn rein sieletjie, onbesmet soos ʼn haelwit stuk papier. As daar nou maar nie aan die kinders ʼn slegte voorbeeld gestel word nie, sou hulle opgroei tot vroom en deugsame mense.

kind wat skree

Vergeet dit maar! Die saad van die kwaad, die kiem van die verderf en die wortel van die ongeregtigheid is by die geboorte al daar. Dit blyk byvoorbeeld uit die drif en koppigheid van ʼn klein kindjie. Met die grootword blyk ook dat kinders veel meer vatbaar is om iets verkeerd te leer as om iets uit die Woord van God te leer en hulle eie te maak.

Wie sal dan ook ʼn reine uit ʼn onreine kan voortbring (Job 14:4)? Hoe sou twee in sonde gevalle, en daarom onrein, mense ʼn rein kindjie kan voortbring? Almal wat uit mense gebore word, vertoon van meet af aan die beeld van die gevalle Adam.

Die kerkvader Augustinus (354-430 n. C.) het met Bybelse reg teenoor Pelagius aangetoon dat die sonde nie slegs in afsonderlike bose wilsdade bestaan nie, maar ook gesien moet word as ‘ ʼn algemene mag wat oor die mensegeslag heers en daarvan ʼn massa van verderf maak.’ Die sonde is soos ʼn suurdeeg wat die hele mensheid deurtrek het. Die feitelike situasie word deur die Skrif voorgeteken en deur ervaring bevestig.

Intussen is dit so dat die term 'erfsonde’ nie aan die skrif ontleen is nie. Ons kan ons ook afvra of ons wel daarmee tevrede moet wees. Vir my lyk peccatum originale, oorsprongsonde, ʼn beter aanduiding.

Met die benaming ‘oorsprongsonde’ vat ons meteen ʼn drietal aspekte saam, te wete:

Dit gaan oor die sonde wat by die oorsprong, die wortel van die menslike geslag geskied het. Die sonde dus van die eerste mense en die effek daarvan op hulle hele nakomelingskap.

Die tweede aspek is dat dit ook gaan oor die oorsprong van iedereen se lewe. Oorsprongsonde sê dan dat die sonde in my lewe al van die vroegste begin aanwesig is. As mens is ek ʼn gebore sondaar. Ons dink hier aan die belydenis van Dawid in Psalm 51:7: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang”. Beginnende by baie konkrete en swaar sondes, moord op Uria en owerspel met Batseba, gaan Dawid in sy skuldbelydenis as’t ware stroomop terug tot by die bron van die verderf.

Daar is in ons lewe ʼn stroom van ongeregtighede, maar daar is ook ʼn bron waaruit die stroom voortvloei. Dit is die inwonende bederf, die aanklewende onreinheid, die sondige aard en staat, die verdorwe natuur van die mens. Daarmee is die derde aspek van die term ‘oorsprongsonde’ aangegee. Die bron van alle feitelike sondes, soos ʼn fontein waaruit gedurig giftige water opborrel (artikel 15 NGB).

Erfskuld🔗

Wanneer ons nou hierdie drie aspekte in die oog hou – die sonde aan die oorsprong van die menslike geslag, die sonde aan die oorsprong van my lewe en die sonde as oorsprong van my daaglikse sondes – dan het ons meteens ook ʼn blik op die betekenis van die onderskeiding tussen ‘erfskuld’ en ‘erfsmet’.

By ‘erfskuld’ het ons te make met die eerste aspek van ’oorsprongsonde’. Die oortreding van Adam word aan die hele mensheid toegereken. Hieraan lê die Bybelse gedagte van die verbond ten grondslag. Adam was nie net ʼn besondere persoon, ʼn alleenstaande individu nie, maar tegelykertyd ook verbondshoof (Romeine 5:12-21; 1 Korintiërs 15:22, 45-49). God het aan Adam so’n plek gegee dat sy besluit vir die hele mensheid wat deur hom verteenwoordig word, gevolge sou hê. Sy skuld word dus so aan ons toegereken en kom as erfskuld op ons rekening te staan.

Die toerekeningsgrond van die oorsprongsonde in Adam is ʼn twispunt tussen foederaliste, wat benadruk dat die toerekening op grond van die verbond (foedus) geskied en realiste, wat daarteenoor stel dat ons as’t ware self in Adam gesondig het: óns was in die paradys, óns het van die verbode vrug geëet. Volgens Bybelse spreekwyse was ons in die lendene van Adam teenwoordig (vgl. Hebreërs 7:9,10). Die hele mensheid was dus potensieel in Adam in die paradys teenwoordig en dus in realiteit by die sonde van Adam betrokke.

Dit lyk nie vir my dat ons tussen die foederalistiese en die realistiese standpunte hoef te kies nie. Herman Bavinck het al na ʼn sintese gesoek. Die realisme bied nie sonder meer ʼn afdoende verklaring van die erfsonde nie. Ons mog potensieel in Adam teenwoordig gewees het, maar dit was tog hý, en nie óns nie, wat in eie persoon en in werklikheid die proefgebod oortree het. Daarom moet veral gewys word op die parallelisme tussen Adam en Christus in die besondere plek wat hulle elkeen as verbondshoof ontvang het. ‘Wanneer Adam val, val die mensheid; wanneer Christus staande bly, word die mensheid in Hom opgerig’ (Bavinck). Wat van belang is, is dat ons nie oor die toerekening van Adam se sonde sal praat sonder om die aktuele, daadwerklike sondigheid van die mens aan wie die sonde toegereken word, daarby te betrek nie.

slang en appel

G.C. Berkouwer het dit, tereg, sterk onderstreep. God se handeling is nie willekeurig nie. Daar is telkens ʼn aanwysbare verband tussen God se gerig en eie, persoonlike skuld. Dit moet ons ook versigtig maak by die onderskeid tussen erfskuld en erfsmet – onderskei word so maklik net skei. Dan meen ons om ons van die goddelike aanklag vanweë ons persoonlike skuld los te maak deur ʼn aan onself vreemde sonde (alienum peccatum), die sonde van iemand anders, as alibi en verskoning te gebruik: ‘kan ek dit help dat Adam gesondig het?’

Dit is die vraag wat telkens opnuut aan die orde gestel word: is dit regverdig dat die sonde van Adam aan ons toegereken word? Nou moet ons nie die fout maak om onsself as advokate vir God aan te stel nie. Die HERE het nie ons verdediging nodig nie. Ek wil enkele oorwegings hier noem wat ons kan help om in ootmoed ons plek voor God te ken.

As Adam in die paradys staande gebly het, sou ons die ewige lewe as deel ontvang het deur die toegerekende geregtigheid van Adam. Sou ons dan die goeie wel uit God se hand ontvang, maar die slegte nie?

Ook die geregtigheid van Christus kom in die regverdigmaking diegene toe wat aan Hom behoort, deur toerekening, dit wil sê sonder dat hulle iets daaraan of daartoe doen. Is dit dan nie ʼn besondere geloofsinsig, vanuit die kennis van Christus en sy weldade, dat ons van nature aan die verdoemenis in Adam deel het nie? Kan die sin van die leer van die erfskuld ooit vir iemand duidelik word buite-om die geloofsverbondenheid met Christus en die diepe verwondering oor die regverdiging van die goddelose?

Hoe sal ons God nog wil antwoord, hoe sal ons sy vonnis wil afstry, as ons net één oomblik besef dat ons die keuse van Adam elke dag met gedagtes, woorde en dade bevestig.

Doolhof🔗

Ten slotte wil ek waarsku teen ʼn mistasting wat heel gemaklik in verband met die term ‘erfsmet’ begaan word, naamlik dat die ‘erfsmet’ ʼn soort sondige stof sou wees wat deur voortplanting van die ouers na die kinders oorgedra word. So ʼn wanopvatting bring die seksualiteit, en nog breër, die hele liggaamlikheid van die mens as sodanig onder verdenking. Dit behoef geen betoog dat dit nie Bybels is nie. God is die Skepper van die menslike liggaam en ook die seksualiteit hoort tot sy goeie skepping.

Calvyn het geskryf dat die kwessie van hoé die sonde van ouers op kinders oorgaan ʼn doolhof is wat hy nie wil betree nie. Ons sluit ons graag by hierdie terughoudende posisie aan.

Dan bly net wat J. Koopmans opgemerk het: die dogma van die oorsprongsonde is 'een van die hardste en mees onversetlike stukke van die Christelike leer’.

Literatuur🔗

J.N. Bakhuizen van den Brink, De Nederlandse Belijdenisschriften, Amsterdam, 1976.

H. Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek, Kampen, 1967.

G.C. Berkouwer, De Zonde II, Kampen, 1960.

H. Bout, ‘Peccatum Originale’ in: Theologia Reformata, XXIII 3, 181-193 (bespreking van G. Freund, Sünde im Erbe, Stuttgart, 1979).

J. Koopmans, De Nederlandse Geloofsbelijdenis, Amsterdam, 1939.

A.F.N. Lekkerkerker en C.W. Mönnich, in: Encyclopedie van het Christendom (Protestants Deel), Amsterdam-Brussel, 1955 (onder die woord ‘zonde’).