Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Gawe van Profesie

In die charismatiese beweging word dikwels aan die profesie gesag verleen gelykstaande aan die Skrif. Profesie word soms bo die Skrif geplaas. Volgens die Skrif is die profesie weliswaar nie onbelangrik nie. Tot drie maal toe skryf Paulus: "Maar beywer julle met die oog op die beste gawes" (1 Korintiërs 12:31), "...beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer" (1 Korintiërs 14:1), en ook "..beywer julle om te profeteer, en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie" (1 Korintiërs 14:39).

Die profesie is net soos die spreek in tale nie 'n spesifiek Bybelse gegewe nie. By die heidense volke rondom Israel kom die profesie ook veelvuldig voor in die vorm van orakelspreuke, drome en gedigte.1

God het ook hierdie uiting van die menslike gees, net soos die besnydenis en die glossolalie, in sy diens geneem. Die Nuwe Testament maak 'n verskeidenheid uitsprake oor die profesie. Dit begin met Pinkster. Pinkster toon reeds aan hoe belangrik die profesie is. Petrus haal in sy preek die profeet Joël aan en sê dat dit wat nou gebeur het, die vervulling van die profesie van Joël is: "En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer" (Handelinge 2:17-18).

Die versugting van Moses (in Numeri 11:29) dat die hele volk van die HERE profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê, het in die nuwe bedeling in vervulling gegaan. Die groot vraag hier is wel wat met profesie bedoel word? Volgens kommentare is profesie om God duidelik te ken en ander mense oor Hom te onderrig. Calvyn is van mening dat profesie hier na 'n seldsame en uitnemende gawe van die verstand verwys. Dit is om begiftig te wees met geestelike wysheid.

Twee Groepe Profete🔗

Net soos by spreek in tale kan ons in die Bybel ook twee vorms van profesie onderskei. Ons vind dit in beide die Ou en Nuwe Testament. In die Ou Testament is twee hoofgroepe van profete te onderskei. 2 Die eerste groep is hoofsaaklik gevorm rondom die profeteskole. Hulle het ontstaan in die tyd van die rigters en van Samuel. Ons ontmoet hulle weer tydens die bewind van koning Agab. Tydens Elia en Elisa was hulle ook nog in groepe werksaam.

Naas hierdie groep-profete was daar ook nog die enkel optredende profete soos Samuel, Elia, Elisa, Miga, Natan en Gad. Die latere verteenwoordigers van hierdie groep van enkel optredende profete is die Skrifprofete. Hulle het die goddelike boodskap wat hulle ontvang het, in geskrifte aan die nageslag nagelaat. So 'n profeet is iemand wat staan in die raad van God (Jeremia 23:18), 'n kneg aan wie God sy raad openbaar (Amos 3:18).

In die Nuwe Testament vind ons ook twee groepe profete, naamlik profete in die direkte omgewing van die apostels en 'n ander groep profete wat in die gemeente werksaam is. Die apostels het die fondament gelê vir die kerk van die Nuwe Testament (Efesiërs 2:20). Op hulle getuienis is die kerk gebou. Hulle werk is begelei met twee groepe mense: profete en evangeliste (Efesiërs 4:11). Die evangeliste het die apostels gehelp met hulle sendingwerk. Maar toe die gemeentes gestig was, het die profete bygekom. Hulle het die apostels bygestaan in die opbouende, stigtende en lerende werk in die gemeente. Hierdie profete tree saam en na die optrede van die apostels op. Die apostels bring veral die evangelie en die profete werk verder deur openbaring, deur die besondere kennis waaroor hulle beskik om die gelowiges op te bou 3. Ons kry in die Nuwe Testament die indruk dat hierdie profete volgelinge van Jesus was (Handelinge 2:14-18, 11:27, 15:22,32).

Hoewel hierdie profete onder die leiding van die Heilige Gees spreek, was daar tog die moontlikheid dat hulle hul eie gedagtes kon invoeg in hulle profetiese werksaamheid. Daarom skryf Paulus in Romeine 12:7 dat hulle moet profeteer na die maat van die geloof. Met "geloof" word hier bedoel die evangelie of die christelike leer. Die spreke van die profete word ook 'n openbaring genoem (1 Korintiërs 14:30). Die openbaringskarakter is te soek in die spreke onder die direkte aandrang van die Heilige Gees. Die profeet ontvang insig in die verborgenheid van God (1 Korintiërs 14:2).

Verdwyn🔗

Toe die fondament van die kerk gelê was en die kanon afgesluit was, het die apostels en saam met hulle die openbaringsprofete van die toneel verdwyn. Trouens, ons kan reeds uit die Nuwe Testament aflei dat die eerste Christelike gemeente aan besondere gawes (charismata), en daarmee ook aan die profesie, nie dieselfde gesag toegeken het as aan die Skrif nie.

Toe daar in die eerste Christelike gemeente ernstige probleme opduik in verband met die vraag of die heidene, wat tot bekering gekom het, besny moes word en die wet van Moses moes onderhou (Handelinge 15:5), wend die gelowiges hulle op die vergadering in Jerusalem nie tot die profete nie, maar gaan terug op die Ou Testament. Jakobus, die leier van die Jerusalemse gemeente, slaan die Bybel oop by die profeet Amos (Handelinge 15:15-18). Die Skrifaanhaling kry dan ook die laaste en beslissende woord.

Sekere aspekte van die profesie, naamlik die direkte of onmiddellike openbaringsaspek, keer nie met die afsluiting van die kanon terug nie; altans die karakter daarvan verander. Daarom is dit verklaarbaar dat die vroeë kerk in die tweede eeu die openbaringsaanspraak van die Montaniste afwys en dat die kanon van Muratori en die boek van Pastor Hermas nie as kanoniek beskou word nie, omdat die kanon afgesluit was.

Gemeenteprofeet🔗

'n Ander soort profeet tree in die Nuwe Testa¬ment te voorskyn. Die reisende profeet of openbaringsprofeet maak plek vir die gemeenteprofeet. Ons vind hulle in groot getalle en in byna elke gemeente: in Jerusalem (Handelinge 6:5,8,10), in Antiochië (Handelinge 11:27; 13:1), in Caesarea (Handelinge 21:9,10), in Korinthe (1 Korintiërs 12:10,28,29).

Nie net tree mans as profete op nie, maar ook vroue word as profetesse aangetref (Handelinge 21:9,1 Korintiërs 11:5). In 1 Korintiërs 12-14 gee Paulus uitgebreide aandag aan hierdie tipe profete, omdat hulle in die kerk van Korinte besonder bedrywig was en omdat daar rondom hierdie profete ook probleme ontstaan het.

Taak🔗

Die taak van hierdie profete omskryf Paulus in 1 Korintiërs 14:3: Hulle moet woorde van stigting, vermaning en bemoediging spreek. Die profete tree naas die leraars op. Die leraar proklameer God se heerskappy en die profeet deel God se wil mee, beide vir die wêreld en vir die individuele gelowiges. Paulus karakteriseer die profesie in 1 Korintiërs 14:3 as 'n stigtende, vermanende en bemoedigende spreke. Calvyn betrek dit op die opbou van die geloof, die vrees van die Here, regverdigmaking en heiligmaking. Aangesien die meeste van ons 'n aansporing nodig het en deur swakheid belemmer word, noem die apostel die vermaning en bemoediging daarmee saam. 4  Natuurlik is nie alle stigtende en vermanende en bemoedigende woorde profesie nie. Dit word slegs profesie, as dit op die gesag van God, op die ingewing van God geskied.

Ook met die profesie was daar probleme in Korinte. Te veel profete praat in die byeenkoms van die gemeente en nie almal staan onder leiding van die Heilige Gees nie. Daarom stel Paulus in sy brief sake weer op orde. Hoogstens twee of drie mag profeteer en daarna moet die ander dit beoordeel (1 Korintiërs 14:29). Uit die feit dat die profesie van die gemeenteprofete getoets moet word, kan ons aflei dat die gesag nie so onbeperk was soos die van die apostels en die Skrif nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Kramer, H. 1959. Prophetes. In: C. Kittel, Theologisches Worterbuch zum Neuen Testament, Band 6.
  2. ^ Vgl. Hossfeld, F.L. & Meyer, L. 1973. Prophet gegen Prophet. Freiburg.
  3. ^ Vgl. Bavinck, H. 1930. Gereformeerde Dogmatiek. Kampen. 
  4. ^ Vgl. Calvyn se kommentaar van 1 Korintiërs 14:3.