8 bladsye.

Gebed om die Verligting deur die Heilige Gees vir die Opening van die Woord

saam bid🔗

Gebed in die Erediens🔗

  • Wanneer die kerk in die erediens bid, kom sy ware aard op 'n heel besondere wyse tot openbaring.

It is then that the church is supremely itself, visibly becomes what it mysteriously is: God's people gathered before him. It is then also that the church discovers its fundamental structure: the gathered congregation, the deacons collecting up the prayers of all, and the proistamenous (president) presenting them to God the Father, in the Name of Jesus Christ, in the communion of the Holy Spirit.J. J. von Allmen, The Theological meaning of common prayer, in: Studia Liturgica, 3/4, 1974, 126

Om te bid is 'n uiters belangrike taak van die kerk. In die Naam van Jesus Christus, die groot Liturg wat die volmaakte gebed opstuur voor sy Vader, in die gemeenskap met die Heilige Gees, word die nood van die gemeente en van die kerk en van die hele mensheid voor God gestel. In die gebed in die Naam van Jesus Christus en in gemeenskap met die Heilige Gees, word God se seën en genade op die gemeente gelê en vandaar uitgestraal na die wêreld.

  • Gebed is die antwoord op die selfopenbaring van God. Gebed in die erediens gaan daarvan uit en leef daarvan dat die Here God Homself in sy Woord en veral in Jesus Christus geopenbaar het, meer nog, aan hierdie konkrete gemeente geopenbaar het.

All Christian prayer is a response to the word of God: Christian prayer names God as he has made himself known in Jesus the Saviour; it gives thanks for the deliverance obtained through Christ; it prays for the coming of God's righteous Kingdom.J. Gelineau, The concrete forms of common prayer, in Studia Liturgica, 3/4, 1974, 137

In hierdie antwoord konsentreer alles weer rondom die middelaarswerk van Jesus Christus, en dit word gewerk deur, en in gemeenskap van, die Heilige Gees. Juis omdat die gebed antwoord is op God se selfopenbaring, moet dit deurdrenk wees van hierdie selfde Woord. Die gemeente kan die Here nie beter antwoord as juis deur hierdie die Woord nie. Hierdie Woord is wat die gemeente aanvaar het en nou aan Hom teruggee, en van hieruit 'n beroep doen op sy heilswerke en sy wonderlike beloftes.

  • Die eenheid tussen gebed en Woordbediening. Gebed in die erediens hang ten nouste saam met die Woordbediening. Dit berei voor op die regte luister na hierdie Woord en dit gee antwoord op die ontvange Woord. So berei die gebed ook voor op die regte gebruik van die nagmaal, en antwoord ook weer daarop vir die seëninge daarin gevind. Die gebed leef geheel en al van die Woord en is gebonde aan die Woord. Eers nadat die gemeente geluister het na die Woord, kan die ware gebed weerklink. Mooi het Calvyn dit reeds raakgesien toe hy gesê het: "Ons kan nie bid sonder dat die Woord verkondig word nie" ("orare nisi praecunte verbo, non possumus").

  • Die gebed in die erediens moet geskied volgens God se wil (1 Johannes 5:14). Die gebed om volgens die wil van God te wees, moet geskied op grond van die middelaarswerk van Christus. Hy maak die gebed vir God aanvaarbaar en heilig dit. Daarom is die gebed volgens die wil van God altyd in die Naam van Jesus Christus en in gemeenskap van die Heilige Gees, want deur die Gees word ons gebed betrek by Jesus se offer. Jesus lê sy gebed: "Onse Vader", op ons lippe; Hy lê die intieme gebed waar Hy roep: "Abba, Vader", op ons lippe, sodat ons ook kan roep: "Abba, Vader".

So it is part of the theological meaning of common prayer that it should be controlled by what we know of God's will revealed in Jesus Christ. Whatever we might think of saying to God must pass, as it were, through the filter of this will.J. J. von Allmen, a.w., 129

  • Gebed verander die biddende gemeente. Deur die gebed van die kerk stel hy homself tot beskikking van God, dit word 'n oorgawe aan Hom. Gebed is 'n oorgawe aan dit wat werklik saak maak, naamlik die volmaakte offer van Christus vir die redding van die wêreld, en om te handel ooreenkomstig hierdie kennis.

It means to reach out towards the manifestation of what happened once at the incarnation and to submit the whole of one's life to that hope; it means to give to the implantation and growth of the gospel preference over every other activity; it means to do what is specifically Christian, what cannot be done by anything or anybody but the church here below.J. J. von Allmen, a.w., 134

Om te bid produseer nie soveel as ander werk nie, tog is dit soos gewone werk, 'n groot "kopos", dit is 'n taak, 'n inspanning. Die verskil tussen gewone werk en gebed as werk is dat gewone werk deur mense produseer, terwyl gebed nie so veel nuttige of materiële dinge produseer vir die samelewing nie. In dié sin is dit "onproduktief" dit is danksegging.

Yet prayer remains a work ... it is an activity of the subject or group which modifies the doer himself. When man communicates with his invisible partner, God, he does not do so without acting upon himself in this world and without communicating with his fellowmen. J. Gelineau, a.w., 137

  • Die gebed van die gemeente druk die eenheid van die gemeente uit en snoer die baie persoonlike gebede tot een gemeenskaplike gebed, tot 'n korporatiewe gebed, saam. Die dissipels kom nie net saam op een plek in die erediens nie, maar word verander tot 'n diepe eenheid. Daar heers één gees. Dit het die diepe kwaliteit dat dit deur Christus in gemeenskap met die Heilige Gees gewerk word. In die ware gebed mag daar nie verskeurdheid of verdeeldheid wees nie. Die gemeentelike gebed moet direk, persoonlik en konkreet wees. Dit moet sodanig wees dat die gemeente inderdaad kan meebid. Tog is die gebed van elkeen nodig.

man bid🔗

Ses Groot Aspekte van die Gebed in die Erediens🔗

Daar kan uit die Skrif en uit die geskiedenis ses groot tipes gebed of aspekte van die gebed onderskei word:

Dit is die gebed aan die begin van die erediens waarin die gemeente homself voor die heilige God verootmoedig en sy skuld bely.

Die aanroeping van die Naam van God in die openbaar in die gebed, is 'n belangrike funksie van die gemeente in die erediens. Die gebed word gerig tot die Vader in die Naam van Jesus in die krag en gemeenskap van die Heilige Gees.

Die groot Naam van die Drie-enige God moet nie net in die openbaar aangeroep word nie, maar moet ook geloof en geprys word. In die Vroeë Kerk is veel van die gebruik en wyse van lofprysing van God uit die sinagogediens oorgeneem. Op baie maniere in is die groot liturgieë die Here geloof en geprys. Hiervan is egter weer veel verloor in die Gereformeerde kerke. In alle toonaarde moet die kerk van die Here in sy erediens die lof en grootheid van God besing. Waar die lof en prys van die Here in die Psalms so 'n groot plek inneem, daar moet dit nog groter aksent kry in die Christelike erediens. Deur die gebed kry die gemeente deel aan die "wêreldverlossende, wêreldvernuwende en wêreldveranderende handeling van God" (H. Echternach). Nie die mens en sy belange of groothede moet sentraal staan nie, maar die Hére. Die oerbestemming van die mens is om te bid. En die oerbestemming van die gebed is die verheerliking van die Naam van God (Oldenburger Handreichung, 1946).

  • Gebed om die Verligting deur die Heilige Gees en om die Opening van die Woord – die Epiklese🔗

Die aanroeping en lofprysing, sowel as die epiklese, het sy plek voor die preek. Die epiklese beteken dat gebid word dat die Heilige Gees die Skrif wat gelees gaan word en die verkondiging daarvan, so sal open en verlig dat die ware bedoeling daarvan vir die mense van vandag sal duidelik word en dat dit die mense hier en nou sal aanspreek; en dat die Gees die harte van die lidmate so sal aanraak dat hulle die gelese en verkondigde Woord sal hoor as God se eie woord aan hulle en dat hulle dit sal glo en gehoorsaam. Hierdie gebed gaan veral uit tot die Gees. Hy het 'n dubbele werking: Hy bring Christus na ons toe en getuig van Christus aan ons, maar Hy hef ook ons harte en gees op na Christus. Dit doen Hy deur die Woord vir die prediker en gemeente te laat oopgaan, sodat die Woord van God met vrug gehoor sal word. Die gemeente weet dat die oopgaan van die Woord in sy midde 'n wonder van God se Gees is, en nou vra die gemeente dat hierdie wonder hier en nou sal gebeur.

Die epiklese het nie altyd dieselfde betekenis gehad nie. Dit het drie stappe van ontwikkeling deurgemaak:

Christus word versoek om te kom en sy teenwoordigheid te openbaar. So kry ons by Hippolytus dat die Gees aangeroep word oor die gemeente sodat hulle tot een sal word en versterk sal word in die geloof.

Die Vader word versoek dat die Seun of die Gees op die offer van die nagmaal moet kom.

Die Vader word gevra om die Gees te stuur om die brood en wyn te maak tot die liggaam en bloed van Christus.

woord en Gees

In die Oosterse kerk het die epiklese die betekenis dat die Gees ingeroep word om die gawes te verander tot die liggaam en bloed van Christus. Hulle behou die instellingswoorde en die epiklese. In die Weste (Roomse Kerk) het die epiklese verskrompel en verval dit oplaas omdat deur die konsekrasie die verandering van die elemente bewerk sou word.

Gaandeweg het die epiklese sy plek verkry as voorbereiding op die nagmaal. Die gebed wat gedien het as voorbereiding op die lees van die Skrifte (en preek, waar dit voorgekom het), is die collecta. Die dienaar gee aan waarvoor gebid sal word, die gemeente bid in stilte, daarna vat die dienaar almal se gebede saam onder woorde. Die collecta (kollekta) bestaan gewoonlik uit vyf dele:

  • Invokasie, die aanspreking van God die Vader.

  • 'n Relatiewe sin wat die gronde vir die nadering aandui, dit wys na een of ander attribuut of reddende daad van God.

  • 'n Petisie of versoek.

  • Die noem van die doel van die petisie, dit is die eintlike bede wat beperk word tot die toegespitste gedagte.

  • Die slot wat bestaan uit die konklusie of doksologie.

Die verskillende bedes word dus saamgevat en so voor God gebring. Daar bestaan voorbeelde van die kollekta van onvergelyklike helderheid en segskrag. As uitbreiding van die kollekta is die litanie deur die gemeente gebruik. Elke bede word deur die gemeente oorgeneem met: "Heer, ontferm U oor ons!"

Die kollektagebed is genoem die eerste gebed in die erediens en ook die gebed van die dag omdat dit deur die gang van die kerklike jaar bepaal word. Dit kleur dus die diens op 'n bepaalde manier, omdat dit saamhang met die gedeelte wat in die diens gelees word.

Die Gereformeerde Kerke het die epiklese vrygemaak van sy konnotasie as bede om verandering van die elemente van die nagmaal en het dit weer sy besondere plek gegee voor die preek. Dit word verstaan in verband met die lees en verkondiging van die Woord en dus om die verligtende werking van die Heilige Gees by hierdie belangrike werking in die erediens.

Dus word die twee elemente van die gebed, die aanroeping en lofprysing, en die epiklese of gebed om die verligting deur die Heilige Gees, geplaas direk voor die Skriflesing en prediking.

Histories en prinsipieel volg hierdie belangrike gebed of aspek van die gebed, na die Skriflesing en prediking.

Die dank aan God vir alles wat Hy gedoen het, verinnig tot aanbidding, waar die gemeente as geheel en die gelowiges afsonderlik in diepe eerbied, met groot oortuiging en met sterk aandrang, die Drie-enige God aanbid. Aanbidding is die erkenning van God se ware aard. Aanbidding is die mooiste wat 'n mens aan die Here kan gee. Dit is om jouself met alles wat die Here aan jou gedoen het, as 'n lewende offer aan Hom terug te gee. Aanbidding in die erediens word dikwels verwaarloos en moet veel meer aandag kry. Aanbidding staan sentraal.

Want die hele lewe van die kerk, al die kennis en geloof, groei uit die aanbiddende Godsverering, en is gepas as dit weer die prysende gebed word. Die dogmas is die note waarvolgens die kerk van eeu tot eeu die loflied van die Here sing. H. Echternach

Die grootheid, goedheid en heiligheid van God moet in sy selfopenbaring opgevang word in die gebed in die erediens, deur die bemiddeling van Christus en in die gemeenskap van die Heilige Gees, weer aan God teruggegee word in diepe erkenning. Dit moet egter ook weer in die wêreld, wat niks daarvan weet nie, uitgestraal word. Dit is baie duidelik dat ook hierdie aspek van die gebed die beste tot sy reg kom na die Skriflesing en prediking.

Dit is die laaste groot moment of aspek van die gebed van die gemeente in die erediens. Tradisioneel en prinsipieel het ook dit sy plek na die Skriflesing in die preek.

Hierdie laaste drie tipes gebed of aspekte of momente van die gebed hoort dus na die Skriflesing en preek. In 'n besondere sin is dit die gelowige antwoord van die gemeente op die aanspreke van God.

kerkdak🔗

Variasie en Vastigheid🔗

By die gebed mag daar nie maar 'n sorgelose en ongedissiplineerde optrede wees nie. Dit moet duidelik beplan word en daar moet ook gelet word wat die bedoeling met elke gebed is. In die verlede is al die aspekte van die gebed in een groot omnibusgebed gegooi en dit is dan geplaas na die Skriflesing en voor die preek. Veel beter is dit om die belangrike elemente van die gebed te versprei oor die diens soos aangedui is. Daar moet 'n duidelike raamwerk wees, maar aan die ander kant ook die nodige afwisseling.

Vry- en Formuliergebede🔗

Daar is die eeu-oue kontrovers: vrye gebed teenoor die formuliergebed. Dit is verkeerd, elkeen het 'n groot waarheid en waarde, maar alleen is dit eensydig en lei tot 'n verarming van die gebed in die erediens. Sowel die vryegebede as die formuliergebede het duidelike voordele, maar ook nadele:

Vryegebede

Formuliergebede

  • Is nader by die konkrete werklikheid en by die lewe.
  • Kan lewensvreemd wees, met argaïese inhoude en formulerings.
  • Gevaar van subjektivisme en indiwidualisme.
  • Is meer objektief en korporatief.
  • Kan beter reg laat geskied aan die plaaslike omstandighede.
  • Kan nie uitdrukking gee aan die plaaslike omstandighede nie.
  • Is toegespits op besonderhede.
  • Vertolk meer die algemene belange.
  • Gevaar van onkerklike en slordige taal en styl.
  • Kerklike en goed geformuleerde en geykte taal en styl.
  • Neig om te lank te wees en gedagtes te herhaal.
  • Is nie te lank nie en gevaar van herhaling is uitgesluit.
  • Gevaar van wydlopigheid en allerlei redeneringe.
  • Is saaklik en op die doel af.
  • Is lewendig, fris en spontaan.
  • Kan dor en droog wees, en die herhaling kan meganies wees.
  • Groter rol van liturg se gevoel en stemminge.
  • Is onafhanklik van die tydstemming van die liturg.
  • Gevaar van eensydighede en persoonlike voorkeure.
  • Groter balans in opbou en strekking.
  • Gevaar van antroposentrisme en sekularisasie.
  • Gebede is teosentries en christosentries.
  • Gemeente is meer betrokke en kan spontaan deelneem.
  • Gemeente staan dikwels daarbuite.
  • Slegs aandag aan die momentele.
  • Verband met die kerk deur die eeue.

Wie sal kan twyfel aan die skoonheid, erns, troos en segskrag van goeie formuliergebede! Dit kan oor en oor gebruik word, sonder dat dit slyt en hulle betekenis verloor. Baie formuliergebede het ontstaan in tye van geestelike hoogtepunte in die lewe van die enkeling of kerk. Aan die ander kant kan formuliergebede verlammend wees en die hele erediens in 'n bepaalde vorm of in 'n bepaalde tyd vasvang. Schortinghuis noem dit: "Arme sleur-, boek-, hoofd- en hersenbidders".

Spontane en vrye gebed wat uit die lewende omgang met God ontspring, spreek aan en het groot krag. "But there is nothing more dreadfully unimpressive than extemporary prayer which leaps about on the surface of things, a disorderly dance of empty words going we know not wither" (J.H. Jowett).

Die antwoord op die vraag van vrygebed of formuliergebed is dat albei saam en afwisselend gebruik word. Vir die liturg is dit 'n groot hulp en vir die gemeente kan dit 'n welkome verryking wees. Ook kan by die vrygebede die formuliergebede gebruik word in aangepasde vorm.

biddende hande

Afwisseling in die gebede Binne die patroon van die gebed voor die preek, met sy eie karakter, en die dankgebed en voorbidding na die preek, kan en moet daar sinvolle afwisseling wees om die gebed altyd kragtig en lewendig te hou en dat dit inderdaad die gebed van die gemeente tot sy Here sal bly.

  • Afwisseling van vry- en formuliergebede, soos aangedui. Daar behoort veel meer gebruik gemaak te word van die modelgebed, die Onse Vader, in die erediens. In die gebede van die kerk en veral van die Gereformeerde Kerke, het die Onse Vader 'n vaste plek in die erediens gehad.

  • Sekere historiese gegroeide gebedsvorme, soos die kollekta, die litanie, die prefatio en die eucharistiegebed, kan geherstruktureer word en van 'n nuwe inhoud voorsien word. So word dit nuut en verdiep dit die gemeente se gebedsomgang met die Here.

  • Die stilgebed. By die gebed is dit belangrik om in die erediens 'n geleentheid vir stilte te skep. Daar is by baie liturge 'n "horreur de vide" ("'n skrik vir die stilte" – R. Will). Hierdie stilte voor God, veral nadat die Woord van die Here gespreek het, is 'n wesentlike onderdeel van die ontmoeting tussen die gemeente en sy Here. Om stil te wees, is 'n groot aktiwiteit; dit beteken om met alles in gespanne aandag jou stil te hou voor Gód.

  • Afwisseling van die wyse van gebed:

    Die voorganger bid in naam van die gemeente hardop en die gemeente bid in stilte in hulle harte saam. Dan moet dit inderdaad sodanig wees dat hulle dit met oortuiging en oorgawe kan meedoen.

    Die gebed kan gesamentlik hardop deur die gemeente gebid word. So iets kan slegs gedoen word in die geval van formuliergebede wat bekend is of wat in druk in die hande van die aanbidders gestel word. Die Onse Vader kan baie gepas deur die gemeente so saam hardop gebid word.

    Die voorganger bid in naam van die gemeente en die gebed sluit waar die gemeente met byvoorbeeld die Onse Vader saam hardop afsluit.

    In die voorbedegebed kan enkele persone, soos 'n ouderling, 'n diaken en ander persone, voorgaan in verband met konkrete node en dan sluit die liturg die gebed met 'n samevatting in naam van die gemeente af.

    Nog 'n moontlikheid is dat die gebede responsories geskied, dat die gemeente sekere woorde of frases herhaal, en antwoord deur refreine. Dit kom algemeen voor in verskillende kerke, maar in die Gereformeerde kerke het dit in verval geraak en daarvoor bestaan nie veel belangstelling nie. So 'n gebedsvorm kan baie sinvol gebruik word, maar dit moet aangeleer word. Dit kan ook baie maklik verstar en word geassosieer met 'n liturgiese tradisie.

Voorbereiding van Gebede🔗

Omdat gebed so 'n belangrike werksaamheid is en omdat in die erediens dit gemeenskaplike gebede is, daarom mag die gebede nie maar aan willekeur of op ingewing oorgelaat word nie, maar moet dit deeglik voorberei word. Die voorbereiding geskied ten diepste in die omgang met die Woord. Verder ontspring ware gebed uit die hart wat konstant met die lewende Here in gemeenskap verkeer. Behalwe hierdie voorbereiding, moet soos 'n preek, die gebed ook uitgeskryf word. Dit help om die gedagtes te orden en die bidder te bevry van 'n paar bekende wyses waarop die gebed maar altyd weer verloop. 'n Gebed wat behoorlik voorberei is en ook uitgeskryf is, is 'n groot krag en geheuesteun vir bidder en gemeente. Die gebed wat so voorberei is, kan goedskiks tuis gelaat word en dan word dit nuut op die kansel. Spurgeon sê dat die gebede nie voorberei moet word nie, maar dat die siel altyd gedrenk moet wees in die groot taal van toewyding, veral van die Bybel, sodat as die tyd vir openbare gebed kom, waardige woorde vanself na die lippe mag kom. Dit is egter tog 'n voorbereiding, maar net die eerste deel daarvan. Indien die prediker wat God se Woord tot die mense spreek, homself weldeeglik voorberei, dan moet hy dit tog seker ook doen waar hy namens die gemeente tot Gód spreek.

hart

In die voorbereiding van gebed moet naas die omgang met die Skrif veral groot klem gelê word om die werk van die Heilige Gees. Ons weet nie reg hoe om te bid nie, maar Hý tree vir ons in met onuitspreeklike sugte (Romeine 8:26). Hý hef die bidder met die nood van die mensheid, en die skepping wat sug in afwagting van die openbaring van die kinders van God, op voor God en laat die sugte verander in vreugde en blydskap. (Romeine 8:19v., 31vv.).

The Spirit of God will often bless the use of his own language.Isaac Watts

Die voorbereiding van die gebed geld vir die gebed wat vra dat die Gees die Woord moet open, sowel as dié wat die antwoord van die gemeente op die Woord is. Dit geld ook die gebede voor en na die nagmaal. Dit raak die voorbereiding van beide die prediker en die hoorders.

Gebedshouding🔗

Daar is 'n noue samehang tussen die houding van die liggaam en die gesteldheid van die gees van die mens. Hierdie samehang kom veral in die erediens tot uitdrukking by die gebed.

In die Ou Testament was daar verskillende gebedshoudings, byvoorbeeld om te staan, om te kniel, om jouself vooroor op die grond te werp en om die hande uit te brei. In die Nuwe Testament word nêrens 'n gebedshouding voorgeskryf nie. Ons weet dat Jesus gestaan het en in Getsémane op sy aangesig geval het.

In die Vroeë Kerk is gestaan as teken van oorwinning en vreugde en verwagting van die wederkoms. Daar is gekniel as teken van verootmoediging en rou. Die boetelinge het gekniel by die gebed.

Die gebruik in die Roomse Kerk, die Anglikaanse en Lutherse Kerke om die eucharistie knielend te ontvang, is in die Vroeë Kerk onbekend. Eers in die laat-Middeleeue ontstaan hierdie gebruik as gevolg van die assosiasie dat Christus in die tekens reëel aanwesig is. Die Lutherse en Anglikaanse Kerke handhaaf ook hierdie gebruik, laasgenoemde ten spyte van heftige teenstand van die Puriteine.

Calvyn het die gebruik om staande te aanbid, kragtiglik bepleit (Inst. IV, 10, 29-31) vir sowel die private as die openbare gebed. By die nagmaal waar almal aan die tafel kom sit het, het hierdie saak van te kniel by die nagmaal, vanself verval. Hierdie wyse om knielend te bid, vind ons ook (aanvanklik) by Zwingli, by à Lasco, by die Franse sinodes, en andere.

Die Nasionale Sinode van Dordrecht, 1578, ag dit as "middelmatige dinge" om tydens die nagmaal te staan of te sit, terwyl om dit knielend te ontvang, afgewys word omdat dit kan sien op die aanbidding van die brood. Ook Voetius verwerp die gebruik om die eucharistie knielend te ontvang, hoewel hy 'n voorstander was van die gebruik om knielend te bid. Die Nasionale Sinode van Dordrecht, 1618/19 opper die vraag of staande gebid kan word indien dit om een of ander rede nie moontlik is om te kniel nie. Teen ± 1630 skyn dit asof die gebruik om knielend te bid, verdwyn het, hoewel daar nog verskillende stemme opgegaan het ten gunste daarvan.

Daar is verskillende redes waarom die gebruik om te kniel by gebed in onbruik geraak het. Daar het heftige beswaar van die kant van die Engelse Puriteine gekom teen die gedwonge eis om tydens die gebed te kniel. Ook word andersins die nadruk gelê meer op die innerlike gesteldheid van die hart as op die uiterlike houding van die liggaam. Ook is in die erediens die aksent gelê op die onderrig uit die Skrif en nie so seer op die gebed nie. Ewe-eens het die stryd tussen Reformasie – Rome het 'n woord meegespreek.

Op iets anders moet ook nog gelet word. In die kerkgeboue wat van die Roomse kerk oorgeneem is, was slegs los stoele wat gebruik kon word om op te sit of om op te kniel. Die vroue het meestal op die stoele gesit, terwyl die mans gestaan het gedurende die hele diens. Later het die magistrate gevra vir banke om die pilare in die kerk en nog later het die kerkraadslede ook banke gekry. Die vaste banke van die owerheid en van die kerkraad het dit moeilik gemaak om te kniel en so het die gebruik ontstaan dat die manne by die gebed opstaan. Waar in die tyd van Voetius die vroue ook staande saam met die mans aanbid het, kry ons nou die gewoonte dat die mans staan en die vroue bly sit. Die praktyk dat die vroue voetstofies saamgebring het na die diens en dat hulle met hulle voete op die stofies nie maklik kon kniel of opstaan nie, het die gebruik laat ontstaan dat die vroue bly sit het onder die gebed. By hierdie gebruik dat die mans staan en die vroue sit, moet ook die invloed van die Puriteine gesien word wat hierdie onderskeid gemaak het met 'n beroep op 1 Korintiërs 11:7, 8. Hiervolgens maak Paulus 'n onderskeid tussen man en vrou. Daarom het die gedagte opgekom dat dit nie gepas het dat die manne en vroue dieselfde houding aangeneem het tydens die gebed nie: die manne het dus gestaan en die vroue bly sit.

knielende houding

Dit blyk dus dat die liggaamshouding wel 'n verband het met die gees in die gebed. Verder blyk dit dat daar histories verskillende gebedshoudinge gebruiklik was en dat allerlei faktore saamgehang het met die liggaamshouding. Ook is dit duidelik dat geen enkele houding tot uitsluitlike norm verhef mag word nie. Die gebruik dat mans staan en vroue sit, is onlogies en teologies nie te verantwoord nie. Die simboliese betekenis van die gebedshouding maak alleen sin, wanneer dit algemeen deur die gemeente, dus deur sowel mans en vroue, waargeneem word. Belangriker as die houding van die liggaam is die gesindheid van die hart en die innerlike houding teenoor die Here.

Staan by die gebed druk uit eerbied en vreugde. Dit beteken soveel as: Hier is ek, ek staan tot U diens; ek is bereid om te gehoorsaam en op U weë te gaan.

Kniel by gebed druk uit verootmoediging, eerbied vir die Heilige, bewaring van afstand, oorgawe.

Sit met geboë hoof, weer druk uit ontvanklikheid, die bereidheid om te luister, die houding van wag, en deemoed.

Om in die erediens tydens die gebed te kniel het 'n sterk simboliese betekenis. Die konkrete uitvoering daarvan word deur verskeie praktiese besware gedruk en dit sal 'n hele proses wees om die kerklike gemeenskap weer daartoe op te voed.

Om te staan, en dan deur die hele gemeente, kan baie goed gebruik word by die dankgebed en gebed om voorbidding na die preek.

Om te sit kan ten spyte van besware goedskiks gebruik word vir die gebed om die verligting deur die Heilige Gees voor die preek, mits dit eerbiediglik geskied en die sit eintlik die geboë houding voor die Here uitdruk; 'n houding van die soos Samuel: "Spreek Here, U dienskneg/U diensmaagd luister!"

Terloops kan net gemeld word dat dit baie goed pas wanneer gestaan word by die sang, veral by die lofsang en by die geloofsbelydenis. By die skuldbelydenis pas die houding van te kniel of om eerbiediglik te buig.