Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Geestelike Transformasie in die Briewe van Paulus

Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.

2 Korintiërs 4:6

Die woord ‘transformasie’, toegepas op christelike gemeentes, roep enkele basiese vrae op: Hoekom moet daar transformasie plaasvind en getransformeer word? In watter behoeftes moet daar voorsien word? Waardeur word daar getransformeer, deur watter krag of watter motief? Wie inisieer dit? Werk transformasie deur een of ander metode? Speel die mistiek ‘n bepaalde rol in so ‘n transformasie? Is dit ‘n geval van spiritual engineering? Hoekom word daar in die literatuur gepraat van en aangedring op transformasie, eerder as om te praat van en aan te dring op reformasie of regmaak? Wat is die verband tussen transformasie en ewolusie? Moet daar een of ander vorm van genetiese mutasie in die lewe van die gemeente plaasvind?

Hierdie vrae, en talle soortgelyke, bring ons by ‘n sentrale motief wat in die volgende formule saamgevat kan word: ‘aanpassing by veranderende tye’. Transformasie moet plaasvind, word daar beweer, om by veranderende tye aan te pas. Daar lê natuurlik ‘n klomp aannames in so ‘n kort formule: aannames oor die plek en status, die aard en omvang, die vermeende onvermydelike implikasies van veranderende tye. ‘n Hele tydsbeskouing kom hier ter sprake, wat deeglik uitgestippel behoort te word deur wie ookal so ‘n formule aanneem en gebruik.

Kom ons kyk eers na die Skrif om uit te vind of die begrip ‘transformasie’ daar verskyn en watter les vir die lewe van die kerk daaruit te leer is. Dan eers sal ons op die aannames kan terugkom en hulle evalueer.

‘n Vinnige ondersoek maak dit duidelik dat werkwoordelike vorme wat met die woord ‘transformasie’ vertaal sou kon word, inderdaad in die Nuwe Testament te vinde is. Behalwe vir die gevalle wat te doen het met Jesus se verheerliking op die berg (Matteus 17:2 en Markus 9:2) kom die werkwoord metamorphomai (om verander te word, om getransformeer te word, om gemetamorfoseer te word) twee keer in Paulus se briewe voor, naamlik in Romeine 12:2 en 2 Korintiërs 3:18. Die werkwoord verskyn hier in die passiewe vorm, soos in die twee gevalle wat verband hou met die verheerliking van Jesus. Dit is van groot betekenis vir ons onderwerp. Kom ons kyk na die gebruik hiervan in Romeine en Korintiërs.

Metamorphoesthe in Romeine 12:2: Die Imperatief-Passief in die God-Mens Verhouding met Betrekking tot Transformasie🔗

‘En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander [getransformeer] deur die vernuwing [transformasie] van julle gemoed [denke, verstand], sodat julle kan beproef [onderskei] wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.’

Wanneer gekyk word na die onmiddellike konteks waarin die werkwoordelike vorm ‘wees getransformeer’ verskyn, is dit opvallend dat daar ‘n bepaalde raamwerk voor en na die gebruik van die werkwoord bestaan, wat die noodsaaklikheid, aard, objek en omvang van die voorgestelde transformasie streng bepaal: ‘n raamwerk met ‘n voorafgaande negatiewe pool en ‘n opvolgende positiewe pool: ‘En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar‘ … sodat julle kan beproef [onderskei] wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.’

Transformasie, skryf Paulus aan die Romeine, geskied in antitese (‘maar’) met iets anders, naamlik ‘n gelykvormigheid aan ‘n bepaalde patroon van denke en gedrag wat wyd aanvaar is, maar nie meer vir die gelowige mag geld nie. Die ou denkpatroon het nie meer enige bestaansreg in die lewe van die gelowige nie. Hier beteken transformasie eintlik die oorgang van ‘n sekere denk- en gedragspatroon na ‘n nuwe een. Die verlating of wegdoen met die ou patroon dien as’t ware as necessitas vir die voorgestelde transformasie. In antitese met wat die wêreld - as ongehoorsame entiteit/sfeer/gees - dink, sê en doen, word nuwe prioriteite gestel wat te doen het met die perfekte wil van God.

Transformasie is noodsaaklik omdat daar onversoenbaarheid bestaan tussen die wêreld en die wil van God. Die wil van God word as ‘goed, aanneemlik en volmaak’ beskryf in antitese met die gees wat oor die wêreld heers, of dit wat as wêrelds gekenmerk kan word.

Tussen hierdie twee pole kom dus die noodsaaklike transformasie: Paulus kwalifiseer dit as ‘n vernuwing van die gemoed, oftewel die hele oriëntasie van ‘n mens se denke, hart en dryfvere. Transformasie is dus heel eerstens ‘n radikale interne metamorfose - nie die blote omruil van ou uiterlike praktyke vir nuwe uiterlike praktyke nie. Die nuwe gedragspatroon wat in die volgende afdeling deur Paulus uitgestippel word, vloei voort uit hierdie vernuwing van die menslike gemoed. Wanneer transformasie geskied, lei dit na niks anders nie as die soek van God se wil deur die gemoed (die kern en wortel van ‘n mens se bestaan). Dit lei na niks anders nie as ‘n strewe na dit wat vir Hom aanneemlik is.

‘n Sterk parallel met die byvoeglike naamwoorde wat Paulus in Romeine 7:12 in verband met die wet gebruik het, is hier opmerklik (‘Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed’). Die wil van God in Romeine 12:2 verwys duidelik na sy geopenbaarde wet in hoofstuk 7:12. Hierdie verband word beklemtoon in Calvyn se kommentaar op die brief aan die Romeine (1539). Binne die breër konteks van die brief aan die Romeine is dit ook duidelik dat ‘sodat julle kan onderskei/ beproef’ antiteties bedoel is as ‘n mens na Romeine 1:28 teruggryp, wat juis die wêreldse patroon van denke en gedrag beskryf (‘En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie’). Dieselfde werkwoord word in hoofstuk 1:28 en 2:18 gebruik. Implisiet in hierdie gedeelte is dat indien dit nie heeltemal vernuwe word nie, ons verstand gelykvormig aan die wêreldse patroon van denke en gedrag sal bly.

Ewe opvallend is die gebruik van die passiewe vorm van die werkwoord metamorphomai wat nuwe onderskeidingsvermoë in die gemoed van die gelowige laat ontstaan. Die agent van die betrokke transformasie is nie die mens nie. Die gelowige word nie geroep om te transformeer nie, maar om homself te laat transformeer. Hierdie is nie ‘n klein nuanse nie, maar ‘n beslissende erkenning van die oorsprong en oorsaak van die vernuwing wat in die lewe van die gelowige geskied. Wie dan is die agent van so ‘n radikale transformasie? Die leser van Romeine 12 kan nie anders nie as om terug te gryp na die doksologie waarmee Paulus die voorafgaande afdeling afgesluit het: ‘Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen’. Reeds vroeër, in hoofstuk 8:4-6, is die Gees van God in dieselfde antitetiese raamwerk gemeld; die nuwe mens wandel volgens die Gees en nie meer volgens die vlees nie. Die Gees bedink geestelike dinge in die lewe van die gelowige. Weereens het dit primêr te doen met die innerlike, die kern van ‘n mens se bestaan, en nie eerstens met die uiterlike handelinge nie.

Die parallelle gedeelte in Efesiërs 4:23 handel oor die hernuwing van die gemoed in duidelike antitese met die gedragspatroon van die ou mens waarmee gebreek moet word. ‘n Ander werkwoord word hier gebruik (om te hernu, om nuut te maak), wat egter ook in die passiewe vorm gebruik is: ‘en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed’.

Metamorphoemetha in 2 Korintiërs 3:18 - Transformasie na die Beeld van die Here🔗

Romeine 12:2 het ‘n raamwerk verskaf waarbinne transformasie as oorgang van ‘n ou patroon na ‘n nuwe een beskou moet word. 2 Korintiërs 3:18 fokus op transformasie as weerspieëling van die Here se heerlikheid. Dieselfde werkwoord metamorphoemetha word hier ook in die passiewe vorm gebruik. In hierdie gedeelte word ons nader gebring aan die misterie van God se vernuwende handeling teenoor die gelowiges van die Nuwe Verbond. ‘n Sluier val weg en so word Christus se heerlikheid sigbaar. Die aanskouing bring ‘n heerlike transformasie vir die gelowige mee, wat vernuwe word in die heerlike beeld van Christus, deur die Gees van Christus (die Here). Die Bybel met Verklarende Aantekeninge (1959) verklaar dit so: ‘die daaglikse aanskouing van die beeld van Christus, d.i. ons gemeenskapsoefening met Hom, bewerk ‘n proses van lewensvernuwing waardeur die Christene steeds meer aan Christus, die beeld van God, gelyk word.’ Die teenwoordige tyd in die passief dui ‘n voortdurende proses van transformasie aan. Soos in Romeine 12 kom daar egter ook ‘n antitese: dié keer met diegene wat die Ou Testament lees sonder om in te sien dat Christus die vervulling daarvan is. Hierdie kontras vind binne ‘n groter kontras plaas, wat vanaf vers 1 beklemtoon word, naamlik die kontras tussen die heerlikheid van die Ou Verbond en die groter heerlikheid van die Nuwe Verbond. Dit word nader beskryf met die kontras tussen die letter (die bedeling van die wet) en die Gees (die bevryding van die oordeel van die wet deur die evangelie).

Weereens, soos met Romeine 12:2, kan daar gevra word: Wie is die agent van so ‘n transformasie? Wie maak dit moontlik om die heerlike aangesig van Christus te kan aanskou, sodat daardie heerlikheid al hoe meer in die lewe van die gelowiges gereflekteer word? 2 Korintiërs 3:18 verskaf ‘n ondubbelsinnige antwoord op hierdie vraag: die Gees, wat Here is, doen dit (sien ook die geloofsbelydenis van Nicea). Die verligting wat God in die lewe van die gelowiges laat kom, word in hoofstuk 4:6 weer beklemtoon: ‘Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn - dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus’.

Geen metode, geen uiterlike transformasie is verantwoordelik of noodsaaklik vir die nuwe lewe wat aan gelowiges geskenk is nie, maar alleenlik die verligting van die Heilige Gees. Die belydenis van Nicea-Konstantinopel vat dit perfek saam: ‘Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak’. Die mate waartoe die Verligting van die 18de eeu (die Aufklärung) die verligting van die Heilige Gees in die teologie en die lewe van die kerk vervang het, veral wanneer dit neerkom op die metodes wat aangewend word om die Skrif uit te lê, is waarskynlik die grootste aanval op die evangelie vandag (sien prof. LF Schulze se uiters insiggewende artikel: Die Donker Kant van die Verligting, Koers 63(4), 1998:279-283).

Enkele Gevolgtrekkings oor die Huidige gebruik van die Begrip Transformasie🔗

Hoekom moet daar in die lewe van gelowiges en gemeentes getransformeer word? In kontras

waarmee vind dit plaas? Hoe gebeur transformasie? Watter vernuwing bring dit? Wie is die agent daarvan? Hierdie aanvanklike vrae het hopelik rigtinggewende antwoorde gekry uit die oorsigtelike studie van Romeine 12:2 en 2 Korinthiërs 3:18, binne die breër konteks van hierdie Pauliniese briewe. Dit is oorbodig om alle moontlike gevolgtrekkings te maak op die terrein van die huidige beweging van transformasie van gemeentes. Elkeen kan dit self gaan doen en ook gaan evalueer of daar ‘n verband bestaan tussen wat die Nuwe Testament oor transformasie leer, en hoe die begrip transformasie vandag gebruik en aangewend word. Die mees kritiese vrae, wat as enigste toets vir die Skriftuurlike grondigheid van transformasie behoort te geld, bly egter die volgende:

  • As transformasie in gemeentes toegepas word, is dit ter wille van vernuwing na die beeld van Christus deur die aanskouing daarvan, met ‘n denk- en gedragspatroon wat noodwendig uitloop in die voorskrifte vir die lewe van die christen soos Paulus dit in Romeine 12:3 en volgende uiteensit? En word so ‘n vernuwing van die gemoed, met die gepaardgaande lewensvernuwing, as voldoende aanvaar? Of keer ‘n mens terug na ‘n wêreldse patroon van denke en gedragskode, waar die Gees van vryheid al hoe minder plek het?

  • Glo die kerkvolk dat die Heilige Gees die krag en die gesag het om transformasie te laat plaasvind

  • deur die gelowiges die perfekte wil van God te laat ondersoek? Of is ‘n tegnologie van transformasie, met bepaalde menslike metodes, noodsaaklik om die werking van die Gees aan te vul?

Wanneer oor die lewe van die gemeente besin en gepraat word, kom mensbeskouing, mensbeeld ook ter sprake. Gemeentes is mos liggame met ‘n gesamentlike Hoof, wat bestaan uit mense wat deur die band van die Gees en die Woord aan mekaar verbind is. Indien so ‘n tegniek/metode van transformasie op gemeentes deur mense (sogenaamde kerkleiers, praktiese teoloë, en so meer) toegepas word, moet daar besef word dat ons met die vorming van ‘n nuwe mensbeeld te doen het. Vernuwing in die heerlike en ewige beeld van Christus, deur die Gees van Christus het plek gemaak vir vernuwing in die (nie so) heerlike verandering van tye, deur die tydsgees.

Daarom is aanvanklik ook die volgende vraag gestel: Wat is die verband tussen transformasie en ewolusie? Moet daar een of ander vorm van genetiese mutasie in die lewe van die gemeente plaasvind, sodat sy haar bestaansreg mag behou in die tydelike dimensie waarin sy haarself bevind? Wanneer dus die motief ‘veranderende tye’ as hoofmotivering vir die aanwending van transformasie na vore gebring word, bestaan daar min twyfel dat ‘n nuwe mensbeeld aan ons voorgestel word. ‘n Nuwe antitese word geskep, dié keer met die vorige sosio-historiese tydperk in die lewe van die kerk, en nie meer in kontras met ‘n bedeling waar Christus se versoeningswerk nie aanvaar is nie. Hierdie nuwe antitese skep ‘n ander soort dispensasionalisme, waarin die crux van die oorgang van ‘n bedeling na ‘n ander een nie meer die kruis van Christus is nie (soos 2 Korintiërs dit herhaaldelik uitspel), maar die verandering van tye volgens opeenvolgende sosio-historiese kontekste. Allerhande nuwe inkarnasies (vleeswordings) word dan in die kerklike lewe aan ons voorgestel, wat die ewige Seun van God s’n moet vervang of aanvul. So word die vleeswording van Christus geaktualiseer, in plaas dat daarvan getuig word. Eintlik het die Roomse Kerk nie ‘n ander siening met die herhaalde aktualisering van Jesus Christus se soenoffer tydens die mis nie. Die Roomse kerk weet net hoe om aan hierdie herhaalde aktualisering ‘n tydlose karakter te gee, deur die vaste rituele wat reeds vir eeue in sy midde herhaal word.

Die tydelike dimensie van die kerk se historisiteit kry dan voorrang bo die ewige dimensie van Christus se beeld. Die filosoof Heraklites se bekende leuse ‘alle dinge vloei, ‘n mens bad nooit in dieselfde water van die rivier nie’ regeer nou die tydsbeskouing van die kerk. Transform and adapt or die!

Natuurlik ontvou die lewe van die kerk wel binne ‘n tydelike dimensie. Die uitdaging lê egter daarin dat dieselfde getuienis van dieselfde Christus in hierdie nuwe situasies, uit die kerk moet voortgaan. Verandering van tye behoort gesien te word as ‘n Godgegewe raamwerk van die menslike bestaan wat ten doel het om ‘n groeiende getuienis aan die koms van die koninkryk te lewer, binne die vaste geloof dat die ewige God die werklikheid se tydelike dimensie, soos die res van sy skepping (Galasiërs 4:4), volledig bestuur. Dit is egter wesentlik om te begryp dat die kerk se historisiteit nie deur hierdie tydelike dimensie bepaal is nie. Volgens Efesiërs 1 is die ewige Seun van God en die ewige uitverkiesing van God, wat alle tye voorafgaan, die faktor wat die kerk se historisiteit bepaal.

Gelowiges word gevra om die geeste te kan onderskei en wêreldse denkpatrone te verwerp (kyk juis na Romeine 12:2). Een van hierdie noodsaaklike onderskeidings het betrekking op die moderne en oorheersende ideologie van historisme, wat self sy wortels in ‘n ewolusionistiese mens- en wêreldbeskouing het.

Hiervolgens word tyd verabsoluteer; tyd word ‘n instrument in die hand van die mens om beheer oor sy lewe te kry, en nuwe rigting daaraan te gee. Tydelike transformasies op alle vlakke (ekonomies, tegnologies, ensovoorts) word deel van ‘n algemene stryd van die mens teen die natuur. Deur ‘n versnelling van transformasies te bewerkstellig, hoop die moderne mens tog om ‘n fase van tydloosheid (ewigheid) te bereik. Op die ou einde word dit egter ‘n vernietigende stryd van die mens teen sy eie tydelike bestaan, juis omdat hy tyd verabsoluteer en dus verafgod het. Ewigheid behoort aan God alleen, en Hy alleen skenk die ewige lewe aan wie Hy wil.

Artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis oor die Algemene Christelike Kerk, bly aktueel - juis omdat dit erkenning gee aan die aard en oorsprong van die Godgegewe historisiteit, asook aan die enigste ware binding van die gelowiges deur die eeue, die binding van die Heilige Gees: ‘Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ‘n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ‘n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig’.