Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Is Geloftedag Sonde?

Geloftedag is nie versoeningsdag nie. Geloftedag is nie 'n vakansiedag nie. Geloftedag is ook geen gewone dag nie. Is daar nog plek in Afrika vir Geloftedag? Dinge het so dramaties verander met die gevolg dat alles herbevraagteken word. Een van die sake wat krities bekyk word, is die viering van Geloftedag. Hoe moet gereformeerdes teenoor Geloftedag staan – en hier word nie net mense wat Afrikaans praat, bedoel nie.

Die Skames🔗

Verskillende houdings tree so stil-stil na vore oor die viering van Geloftedag. Daar is diegene wat hulle skaam daaroor. Dit is mense wat so deur die huidige aanslag van die kommunistiese propaganda oor valse eenheid en valse geregtigheid gekniehalter word dat hulle nie meer helder kan dink nie.  Die sosialisme is besig om 'n nuwe eenheidsgedagte in Suid-Afrika te vestig. Daar is net een reël: absolute gelykheid. Vir enige onderskeiding is daar nie plek nie, en dit sluit ook volksverskeidenheid in. Mens kry deesdae Afrikaners, selfs gelowiges, wat so winduit geslaan is deur die marxiste dat hulle geen eie kragdadigheid meer oor het nie. Die mense het skaam geword vir hulle self - soveel so dat hulle geen moed en lus het om Geloftedag te vier nie. Hulle is ook so benoud dat Geloftedag tog te gou met apartheid verbind kan word.

Slap Hande🔗

Hierdie lamlendigheid onder Afrikaners ontstaan nie uit politieke oorwegings nie, maar vind sy wortel in onkunde oor die Skrifwaarhede en 'n twyfelagtige gemoed, omdat daar lank nie meer antwoorde op die sosialistiese propaganda is nie. Twyfel waaroor? Algemene twyfel daaroor of 'n volk 'n roeping het, en nog meer wat die roeping van God vir die Boere inhou. Hierdie slaphandigheid kan gerus maar end kry. Ideologiese apartheid is nie die enigste euwel van ons tyd nie - 'n gelowige wat sy roeping binne sy volksverband versaak, is net so demonies ongehoorsaam as wat enige ideologie is. Gereformeerdes behoort hier weer sterk die klem daarop te laat val dat geloof 'n mens ook kragdadig moet maak - op alle lewensterreine.

Die Versuimers🔗

'n Tweede groep Afrikaners verwaarloos die gelofte, nie uit 'n skaam-skuldgevoel nie,
maar uit luukse genotsug. Dis die mense wat genoeg geld en genoeg probleme het om maar sonder God se gelofte klaar te kom. Die materialisme en geldjagery het hullevasgedraai dat hulle so verwêrelds het dat 'n gelofte aan God vir hulle geen erns is nie.Hulle het geen erg aan God en daarom geen erg aan die gelofte nie. Dis die individualiste wat binne hulle geldkokonnetjies geen breër verband ken as hul eie gesin nie. Maar ook hier is gruwelike versaking - omdat God nie erken word nie. Geen geloof bring ook geen verantwoordingsbesef. Hier moet die gereformeerdes God se evangelie met sy tweede snykant verkondig, naamlik dat waar God vergeet word, daar geen sprake van seën kan wees nie.

Die Versoeners🔗

'n Derde groep wil die gelofte-idee breedweg behou - deur daaraan 'n heel nuwe inhoud te gee. Dit is die sogenaamde nuwe Afrikaanses wat nou die klem meer op versoening wil laat val. Hulle soek ook 'n nuwe eenheid. Die klem word saggies weggetrek van 'n volk se verhouding met God, na 'n taalgemeenskap se versoening met ander groepe. Maar dit kan nie deug nie. Definitief is versoening 'n Godgegewe moet, ook tussen bevolkingsgroepe, maar om God uit die prentjie te wil laat, is 'n poging tot horisontale versoening. En dit is geen versoening nie, maar Satan se poging om die volkere in ongehoorsaamheid agter hom aan te sleep vir sy groot aanslag teen die troon van Christus. Versoening tussen mense - los van Christus - mag nie, dit is die verkondigingstaak van die gereformeerdes aan hierdie valse versoeners.

Die Verlustigers🔗

Vierdens kry mens die groep Afrikaners wat Geloftedag vier en wil vier - maar deels om die verkeerde rede. Hulle erken ten regte dat die gelofte voor God gehandhaaf moet word, maar dan kom daar iets by. In Geloftedag vind hulle 'n middel om hulle eie frustrasies te kanaliseer. Dis mense wat Geloftedag vier, juis omdat dit "van die Afrikaner weggeneem" word. Hulle vier dit uit 'n benoude bedreigingsgevoel. Daar sit 'n moedswilligheid in, 'n selfsug, 'n Godsonterende nasionalisme. Die gelofte tot God word omvorm en as 'n hefboom gebruik om die Afrikaner se nasionale hoogmoed te streel.

Mens kry ook vêrdere uitwasse waar gedink word dat God nooit die Afrikaner sal verlaat solank as wat die gelofte net formeel gehandhaaf word nie. Maar God het geen so 'n belofte aan die Afrikaner gemaak nie. God skuld die Boere niks nie. Dis onwaar om te dink dat God nooit die Afrikaner sal los nie - ten spyte van sy gruwelike afgodery deesdae, en sy Godsverlating. Hier moet die gereformeerdes weer duidelik stel dat die Afrikaner nie God se uitverkore volk is nie. Die historiese volk Israel is en bly God se uitverkore volk, die ander gelowiges is inentings op daardie stam (vgl. Romeine 9-11 oor die mak en wilde olyfboom). Waar die nasionalisme 'n oorhand kry en vir die geloof wil begin dikteer, daar moet ernstig gewaarsku word. Daar mag geen selfgenoegsaamheid wees om te dink "maar ons vier darem nog ons volksfees teenoor ons vyande" nie.

Een van Twee🔗

Die vraag is nie ten eerste hoe Geloftedag gevier word nie, maar of 'n gelofte reg is. Nie of die gelofte in stand gehou KAN word nie, maar of dit in stand gehou MAG word. Slegs een van twee paaie moet gevolg word.

'n Geloftedag vir 'n volk is reg voor God - en alle gelowiges moet dit toegee OF so 'n gelofte was 'n sonde van die begin af en daaroor moet belydenis en bekering gedoen word - en alle gelowiges moet dit toegee. Die dag se inhoud moet nie net uit skuheid verander word nie, die dag mag nie in ongeloof verwaarloos word en verwater nie, die dag mag nie 'n sataniese versoening verkondig nie, die dag mag nie uit rou nasionalisme 'n verlustiging teenoor ander wees nie.

Is Geloftedag Sonde?🔗

Daar kan skynbaar gou "ja" gesê word dat dit sonde is. Ja, omdat dit erken word as geldig en dit nie opreg gevier word nie. Ja, omdat dit as kwetsend teenoor ander gesien word, wat die liefdesgebod verbied. En omdat dit nasionalisme aanblaas, omdat die Afrikaners die enigste volk in die wêreld is wat so iets op sy skouers geneem het. Moet daar nie maar bely word dat Geloftedag ook sonde is en was, en dat daar voor God daaroor versoening en herstel gesoek moet word nie? Wánt die dag is óf reg óf verkeerd. Dit moet deur alle Afrikaners gehou of deur almal afgeskaf word.

Alhoewel dit 'n gewigtige saak is om 'n gelofte aan God te doen, mag 'n persoon, 'n gesin, 'n gemeente, en ja, ook 'n volk dit aan God doen (Prediker 5:1-5). Geloftedag gaan oor gebedsverhoring - en die Boere het hulle verbind om dit kollektief te gedenk. As iemand in jou voorgeslag maar een maal die gelofte herhaal het, is jy as nageslag gebind. "As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe."

God het aan Abraham, die vader van alle gelowiges, ook dié wat Afrikaans praat, beloof: "Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom" (Genesis 17:6). Van hierdie geredde nasies sal kom en voor God se troon aanbid (Openbaring 15:4). Van hierdie geredde konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer na die ewige stad van God (Openbaring 21:24,26).

Werke Agtervolg🔗

Wat gaan die Afrikanervolk bring na die troon van God? Skaamte wat die kommuniste ons voorgesê het? Nasionalisme wat Satan ons geleer het? Vergeetagtigheid omdat ons ondankbaar "geld gemaak" het? 'n Versoening met ander volke waarop die bloed van Christus nie gedrup het nie? Wat gaan ons aanbring - as ons nog die geloof behou om voor die troon te mag staan? Want ons werke - ook as Afrikanervolk - gaan ons agtervolg tot voor die troon van die Vader (Openbaring 14:13) van ons Here wat regs van Hom regerend sit.

Nee, ons moet ons gelofte met ons saamneem - tot voor die troon van God. Dis die wit kleed van geregtigheid wat op ons voetspore volg. Ons stuur dit nie vooruit nie, ons wil God nie daarmee probeer omkoop nie, maar dit volg agter ons - omdat die gelowiges werklik in Christus se bloed gereinig is. Ander volke se gelowiges kan en sal ons nie kwalik neem as ons dankbaar ons wit kleed dra nie. Inteendeel, ons verwag van hulle om ter wille van God se eer, ons op te skerp en te vermaan om nie Geloftedag agterweë te laat nie - want dit is nie tot God se eer as die Afrikaner sonder sy gelofte by die Vader se troon aankom nie.

Geloftedag gaan oor dankbaarheid en dit kan slegs in volkome afhanklikheid van Christus ons Verlosser gevier word. Dit is onbeskaamde geloof. Dit is kragdadige geloof. Dit is 'n dankbare volk.  Dit is gereformeerd - wêreldwyd.