3 bladsye.

Geloofsbelydenis in die Erediens

Hierdie Plek🔗

Goedskiks kon die geloofsbelydenis geplaas word direk na die preek as die eerste reaksie van die gemeente op die preek. Dat dit wel hier na die dankgebed geplaas word, is veral om die volgende redes:

  • In die geval van preke met die klem op die leeraspek, sal dit beter na die preek pas, maar nie by alle tipes preke nie. Waar die aksent val op die nood van die mense, op die danksegging en aspekte van aanbidding sou dit nie so mooi aansluit nie.

  • Waar na die preek geleentheid gegee word vir bespreking en die stel van vrae, kan dit in die gedrang kom.

  • In die geval van die nagmaal, volg na die preek die formulier en dan eers die geloofsbelydenis as die oorgang tot die Nagmaalsviering.

  • Soos aangedui, behoort die gemeente te staan by die dankgebed en dan kan hulle heel gepas staande die geloof bely.

  • Die belydenis kan baie sinvol aansluit by hierdie gebed met die klem op danksegging, aanbidding en voorbidding. Die Geloofsbelydenis is die skakel, "het scharnier" (Liturg. Handreiking), tussen die preek en nagmaal.

Die Historiese Plek van die Geloofsbelydenis🔗

Die geloofsbelydenis was aanvanklik doopbelydenis in die Vroeë Kerk. Later het dit belydenis van die gemeente geword en so 'n plek in die erediens begin kry.

In die 5e eeu is die Credo opgeneem in die liturgie van die Ooste. Vir die eerste keer vind ons die Credo in die Weste in Spanje. Tussen 795 en 800 kom dit voor in die diens in die paleiskapel van Karel die Grote. Dit het nou die plek na die evangelielesing en hierdie plek het dit behou. In die tiende eeu het die lees van die Credo in die Weste algemeen geword, en sedert 1014 kom dit voor in die Roomse mis. Ook in die pronaus het dit 'n vaste plek verkry. In albei gevalle was dit na die lees van die evangelie (en preek).

In die Lutherse Kerke heers daar oor die plek van die Credo die bontste verskeidenheid, dog meestal sluit hulle hulle aan by die gebruik van Rome en plaas die Credo na die Skriflesing. In die verskillende Oosterse liturgieë, behalwe die Armeense, staan die Credo in verband met die eucharistie.

Zwingli en die latere ordes van Calvyn, sowel as die kerkorde te Frankfort, 1554, en die kerkorde van die Palts, 1563, sluit hulle aan by die gebruik van die Oosterse Kerk, daarin dat hulle die geloofsbelydenis met die nagmaal verbind.

Die Sinode van Dordrecht, 1574, het die geloofbelydenis voorgeskryf na die dankgebed, sy ou plek, en so kom dit ook voor in die klassieke nagmaalsformulier. In die Nederlandse Kerke het dit gebruiklik geword om die Credo in die namiddag- of aanddiens te lees. Die besluit van die Sinode van Dordrecht dat die Credo in die môre en die Wet in die namiddag gelees moes word, het hieraan weinig verandering gebring. Die gewoonte het gebly in die oggend die Wet en in die aand die Credo.

In die Oosterse Kerk is die Niceanum, die geloofsbelydenis van Nicea, konsekwent gebruik. So ook in die Roomse Kerk, was die Niceanum die gebruiklike vorm van die geloofsbelydenis. In die pronaus egter word die Apostolicum, die Apostoliese Geloofsbelydenis of Twaalf Artikels, aangetref. Zwingli en die ander reformatore het by voorkeur die Apostolicum gebruik.

Betekenis van die Belydenis van die Geloof in die Erediens🔗

Die geloofsbelydenis is 'n kort en bondige antwoord op die hele diens, maar veral op die prediking. Die prediking roep tot die belydenis en die belydenis wil hoorbaar word. "Gemeenskap aan die Woord dring tot die woord" (J. Schweizer). "Wat God gesê het en gedoen het, dit hoor Hy nou – soos 'n ego – uit die mond van die gemeente." (G. Voigt). Die geloofsbelydenis is die "slotakkoord", "Het is een weerklank op het gepredikte woord; het "Amen wij gelooven", dat de gemeente na het luisteren van Gods Evangelie voelt oprijzen in haar hart en uitspreekt met haar lippen" (A. Kuyper).

Die belydenis word uitgespreek voor God en voor mekaar en voor die wêreld. Die mense moet hoor dat die gemeente inderdaad glo; verder wat hulle glo; ook wat die konsekwensies is van so in die Drie-enige God te glo.

Die kerk wat die geloofsbelydenis in die erediens uitspreek, doen dit nie nou eers vir die eerste maal nie. Nee, hy is belydende kerk, hy ken die evangelie al, "maar wil er telkens opnieuw van horen, ter sterking van het geloof ... Zij zegt hetzelfde als wat God eerst heeft voorgezegd" (G. van Rongen).

Hier spreek nie die enkeling of 'n bepaalde groep hulle geloof uit nie, maar dit is die belydenis van die gemeente en daarmee word die geloof oor baie eeue en oor baie grense heen, uitgespreek.

Die geloofsbelydenis word uitgespreek deur die kerk van Christus wat as pelgrims op pad is na sy eindbestemming. Dit is die pelgrimslied van die gelowige skare; die marslied van die kerk as die militia Christi, die stryders van Christus. Dit is die kerk op weg wat sy geloof bely tot uitdrukking van wat hy inderdaad glo, tot versterking vir die volharding op die weg en as 'n kleurbekentenis teenoor Christus. Daarom staan die geloofsbelydenis in die openbaar in die teken van teenspraak van hierdie belydenis en selfs van stryd. Wie hierdie belydenis uitspreek, gee daarmee te kenne dat hy ook die konsekwensies daarvan aanvaar: Hy is bereid om die belydenis met die mond te bevestig met die belydenis deur die bloed, as dit moet.

Die Wyse van Aflegging van die Geloofsbelydenis in die Erediens🔗

Op verskillende maniere is en word die geloofsbelydenis in die erediens gedoen:

Die Oosterse Kerk spreek dit.
Die Roomse Kerk sing dit.
Zwingli het dit in wisselspraak tussen mans en vroue laat opstel.
Farel het dit laat spreek.
Bucer en Calvyn het dit laat sing.

Dit is die belydenis van die geloof van die gemeente in die openbaar en daarom behoort die gemeente self dit te doen. Dit is veel sterker as dat die liturg dit namens die gemeente lees en hulle dit "in hulle harte spreek". 'n Belydenis word hoorbaar gespreek van dit wat in die hart leef. Die gemeente gee duidelik te kenne voor die Here, voor mekaar en voor die wêreld wat hulle glo. Daarom spreek die gemeente self hardop uit wat hulle glo. Met goeie reg kan die gemeente dit ook sing.

Dit is belangrik dat die gemeente sal staan as hulle die geloofsbelydenis uitspreek, want dit pas by die openbare en offisiële karakter daarvan.

Om nie weer in 'n groef af te gly nie en die betekenis van die geloofsbelydenis fris en lewend te hou, behoort dit ook afgewissel te word. Soms kan dit deur die gemeente gesing word in plaas van dit te spreek. Verder kan die Apostolicum afgewissel word met die Niceanum. In heel uitsonderlike gevalle, soos op Sondag Trinitatis, die Sondag na Pinkster, is dit sinvol dat 'n keer die Geloofsbelydenis van Athanasius gelees word. Omdat dit so lank is, kan as uitsondering die liturg dit lees.

Die belydenis is in homself kompleet en daarom hoef daar nie weer 'n lied gesing word met 'n toespeling op die belydenis nie.