2 bladsye.

Geloofwaardig vir Wie

In die vorige twee artikels het ons die vraag bespreek of die Bybelteks as sodanig nog betekenis het vir vandag se tyd. Ons kan die vraag ook van ’n ander kant benader: vir wie het die Bybelteks betekenis? Die bruikbaarheid en geloofwaardigheid van ’n teks het immers ook met die houding van die leser te make.

Die leser se belangstelling en vooroordele bepaal dikwels ook die persoonlike antwoord op die vraag of ou geskrifte vandag nog “aansprekend is” en “vir ons iets te sê het”. Dit is ook in die algemeen so. Ou boeke oor Chinese genesingsmetodes sal as uitgediend beskou word deur enigiemand wat die moderne, Westerse anatomie as absolute uitgangspunt neem, maar dit word dikwels nog as baie waardevol en bruikbaar beskou deur aanhangers van alternatiewe genesingsmetodes. ’n Ander voorbeeld: As ’n mens die geskiedenis van die kolonialisme en die slawehandel bestudeer, sal dit moeilik wees om nie deur die skuldlas van die verlede beïndruk te word nie, maar ’n rassis sal waarskynlik geneig wees om die impak van die verlede te ontken.

Wat reeds in die algemeen geld, geld op ’n besondere manier ook vir die Bybel. Christene sal vanselfsprekend meer geneig wees om blywende betekenis in die Bybel te soek as Moslems of ateïste. Maar dit neem nie weg dat daar vir almal ’n probleem is nie. Wat die Skrifte aan ons openbaar, druis dikwels teen die persoonlike mening van die leser in. Gevolglik word die leser voor ’n keuse geplaas: óf die Bybel is heeltemal uitgediend, óf die Skrifte vra dat ons ons idees en houdings verander.

Bekering🔗

Dit betref in die eerste plek die Bybel se universele oproep tot bekering, tot terugkeer na God en sy gesag oor ons lewe. Hier vra die Bybel ’n ingrypende keuse van die leser, en daardie keuse sal die lees beïnvloed. As iemand daarvoor terugskrik om homself so aan die Skepper oor te gee, sal sy opstelling ten opsigte van die teks outomaties meer afstandelik wees. Hierdie afstandelikheid kan na vore kom die vorm van ’n bewering oor die ‘uitgediende’ boodskap van die teks.

In die tweede plek is daar ’n reeks van voorstellings in die Bybel wat nie maklik in die wêreldbeskouing van die (moderne) mens inpas nie en wat ook nie maklik wetenskaplik geverifieer kan word nie. Dink byvoorbeeld aan die bestaan van ’n hemel met engele, die aggressie van die kant van God se teëstander, die Satan, en die verhouding tussen die sigbare en die onsigbare wêreld. Verder is daar in die Bybel ook baie gebeurtenisse wat vanuit moderne wetenskaplike kennis nie verstaan kan word nie, byvoorbeeld ’n byl wat dryf of die Rooi See wat opdroog, die onmiddellike genesing van baie siekes en die opwekking van dooies.

Dit is onmoontlik om uit die totaliteit van al hierdie voorstellings en gebeurtenisse ’n soort universele boodskap los te wikkel wat dan die sentrale boodskap van die Bybel sou wees. Laat ons dit by voorbaat besef. Baie mense dink dat dit moontlik is om die skeppingsverhaal en die verhaal oor die sondeval simbolies te verstaan. Verder moet dan ook die wonders simbolies verstaan word. Sommige meen dat ook die maagdelike ontvangenis van Jesus nie langer deel van die Christelike belydenis kan wees nie. Maar waar stop dit? Die geloof in die opstanding van Jesus veronderstel tog ook dat ’n mens in ’n ander, onsigbare wêreld glo en in kragte wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie. Maar as Christus nie werklik opgestaan het nie, dan is ons die ellendigste van alle mense (1 Kor. 15:17-19).

Ons kan daarby verbykom nie: Die Bybelse tekste veronderstel dat ons aanvaar dat daar ’n onsigbare werklikheid is. Slegs die persoon wat by voorbaat die bestaan van hierdie onsigbare werklikheid aanvaar, kan die Skrifte as gesaghebbende tekste lees. Wie nie bereid is om hierdie vertrekpunt te neem nie, sal op die ou end die gesag van die Bybel totaal en al ontken.

Blinddoek?🔗

Moet ons dan ons verstand blinddoek as ons die Bybel lees? Of moet die intellek opgeoffer word? Dit sou die geval wees as die Bybelse boeke op menslike insig berus. Die teendeel is waar. Die skrywers weet dat hulle mag skryf oor iets wat vir mense verborge is. Hulle nooi ons om te glo in dinge wat ons hoop en wat ons nie kan sien nie (Hebr. 11:1).

Die onsigbare werklikheid en die kragte wat daarmee verbonde is, kan ons nie inpas in wat gesien en wetenskaplik ondersoek kan word nie. Die onsigbare wêreld staan buite die ondersoekmoontlikhede van die mens, ook al beskik hy oor die mees verfynde mikroskope en die mees ontwikkelde teleskope. Eens, toe die koning van Aram die dorpie Dotan beleër het om die profeet Elisa gevange te neem, het die situasie uitsigloos gelyk. Die dienaar van Elisa het uitgeroep: “Ag, my heer, hoe sal ons maak?” Maar dan bid Elisa dat die HERE die oë van sy dienaar sal open en meteens sien hy dat die berg “vol perde en waens van vuur rondom Elisa” is. Hierdie ander werklikheid verdring op daardie oomblik nie die sigbare werklikheid van die berg nie: dit neem niks ruimte van ons ruimte weg nie. Tog is dit gelyktydig daar, ook al is dit onsigbaar vir mense (2 Kon. 6:15-18).

Daar is ’n wêreld wat hoër is as die deel van die skepping wat vir ons sigbaar is. Wie die Bybel wil lees, moet homself nie vir daardie onsigbare wêreld van God afsluit nie. Die vraag of Bybelse geskrifte vir ons nog waarde en gesag het, word tot ’n groot mate bepaal deur die vraag in hoeverre daar by ons ’n openheid is vir die geheime van God. As daardie openheid ontbreek en as ons ons wil beperk tot geloof in dit wat gesien word en wat deur mense bewys kan word, dan het die Bybel sy waarde vir ons verloor. Die vraag is wel wie of wat dan nou eintlik onbruikbaar geraak het: die Bybel of die (post)moderne mens?

Konklusie🔗

Aan die einde van hierdie reeks artikels trek ons die konklusie: Dat die tye verander het en dat daar ’n ander wêreldbeskouing is, is nie genoeg rede om ou geskrifte by voorbaat as uitgediend en verouderd te beskou nie. Dit sou impliseer dat ’n mens jou eie idees tot ewige waarhede verhef, en dat ’n mens jouself vir die wysheid van vroeëre geslagte afsluit. Dit geld sekerlik ook by die Bybel: ’n boek wat ons ontvang het danksy die spreke van heilige mense wat deur die Gees van God gedrywe is, en wat handel oor sigbare én onsigbare dinge.