Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Genesis 4:26 - Hulle wat Sy Naam Aanroep

Lees: Génesis 4:16-26; Matthéüs 1:18-25
Teks: Génesis 4:26
Sing: Psalm 145:1, 10, 11; Psalm 91:1, 5; Psalm 33:5, 8, 11

Ons staan op die drumpel van ’n nuwe jaar. Wanneer ons terugkyk en die jaar wat verbygevlieg het, in oënskou neem, dan was dit maar ’n jaar vol donker wolke. Ons voel nie meer veilig in die land waarin ons woon nie. En wat van die toekoms? Wat kan ons verwag in die jaar wat kom?

Ons teks laat ons baie verder as net een jaar terugkyk. Ruim 4 000 jaar. Dit is nog maar enkele eeue gelede sedert die poort na die paradys gesluit is. Die mensheid is in sy eerste ontwikkelingsfase. En wat sien ons? Dieselfde dinge wat vandag in ons land gebeur.

Ons tyd word gekenmerk deur reusagtige tegnologiese ontwikkeling. Op amper alle terreine van die lewe kan ons dit sien. Televisies, rekenaars, selfone, straalvliegtuie, moderne mediese ontwikkeling, hoogs gesofistikeerde toerusting op baie terreine van die lewe, ontdekking van nuwe sterrestelsels. Dit laat ’n mens duisel. Jy kan net nie bybly nie.

Maar wat gaan daarmee saam? Korrupsie, geweld, diefstal, moord, sedeloosheid. Die prentjie van ons samelewing met al sy moderne ontwikkelinge lyk maar treurig.

In ’n tyd soos hierdie, waarin ons onsself veilig voel, kom ons nou saam om na God se Woord te luister. Wat sê die Bybel vir ons? Daar is niks nuuts onder die son nie. Salomo het mos gesê: “Is daar iets waarvan ’n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het” (Pred 1:10). Dit wat ons vandag in die wêreld en ook in ons land sien - tegniese ontwikkeling en morele verval - was in die ou dae ook al sigbaar.

Wat vertel Génesis 4 vir ons? Twee dinge. Daar was in die kort tydjie na die sondeval tegniese vooruitgang en sedelike agteruitgang. Génesis 4 trek twee lyne. Twee groepe mense staan teenoor mekaar: die familie en afstammelinge van Kain teenoor die familie en afstammelinge van Set, Kain se jonger broer.

In Kain en sy familie kry ons voluit die beeld van die wêreld van daardie tyd. Dit is ’n wêreld in sy boeiende ontwikkeling van tegnologie, kuns en vermaak. Maar tegelyk ook ’n wêreld van sonde en bederf. In die nageslag van Kain ontmoet ons mense met pragtige gawes, gawes wat God gegee het. ’n Hoogtepunt word bereik in die familie van Lameg, ’n tegnologiese en kulturele hoogtepunt. Ons hoor dit in die name wat die kinders van Lameg ontvang het:

  • Daar is Jabal, die oudste seun. Sy naam beteken: leier. Hy is die stamvader van dié wat in tente by hulle kuddes woon. Hy is die eerste argitek en ook die eerste boer in die geskiedenis.
  • Dan volg Jubal. Sy naam beteken: basuin - iemand wat die geluide in die natuur kan naboots. Hy was die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel. Kuns en musiek - daarin het hy hom onderskei.
  • Die jongste broer is Tubal-Kain. Sy naam beteken: yster-afval. Hy was die eerste ingenieur. Die vader van die tegnologie.

Dit lyk alles pragtig. Wat ’n mooi ontwikkeling. Watter kosbare gawes. Maar daar is ook ’n ander kant. Die gawes wat God gegee het, is nie tot eer van God gebruik nie. Dieselfde samelewing met sy kuns en kultuur en tegniek was tegelyk ’n samelewing vol van geweld, wraaksug, moord, doodslag en sedeloosheid. Hoor maar hoe Lameg sy lied van wrede geweld sing. Hy is vol moordlus. Hy sing die lied van wraak, die lied van die revolusie. ’n Paar hoofstukke verder lees ons: Die aarde was korrup en vol geweld in die oë van die Here (Gen 6:11, 13). Korrupsie was al ’n ou kanker in die samelewing. Dikwels gaan dit saam met geweld.

In so ’n tyd het ook Set en sy mense gelewe. In Set se geslagslyn vind ons die kinders van God, die gelowiges. Hulle weet dat daar ’n God is wat alles gemaak het. Die God van vader Adam, van Set. Van alle kante word hulle bedreig. Die gelowige geslag van Set leef onder ’n wolk van geweld. Lameg en sy mense was ’n groot bedreiging vir die gelowiges wat God gedien het: vir Set en sy mense.

In daardie tyd van korrupsie en geweld lees ons twee dinge oor Set. Die lewe gaan voort. Daar word ’n kind in Set se tent gebore. Hy noem daardie kind Enos. Dit is ’n belydenis. Die naam beteken “mens”, maar dan ’n swak, weerlose mens. Ons is swak, ons is afhanklik van die Here. Enos se geboorte wys profeties heen na die geboorte van Christus. Hoe swak, hoe hulpbehoewend is daardie kindjie in die krip in Betlehem.

Wat gebeur na die geboorte van Enos? Toe, in daardie tyd, het hulle die Naam van die Here begin aanroep. Die geboorte van ’n kind val saam met die aanroeping van God se Naam. Ons teks skep hier die indruk dat Set en sy familie tóé eers begin bid het. Maar dit is nie die bedoeling nie. Hulle het vroeër ook al gebid. Hulle voorvader Henog het ’n besondere gebedsverhouding met God gehad.

Die uitdrukking “die Naam van die Here aanroep” is baie ryk aan betekenisse. Dit loop dwarsdeur die Bybel en is een van die kernbegrippe van die Christelike geloof. Hier in Génesis 4 beteken dit in die eerste plek hulle het bymekaar gekom in ’n erediens, dit wil sê om kerk te hou. Teenoor die dreiging van geweld, teenoor die korrupsie en sedeloosheid, soek Set en sy mense dit by die Here. Waarskynlik het hulle ’n altaar gebou en rondom die altaar bymekaar gekom. Daar by die altaar het hulle God aangeroep, op sy heilige Naam ’n beroep gedoen, en só veiligheid en vrede, beskerming en rus gevind.

Die gelowige Set het saam met medegelowiges skuiling by die Here gesoek. Hulle het die Naam van die Here aangeroep. God se Naam was dus in daardie tyd reeds bekend: Jahwe. Ek is wat Ek is. Naam beteken in die Bybel outoriteit, gesag. In die Ou Testament word die Naam van die Here verbind met veiligheid, beskerming. “Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling” (Spr 18:10). In die erediens, maar ook by ons huisgodsdiens, in ons persoonlike verhouding met God, ons gebedslewe, mag ons die Naam van die Here aanroep.

In die Nuwe Testament het God sy Naam op ’n besondere wyse nader bekendgemaak: naamlik die naam Jesus. Hierdie naam wat Josef aan die kind van Maria gegee het, is God se Kersgeskenk aan ons. Petrus sê in sy Pinksterpreek: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Hand 2:21).

Wat kan ons anders doen as om in hierdie tyd van korrupsie, geweld, moord en doodslag saam te kom om die Naam van die Here aan te roep? Ons het Kersfees gevier. Christus is gebore. Sy naam is Jesus: die Here red. Tot Hom mag en moet ons ons toevlug neem. Daar is ons veilig. By Hom vind ons redding, verlossing van sonde en skuld. Maar ook beveiliging. Ons sal ons uiteindelike bestemming bereik.

Buite Christus, sonder sy Naam, is ons onveilig. Dan wag net die oordeel. Daarom is dit die groot vraag: Op watter lyn beweeg ons lewe? Op die lyn van Kain, of op die lyn van Set? Wie deur die Heilige Gees geleer het om sy eie swakheid en sondigheid te besef, en God se Naam, die naam Jesus aan te roep, dié is veilig en behoue.

Wat verwag die Here van ons? Vandag? Na Kersfees? Die volgende jaar? Dat ons sy heilige Naam aanroep! Dit beteken getroue bywoning van die erediens.

Wat gebeur in ’n erediens? Die Naam van die Here word oor ons uitgeroep. Wat gebeur as ’n kind gedoop word? Dan word die Naam van die Drie-enige God saam met die naam van die kind uitgespreek. Maar in ons persoonlike omgang met God deur middel van die Bybel en deur gebed mag ons ook God se Naam aanroep. Daar lê ons toekoms.

Dan is ons veilig en sal ons ervaar wat God sê in Psalm 91:

Hy het My lief, hom maak Ek vry
Wat dierbaar in my oog is;
Ek waak oor hom, want hy bely
My Naam wat sterk en hoog is.