Bron: Kompas, 2001. 3 bladsye.

Gereformeerde Perspektiewe op Geloftefees as Versoeningsdag

bloedrivier

Deeglike kennis van die verlede gee ons insig in die hede en perspektief op die toekoms. In die lig van die Bybel as die besondere openbaring van God, moet ons sy algemene openbaring in die geskiedenis raaksien en daaruit leer. Sulke lesse, wat ons deur die bril van die Skrif uit die geskiedenis leer, moet dan meewerk om aan ons perspektief, koers en rigting in onsekere tye te gee. Ek is oortuig dat geloftefees as versoeningsdag in die nuwe Suid-Afrika aan gereformeerde Christene insig kan gee om ons roeping in Suid-Afrika by vernuwing duidelik te hoor.

Wat was Bloedrivier nie?🔗

Met die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 het dit nie maar net gegaan oor ’n oorwinning van wit mense oor swart mense nie. Dit was nie maar ’n uiting van rassehaat en ’n vestiging van blanke baasskap nie.

Daar was byvoorbeeld saam met die 468 blanke Afrikaners ook 3 Engelse en 60 swart mense in die laer wat skouer aan skouer saam geveg het.

Dit was ’n stryd teen die wrede barbaarse Dingaan wat nie net moorde teen die Voortrekkers gepleeg het nie, maar derduisende swart mense in Suider Afrika laat uitmoor het.

Wie maar net ’n oppervlakkige studie maak van die geskiedenis van die Zoeloes en die ander swart volkere in Suid-Afrika sal ontdek dat toe Chaka in 1816 koning geword het die Zoeloes maar ’n klein volkie was. Hy het maar net oor 500 soldate en ongeveer 200 vk kilometer geregeer. Hy het toe deur ’n strategie van moord, doodslag en verwoestende geweld sy invloed so uitgebrei dat hy in 1828, toe hy deur sy halfbroer Dingaan vermoor is, 320 000 vk kilometer en 50 000 soldate beheer het.

As die werklike feite van die geskiedenis aan die lig gebring word, sal onthul word dat daar seker ’n honderd swart mense deur ander swart mense om die lewe gebring is vir elke swart mens wat deur blankes om die lewe gebring is.

Onder Dingaan as leier van die Zoeloes het wreedhede teen al wat leef en beef toegeneem. By sy hoofstad Ungungundlovu het hy op die moordkoppie Hloma Amabotho dikwels mense laat doodslaan net om die aasvoëls – sy voëltjies soos hy gesê het – kos te gee. Hy was ’n groot gesette man wat 500 vrouens gehad het. As iemand net in sy teenwoordigheid gehoes of gespoeg het, is hy doodgeslaan. Hy het sy eie vleier of “pryssanger” gehad wie se werk dit was om dag en nag op te spring en luidkeels uit te skree hoe groot die koning Dingaan nou eintlik was. Besoekers moes op hulle knieë na hom toe aankruip.

Die Voortrekkers wou sy gesag erken en wou daarom met hom ’n ooreenkoms sluit. Maar toe vind die verraderlike moord op 6 Februarie 1838 plaas en Retief en al sy manne is doodgeslaan en ook by Hlomo Amabutho vir die aasvoëls gegooi.

Na die verdere moorde by Bloukrans en Moordspruit waar 40 mans, 56 vrouens en 185 kinders en 200 bediendes wreedaardig doodgemaak is en die slag van Italeni, is Dingaan se magte ter nouernood op 13 Augustus teruggedryf.

Toe het Andries Pretorius met 468 man, 60 swart helpers, 3 Engelse, 64 ossewaens en 500 perde met ’n strafekspedisie teen Dingaan se magte opgetrek. Vooraf het Pretorius nog aan Dingaan vrede aangebied: Indien hy kompensasie sou betaal en onderneem om die Voortrekkers in hulle gebied met rus te laat, sou geen veldslag plaasvind nie.

Die gelofte

Dingaan wou nie daaraan gehoor gee nie. Op 9 Desember het Pretorius aan Sarel Cilliers opdrag gegee om tydens die godsdiens oefening ’n gelofte af te lê. Plegtig in gebed het hulle beloof om ’n kerkie op te rig en ’n oorwinning tot eer en danksegging van die Here te vier, indien die Here dit aan hulle sou gee.

By die historiese slag op 16 Desember is die gebede op ’n wonderbaarlike manier verhoor: Ongeveer 3 000 Zoeloes het gesneuwel en niemand aan die kant van die Voortrekkers nie.

Dit was egter nie die einde van Dingaan nie. Daar het nog die slag van die Wit Umfolozi plaasgevind en Pretorius het ’n bondgenootskap met Mpanda, die halfbroer van Dingaan gesluit. Hulle het toe in Februarie 1840 ’n gesamentlike strafekspedisie teen Dingaan onderneem. Dingaan het na Swaziland gevlug en daar is hy deur die Swazi’s om die lewe gebring.

Mpanda en Pretorius het ’n lewenslange vriendskap onderhou en Mpanda se opvolgers het tot 1879 goeie betrekkinge met die Afrikaners onderhou en selfs militêre ooreenkomste gesluit. Die Zoeloes is nie onderwerp of gekoloniseer nie. Hulle het ’n fiere en onafhanklike trotse volk gebly totdat die Engelse hulle na bloedige gevegte militêr verslaan en gekoloniseer het.

Hierdie historiese gegewens maak dit duidelik dat die slag by Bloedrivier nie blanke baasskap wou vestig of op rassehaat gebou was nie. Dit was slegs gerig teen die wrede moordenaar Dingaan en sy ondersteuners.

Wat was die Gelofte by Bloedrivier dan wel?🔗

Die Voortrekkers het hulle diep afhanklikheid van die Here erken en bely. Hulle het kragtens hulle verbondenheid aan die Here sy hulp en bystand afgesmeek om vrede en voorspoed te vra vir hulleself en vir die ander volke wat so wreed deur Dingaan geteister is.

Die feit dat God deur alles heen sy koninkryk laat kom, word bewys deur die sendingkerkie wat later gebou is op die plek waar Piet Retief vermoor is.

Wat moet Geloftefees by ons Tuisbring?🔗

Geloftefees moet ons weer inspireer tot onwankelbare vertroue en nederige oorgawe aan die Here. Hy en Hy alleen hou die toekoms in sy hande.

Geloftefees moet ons voortdurend inspireer om te soek na ’n bedeling van vrede, liefde en geregtigheid vir alle volke. Moord en haat en doodslag moet gestraf word, maar juis om orde en vrede vir almal te bring.

Soos wat wit en swart in baie opsigte saam gestry het om Dingaan se wrede en bose mag te breek, moet ons vandag as blankes besef dat ons onherroeplik deel van Afrika is. Ons gesamentlike vyand is selfsug, korrupsie, kriminaliteit, armoede, werkloosheid en opvoedkundige agterstande.

As Gereformeerdes moet ons ook in ons volkslewe uit genade leef. In die verlede is dikwels by volksfeeste so hoog van die toring geblaas oor die prestasies van Afrikaners dat dit grens aan sondige eie roem.

Geloftefeeste mag nooit ontaard in geleenthede om as Afrikaners ons eie roem te sing nie. Laat ons onthou dat ons in die Dordtse Leerreëls by die verwerping van die dwaalleer aan die einde van hoofstuk 1 bely dat dit ’n dwaalleer is as mense dink dat dit nie enkel en alleen die welbehae van God is wat die oorsaak is waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. En dat een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie.

geloftekerk

So ’n dwaalleer ontken Moses as hy die Israelitiese volk soos volg toespreek:

Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. Maar net aan jou vaders het die HERE ’n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.Deuteronomium 10:14, 15

En Christus het gesê: Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.Matteus 11:21

As ons Geloftefees vanuit ons gereformeerde belydenis en uit die feite van die geskiedenis verstaan, sal dit ons inspireer om daarvan ’n ware versoeningsdag te maak en saam met ander volke die koningsheerskappy van Christus uit te brei.

Ek bid vir die dag dat blank en swart op ’n Gelofte- of Versoeningsdag saam in ’n erediens die Here sal aanroep, hulle voor Hom sal verootmoedig en hulle opnuut verbind om in sy Naam te bid en saam te werk vir liefde, vrede en geregtigheid. Vir die uitbreiding van sy koninkryk na mense van alle volke, tale en nasies tot by die uiteindes van die aarde.