Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Gesprekke met kinders

Met ʼn groot gesukkel klim Barto op die groot, hoë boontjiesak. Sy maatjie Pieter sit al daar, met ʼn groot glimlag op sy gesig. Hy lyk sommer lus daarvoor om lekker te klets met die grapmaker. Barto en Pieter is twee seuntjies van ongeveer vyf jaar oud. Hulle neem deel aan ʼn oulike en lewendige Nederlandse televisieprogram, nl. Praatjesmakers. In daardie program voer Jochem van Gelder gesprekke met jong kinders. Die program word saans na nege uur uitgesaai. Dis dus nie bedoel vir die kinders self nie. Volwassenes mag dit geniet. En hulle kan daarvan leer. Want hoe kry ʼn mens kinders sover om soveel te praat?

Die kinders vertel oor alles en nog wat, en oor die mees uiteenlopende onderwerpe. Die ouers van hierdie pragtige kindertjies sit in die gehoor. Hulle lyk soms verbaas as hulle hoor hoe hulle kroos oor so baie dinge praat. Blykbaar vertel hulle dinge wat hulle as ouers nog nooit gehoor het nie. Jochem van Gelder is in staat om die gesprekke op so ʼn manier te voer dat die kinders baie openhartig antwoord en reageer. Dis wonderlik as ʼn mens hierdie vermoë het. Want deur met kinders te praat, leer ʼn mens hulle eers regtig (of nog beter) ken.

Kinders kan natuurlik nie dadelik praat nie. Wel kan hulle al baie gou klanke laat hoor en reageer op die stemme van ander. Reeds vroeg in hulle ontwikkeling is daar sprake van kommunikasie. Volwassenes en kinders reageer op mekaar: hulle lag vir mekaar of speel speletjies deur middel van geluide.

Op ʼn gegewe oomblik (êrens tussen 15 en 24 maande) ontdek ʼn kind dat taal meer is as klanke en geluide. Dit is ʼn sisteem waarin mense iets aan mekaar duidelik kan maak. Woorde het betekenis. Jy kan iets daarmee bereik. Via taal kry die kind ʼn beeld van homself en ʼn beeld van die wêreld rondom hom. Praat is dus fundamenteel in die ontwikkeling van die kind. Dit is deel van God se skepping. Deur middel van taal kry alles betekenis. Op hierdie manier het praat en die ontwikkeling van kennis invloed op mekaar.

Praat het ook alles te make met die sosiaalemosionele ontwikkeling. Deurdat die kind omgaan met ander, vorm hy ʼn beeld van homself. As ʼn kind byvoorbeeld dikwels beloon word (“Mooi so, goed gedoen!”), sal hy meer positief oor homself dink. Hierdeur word sy selfvertroue vergroot. En dit is weer belangrik vir die feit dat hy begin praat.

ʼn Kind het steeds meer en meer die behoefte daaraan om oor sy ervarings te vertel. Dit hang wel af van die manier waarop sy omgewing daarmee omgaan. ʼn Houding van aanvaarding van die kant van die opvoeder vir dit wat die kinders wil laat sien (hoor), is belangrik.

Natuurlik moet kinders wel die geleentheid kry om self ervarings op te doen wat nodig is vir die vorming van ʼn selfbeeld en van ʼn wêreldbeeld. Elke ervaring wat ʼn kind opdoen, sê iets oor homself en oor die wêreld rondom hom. Iets word daaruit geleer.

Die voer van gesprekke met kinders is nie so eenvoudig soos dit lyk nie. ʼn Gesprek is altyd tweerigtingverkeer. In die gesprek tussen ʼn ouer en ʼn kind is daar ʼn “gesagsverskil”. Daardeur kan dit maklik ʼn eenrigtinggesprek word. En dan is dit al gou ʼn “geslote” gesprek. (Soms moet dit so wees, want kinders vra duidelikheid.). Daarin word iets opgedra of iets meegedeel. Geen teëspraak word geduld nie…

As ʼn mens meer oor jou kinders te wete wil kom, dan is ʼn “oop” gesprek nodig.

Dit vra baie van die volwassene se vermoë om in voeling te wees. Die belewingswêreld van kinders is anders as dié van volwassenes. Wat voel die kind op hierdie oomblik? Dit is ʼn lastige vraag. Die invulling vir die ander gebeur al gou. Veral by kinders wat nie soveel vertel nie. Byvoorbeeld: “Dus jy hou daarvan, Jeroen?”

Omdat hierdie invulling dikwels verkeerd is, voel die kind dat hy nie altyd verstaan word nie. Eintlik hou Jeroen glad nie daarvan nie. So ʼn beoordelingsfout spoor die kind natuurlik glad nie aan tot ʼn volgende gesprek nie. Op hierdie manier word heeltemal verbygegaan aan dit wat die kind eintlik wou vertel.

By so ʼn invulling lê die ouer sy gedagtes op aan die kind. Dikwels gebeur dit onbewus. Dit kom baiekeer voor as ʼn ouer die gesprek vinnig wil laat verloop. As daar eintlik nie tyd is vir ʼn werklike gesprek nie. Ouers het dan nie soveel geduld nie. Dit kom dikwels voor by kinders wat moeite ondervind om hul gedagtes en gevoelens onder woorde te bring. Die ouer vul dan in om die gesprek aan die gang te hou. En kinders het die neiging om hulle aan te pas by die volwassene. Daarom sal die kind nie gou sê dat dit nie so is nie.

Op daardie oomblik speel tyd ʼn groot rol.

Kinders het tyd nodig om hul verhaal te vertel. As die tyd min is, geluk dit hulle meestal nie. Die ouer kry dan nie die inligting wat hy graag wil hê nie. Daar was nie openhartigheid nie.

Openhartigheid blyk uit die manier waarop op kinders gereageer word. Byvoorbeeld: Jeroen kom huilend en kwaad die huis binne. Sy ma se reaksie sou kon wees: “Jy het weer baklei!” Dit is ʼn vasstelling en Jeroen kan min hierteen inbring. Die opmerking is “geslote”. Jeroen word nie uitgenooi om hierop te reageer nie.

Sy ma sou ook kon sê: “Jy lyk nogal kwaad. Jy het seker baklei?” In hierdie sin is ʼn konklusie. Miskien klop dit (nie). Deur die woordjie “seker” kan Jeroen hierop reageer.

Sou die sin vanuit die ma se oogpunt gesê word (as ek-boodskap), dan sou dit duidelik wees dat sy dit as persoonlik beskou. Dan kan daarop ingegaan word. Daardeur word uitwisseling van gedagtes gestimuleer. “Ek sien dat jy huil en kwaad lyk. Het jy baklei?” Dit bly ʼn “geslote” vraag: ʼn ja of ʼn nee kan as antwoord volg. Dit kán die verdere gesprek kortknip.

ʼn Oper manier is ʼn opmerking soos: “Ek kan sien iets is fout…”, of selfs net ʼn vraende kyk sonder woorde. Daarop sal daar verseker reaksie kom…

ʼn Vraende kyk sonder woorde is gewoonlik baie effektief. Dan word gebruik gemaak van nieverbale kommunikasie. Hoe ʼn mens voel, kan jy dikwels beter laat sien as verwoord. Die gesigsuitdrukking, die houding, ens., gee meer rigting aan die gesprek as die inhoud self. Dit geld vir volwassenes sowel as vir kinders. Veral jong kinders kan nog nie so goed hul gedagtes en gevoelens in woorde uitdruk nie. Hulle moet die geleentheid kry om te laat sien wat hulle voel en dink. ʼn Gapende kind het genoeg gesê… En ʼn kindertekening spreek dikwels ook vanself. Daaruit kan baie gelees word!

Openhartigheid beteken onder andere aansluiting by die kind. Dit is ʼn belangrike voorwaarde vir ʼn goeie gesprek. Dit gaan daaroor dat kinders gemotiveer word om te kommunikeer en om inligting te gee. Maar hoe doen ʼn mens dit? Jochem van Gelder weet duidelik hoe. Die kinders met wie hy praat, sit op ʼn hoë “troon”, op ooghoogte met die aanbieder. Hy vra oor alles en gebruik veral oop vrae: “Vertel ons!” “Hoe het dit so gekom…?” “Dit klink lekker, en wat gebeur toe…?” “Ek verstaan dit nie; bedoel jy…?” Dis duidelik dat Jochem en die kinders op hul gemak voel. Jochem kyk vir die kinders en hy luister regtig na hulle. Tussendeur maak hy grappies. Af en toe demonstreer hy iets en hy gebruik soms uitgebreide gebare. En hy gebruik sy tyd (in soverre dit moontlik is in ʼn televisieprogram).

In die Nederlandse televisieprogram Praatjesmakers vind ons dus goeie voorbeelde van kommunikasie met kinders. Wat is belangrik?

In die eerste plek moet die gespreksgenote op hul gemak voel en bereid wees tot die voer van ʼn gesprek. Met ʼn oop houding en deur oop vrae te stel, kan ʼn goeie gesprek ontstaan waarin die kind kan sê wat hy voel of dink. Dan gee die kind onvervalste inligting. Dan sê hy nie iets omdat hy dink dit moet op daardie oomblik gesê word nie.

Samevattend nog ʼn paar punte waarop gelet moet word:

Sorg daarvoor dat jy op dieselfde ooghoogte as die kind is. Verskil in lengte kan ook verskil in mag uitstraal. Dit het invloed op die kommunikasie. Die grootste een is die baas. Die kleinste een luister en wag. Kinders is ondergeskik. As ons kwaad is vir ʼn kind, kan ons bly staan. As ons ʼn gesprek wil voer, kan ons eerder gaan sit. Kyk na mekaar as jy praat. As ʼn mens wil sien wat by ʼn kind leef, dan kan dit uit die gesigsuitdrukking afgelei word. ʼn Kind kan “ja” sê, maar “nee” laat sien. Jy kan ook aan die kind sien of hy nog ʼn gesprek wil voer. Luister hy, het hy ʼn gewillige houding, lyk hy vrolik en belangstellend? Kinders kan jok, fantaseer of angstig wees. Dit kan ook opgemerk word. Luister na dit wat die kind sê. ʼn Kind het sy eie verhaal. As die ouer die inisiatief neem by die gesprek, dan is die kans groot dat die verhaal nie gehoor word nie. Kinders kan hulself dan losmaak van die gesprek. Dit kan gesien word deurdat die kind maak asof hy jou nie hoor nie, besig raak met iets anders, ʼn afwagtende houding aanneem, nie meer aktief saampraat nie, kort antwoorde gee, wegkyk of selfs wegloop. Daarmee is die gesprek verby. By die kind is die motivering weg. Let op die tekens en op wat daaragter skuil. Probeer om speel en praat te kombineer. Kinders het baie energie en kan meerdere dinge gelyktydig doen. Hulle wil dikwels nie rustig gaan sit vir ʼn gesprek nie. Die voordeel van speel is dat daar ʼn aangename atmosfeer heers. Spel en spanning gaan nie saam nie. Humor werk altyd goed, veral as daar spanning by die gesprek betrokke is.

Deur gesprekke met kinders te voer, hou altyd in dat jy kontak met hulle het. Deur gesprekke met die kinders leer jy hulle ken, leer die kinders hulself ken en leer die kinders die ander en die wêreld ken. Dit bied geleenthede om verder te gaan. Kinders ontwikkel op verskeie gebiede. Deur vroeg te begin met kontak maak deur middel van gesprekke, word ook die basis vir die geloofsopvoeding gelê. Om praatjies te maak (gesprekke te voer) is van groot belang, vir die kinders en vir die ouers. Almal leer hierdeur!