Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Gestremde Kind – Gemeentelike Verantwoordelikheid?

As moeder van ʼn kind met ʼn gestremdheid lê hierdie tema my na aan die hart.

Ons seun het sy eie kenmerkende talente. In ons gesin het ons dit leer ontdek en ons stimuleer hom om sy gawes en talente te ontwikkel. Maar hoe staan sake in die kerk? Ken die gemeente hom en wil sy haarself oopstel vir hierdie geskape kind (beelddraer) van God? Mag hy deelneem? Behoort hy by die gemeente? Kan gesê word dat die gemeente hom mis as hy nie die erediens of die katkisasieklasse bywoon nie?

In hierdie artikel gaan dit oor inklusief = insluiting, daarby behoort, verbondenheid.

Verbondenheid🔗

Die gemeenskap van die heiliges het in die eerste plek te make met die erkenning dat God elke mens uniek geskape het. Daarom is ons uitgangspunt dat ons sélf ʼn gawe ís. Inklusief begin met ons aanwesigheid, die feit dat ons daar is. Daarby word beklemtoon dat om iets aan ʼn ander te gee, om iets vir ons naaste te doen, nie die beginpunt is nie. Die feit dat ons ʼn gawe ís, staan voorop. Ons hét dus nie net gawes nie! Van daaruit het elke mens die opdrag om te lewe tot eer van God en ten dienste van die naaste.

Die gemeenskap van die heiliges het verder te make met vertroue op God. Ons vertrou daarop dat Vader aan ons die moontlikhede gee om onsself en ander goed te (laat) versorg. En omdat Jesus Christus deur sy lyding gesorg het dat die pad na God toe weer oop is, weet ons ook verseker dat Hy aan ons alles gee wat nodig is om Hom te dien – Romeine 8:32; 1 Johannes 1:3. God het ʼn verbondsverhouding met ons gesluit. Hy het Hom aan ons verbind. Daarom het die gemeenskap van die heiliges ook te make met verbondenheid aan God, liefde vir Hom en vir die lidmate van die plaaslike gemeente. As kinders van Hom hoort ons bymekaar – 1 Korintiërs 6:17; 1 Korintiërs. 12:12, 13; 1 Korintiërs 13:1-7. As broeders en susters vorm ons die huisgesin van God. Dit gee kleur aan ons onderlinge band en ons onderlinge verhoudings. Dit moet ons saam oefen.

In die derde plek het dit te make met die besef dat mense met ʼn liggaamlike gestremdheid en mense met ʼn verstandelike gestremdheid nodig en nuttig is – 1 Korintiërs 12:21-25; Filippense 2:2-5. God gee die taak om deel te neem aan die gemeente en die werk wat daar gedoen moet word. Wat daardie taak presies behels, word nie deur mense bepaal nie. God “omskryf” daardie taak. Daardie taak kan dus onder andere beteken: die gee van goeie sorg, gasvryheid en barmhartigheid aan mense met ʼn gestremdheid.

Vir mense wat self ʼn gestremdheid het, kan dit beteken: hulp by die voorbereiding en verspreiding van kerkblaaie, gasheer/-vrou in die kerk wees, ens.

Die feit dat God ʼn taak gee op ʼn bepaalde plek, hou ook in dat ons nie kan sê dat ʼn bepaalde gemeente onvolledig sou wees as daar geen mense met ʼn gestremdheid (meer) in daardie gemeente sou wees nie. God gee in een gemeente mense met sodanige gawes dat alle take wat Hy aan daardie gemeente gee, ter plaatse uitgevoer kan word.

Om deel te wees van die gemeenskap van die heiliges word duidelik deur:

  1. die feit dat ons daar is

  2. die besef dat God ʼn verbondsverhouding met ons het en ons so aan mekaar gegee het

  3. vertroue op God

  4. ander te troos en te steun op grond van daardie vertroue

  5. liefde vir en verbondenheid aan God en die plaaslike gemeente

  6. deelname aan aktiwiteite van die gemeente en die bereidheid daartoe.

Die Gemeente as ʼn Veilige Huis🔗

As dit kom by betrokkenheid en vriendskap, hanteer ons die T-model: die “horisontale” verhouding tussen mense staan of val met ʼn lewendige “vertikale” verhouding met God. En dit beteken ook dat ons saam baie blydskap mag hê en dat vriendelikheid en lewensvreugde ruimskoots aanwesig kan wees – Filippense 4:5. Dit bring vrede voort, en ʼn vredige sfeer – Filippense 4:7. En so kan dit ook daartoe lei dat mense wat nie in voeling is met die leefwêreld van mense met ʼn gestremdheid nie, tog daaraan gewoond kan raak.

Mense met ʼn gestremdheid kan bydra tot ʼn rustige sfeer. Vir mense met ʼn verstandelike gestremdheid sal meer dinge op ʼn eenvoudige manier verduidelik moet word. Vir mense met ʼn liggaamlike gestremdheid sal die lewenstempo vertraag moet word.

Vir ʼn gemeente wat mense met ʼn gestremdheid by allerlei sake betrek, geld dat ʼn aantal dinge tot ʼn elementêre vlak teruggebring word. Dit kan tot gevolg hê dat besprekings oor allerlei bysake voorkom word of in elk geval tot die minimum beperk word. Die gemeente kry die geleentheid om sake rondom geloof en die praktyk van kerkwees fundamenteel te behandel: hoekom doen ons dit soos wat ons dit doen?

Dit beteken onder andere dat by die verduideliking van dinge dikwels met kort sinnetjies en eenvoudige woorde gewerk moet word. Ook verduidelikings “in stukkies”, bietjie-bietjie, kan soms goed werk. Sommige dinge moet reëlmatig herhaal word. Soms hou dit in dat sake beter in beeldspraak verduidelik kan word. Hier word gedink aan sake rondom liturgie asook kwessies rondom samewerking met ander kerke, of bv. ʼn evangelisasieprojek. In die praktyk sal gekyk moet word in hoeverre dergelike beeldspraak/visuele ondersteuning wenslik en haalbaar is.

In die praktyk sal die aanvaarding van mense met ʼn gestremdheid dus duidelik word uit:

  1. (bereidheid tot) vereenvoudiging van vraagstukke

  2. bereidheid tot aanpassing van die lewens- en dinktempo

  3. bereidheid tot blywende konsentrasie op hoofsake

  4. bereidheid om na te dink oor moontlikhede om bepaalde vraagstukke eenvoudig en/of in beeldspraak aan te bied.

Aanwending en Benutting van Gawes🔗

Wie nadink oor die aanwending en benutting van gawes, het te doen met geskenke van God. Die aanwending en benutting van gawes, ook gawes van mense met ʼn verstandelike of ʼn liggaamlike gestremdheid, moet daartoe lei dat mense (meer) mét en vanúit die Evangelie gaan leef.

Die uiterlike van mense is nie die belangrikste nie. Ons leer om verder te kyk: na die gawes wat aanwesig is. ʼn Mens ken “niemand meer na die vlees nie” – 2 Korintiërs 5:16. In hierdie verband is dit belangrik om daaraan te dink dat ook mense met ʼn gestremdheid wat nie veel méér kan doen as lê of sit nie, ʼn gawe het én is!

Hulle leer aan hul omgewing dat hulle troue sorg nodig het. Hulle bied die geleentheid om die (Christelike) motivering waarmee dit gedoen word, goed te oordink en dit aan die mense met ʼn gestremdheid te verduidelik. Op hierdie manier dien hulle hul “sosiale omgewing”.

ʼn Gemeente wat gebruik maak van gestremde mense wat in haar midde woon, sorg dus daarvoor dat dit bekend is/word wat die sterk punte van daardie mense met ʼn gestremdheid is.

Dit is belangrik dat veral ouderlinge en diakens van hierdie gawes bewus is.

Dit is veral ʼn saak van die kerkraad om die lidmate op te roep om na mekaar om te sien, sodat elkeen tot sy reg kom. ʼn Gemeente waar elke lidmaat sy of haar bydrae kan maak tot die opbou van die huis van God. Hiervoor moet ʼn proses aan die gang gesit word waarin alle mense ʼn ander manier van benadering en denke aanleer. Vervolgens bly dit van belang om mekaar aan te spreek en uitvoering daaraan te gee om voortdurend inklusief te dink en doen.

Gemeente-opbou waarby elkeen betrokke is.