7 bladsye.

God en Ons Lyding

Sedert die verskrikkinge van die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog was daar in kerk en teologie baie belangstelling vir vrae rondom God se bestuur. As Hy die wêreld regeer, hoe gebeur hierdie verskrikkinge? Wie kan nog van 'n almagtige Vader praat ná wat in die vernietigingskampe van die Nazi's gebeur het? Die vrae wat die teoloë besig gehou het, kom vir ons na aan die lyf wanneer onsself of ons geliefdes moet ly. Strooi ons hemelse Vader kankerselle rond? Laat Hy jou kind verongeluk? Het die demensie van jou moeder verband met sy vaderhand? Ons weet van sommige mense se hewige protes teen Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus. Volgens hulle is dit onverteerbaar om van 'n vaderhand te praat by so 'n afskuwelike siekte soos kanker. Wie dit doen, hou mense vir die gek. Wanneer God iets met so'n afbreekproses te make het, lyk Hy meer na 'n wrede tiran wat dit goed vind om mense te kwel.

Die vrae en proteste wat opgeklink het, het nie by die teoloë verbygegaan nie. Karl Barth het met die gedagte gekom dat God se almag juis lê in sy vermoë om onmagtig te wees, kwesbaar en weerloos1  - 'n gedagte wat breed deur Dietrich Bonhoeffer uitgewerk is. 2

God laat Hom uit die wêreld verdring. Hy is swak en weerloos. En juis só is Hy by ons, as die God wat nie ons lyding stuur nie, maar as die God wat saam met ons ly. H. Wiersinga het dié gedagte opgeneem en gestel in 'n boek wat één felle protes teen die belydenis van Sondag 10 is.3 Die idee dat 'n albesturende God agter ons rampspoed sit, moet met wortel en tak uitgeroei word. God strooi nie kankerselle rond nie en laat nie kinders voor motors beland nie. Die evangelie verkondig nie aan ons 'n God wat agter en bo lyding staan nie, maar 'n God wat in ons lyding deel. Die voorstelling van 'n ondeurgrondelike Beskikker van leed moet vervang word met 'n beeld van die God wat saam met mense in hulle lyding is.

Ook A. Van de Beek, wat 'n groot studie geskryf het oor God en ons lyding, wend hom teen die 'klassiek gereformeerde tradisie' soos dit in Sondag 10 verwoord is.4 Hy kom met die gedagte van 'n ontwikkeling, 'n verandering in God. Waar God vóór Christus nog vreeslike dinge aan mense kon doen, het dit deur Christus se koms verander. In sy Seun het God vír die mense gekies. En die keuse bepaal wat Hy nou doen. Ná Christus kan God nog maar net met die mense omgaan op die manier van genade. Nou is Hy die God wat mee ly, mee stry en uiteindelik oorwin.

Skrif🔗

Die standpunte hierbo is vernuftig bedink, maar doen tekort aan wat die Skrif sê oor God se wêreldbestuur. Die Skrif bring ook lyding in verband met God se handelinge. Geen ramp gebeur sonder dat Hy dit bewerk nie (Amos 3:6). Hy bewerk die heil, maar dit is ook Hy wat die onheil skep (Jesaja 45:7). Die Here het sy plae oor Egipte gestuur (Eksodus 9:14). Hy het die inwoners van Kanaän voor Israel verdelg (Josua 24:8). Ook die Nuwe Testament – by name die boek Openbaring – wys op God wat rampspoed oor 'n goddelose wêreld bring. Paulus verkondig dat die toorn van God geopenbaar word oor al die ongeregtigheid van die mense (Romeine 1:18).

God se hand is nie alleen in die lyding van ongelowiges nie, maar ook in die lyding van sy kinders. Wanneer die Sabeërs, die Chaldeërs en 'n storm Job van sy kinders en besittings beroof, erken Job dat dit die Here is wat geneem het (Job 1:21). Dawid word doodsiek en bely: "U het u aangesig verberg — ek het verskrik geword" (Psalm 30:8). Die digter van Psalm 42 praat van God se "bare en golwe" wat oor hom heengaan (Psalm 42:8). En in Psalm 22:16 erken Dawid selfs: "U lê my neer in die stof van die dood". Paulus het dit oor 'n "doring in die vlees", maar sê terselfdertyd dat dit (deur God) aan hom gegee is (2 Korinthiërs 12:7). Ook agter wat Jakobus 1 en 1 Petrus 1 oor beproewing sê, skuil die gedagte dat dit God is wat hierdie leed oor sy kinders bring.

Die Skrif verkondig aan ons dat die wonde deur die sonde gekom het. Die dood met al sy voorbodes van siekte, aftakeling en pyn het in God se goeie skepping verskyn omdat "almal gesondig het". Daarom het die dood ook "tot alle mense deurgedring" (Romeine 5:12). Dood en lyding word deur Paulus gesien as 'n oordeel van God. Die Here het wel deeglik daarmee te doen. Ons hoor dit duidelik wanneer die apostel daarop wys dat "die skepping ... aan die nietigheid onderworpe (is), nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het" (Romeine 8:20). Agter die gebrokenheid staan God se wil. Ons word herinner aan die voltrekking van die vloek na Adam se val in die sonde (vgl. Genesis 13:17e.v.).

Nie slegs die lyding wat oor die hele mensdom gekom het, het met God te doen nie, die Here straf ook sy eie volk met leed wanneer hulle van sy weë afdwaal. Moses hou aan Israel die rampe voor wat van Godsweë gaan kom (Deuteronomium 28:15e.v.). Die profete waarsku oor die verderf wat 'n onbekeerlike volk sal tref. Ons hoor in Klaagliedere 2:20 hoe die Here verwoesting oor Sion gebring het. Die Skrif laat ons sien dat die Here soms ook siekte in die lewe van sy kinders bring vanweë heel persoonlike sonde. Miriam het melaats geword omdat sy haar plek vergeet het (Numeri 12:10). Net so Gehasi, omdat hy geskenke aangeneem het (2 Konings 5:27). Dawid het dodelik siek geword omdat hy sy sonde nie wou erken nie (Psalm 32:3,4). Die man in Betésda was jare lank siek vanweë 'n sonde (Johannes 5:14). 'n Man in Kapérnaüm was verlam en ook dit het te make gehad met 'n persoonlike sonde (Matteus 9:2).

Satan se Werk🔗

Dit is opvallend dat leed met name in die Nuwe Testament soms heel direk met die Satan in verband gebring word. Dit geld baie sterk vir die lyding van besetenes. Iemand kan in die greep van één bose gees wees (Markus 1:23), maar ook die slagoffer wees van vele bose geeste (Lukas 8:30). Ons hoor ook van die werk van Satan by meer 'normale' siektegevalle. Daar was die vrou wat " 'n gees van krankheid" gehad het en deur die Satan agtien jaar so "gebonde" was (Lukas 13:11,16). Ons lees van 'n "stom en dowe gees" (Markus 9:25), van 'n besetene wat "blind en stom" was (Matteus 17:15, 18). Ons vandag verloor merendeels die verband tussen Satan en siekte uit die oog, maar die Nuwe Testament is duidelik daaroor. Ons ontdek dit ook wanneer Petrus die werk van die Here Jesus saamvat: "Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was" (Handelinge 10:38), wanneer Paulus sy lyding beskryf as " ʼn engel van die Satan, om my met die vuis te slaan” (2 Korinthiërs 12:7) en wanneer die apostel 'n sondaar in die gemeente van Korinte aan die Satan oorlewer "tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus" (1 Korinthiërs 5:5). Die man word aan die vernietigende mag van die Satan uitgelewer sodat hy, al lydend, tot bekering kom.

Wie uit hierdie Skrifgedeeltes die afleiding maak dat nie God nie, maar Satan al die leed bewerk wat 'n mens kan tref, is kortsigtig. Die Skrif sien onmiskenbaar op vele plekke God se hand in die lyding. 'n Hand wat straf, 'n hand wat die sonde wil blootlê, 'n hand wat beproef. Daarby kan die Here die Satan gebruik en hom toelaat om sy vernietigingswerk te doen. So is Saul verskrik deur 'n bose gees "deur die Here gestuur" (1 Samuel 16:14) en Paulus deur 'n engel van die Satan wat deur God aan hom "gegee" is (2 Korinthiërs 12:7). Daarby moet ons nie vergeet nie hoedat die Here Job se volharding laat blyk het deur al die leed wat Satan oor dié vroom man gebring het (Job 1:8, 12).

Daar is sekerlik baie leed waarin die Satan 'n hand het. Hy is immers die mensemoordenaar van die begin af (Johannes 8:44) en aan dié aard bly hy getrou. Maar al die verwoesting wat hy in menselewens aanrig, gaan nie buite God om nie. Steeds weer klink die woordjie "gegee" in die Nuwe Testament (2 Korinthiërs 12:7; Openbaring 13:5; 13:14; 17:17). God het die Satan aan sy ketting en gee hom net soveel ruimte as wat Hy wil. Ten spyte van al die moderne teoloë verbind die Skrif die donker kant van die lewe weldeeglik met die Here God. Uiteindelik is dit Hy wat verwoesting op die aarde aanrig (Psalm 46:9; Miga 6:13), ook al het die duiwel sy aandeel daarin5: verwoesting om te straf, om tot inkeer te bring en om te beproef.

Sondag 10🔗

Hoeseer alle dinge deur God regeer word, bely die kerk in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus. Zacharias Ursinus, wat 'n toonaangewende aandeel in die opstel van dié leerboek gehad het6, noem die leerstuk van die voorsienigheid van God 'die fondament van die hele godsdiens'. Dit is dan geen wonder dat 'n hele sondagsafdeling daaraan gewy is. Daar word wel gepraat oor God se kosmiese werk, maar sowel Sondag 9 as Sondag 10 het as hoogtepunt die belydenis van God se sorg jeens die gelowiges. Die God wie se onderhouding en regering bely word, is die Vader van ons Here Jesus Christus en as sodanig ook ons Vader.

Die voorsienigheid kom nie hier ter sprake as iets wat Christene saam met ander mense glo nie, maar in onlosmaaklike verband met ons Verlosser. Dit gaan om die werk van Hom wat ons in Christus as onse getroue God en Vader mag ken. Die voorsienigheid van God kan nie los van die Christologie bely word nie! Juis so kry Sondag 10 'n geweldig nadruklike gevoelskrag en betekenis. Want nie alleen mooi en heuglike dinge kom van hierdie Vader van ons Here Jesus na ons nie, maar ook die donkere en die groot verdriet!

Moderne teoloë wil nie die God en Vader van ons Here Jesus Christus in die laasgenoemde sien nie. Maar Sondag 10 bely dat Hy werklik in alles aanwesig en besig is. Die Kategismus sê nie soseer dat God oral is nie, maar dat Hy teenwoordig is. Die oorspronklike Duitse teks het dit dan ook oor "die almächtige und gegenwärtige krafft Gottes". Dit gaan oor sy direkte teenwoordigheid. Die "asof met Sy hand" het die betekenis van 'eiehandig, sonder iemand se tussenkoms'. Wat in ons lewe gebeur word 'met die hand bestuur'. In vreugde en leed het ons met God se vaderhand te doen!

Daarom wys ons leerboek ook alle toeval af. "Nie per toeval nie", die ouer Duitse teks het dit so mooi "nicht ohne gefähr"7: nie sommerso. K. Schilder teken hierby aan: "Daar word in antwoord 27 gesê: moet nooit dink dat blare en gras, reën en droogte en wat verder volg, ons 'ohne gefaehr', sonder opset, sonder stuur, stuurloos toekom nie. Die Hand hou die leisels vas; en dit is die vaderlike hand.8

Hoeseer die dinge in ons lewe volgens die Heidelberger 'gestuur' word, blyk sterk wanneer hy in Sondag 9 God se voorsienige bestel verbind met sy "ewige raad". Ursinus gryp hier terug (in die spoor van die reformatoriese teoloog Petrus Vermigli) na Efesiërs 1:11, 'n Skrifgedeelte wat merendeels met die uitverkiesing in verband gebring word.9

Christus se Wil🔗

Die Nuwe Testament praat eintlik maar min oor dié leed wat in Sondag 10 genoem word.10 Daar is meer aandag aan die lyde wat daar in die diens van Christus is. Dit gaan dan oor die lyding "om My ontwil" (Matteus 5:11), "ter wille van My naam" (Matteus 10:22), "ter wille van die evangelie" (Mark. 10:29,30), "ter wille van die koninkryk van God" (Lukas 18:29), "ter wille van die Woord van God" (Openbaring 6:9), "ter wille van Christus" (Filippense 1:29). Dié lyde word getipeer as die "opneem" of "dra" van "sy kruis" (Matteus 10:38; 16:24) en beteken "homself verloën" (Matteus 16:24) en "sy lewe verloor" (Matteus 16:25). Wat die Heer oorgekom het, tref ook sy dienaars (Johannes 15:20; vgl. Markus 10:39).

Dit geld allereers vir die leerlinge van Jesus, so blyk dit uit die konteks. Maar dit is nie tot hulle beperk nie. Die gelowiges is vir hierdie lyde "bestem" (1 Tessalonisense 3:3). " ... almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word" (2 Timoteus 3:12). Paulus en Barnabas wys daarop dat hulle " ... deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God (moes) ingaan" (Handelinge 14:22). En die oproep klink, "Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra" (Hebreërs 13:13).

Die leed wat Christene teëkom in die navolging van hulle Heer word genoem "saam met Hom ly" (Romeine 8:17) en "die gemeenskap aan sy lyde" (Filippense 3:10). Ons kry die indruk dat "die lyde van Christus" 'n vaste term in die Nuwe Testament is om die leed wat Christene vanweë hulle geloof tref, aan te dui (vgl. 2 Korintiërs 1:5; 1 Petrus 4:13; 5:1). Dit word ook genoem "die doding van die Here Jesus" (2 Korintiërs 4:10); "die littekens van die Here Jesus" dra (Galasiërs 6:17); en "die verdrukking van Christus" (Kolossense 1:24).

Al hierdie tiperinge dui daarop dat die dienaars deel in die leed wat hulle Heer aangedoen is. Hierin is hulle "nie meer" as hulle Heer nie (Matteus 10:24; Johannes 15:20). Die verbondenheid met Christus impliseer die deel aan sy lyde. Die één volg uit die ander. Maar hierdie tiperinge spreek ook daarvan dat wat die dienaars aangedoen word, ook die Heer aangedoen word.

Die gemeente is immers sy liggaam (1 Korintiërs 12:27). Paulus dui die gemeente selfs met die naam "Christus" aan (1 Korintiërs 12:12), so sterk is die verbondenheid tussen Christus en sy volk.

Hoeseer die Heer self geraak word deur wat sy dienaars aangedoen word, hoor ons in Lukas 10:16: "wie julle verwerp, verwerp My", en in Handelinge 9:4: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?" Ons hoor dit ook in die gebed van die gemeente in Jerusalem wat die aggressie teen die apostels tipeer as "vergader teen u heilige Kind Jesus" (Handelinge 4:27).

Kolossense 1:24 is in die verband 'n moeilike teks. Paulus skryf: "Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is".

Sommige neem "van Christus" hier op as "van Christusweë". Paulus vul dan (plaasvervangend) vir die gemeente aan wat nog ontbreek aan die maat van verdrukkinge wat (deur Christus) vir haar bepaal is.11 Ek sluit liewer aan by Herman Ridderbos: soos wat die prediking van Christus deur die apostels voortgesit word, net so het daar aan die daarmee gepaardgaande lyding nog nie 'n einde gekom nie. Die verdrukking van Christus word voortgesit in dit wat die apostel ondervind. Daaraan ontbreek wat Christus se dienaars nog moet ly.12 En dit alles is die gemeente ten goede. Dit dien die evangelieprediking en is terselfdertyd 'n toonbeeld van die krag van Christus (vgl. 2 Korintiërs 13:4,5). Ook in sy lyding is Paulus dienaar van die gemeente! Dit onderstreep dat die lyding van die apostels 'n afsonderlike heilshistoriese plek inneem en nie sonder meer gelyk gestel kan word met die lyding van Christene ter wille van die Naam nie.

Die Waarom🔗

Die opskrif van hierdie hoofstuk dui aan dat ek myself beperking veroorloof. Ek laat die vrae wat die verskrikkinge van die twintigste eeu oproep links lê, hoe dringend hulle ook is.13 Ek hou nader aan huis en haard: dit gaan hier oor God en ons lyding. Dit is reeds 'n handvol.

Wanneer ons met Sondag 10 bely dat alle dinge nie 'ohne gefaer', nie sonder leiding nie, maar uit God se vaderhand ons deel word, ontstaan die vraag na die 'waarom'. Wat is die rede dat ons hemelse Vader ook leed in ons lewens bring? Dit is bevrydend om te weet dat die Skrif alle ruimte laat vir hierdie waarom vraag. Ons hoor dit veral in die Psalms: "O HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?" (10:1); "My God, my God, waarom het U my verlaat ..." (22:2); "... waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?" (42:10).

Die Skrif onthul waarom die Here sy kinders laat ly. Hy kan swaarkry in ons lewe bring om vir ons ons sonde te ontdek. Moses (Eksodus 4:24) en Dawid (Psalm 32:3,4) het dit ondervind. Hy kan dit ook doen om sonde te bestraf. Ons kan hier dink aan die leed wat oor Israel gekom het na die volkstelling (2 Samuel 14:15) en oor die gemeente van Korinte omdat die maaltyd van die Here onteer is (1 Korintiërs 11:30). Die leed van die man in Betésda en van die man in Kapérnaüm het saamgehang met 'n persoonlike sonde.

Lyde kom in die Skrif ook na vore as middel in God se hand om sy kinders te beproef (Jakobus 1:2,3; 1 Petrus 1:6,7). Die Here toets ons nie alleen om te sien wat in ons harte leef nie (Genesis 22:1-17), maar Hy wil ons ook verder neem in die lewe met Hom (Hebreërs 12:10). Juis in donker dale leer ons wat gebed is en wat dit is om met God se beloftes te lewe. Die Here Jesus het geleer van die Landbouer wat die lote snoei sodat hulle meer vrug kan dra (Johannes 15:2). Paulus wys aan dat God só aan ons volharding werk (Romeine 5:3), en Petrus sê dat die egtheid, die duidelike kwaliteit van ons geloof aan die lig gebring word (1 Petrus 1:7). In die beproewing is daar iets toetsend en terselfdertyd ook iets pedagogies!

In die vierde plek is lyde soms bedoel om ons te verootmoedig (Psalm 30:7,8). Die Here het sy volk in die woestyn laat honger ly en hulle so verootmoedig (Deuteronomium 8:3). Paulus het onder 'n engel van Satan gely sodat hy homself nie sou verhef nie (2 Korintiërs 12:7). Die Here maak ons soms swak en kwesbaar om ons te laat besef hoe afhanklik ons van Hom is.

Leed kan ons ook tref omdat die Here so sy Naam wil verheerlik. Die lyde van Job is opgeneem in 'n stryd tussen God en Satan, waarby die eer van God in geding is. Iemand was van geboorte af blind "want die werke van God moet in hom openbaar word" (Johannes 9:3). Juis op 'n pad vol lyde kan sigbaar word "wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo" (Efesiërs 1:19).

Lyde het in die Skrif ook die doel om ons geskik te maak om ander te troos. Paulus praat daarvan wanneer hy skryf "sodat ons dié wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word" (2 Korintiërs 1:4). Wie self wonde het kan beter die wonde van 'n ander begryp. Wat die Here ons as troos gee, gaan ons met ander deel. Wie lyding ondervind, kry daarmee 'n pastorale taak!

Ten slotte dra leed ook by tot die voortgang van die evangelie (Handelinge 5:41; 8:4). Paulus se gevangeskap strek tot bevordering van die evangelie (Filippense 1:12). Dit gaan by leed veral om lyding ter wille van Christus.

Ons Houding🔗

Die Skrif sê dus wel die een en ander oor die "waarom". Dit laat ons ook toe om met die vraag na die "waarom" te worstel. Die vertroulike omgang met die Here impliseer dat ons met ons hemelse Vader mag praat oor sy beleid. Baie Psalms getuig daarvan. Dink ook aan die worsteling van Job en dié van Jeremia (Jeremia 15:18).

In die gesprek mag selfbeproewing nie ontbreek nie. Die Here kan ons met leed teëkom omdat daar dinge in ons lewe is wat nie deug nie. Hy kan ons ook ons hoogmoed en gemaksug laat besef. Ons is kortsigtig as ons selfbeproewing vergeet, want dit kan wees dat die Here ons tot orde wil roep en op 'n besondere manier tot ons wil spreek. Maar ons is eweneens kortsigtig as ons teëspoed sonder meer wil verbind aan 'n persoonlike sonde. Toe die leerlinge dit gedoen het, het die Here Jesus hulle tereggehelp (vgl. Johannes 9:2,3). Daar is die leed by God se kinders wat nie verklaar kan word met moedswillige afdwaal van sy weg nie. Ook daaroor hoor ons die klagte in die Psalms.

In die algemeen moet ons dan nog sê dat die Here, deur leed oor ons te bring, ons in sy leerskool sit om ons meer vrug te laat dra. Hebreërs 12:10,11 praat van die vrug wat verkry word langs die weg van God se vaderlike opvoeding. Eers in die donker dale leer ons wat dit is om op Hom te vertrou, biddend te soek en te klop.

Daarby is dit heel bevrydend dat ons ons nood, ons vrae, ons stryd voor die Here mag bring. Ons mag waarlik ons hart voor Hom "uitstort" (Psalm 62:9). Ons sien hoedat die Psalmdigters dit doen. Die Here vra nie dat ons dadelik sy weë sal verstaan nie. Daar ís ruimte vir kla en vra (vgl. Psalm 22; 42; 88). Die oorgawe aan sy werke is 'n geskenk wat langs die weg van veel gebed en stryd ontvang word. Ook dit ontdek ons in die Psalms. Selfs ons Heiland het biddend die krag gevind om na die kruis te gaan (Matteus 26:36-46). Hy kon één met die wil van sy Vader wees omdat sy lewe gekenmerk was deur "gebede en smekinge met sterk geroep en trane" (Hebreërs 5:7). Paulus praat van die "vrede van God" wat ons hart en sinne bewaar as 'n geskenk op ons gebede en smekinge (Filippense 4:7).

Voordat die Kategismus oor God se voorsienigheid handel, bely dit eers in Sondag 9 dat die Almagtige om Christus ontwil ons God en ons Vader is.  Ons moet by al ons vrae oor God se pad met ons altyd weer begin by die evangelie. Inderdaad kan ons hier nie sonder die Christologie nie. Wie verbygaan by wat God in Christus vir ons wil, vind geen uitweg nie.14 Ons moet met ons vrae terug na die blye boodskap dat "God vír ons is" (Romeine 8:31) en dat niks ons kan skei van die liefde van God "wat daar in Christus Jesus onse Here is nie" (Romeine 8:39). Hy het in Christus ons sy liefde laat sien. Sy vaderhart spreek in dit wat die evangelie aan ons verkondig. En die liefde beheers sy doen teenoor ons! Die lyding wat Hy aan ons toedeel, is in dié liefde opgeneem en word deur dié liefde bestuur. Dit kan baie donker wees as ons deur 'n diep dal moet gaan, maar daar is een plek waar die lig helder skyn. Dit is die plek van die kruis van ons Heiland waar ons ons Vader se liefde vir ons sien skitter: Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar vir ons almal oorgegee! Wie in geloof na dié plek kyk, "weet" saam met Paulus dat alle dinge, ook die bitterste, ons ten goede meewerk (Romeine 8:28). Hy leer die hand van die Vader sien in die lyding wat hom tref. Hy kom tot die besef dat die Vader nie kankerselle rondstrooi nie, maar vir ons beskik, soos Sondag 9 bely. Beskik in sy liefdevolle leiding, soos 'n moeder vol liefde die ete vir haar kleuter op sy bordjie rangskik. Wanneer Hy sou 'rondstrooi', sou Hy inderdaad 'n wrede tiran wees. Maar Hy "beskik", terwyl ons weet dat Hy "nie van harte verdruk of bedroef nie" (Klaagliedere 3:33).

Sondag 10 sê dat die wete dat 'n liefdevolle Vader met ons besig is, ons in teëspoed geduldig maak. Die woordjie 'geduldig' het in ons tyd nogal 'n passiewe kleur. Jy duld wat jou oorkom. By voorkeur behoort die woord 'volhardend' hier gebruik te word, want die Nuwe Testament wys ons steeds weer op volharding as ons houding in lyding. 15

Jakobus skryf oor die volharding 16 van Job (Jakobus 5:11) en spreek salig wie in beproewing volhard (Jakobus 1:12) 17. Paulus vermaan ons: "wees geduldig in die verdrukking" (Romeine 12:12). Ook sê die Skrif dat die Here verdrukking in ons lewe bring juis om volharding te bewerk (Rom. 5:3; Jak. 1:3). Die Griekse woorde hupomenè (volharding) en hupomenein (volhard) het 'n aktiewe kleur. Hulle praat van werk en dra (in die geloof) wat God gedra het. Dit gaan nie maar net oor stil berus in God's beleid nie (vgl. Gesang 5:4), maar om 'n gelowige dra wat die Here vir ons beskik.

Dié geduld, hierdie volharding is iets wat Hy vir ons gee. Hy word nie verniet "die God van lydsaamheid en bemoediging" (Romeine 15:5) genoem nie. Dit is Hy wat ons "met alle krag bekragtig" (Kolossense 1:11) tot volharding en geduld, juis as ons dit moeilik het.

Wat ons in die Skrif vind oor God se leerskool kan ons help om met volharding op sy pad te gaan. Dit beteken nie dat al ons vrae daarmee beantwoord is nie. Job het ook nie antwoord gekry op sy 'waarom' nie. Wel het die Here Job afgeleer om Hom tot verantwoording te roep.

Ons hoef Gods weë nie te begryp om gelowig daarop te gaan nie. Dit kom daarop aan om die Vader te vertrou, te glo dat die pad tog vir ons goed is, al sien ons dit glad nie raak nie. Paulus skryf nie dat ons 'sien' dat alles ons ten goede meewerk nie, maar hy skryf dat ons dit "weet" (Romeine 8:28). Dit is die wete van die geloof, die geloof wat die hart van die Vader ken, ook wanneer dit hand van die Vader nie begryp nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. G.C. Berkouwer, De triomf der genade in de theologie van Karl Barth, Kampen 1954, p. 118-124; p. 294-308.
  2. ^ Vgl. D. Bonhoeffer, Verzet en overgave, Amsterdam 1956, p. 137e.v.
  3. ^ H. Wiersinga, Verzoening met het lijden?, (Baarn 1984), p.22,47. 
  4. ^  A. van de Beek, Waarom? Over lijden, schuld en God, Nijkerk (1984), p. 277,285. 
  5. ^ God stuur ook engele om te verderf, vgl. 2 Samuel 24:16; Handelinge 12:23; Openbaring 8 en 9. Dit gaan myns insiens te ver om te stel dat leed van God se kinders op rekening van Satan kom en dat hy 'n tiran is waaronder die regverdiges ly. C. Blenk noem dit 'n "bevrydende ontdekking": God doen nie so iets nie! (Een open monument. Preekschetsen over de Heidelbergse Kategismus, Amsterdam 1993, p. 56e.v.). Maar al sou dit so wees, bly die beswaar dat God aan Satan die ruimte daarvoor gee. Wie dit deurdink, ervaar minder "bevryding" as wat Blenk voorgee. Paulus word deur 'n engel van Satan geslaan, maar God se hand is daarby: "is ... my gegee". Myns insiens bly die aandeel van die duiwel in die leed vir ons 'n verborgenheid.
  6. ^ G. den Hartogh, Voorzienigheid in donker licht. Herkomst en gebruik van het begrip 'Providentia dei' in de reformatorische theologie, in het bijzonder bij Zacharias Ursinus, (Heerenveen 1999), p. 47 kom tot die gevolgtrekking dat ons kan aanneem dat Ursinus 'met sy kategetiese geskrifte 'n toonaangewende aandeel by die opstelling' gehad het.
  7. ^  Meer moderne Duits: 'nicht ungefähr' = nie ongeveer nie – vertaler.
  8. ^ K. Schilder, Heidelbergsche Katechismus IV, Goes 1952, p. 267.
  9. ^ Vgl. G. den Hartog, a.w., p. 238.
  10. ^ C.H. Landijer, Het lijden in het Nieuwe Testament, Amsterdam 1956.
  11. ^ So byvoorbeeld G. de Ru, Heeft het lyding van Christus aanvulling nodig?, Amsterdam 1981, p. 86,95. 
  12. ^ Herman Ridderbos, Aan de Kolossenzen, Kampen 1960, p. 156. 
  13. ^ Ek verwys hier graag na wat C. Trimp, Klank en weerklank. Door prediking tot geloofsgenesing, Barneveld (1989), p. 101e.v. daaroor skryf. Ten aansien van al die verskrikkinge geld wat hy oor die uitwissing van die Jode sê. Oor Auschwitz kan baie gedink, gepraat en gekla word. Dit lyk onmoontlik dat die mens in staat is om sy medemens so dierlik te behandel. Maar wie by Auschwitz begin, begin te laat. Hy moet by Getsémane en Golgota begin (p. 102). Wanneer die mens aan God vrae stel oor die oorsprong van die ellende in die wêreld sal God se antwoord vanaf Golgota hom toegeroep word. (p. 103).  H. G. L. Peels wys tereg daarop dat die tema van geweld 'diepgaande studie' in teologie en Bybelwetenskap eis en dat die prediking daaroor uit die Skrif behoort te spreek ('Reflexen', in: Theologia Reformata, jg. 47, p. 401e.v.).
  14. ^ G.C. Berkouwer, De voorzienigheid Gods, Kampen 1950, p. 52 wys op die eenheid van versoening en voorsienigheid, waarvan ons doopsformulier treffend getuig. 
  15. ^ Jakobus 5:7,8,10 praat van geduld in lyding, maar dit het meer te make met die manier waarop ons ons in ons leed teenoor ander gedra, vgl. Vers 9: "Moenie teenoor mekaar sug nie". 'Geduld' en 'volharding' is wel in betekenis na aan mekaar, vgl. Vers 11 wat verwys na die "lydsaamheid" van Job. Vgl. Ook Kolossense 1:11 waar  "lydsaamheid" (volharding) en "lankmoedigheid" (geduld) in een asem genoem word.
  16. ^ "lydsaamheid " in die Afrikaanse 1933/53 vertaling.
  17. ^ "versoeking verdra" in die Afrikaanse 1933/53 vertaling.