Bron: Wegwijs. 7 bladsye.

God is Groter

Vandag wil ek graag u aandag vra vir die tema ‘God is groter’. Dit gaan dus nie oor ʼn onderwerp, een van die miljoene onderwerpe in die skepping nie. Dit gaan oor ʼn persoon. Dan ook nie oor een van vele persone nie, maar oor die Een self, die Almagtige. Daarom versoek ek u om ʼn oomblik stil te raak voor Sy aangesig.

1. Wat ʼn Ontoeganklike Lig Bewoon🔗

Op Soek na God se Beeld🔗

Tydens ons Bybelstudiebyeenkomste praat ons baie oor God die HERE. Nie altyd direk nie. Partykeer gaan dit sommer oor afgeleide en alledaagse onderwerpe. Maar ons vra wél altyd wat Hy daarvan sê. Uiteindelik soek ons nie iets, ons soek ook nie antwoorde nie, maar ons soek Hom. Vir hierdie doel bestudeer ons immers die Bybel, wat sy dade beskryf en sy stem laat hoor. Daarom omring ons ons Bybelstudie met gebed.

Wanneer ons so besig is vorm ons vir onsself ook altyd ʼn bepaalde beeld van God. Ook al besef ons dat ons voorstellings nie korrek is nie, kan ons tog nie die opwelling daarvan keer wanneer ons bid nie. Ons spraak word ook dikwels onbewustelik beheers deur so ’n ingebeelde beeld van God. Ons dink ons weet en sê dan: ‘Vir God is kerkkeuse regtig nie so belangrik nie’ of ‘Ek kan my nie voorstel dat God mense sal verwerp nie.’

Die voorstelling wat ons van God het, dikwels onopsetlik, gee aan baie van ons diskussies ʼn groot sekerheid en oortuiging. Vir ons is twyfel en onsekerheid by ʼn Bybelstudiegroep net nie aanvaarbaar nie. Ons strewe na ʼn oplossing, ʼn algemeen aanvaarde standpunt. Ons voel verplig om te kies wat pas by ons beeld van God.

Beelde is Verbode!🔗

Hoe geregverdig is dit eintlik om ʼn beeld van God te hê wat ons denke en besprekings gaan oorheers? In die Tien Gebooie vind ons ʼn gebod wat dit uitdruklik verbied om ʼn beeld van God te maak: ‘Jy mag vir jou geen beeld of gelykenis maak nie…’  Dit verbied ons om te leef met béélde van Hom. Dit was een van die mees kenmerkende eienskappe van die godsdiens van Jahwe, naamlik, dat daar geen beelde van Hom mog wees nie.

In die Ou Midde-Ooste van so 3000 jaar gelede was dit baie ongewoon en rewolusionêr, dit was ongehoord. Deur die woestyn het daar ʼn volk getrek met ʼn leë tabernakel. Wie het dit ooit beleef en ooit daarvan gehoor? Uit buitebybelse bronne weet ons hoe die mense in daardie eeue hulle hieroor verbaas het.

Al die godshuise was mos daar ter wille van die beeld. Vir daardie rede het mense juis ‘n tempel gebou: om ‘n beeld daarin te plaas en om dan sodoende jou god naby jou te hê. Oorsigtelik en beheerbaar! Maar daardie volkie Israel het ‘n tabernakel, ‘n tempel, met niks daarin nie. Wel ‘n paar meubelstukke, maar nie ‘n beeld nie. Dit het soos ‘n onbewoonde huis gelyk. Was hul God dan nie as gevolg hiervan eindeloos ver weg nie?

Net ‘n Stem!🔗

Hoekom dan so? Wat wou God met hierdie nuwigheid bereik? In Deuteronomium 4 het Moses dit baie breedvoerig vir ons verduidelik. Die HERE het sy volk op hierdie manier daaraan herinner hoe hulle by Sinaï gestaan het. Hy was naby hulle. Hulle het sy stem gehoor. Hulle het sy Tien Woorde ontvang, maar hulle het geen gestalte gesien nie.

Dis ʼn herinnering aan hoe dit alles begin het. Daar was die indringende Stem en die kragtige dade: watter god het al ooit ʼn volk met tien sulke plae uitgelei en dwarsdeur die water na vryheid gelei? Daar was egter nie ʼn sigbare gestalte nie. Nie in Egipte nie en ook nie by Sinaï nie. Israel moes daarom naby aan God bly deur te luister en gehoorsaam te wees: die uitbeitel van ʼn beeld hoort nie daarby nie.

Die Heerlike Gestalte🔗

Is dit dalk omdat God abstrak sou wees? Net iets wat jy jou kan indink, maar nie iets wat ʼn gestalte het, wat jy jou kan voorstel nie? ʼn Mens kan mos ʼn voorstelling maak van enige iets wat bestaan? Hoekom dan ook nie van God nie: is Hy te yl vir ʼn beeld? Soos lug wat nie ʼn vorm het nie?

Vandag leef hierdie godsbeeld by baie moderne mense, ook Christene. Vir hulle is ʼn gebed byvoorbeeld ook nie meer ʼn gesprek in ʼn spesifieke rigting en met ʼn spesifieke Persoon nie. Bid is vir hulle ʼn houding, ʼn vorm wat jy aanneem om so die “ongevormde Aanwesige” uit te druk.  Die Bybel leer ons egter nie van ʼn yl, ongevormde God, ʼn newel wat ongrypbaar is nie. Inteendeel. In Deuteronomium staan nie dat God nie ʼn gestalte het nie, maar dat niemand dit gesien het nie.

Natuurlik is daar ʼn gestalte van God en natuurlik bestaan sy beeld.

  • In die begin het God die mens na sy beeld geskape. Hoe sou dit ooit iets kon beteken as God nie self ʼn gestalte het nie?

  • Dieselfde Moses wat die volk geleer het om nie ʼn beeld te maak nie, mog sélf iets van die HERE sien. Weliswaar het die HERE by daardie geleentheid Moses se gesig bedek, maar tog mog hy van agter af iets van God se glorievolle gestalte gesien het.

  • En alhoewel God alles sien en sy oë oor die hele aarde gaan, kan daar tog gepraat word van spesifieke engele wat onderskei kan word van ander, wat direk voor Hom staan en sy aangesig kan sien.

God is oral, maar nie as leë lug nie. Hy het beslis ʼn adres en ʼn woonplek. Die hemel is sy troon en die aarde die voetbank van sy voete. Hy is nie orals en nêrens nie!

Onse God bewoon ʼn ontoeganklike lig. Daarom is dit so dat geen mens Hom al gesien het nie en daarom kán ook niemand Hom sien nie. Hy, die Ewige, is vir ons die Onvoorstelbare. Hy is soveel hoër as al ons gedagtes en daarom is al wat ons werklik kan doen, om Hom te aanbid!

Die Aanbiddelike🔗

So gebied die tweede gebod ons ook om te búíg voor die Almagtige. In die moderne Christendom is daar dalk nog plek vir meditasie en gebedsoomblikke van stilte, maar om te buig bestaan nie meer nie. Mens buig of kniel vir ʼn spesifieke gestalte en in ʼn bepaalde rigting. Vir lug kan jy nie buig nie, maar wel voor die HERE. Hy beveel dit selfs. Maar nou mag ons by daardie buiging geen beelde maak om ons te help of om ons aandag op te fokus nie.  Die tweede gebod is ʼn leë nis: die mens mag niks daarin plaas nie. Hy of sy mag nie voor beelde buig nie, maar slegs voor God self. Buig voor Hom wat jaloers is en geen mensgemaakte beeld voor sy aangesig kan verdra nie.

As ons ons neerbuig voor hierdie Almagtige en Jaloerse God, word leë hande vereis. Voor jy jou Bybelstudie-aand begin, mag jy jou hande met die palm boontoe op die tafel neerlê ... voordat jy hulle toevou. Dit herinner jou daaraan: dis leë hande wat ons saamvou om te bid. Onthou dit, dis ʼn goeie begin vir jou Bybelstudie-aand!

2. Altyd Groter!🔗

Die Skepping se Tekort🔗

Wanneer ons rondom ons kyk, lyk dit asof die skepping en die geskiedenis vir ons genoeg materiaal kan oplewer om tog ʼn spesifieke beeld van God die HERE te kan vorm. Sy eie maaksel is tog ʼn spieëlbeeld van Homself? Ons ken mos ook ʼn skilder uit sy skilderye?

Tog verbied God hierdie metode, want al is die materiale wel wettig, is dit tog nie toereikend genoeg nie. Ons ateljee is vol van ʼn oneindige hoeveelheid kenmerke: die hemel met sterre en voëls, die aarde met plante en diere, die waters met visse van allerhande soorte. Wie het al ooit so baie kleure op sy palet gehad en soveel vorms tot sy beskikking soos die mens self, wat nie op die doodse planeet Mars nie, maar op ʼn kleurvolle aarde mag woon? Ons kry nie klaar geskilder nie en aan geen beeldhouer se inspirasies kom ʼn einde nie. Die museums raak net al hoe voller. Tog blyk al ons materiale ontoereikend te wees – God is altyd hoër.

ʼn Wêreld Gesien deur Mat Glas🔗

Die skepping verwys wel na Hom. ʼn Orkaan is die eggo van Sy stem. Die son is die nagloed van Sy warmte. In die perd se krag sien ons ʼn vonkie van God se krag. In die skoonheid van ʼn mens is daar herinneringe aan God se skoonheid. Maar Hyself is altyd hoër.

So het God dit vir Job gewys. Hy praat met hom oor donderweer en drake. Dit is spore van sy werk, maar Job leer dat die Almagtige hoër is. Elia het dit ook opgemerk: die storm by Sinaï herinner aan God ... en tog is Hy nie in die storm nie.

Die Gesnede Wêreldbeeld🔗

Deur middel van wetenskap en tegnologie is die mens vandag besig om ʼn wêreldbeeld uit te beitel. Hy beitel ‘n beeld met ‘n voetstuk (evolusie) en ʼn uitstraling (vooruitgang). Dit word miskien nie God genoem nie, maar in feite word hierdie wêreldbeeld tog hul afgod. Verder as hierdie wêreldbeeld hoef ons nie te soek nie. ‘n Hoër god is daar nie.

Maar God self wil juis hê dat ons verby al ons beelde moet uitkyk in die onsigbare. Dit beteken dat ons verby al die geskape dinge moet kyk en in Hom glo. Daar ís Iemand verby die atome. Daar ís Iemand agter die swart gate in die heelal. Daar is Iemand se hand in die aardlae. Jy kan Hom nie vind met jou mikroskoop of satelliet nie. Jy vind slegs alles wat in die hemel en wat op die aarde en wat in die waters onder die aarde is. En dit blyk oneindig baie te wees. Jy neem foto’s daarvan en teken grafieke, jy skryf boeke vol daarvan en dokumentêre reekse vir die TV. ʼn Ongelooflik wonderlike prenteboek propvol skitterende beelde. Ons wêreld!

Maar God wil nie hê dat ons ons daarteen vaskyk, dat híérdie ons fokuspunt word, dat dít is waarvoor ons leef en dat ons ons voor hierdie beeld begin neerbuig nie. Nie buig vir wat ons op die televisieskerm sien nie. Ons moet juis ophou buig vir al hierdie dinge wat sogenaamd die wonderlikste dinge nog ooit sou wees, terwyl dit alles bestaan uit lug en vuur en grond en water.

God verbied die mens om ʼn beeld op die aarde van Hom te maak, want Hy is hoër.

Hoër as die Bergtoppe 🔗

Dit is nou juis een van die belangrikste dinge wat ons as moderne mense moet vashou. God styg bo ons uit – Hy is hoër. Hy styg ook uit bo die beeld wat ek moontlik kan maak vanuit die geskapene, my gesigsveld en denke. Ek moet my neerbuig voor ʼn Almagtige, wat ek nie kan sien en ook nie kan vind en ook nie vir myself kan voorstel nie. Ek moet buig omdat ek Sy stem hoor. ʼn Geluid wat my laat opkyk en laat besef dat daar nog ʼn hoër wêreld is, ʼn wêreld agter my mure.

So moet ons leer om die lug, aarde en water te gebruik om stil te word. Asemloos kyk ek wanneer riviere hul oewers oorstroom en te sterk is vir miljoene mense wat swygend toekyk. God is groter as die Yangsterivier! Hy is sterker as die tornado’s!

Hoe hoog jy ook al kan opkyk na die diepte van die heelal, die ruimte, die enorme melkweg-stelsels. Hý is groter as die ruimte! Alle hoeke van die heelal, uit alle rigtings, hoor ons: ‘Ons is te klein, ons is nie Hý nie!’ So moet ons ontdek dat daar Iemand is wat nog wyser as die diere en die mense is. Ons netvlies en gedagtes is oorlaai, maar nog steeds hoor ons die stem: ‘Dis nog nie groot soos Hy sélf nie’.

Want hoor dan hierdie stem: ‘Ek is die HERE jou God, ʼn jaloerse God.’ Hy is verseker daar. Hy verskuil dalk sy gestalte, maar Hy wil nie vergeet word tussen al die geskape dinge nie. Hy sal daardie skuldige wat homself in hierdie wêreld opsluit, nie onskuldig hou nie. Die mens wat agter die struike wegkruip, skrik as hy die stem hoor: ’Mens, waar is jy?’

Kleibeeldjies🔗

Daarom is dit ook so laag, so aards, as ons sou sê: ‘Hoe kan ek in ʼn God glo wat oorlogsgruwels, mense-mishandeling en my persoonlike leed toelaat?’ Ons sien onreg, ons verdra smart, ons skep ʼn beeld daarvan en dink dan: dis dus hoe God is. En dan verwerp ons daardie beeld. Hoe sou ons in so ʼn God kon glo? Maar dan praat ons oor όns eie gevormde beeld en dis waar ons vassteek. Ons fout lê nie in die feit dat ons struikel oor hierdie aarde se boomwortels nie, maar dat ons dink dat ons die regte beeld van God gevorm het deur hierdie boomwortels.

Ook is die hartseer en ellende wat oor die mens se pad kom, nie geskik om ʼn beeld van die Almagtige te vorm nie. Mens kan nie ʼn beeld van God maak nie, ook nie uit die modder van hierdie aarde nie. In die Bybel word vername voorgangers tot swye gebring wanneer hulle teen God in opstand kom. Moses, Jeremia, Habakuk, Job: hulle leer om hul hand oor die mond te plaas en te swyg. Die digter van Psalm 73 ontdek dat hy hom misgis het toe hy sy ervarings van hartseer en onreg omskep het in ʼn godsbeeld wat hy wou weggooi.

Wie homself in God se Woord wil verdiep om God so beter te leer ken, moet heel eerste beskeidenheid leer. ʼn Mens kan homself stukkend dink oor God, maar hy moet sy gedagtes stilmaak en oopstaan vir daardie Wonder wat baie hoër is as al ons voorstellings.

Hoër as wat Ons Bely🔗

Dit geld vir alles wat ons oor God sê en ook vir wat ons bely: daarin verwoord ons wat die Skrif aan ons openbaar. Dan word God partykeer daarin opgesluit en ontstaan daar by mense ʼn baie benouende en beperkte Godsbeeld. Asof God volgens die afmetings van ons formulerings gesny is. Daardie formulerings kan baie goed en mooi wees, maar dit bly mensemate. Wanneer ons voor God te staan sou kom, dan kan ons nie ʼn papier uit ons binnesak haal en sê: ‘ja, dis reg, ons herken u’ nie. Ons sal dit nie waag nie. Ons sal soos dooies voor sy voete val: kan iemand dan God sien en lewe?

ʼn Plat Wêreld🔗

Hierdie diep gevoel van ontsag en respek vir Iemand wat bo al ons voorstellings en woorde uitstyg, ontbreek deesdae al hoe meer in ons kultuur. Dit is dikwels wel aanwesig by volke wat afgode dien, maar daar word hierdie gevoel van angs en vrees omskep in beelde (soms baie grillerig) om hierdie ontsag te probeer bedwing en meer hanteerbaar te maak. Afgodsbeelde het op hierdie stadium uit ons Westerse kultuur verdwyn. Mense is nie eens meer bang vir die dood nie! Daarmee het ons dan tog ʼn beeld van God gemaak: ʼn beeld wat ons nie eens angstig maak nie. As Hy ooit bestaan, sal Hy tog niks aan ons doen nie...

Dan weergalm die gebrul van ʼn leeu tog skielik, in ons moderne tyd, in die tweede gebod: ‘Ek sal die skuldige nie onskuldig hou nie!’ God self haal al ons beelde en voorstellings uit ons hande en sê: Ek bestaan verseker, Ek is hier en Ek is groter! Daarmee roep Hy ons tot eerbied, tot ʼn heilige ontsag en tot intense nederigheid.

Heilig is die Heer: Beef o Volke, Beef!🔗

As ons saam Bybelstudie hou en praat oor God, mag dit dan deurdronge wees van heilige siddering: dan sal iemand God kan sien en lewe! Laat ons nooit oor Hom praat en aan Hom dink, sonder om eers en elke keer weer hierdie denkende, redenerende, protesterende en eiewyse kop van ons, opreg en diep voor Hom te buig nie! Moenie die Skrifte misbruik om ʼn beeld van jou God te vorm nie. Hy is hoër. Hy is ín die Ou Testament, maar met Jesus se koms, bring Hy vir ons die ‘volle waarheid’. Dit maak ons versigtig om konneksies te maak en skemas op te stel aan die hand van willekeurige Bybeltekste. Ondanks die volledigheid en rykdom wat die Bybel ons bied, is ons in ons kennis maar net oppad na God toe! Hy is altyd groter!

3. Die Beeld van die Onsienlike🔗

Die tweede gebod leer ons om te lewe met ʼn leë nis: gevul met ʼn onsigbare Stem. Die beitel, waarmee ons probeer om ʼn beeld van Hom te maak, val uit ons hande uit en al bewende buig ʼn mens met leë hande en baie beskeie voor die Onsigbare, wat ʼn ontoeganklike lig bewoon.

Nie ʼn Beeld Nie, Wel ʼn Nis🔗

Maar waarom is daar tog ʼn tempel? Mens sou reken: geen beeld, ook geen tempel nie! As ʼn mens dan sonder ʼn beeld tog ʼn tempel bou, dan beklemtoon jy juis dit wat afwesig is. ʼn Tempel sonder ʼn beeld is soos ʼn uitgekapte nis in die rots van hierdie aarde: ʼn leegte wat herinneringe voortbring.   Dit herinner ons daaraan dat daar verseker ʼn rigting is waarin ons moet kyk (hemel toe) en ʼn aanwesigheid (daarbo) en ʼn beeld (ʼn werklikheid)!

Daar is regtig ʼn gestalte van God, maar die mens kan dit nie uitdink nie. Hy is ook nie geskik om ʼn beeld daarvan te maak nie. Daarom bly hierdie nis leeg hier op aarde. Die beeld-loosheid van die Bybelse geloof is egter wel ʼn leegte wat uitsien na ʼn werklikheid. ʼn Werklikheid wat ons nie na onsself toe kan haal nie, maar wat God self verseker naby wil bring op sy eie tyd en wyse.

Die Beeld van die Onsienlike God🔗

God het veral later in hierdie wêreld sy gestalte baie duidelik sigbaar gemaak. Jesus Christus is die beeld van die onsienlike God. Wie Hom gesien het, het die Vader gesien. Ons het sy heerlikheid aanskou, ʼn heerlikheid soos van die Eniggeborene van die Vader. Jesus is die afstraling van God se heerlikheid en die afdruk van sy wese. Hier staan die beeld van God voor ons - in lewende lywe!

Maar wie het hierdie gestalte uitgedink? Dit was verborge vir die verstandiges, die rykes en die edeles. Die ou filosofie en wetenskap het nooit op die idee gekom van ʼn God wat Homself in sy Seun opoffer vir die wêreld nie. Geen mens het ooit kon dink dat God sy Seun aan ʼn kruis sou laat sterf nie.

Jesus: Nie ‘n Gesnede Beeld Nie!🔗

Nou staan Hy daar. God se beeld! Kan ons daardie beeld van God dan nou wel teken en uitbeitel en vorm? Kan ons dit doen met behulp van prente in ʼn Kinderbybel en kruise met ʼn sterwende Jesus daaraan in ons kerke? Het ons nou uiteindelik genoeg beelde van God in ons kerkgeboue, om ons voor neer te buig en te kniel, omring met kerse en wierook?

In die huidige Christendom is ʼn sterk stroming wat ook nie by ons verbygaan nie: waarin ‘Jesus’ die ‘gesnede beeld van God’ word. Mense sukkel om met ʼn gesaghebbende God, ʼn vaderlike Koning, oor die weg te kom. Hulle sê liewer ‘Jesus is jou vriend’ en dít word die moderne en gemaklik aanvaarbare Godsbeeld vir sommige Christene.

Maar dan vergeet ons een ding. Die evangelies wys ons maar net die agterkant van God se gestalte. Dis nog maar net ʼn glimps. Want die evangelies beskryf vir ons die vernederingstyd van Jesus. Sy ware en volledige beeld as afspieëling van die Vader word na Paasfees net groter en groter. In die hemelvaart styg dit bo ons uit en word van ons oog onttrek. As Johannes, seun van Sebedéus, later die geleentheid kry en sy meester nog een keer vanaf Patmos te siene kry, is dit nog steeds dieselfde Man saam met wie hy gereeld gesit en eet en drink het. Sy gestalte is egter nou so verhewe, dat Johannes soos ʼn dooie aan sy voete neerval. Soos ʼn dooie vir daardie oë soos ʼn vuurvlam. Soos ʼn dooie vir daardie stem wat klink soos brullende water. Soos ʼn dooie vir daardie gesig, waarna ons net so min kan kyk as wat ons aanhoudend na die son sou kon kyk.

Milde Hande, Vriendelik Oë🔗

Wanneer Jesus verskyn, vertoon God sy gestalte aan ons. Maar op Golgota en met Paasfees, wanneer God self naby kom en ons ontmoet, dan val ons hamer en beitel uit ons hande uit – al ons pogings om ʼn beeld van God te vorm, word afgebreek. Ons kan nie die beeld van God omvat nie, ons kan dit slegs aanbid. Aanbid die onsienlike Vader in die menslike Seun!

Dan moet ons dit dan ook sekerlik doen. Want sedert Jesus op aarde was, weet ons verseker dat daardie nis van die tweede gebod nie leeg bly omdat God nie naby wil kom nie. Die heidenvolke het daardie gevoel gehad wanneer hulle na Israel gekyk het: dit is die volk van die verre God. Hulle God wil nie naby hulle wees in die vorm van ʼn beeld, van aardse hout of klip nie.

Die waarheid is egter anders. God wil sekerlik naby ons kom. Maar nie in die vorm van hout of klip nie. Hy wil sy hande, sy deurboorde hande, seënend op ons lê.

Dís juis hier waar ons grense lê. Ons kán nie op hierdie manier, met ʼn beitel en beeld, God wil nadertrek nie. God wil hê dat ons met leë hande moet neerbuig, omdat Hy self en Hy alleen naby  ons wil kom. Hy slaan self die spykers deur sy Seun se hande. Dis Hyself wat sy beeld naby ons bring. Ons sien dat Hy dood was en leef tot in alle ewigheid. Ons staan dan daar met leë hande, vir Hom om dit te vul. En daar buig ons sonder beelde voor Hom neer en laat ons daar versadig met die beeld van Jesus van Galilea, die beeld waarin God self aan ons verskyn.

Moenie aan My Raak Nie!🔗

Jy mag vir jou geen gesnede beeld maak nie: God sal vir Homself ʼn beeld voorsien, o mens! Ons Bybelstudiebyeenkomste mag nie sonder hierdie ontsag vir Christus, vir die hoë beeld van God, plaasvind nie. Hy is ons heil, maar Hy is nie gemaak volgens die maatstawwe van ʼn vriend nie. Hy is en bly God, wat tot in ewigheid geprys moet word. Hoe sou ek Hom kon meet of dit selfs waag om Hom volgens my maatstawwe te wil inperk?

4. Maak Ons aan U Beeld Gelyk!🔗

Leë Hande, Oop Ore🔗

Hoe mag ons hierdie Here dan wél dien?

Nie volgens ons beeldvorming nie.

Maar deur te luister.

Wie my gebooie bewaar, dit is hy wat My liefhet.

Want daardie mens gee homself oor en is nie meer beterweterig nie.

Om te Vinnig te Weet🔗

Dis so in ons aard om beterweterig te wees. Kyk maar na Petrus op die berg van verheerliking (‘laat ons hier drie hutte maak’) en by die voetwassing (‘U sal my voete in der ewigheid nie was nie’) en by die aankondiging van Jesus se lyding en die verloëning (‘dit sal nie gebeur nie’). By Petrus is daar in sy agterkop ʼn voorstelling van God, wat homself nog steeds wil afdwing. Hy struikel oor sy eie gevormde beeld.

Dit gebeur deur die hele kerkgeskiedenis. ‘Ons kan ons nie voorstel dat God hierdie kruistogte nie sou goedkeur nie.’ Of: ‘Ons kan ons nie voorstel dat God orrels of hierdie liedere in die kerk sou wil hê nie.’ Of: ‘Ons kan ons nie indink dat God op ʼn ander manier die kerk sal vergader as waaraan ons gewoond is nie.’ Dit is ons voorstelling van God (klaar gevorm en dikwels baie aantreklik) wat dan ons houding en ons gedrag bepaal.

Nie Vooraf Geprogrammeer Nie🔗

Tog is luister beter as offers. En om te luister is baie moeilik. Ons sukkel dikwels daarmee. Ons lewe in ‘n tyd van min luister en baie gereeld jou mening lug. Ook in ons Bybelstudie is ons al te geneig om vanuit ons eie idee en beeld oor God en sy diens te praat.

Jy kan dit dikwels baie goed by ander raaksien. Maar dit kan jou denke ook ongemerk beïnvloed. Jy kan jou nie voorstel dat nié alle Bybeltekste perfek by mekaar aansluit nie. Jy kan jou ook nie voorstel dat God se weg in die kerkgeskiedenis anders sou wees as wat jy ooit in ʼn skema uitgewerk het nie. Jy kan jou ook nie indink dat God se voorsienigheid dikwels groter en meer wispelturig sou kon wees as wat ons vinnige antwoorde by voorspoed en onheil ons wil laat glo nie. Jy kan nie dink dat as iemand as gedoopte sterwe, jy moeite kan hê om ʼn mooi en vertroostende advertensie op te stel nie. Jy het ʼn beeld van God gemaak en alles pas in daardie prentjie: al die Bybelstekste, jou kerk, jou ongeluk, die ongerymdhede. Baie ongemerk begin daardie beeld jou denke en woorde beheers. Jy word kwaad of bang wanneer daar dinge op jou pad kom wat nie in jou prentjie inpas nie. Die bespreking word vurig en spannend.

Let maar op hoe gereeld jy die volgende hoor: ‘ek dink’ of ‘ek kan my nie indink dat’ of ‘dis mos maar ons gewoonte.’ Terselfdertyd bestee ons dan min tyd aan gebed, aan vrae, aan oordenking, aan Bybelstudie en voorstudie. Laat ons dit verander. Laat ons ons gesamentlike Bybelstudies weer in die eerste plek gebruik om onsself saam oop te stel en te luister. Dan nie om ons eie mening te gee nie, maar om te vra na wysheid, hemelse wysheid.

Soms sal dit tot enorme beeld-korreksies lei in ons idees en ons gedrag. Daar is immers baie beelde in ons kop geplant deur middel van die massamedia en ons kultuur. Dalk ook deur familietradisies of onlangse kerktradisies. Dalk gaan dit ons baie moeite kos om daardie beeldjies nie as huisgode onder ons reissaal weg te steek nie! ʼn Beeldestorm teen klipbeelde in die kerk is verseker baie makliker as ʼn storm teen dié beelde wat vandag aan ons verstand en ons hart opgedring word, of wat dalk nog van ons ouerhuise af daar rondspook.

Die Klei vir die Beeld🔗

Luister met leë hande.

Dit laat ons groot dink van God: Die oseane is onder sy bevel!

Dit laat ons klein dink van onsself: ons sou nooit God se beeld kon uitdink nie.

Hoekom bly daardie nis, waarvoor ons ons neerbuig, nog altyd leeg en moet ons ook na Paasfees met leë hande staan en ons ore oopmaak vir die Stem en vir Jesus se gebooie? Omdat God - en dis die grootste verrassing - self sy beelde wil beitel en vorm, en daardie beelde is όns! God wil deur sy stem en deur Christus se Gees so lank en ingrypend aan ons beitel, sodat ons perfekte beelde word. Nie beelde om voor neer te buig nie, maar beelde wat self voor hul God neerbuig.

God se hele genadige openbaring is gerig op die herstel van die mens as beeld van God. Dis gerig op die besnydenis van ons hart. God is die groot Beeldhouer: Hy maak nie beelde van hout of klip nie, maar beelde van vlees en bloed, met name van seuns en meisies, manne en vroue!

Tot  ʼn Beeld Verander🔗

In 2 Korinthiërs 3 herinner Paulus ons aan die Sinaï. Moses se gesig het daar soms die glans van God se heerlike verskyning weerspieël. Dit was ʼn uitsondering, maar dit was ook ʼn voorteken. God werk in daardie rigting! Dan skryf Paulus oor ons, wat die glans van God in Jesus Christus gesien het, in die volgende lang (en met die eerste oogopslag effens moeilike) sin: ‘En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.’ ʼn Moeilike sin oor ʼn onvoorstelbare werklikheid. God toon Homself in Jesus Christus. Ons sien Jesus ons Heiland en ons ontvang sy Gees. Hy gaan ons verander, transformeer. Daar begin by ons  ʼn gedaanteverwisseling, wat van jou en my ʼn beeld van ʼn mens maak. Ons begin om  Christus se beeld te vertoon, ons word spieëlbeelde, stralend en indrukwekkend.

Dit is God se plan met ons en daaraan werk Hy deur sy Gees. Hy is ook baie spaarsaam daarmee. Hy kan dit nie verdra as jy Hom voor die voete loop, as jy in sy pad staan en Hom dwarsboom nie. Hierin is Hy afgunstig, jaloers. In sy ateljee laat Hy dit nooit toe dat iemand sy beelde in wording sou verniel nie. Hy sal die skuldige nie ongestraf laat bly nie.

Hy is bly oor elkeen wat hom onderwerp aan die beitel van sy Gees en sy gebod, en wat homself laat verander van ʼn afgodsdienaar tot ʼn eerbiedige dienaar, tot ʼn mens wat leer om met leë hande voor die Almagtige neer te buig. Hy is bly oor diegene wat homself as materiaal beskikbaar stel om gebeitel te word tot ʼn beeld van God, ʼn beeld voor wie die engele sal neerbuig.

Oop vir die Toekoms van Aanskouing🔗

Die Christelike gemeente het nie ʼn beeld van God nie. Vir Hom is daar net ʼn leë nis te midde van die beelde van apostels en voorgangers. Daardie leë nis wag vir jou gedaanteverwisseling in navolging van jou voorbeelde - die martelare en getuies. God wil afgebeeld word! In apostels en profete. In όns, in jou, in my!

Ons hou nie ons Bybelstudies om aan ʼn perfekte beeld van God te werk nie, maar om saam te verander van heerlikheid tot heerlikheid: volgens die beeld van Hom wat ons geroep het in die persoon van Jesus Christus!

Ek sluit af met ʼn verrassende toekomswoord van ons Heiland. Ek gee dit vir jou saam om te oordink en om jou te bemoedig in jou Bybelstudies: ‘Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien!