Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

God se Selfopenbaring...en ons Verleentheid

Lees Eksodus 34

Eksodus 34 is een van die aangrypendste hoofstukke in die Ou Testament. Moses is op die berg, moet vir hom twee kliptafels neem. Dan lees ons dat die Here in ’n wolk afdaal en by Moses kom staan. Hy kom gee sy wet op die kliptafels, en Hy bevestig sy verbond met hierdie volk in hulle nageslagte. Maar die aangrypende is dat die heilige God hier sy eie Naam bekend maak. Toe Hy by Moses kom staan, het Hy die Naam “Here” uitgeroep (vs 5). En toe Hy by Moses verbygaan, het Hy uitgeroep: “Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertieren­heid en trou” (vs 6).

Hy beloof om sy volk met wonderdade in Kanaän in te lei en die inwoners van die land voor hulle uit te verdryf. Sy verbondsvolk kry die uitdruklike opdrag om nie ’n verdrag met die Kanaäniete te sluit of met hulle te vermeng nie. Hulle moet die Kanaäniete se altare omgooi en hulle heilige boomstamme afkap. Dan gee God die rede vir hierdie opdrag:

  • Want jy mag jou nie neerbuig voor ’n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers - ’n jaloerse God is Hy (vs 14, 1953-vertaling).
     
  • Julle mag nie ’n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan my. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis’ (vs14, 1983-vertaling).

Verstommend: híér waar Hy die uitnemendheid van sy Naam bekend maak - barmhartig en genadig, lankmoedig, groot van goedertierenheid ‑ juis hiér loop die selfopenbaring uit op die volstrek onverwagse: “Jaloers”! By Sinai, waar Hy sy wet gee en sy verbond bevestig, is een van die eerste dinge wat Hy sy volk leer dat Hy ’n jaloerse God is. Hy spreek dit hoorbaar voor Moses uit en skryf dit met sy eie vinger leesbaar op die kliptafel: Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God ... (Eks 20:5; Deut 5:9). Hierdie en alle volgende aanhalings uit die 1953-vertaling).

Die Bybel het nogal baie te sê oor God se jaloesie (soms met ywer vertaal in die 1953-vertaling). Ons kom dit teë in die vyf boeke van Moses. Afgesien van bogenoemde drie plekke, kom die woord byvoorbeeld ook voor in Deuteronómium 4:24: Want die Here jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God; en verder in die Lied van Moses (Deut 32:16 ): Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.

Die geskiedenisboeke noem die jaloesie van God (bv. Jos 24:19, waar jaloesie met heiligheid verbind word; en 1 Kon 14:22). ln die Profete kom die woord nie minder nie as 13 maal voor, en dit weerklink ook in die psalms: En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek (Ps 78:58; kyk ook Ps 79:5).

Paulus vra aan die hooghartige Korinthiërs (óók in verband met afgodsoffers en afgodsoffervleis!) of ons miskien sterker as God is en sy jaloesie wil opwek (1 Kor 10:22). Hy verwys hier heelwaarskynlik na die afgodery van Israel soos beskryf in Deuteronómium 32:21.

Kom ons som op: Die Bybel ken die mens se sondige jaloesie, die na­ywer, die ek-haat-jou-omdat-jy-het-wat-ek-wil-hê. Daarteen word konsekwent gewaarsku, veral in die Apostoliese Briewe. Dis ’n jaloesie wat afstoot, gedra word deur haat, en die teendeel is van wat die Christen se lewe moet wees.

God openbaar egter “van bo af”, uit sy ontoeganklike lig, dat Hy ’n hei­lige jaloesie het, gedra deur die eks­klusiewe liefde van die God van die verbond vir sy eksklusiewe volk. Hy duld geen ander (af)god tussen Hom en sy volk nie. Hy tog het hierdie volk geformeer uit die verstorwe moeder­skoot van Sara, Hom aan hulle as hulle God verbind en hulle op arends­vlerke na Hom toe gedra (Eks 19:4).

So word die eksklusiewe ver­bondsliefde vir Israel geleer: nét Hy is hulle God, en hulle is nét sy volk. Om dit by die volk tuis te bring, praat God in menslike taal wat hulle kan verstaan - die taal van die huweliksliefde. Ook in die huwelik vind ons die heilige jaloesie van die eksklu­siewe liefde: nét jy is myne en jy is nét myne. Niemand kom tussen ons nie! Dis die taal wat alle verliefdes, verloofdes en (hopelik) getroudes kén. Wanneer God Hom aan ons be­kend maak, praat Hy uit die aard van die saak ons taal.

Die Skrif toon ook dat God se ja­loesie, soos reeds genoem, verbind is met sy heiligheid (Jos 24). ln heilig­heid sit die gedagte van afsondering, van God se volstrekte andersheid as die aardse, die verbygaande, die sondige. En as die volk self tot heiligwees opgeroep word (Eks 19:6), sien ons weer die unieke van die ver­bondsverhouding: hierdie enige, ewi­ge God en sy volk hoort bymekaar. Op hulle is Hy in sy oneindige liefde jaloers - hulle is net syne, afgeson­der vir sy diens.

By hierdie unieke verhouding, af­gebeeld in die huwelik, kom nog iets by wat ons ook ken: die toorn weens versmaaide Iiefde. Israel word gewaarsku om die verbond nie te vergeet en vir hulle afgode te maak nie, want die Here jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God (Deut 4:24). Ten slotte word God, wat die wêreld so liefgehad het dat hy sy enige Seun gegee het (Joh 3:16), se jaloesie die motief vir die oordeel: want die ganse aarde sal deur die vuur van my jaloesie verteer word! (Sef 3:8; kyk ook 1:18).

Die groot vraag is nou: Waarom moet die jaloesie waarin die liefde brand in sommige vertalings verander word in 'n koue wet “wat onverdeelde trou eis”, of selfs in vlak woorde soos “besitlikheid”? Ek is ook besitlik oor my rekenaar en my Audi. Die gloed van die liefde brand nie in hierdie woorde nie.

Waarskynlik is een van die redes waarom jaloesie vermy word die moderne lewensklimaat waarin die liefde verkoel het. Die unieke van die huweliksliefde is onder­myn deur die seksrevolusie wat sedert die sestigerjare soos ’n vloedgolf oor die aarde versprei is. Vanuit die VSA is die revolusie gestoomroller deur alle media (ra­dio, TV, tydskrifte, leesboeke, internet) om die laaste reste van ’n Christelike beskawing uit te wis. In ’n mens­like samelewing waar nog slegs ’n moraal soos dié van ’n hoenderhok heers, ken mense net nog die lelike, haatvolle jaloesie. Laat ons juis in hierdie klimaat van verkoel­de liefde maar goed let op die waarskuwing in Hebreërs: Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur (12:28-29).