3 bladsye.

God se Wil en Ons Wil

Die Dordtse Leerreëls (DL) gee die Bybelse leer oor ʼn paar moeilike punte van die geloof pragtig weer. Die toon is herderlik en op die man af. Dit is nie teologiese stellings nie, maar dit beskryf God se werk en die mens se werk op ’n baie mooi manier. Hoe werk die bekering en die wedergeboorte nou eintlik? Hoe eien ʼn mens homself die heil toe wat God in die evangelie aanbied? Hoe bly ʼn mens glo?

Die mooie is dat die DL nie die mens verlaag tot ʼn passiewe wese sonder eie wil wat soos ʼn robot moet wag en self niks mag en kan doen nie. Maar terselfdertyd doen die DL geen afbreek aan God se almag nie. Hy voer sy heilsplan uit soos Hy wil en soos Hy dit in ewigheid besluit het. Dit is ook vir vandag belangrik om ‘n goeie sig daarop te hê. Wie hier verkeerd kies, verloor die sig op God se genade en sien nie meer hoe God se genade ons tot werke laat oorgaan nie.

Verbond🔗

Die verbond kan vergelyk word met ‘n gesin, en dit kan ook iets verduidelik oor die verhouding tussen God se wil en ons wil. As ouers kinders kry, kan die kinders nie sê: ek het self my ouers uitgekies nie. Maar deur die liefde en aandag wat hulle van hul ouers kry, kan hulle wel daarvoor kies om gehoorsame kinders te wees. As ‘n baba kon ons nog nie ons ouers liefhê nie, maar deur die liefde en aandag wat ons van ons ouers gekry het, leer ons om liefde en aandag vir ons ouers te hê.

Dit is ook hoe dit werk tussen God en die volk waarmee Hy ‘n verbond gesluit het. God het in sy liefde vir ons gekies en gee intensiewe aandag aan ons. Juis daardeur wek Hy liefde en aandag vir Hom in ons op. Of soos teoloë dit sou sê: die verbond is in sy ontstaan eensydig (van een kant), maar in sy voortbestaan tweesydig (van twee kante). God se liefde kom op ons af deur Woord en Gees, sodat ons ons antwoord kan gee uit liefde vir Hom.

Kies God vir Ons of Kies Ons vir Hom?🔗

As u die bostaande goed gelees het, bevat die opskrif van hierdie onderdeel ʼn verkeerde teenstelling. Dis nie of-of nie, maar en-en. Uit die Bybel word duidelik dat God eers vir ons gekies het. Hy neem die inisiatief. Maar dan moet daar wel ʼn antwoord kom. Ons moet vir Hom begin kies. In Lukas 10:41 en 42 sê die Here Jesus vir Marta: ‘Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge, maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.’ Jesus sê dan nie met soveel woorde dat Maria die keuse net kon maak omdat God deur die prediking en die tekens van Jesus Christus haar tot ʼn keuse opgeroep het en sy deur die krag van die Heilige Gees tot ʼn keuse kon kom nie, maar dit is wel hoe dit is. Deur God se genade kon sy die keuse maak, ook al word dit nie met soveel woorde daar gesê nie.

So het dit gereeld in die Bybel gebeur. As ons nie raaksien dat God se keuse vir sy volk altyd aan ons keuse voorafgaan nie, dan maak ons al gou verkeerde gevolgtrekkings.

In Deuteronomium 30:19,20 praat God met sy volk wat Hy uit Egipte verlos het:

Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die Here aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ʼn eed beloof het om dit aan hulle te gee.

Uit die bewoording wat Moses kies blyk selfs dat dit moeite kos om vir die Here te kies en by die keuse te bly.

In Josua 24:14 en 15 staan:

Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die Here. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land jul woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

Dat die HERE eers vir Abraham en sy volk gekies het, staan ook hier op die agtergrond. Hy het daardie volk op ʼn besonder manier gemaak, deur twee keer ʼn onvrugbare vrou (Sara en Rebekka) ʼn nageslag te gee. Hy het Abraham al laat weet dat Hy die volk uit Egipte sou gaan haal, waar hulle verdruk sou word (Genesis 15:13-16). Sy plan het lankal vasgestaan maar tog stel Hy die volk telkens voor die keuse: Julle moet vir my bly kies.

God gee ons sy liefde en wil elke dag liefde terughê. Hy is soos ʼn man wat elke dag in liefde vir sy vrou kies, maar wat dan ook as antwoord liefde van sy vrou terug verwag. God se liefde is volmaak – ons liefde is onvolmaak. Sy keuse is blywend van dieselfde gehalte, maar nie ons s’n nie. Daarom het ons Hom nodig om by ons keuse te bly.

God se Woord🔗

God se Woord kom dus altyd na ons toe met ʼn oproep tot geloof en bekering (Markus 1:15). So sal ons dit altyd moet lees, oordink en moet aanhoor. God stel ons telkens voor die keuse: toets u lewe; leef vir God; bedink die dinge wat bo is; versamel vir u ʼn skat in die hemel. Dit is hoe ons na God se Woord behoort te luister, na die stem van die lewende God. Dan het ons geleer hoe groot en grondliggend vir ons heil God se keuse vir ons is, en hoe afhanklik ons van Hom is vir ons keuse vir Hom. Maar dan moet ons nie minagtend oor ons keuse dink, asof dit nie belangrik is nie. Want dit is God se genadewerk in ons as ons vir Hom kies. Dan raak die Sondag se erediens, die huisgodsdiens, die stiltetyd, die Bybelkringbyeenkoms en die katkisasie die werkplek van die Heilige Gees deur die Woord. Dan leer ons kies deur sy krag.

Hoe dit in die DL opgeteken staan🔗

Kom ons kyk hoe staan dit in die DL. Ek gebruik die bewoording van die Psalmboek:

  • DL I, 7

    'Hierdie verkiesing is 'n onveranderlike voorneme van God.'

    'Hy het hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies.'

    'So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur Sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar is, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik.'

  • III/IV, 11

    'Wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, om die dinge van die Gees van God reg te verstaan en te onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.'

  • III/IV, 12

    'Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God gedryf word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.'

  • III/IV, 16

    'Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset dit vroeër volkome oorheers het, begin 'n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand daaroor kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil."

  • V, 14

    'Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente.'