Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

God Volkome Sien in die Toekoms

oë

In vandag se tyd is omgang met God ook moontlik. Hy wat homself aan Jesus Christus toevertrou, kom met God self in aanraking. Danksy die Seun sien ons baie meer van God se heerlikheid as die gelowiges in die Ou Verbond. Tog is alle kontak met die majesteit, die heerlikheid van God nog nie oogkontak nie. Dit is soms asof ons God nie sien nie. Maar in die toekoms gaan dit vir altyd verander!

Ons Kennis is Gebrekkig🔗

Hy wat Jesus gesien het, het die Vader gesien (Johannes 14:9). Die Seun verklaar aan ons die Vader (Johannes 1:18). Hierdeur is ons seker van dit wat ons van God weet. Die sekerheid kom byvoorbeeld na vore in Romeine 8:28 en die volgende verse.

Ons kan egter ook ons kennis van God oorskat. Dit het in Korinte gebeur (vgl. 1 Korinthiërs 8:1 vv.). Dit was juis die rede waarom die apostel Paulus die opmerking maak dat ons kennis onvolkome is (1 Korinthiërs 13:9). As vergelyking wys hy na die kindertyd. Toe hy 'n kind was, het hy gepraat, gevoel en geredeneer soos 'n kind. Noudat hy 'n man is, het hy die dinge van 'n kind afgelê (1 Korinthiërs 13:11). 'n Volwassene kan met 'n glimlag terugkyk na sy jong jeug. Hy het goeie herinneringe daaraan, maar hy sien ook die onvolkomenheid daarvan raak. So sal ons op die nuwe aarde insien hoe gebrekkig ons kennis van God was wat ons op die ou aarde gehad het.

Wat is hierdie "gebrekkige" waarvan gepraat word? Dat ons deur 'n spieël in 'n raaisel kyk (13:12). Die spieëls wat in die ou tyd gebruik is, was nie soos ons s'n nie. Hulle was van koper of brons gemaak, nie heeltemal glad nie en daar was vlekke op. In so 'n spieël kon mens jou eie gesig redelik goed sien. Maar daar kon ook iets onduidelik wees. So kon 'n mens daaraan getwyfel het of daar 'n litteken op een wang was of nie. Deur in so 'n spieël te kyk, was nie dieselfde as die direkte sig op iemand nie. Vandag het ons dus ook nog nie so 'n direkte sig op God nie.

God Sien soos Hy is🔗

Vanaf die wederkoms sal ons God sien soos Hy is (1 Johannes 3:2). Vandag is ons reeds God se kinders en ken ons Hom ook sodanig. Hieruit blyk reeds die Vader se groot liefde vir ons (3:1). Maar die liefde sal al hoe meer sigbaar word. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie (3:2). Dit sal egter definitief onthul word. Ons sal God sien soos wat Hy is.

Wat wil dit sê? Nie dat ons by wyse van spreke dwars deur God sal kyk en alles van Hom sal weet nie. Op die nuwe aarde is Hy nog steeds God en ons is nog steeds skepsels. Ons vereer Hom dan ook nog as God (Openbaring 7:15; 22:3). Dit is voor die handliggend om te dink aan wat Paulus in 1 Korinthiërs 13:12 geskryf het: 'eendag van aangesig tot aangesig'. Die onderwysing van Paulus was verseker bekend vir die gemeente waarvoor Johannes geskryf het.

Van aangesig tot aangesig, of soos ons sê: mekaar in die oë kyk. Wanneer ons mekaar in die oë kyk, dan is daar oop kontak. Ons kan niks vir die ander een wegsteek nie. As ons dit wel doen, draai ons ons gesig weg of slaan ons ons oë neer. Dit beteken nie noodwendig dat ons alles omtrent onsself hoef te openbaar nie. Maar ons is wel eerlik, en as ons nie 'n antwoord op iets het nie, sê ons dit eerlik. Ons is ook eerlik oor ons gevoelens wat ons oor ons naaste het.

spieël

Nou staan ons op 'n dag oog in oog met God. Dit wil nie bepaald sê dat ons Hom sien soos wat ons 'n mens sien nie. God kan wel in 'n mens se gedaante verskyn, maar Hy is nie mens nie. Sy Seun is wel mens en ons sal Hom ook so sien (vgl. 2 Korinthiërs 5:6 vv.). Maar God die Vader het nie mens geword nie.

Die uitdrukking 'van aangesig tot aangesig' maak duidelik dat dit nie gaan oor hoe ons God waarneem nie. Dit is die onderlinge verhouding tussen God en ons wat aan die orde is. Die verhouding is vanaf die wederkoms volkome suiwer. Sondige vooroordele teen die Here God speel vanaf daardie oomblik geen rol meer by ons nie. Sodoende ken ons Hom soos onsself geken word (1 Korinthiërs 13:12). God se kennis van ons was nog altyd suiwer gewees. Hy het nooit vooroordele teenoor ons gehad nie. Hy het daarom ook nie 'n verwronge beeld van ons gehad nie.

Wanneer Jesus terugkom, sal ons vooroordele teenoor God verdwyn. Ons kyk dan, by wyse van spreke, nie meer na die Here God met 'n terughoudende blik nie. Ons kyk openlik na Hom, met die gevolg dat ons kennis van Hom suiwer is. God is dan nie meer hoofsaaklik barmhartig, of veral regverdig in ons oë nie. En Hy stel ons nie meer teleur nie. Ons ervaar ook nie meer innerlike teenstrydighede by Hom nie. Al sy eienskappe vorm vir ons 'n duidelike geheel. Die almagtige God gebruik die menslike uitdrukking 'van aangesig tot aangesig' om dit vir ons duidelik te maak.

Om God te sien soos wat Hy is: dit is dus nie 'n wonder dat die apostel Johannes dit as 'n klimaks beskryf nie. Hoe mooi sal dit wees as ons verhouding tot die God van Wie ons nou reeds so baie hou, van al ons vooroordele bevry sal wees!

Aan Hom Gelyk?🔗

Ons sal God sien soos Hy is. En dan? Word ons aan God gelyk? Ons kan daardie indruk kry as ons 1 Johannes 3:2 in sy geheel lees. Maar ons word tog nie soos God nie? Daar word wel gesê dat dit hier oor die Here Jesus gaan: ons word wel aan Jesus gelyk. Maar dit is nie voor die handliggend in daardie sinsverband nie. Bowendien word ons ook nie heeltemal aan Jesus Christus gelyk nie. Hy bly Here.

Die oplossing vir hierdie probleem is myns insiens dat ons 'n ander vertaling moet kies. Ons moenie lees dat ons aan God gelyk word nie, maar dat ons soos Hy sal lyk. Ons mag seker hiervan wees. God het die mens geskape na sy beeld, as sy gelykenis (Genesis 1:26). Na die sondeval vergeet Hy dit nie (Genesis 9:6; Jakobus 3:9).

Tog het die mens vervreemd geraak van God. Hy lyk nie meer soos sy Maker nie (vgl. Efesiërs 4:18). Gelukkig verander Christus dit. Daar kom weer mense wat soos hul Skepper lyk (Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10). Dit is dan seker ook vanselfsprekend dat hierdie herstel by die wederkoms volledig sal wees!

Hoekom sê Johannes dat ons weer soos God sal lyk? Dit is sy konklusie nadat hy alles geskryf het. 'n Konklusie wat voortkom uit die verwagting dat hy en hulle aan wie hy skryf, God sal sien soos wat Hy is. God se aangesig openlik sien en Hom dus sien soos Hy is. Dit is slegs moontlik as ons nie meer teenoor Hom skuldig hoef te voel nie. Dit is slegs moontlik wanneer ons weer soos Hy begin lyk, soos in die goeie begin. Sonder heiliging kan niemand die Here sien nie (Hebreërs 12:14). Jesus het al gesê dat die reines van hart God sal sien (Mattheus 5:8).

As ons dan op die jongste dag die Here God sal sien soos wat Hy is, moet ons die gevolgtrekking maak dat ons weer op dieselfde manier soos God sal lyk soos toe Hy die eerste mense gemaak het. Om soos God te lyk is nie die gevolg daarvan dat ons God sien nie, maar die voorwaarde daarvoor. In hierdie verband moet dit wel opval dat Paulus in 1 Korinthiërs 13 die liefde teken as die weg na daardie punt waarop ons God van aangesig tot aangesig sal sien. Hierdie pad voer inderdaad ver boontoe (1 Korinthiërs 12:31)!

pad na hemel

Konklusie🔗

Uit die Skrifgedeeltes wat behandel is, blyk dat by die "sien van God" nie in die eerste plek die waarneming van God aan die orde is nie. Dit gaan oor die onderlinge verhouding tussen God en ons. Kan God en ons mekaar 'in die oë kyk'? Vanaf die sondeval kan God ons nog steeds in die oë kyk. Hy kan van niks beskuldig word nie. Maar, ons kan dit nie bekostig om God in die oë te kyk nie. Sy toornige blik sou tot 'n vernietigende blik word. Tog is kontak met die Here God wel moontlik.

Maar vandag het daardie kontak baie verbeter. Danksy Jesus Christus kan, deur die verkondiging van die evangelie, God se glorie vrylik skitter en sy barmhartigheid beter openbaar word as ooit tevore. Desondanks is die kontak nog steeds beperk. Dit is as gevolg van ons sonde en ons sondige natuur. Die gesekulariseerde wêreld waarin ons lewe versterk dan ook nog die sonde.

Tog sal al ons vooroordele op 'n dag verdwyn en dan staan ons oog in oog met God!