Bron: Kompas, 2001. 4 bladsye.

Godsdiens op Kommando

’n Oorlog verloor baie vinnig sy romantiek vir wie daadwerklik betrokke raak. Die nabyheid van die dood, die kans op verminking, die onsekerheid oor die toekoms is alles sake wat ’n mens ten diepste raak. Die geloofslewe word ook deur die oorlog beïnvloed. Vir die een persoon kan dit aanleiding wees tot verdieping en besinning, vir ’n ander is dit aanleiding om afskeid van God te neem. Met name die talle dagboeke wat gedurende die oorlog bygehou is, lê herhaaldelik getuienis af van die invloed van die oorlog op die geestelike lewe.

Eredienste🔗

Indien dit enigsins moontlik was, is daar op Sondae eredienste gehou. Wanneer ’n predikant aanwesig was, het hy uiteraard voorgegaan. Gedurende die eerste fase van die oorlog waartydens Ladysmith, Mafikeng en Kimberley omsingel en die langgerekte Tugelalinie verdedig is, was dit nie altyd moontlik om die burgers op sentrale plekke vir kerkdienste te versamel nie. Daar is op talle plekke deur klein groepies burgers dienste gehou. ’n Offisier, ’n ouderling of ’n gerespekteerde burger het die diens gelei en ’n preek gelees.

Dit was ’n situasie wat nie so vreemd was nie. Baie bewoners van die platteland was daaraan gewoond dat hulle vanweë die afstande maar selde Sondae kerk toe kon gaan. Op die plase is ook familiedienste gehou, ’n gewoonte wat op kommando eenvoudig voortgesit is.

Daar was dus preekbundels beskikbaar wat ook tuis gebruik is. Die Nederlandse taal van die plaaslike predikante was goed verstaanbaar en leesbaar. ’n Ouderling wat probeer het om ’n preek van dr A Kuyper te lees, het egter merkbaar gesukkel. Voor die uitbreek van die oorlog is daar reeds begin met die vertaling en publikasie van preke van Spurgeon. CH Spurgeon was ’n beroemde Britse Baptiste prediker met streng ortodokse opvattings, wat soms die laaste van die Puriteine genoem is. Sy preke was besonder gelief en is veelvuldig gelees.

Wanneer ’n predikant aanwesig was, is ook die sakramente bedien. Dit was gewoonlik die Nagmaalviering, maar in die vrouelaers het die doopsbediening ook soms plaasgevind. Wanneer die betrokke persone geen lidmate van die kerk van die aanwesige leraar was nie, is die sakramente bedien na oorleg met en met (skriftelike) instemming van ’n ouderling van die betrokke lidmaat se kerk.

Die besondere omstandighede tydens die oorlog het die onderlinge verskille tussen die onderskeie kerke laat uitslyt. Daar is dan ook herhaaldelik ’n behoefte uitgespreek dat die eenheid wat op kommando ervaar is, ook na die oorlog wesenlik gestalte sou moet kry.

Hoewel die bywoning van die Sondagse dienste nie ’n verpligting was nie, was daar wel ’n sterk groeps- en familiedruk in dié verband. Tog is daar klagtes oor swak bywoning. Die toestand het ook sterk van kommando tot kommando verskil. Die houding en oortuiging van die generaal of kommandant het ’n rol gespeel, asook die huislike gewoontes van die burgers. Daarby het die verskille tussen die platteland en die dorpe openbaar begin word.

Huisgodsdiens🔗

Soos daar voortgebou is op ’n tradisie om Sondae tuis leesdienste te belê, is ook die daaglikse huisgodsdiens op kommando voortgesit. Aangesien die burgers van een wyk of distrik aanvanklik in dieselfde veldkornetskap en kommando gedien het, was daar baie familiegroepe en bure asook lidmate van dieselfde gemeentes naby mekaar. Die daaglikse huisgodsdiens het hierdie indeling gevolg en daar is in een laer op dieselfde tyd op baie plekke vergader.

Soos gebruiklik het die huisgodsdiens bestaan uit Skriflesing, gebed en gesang. Daar is baie gesange gesing, veral die sangbundel “De Kinderharp” – ’n nie offisiële gesangboek van die NGK – was baie geliefd. In hierdie bundel was daar baie vertaalde liedere van Sankey en Moody uit die Amerikaanse opwekkingsbeweging opgeneem. Die sang was volgens talle getuienisse dikwels ’n pyniging om aan te hoor. Dit is luidkeels en met lange uithale gedoen en dit het die skyn gewek dat die een groep die ander daarmee wou oorstem. Burgers wat nie aan die huisgodsdiens deelgeneem het nie, was dikwels geïrriteer oor die rusversteuring en het dan gepoog om die skreeuers met kluite stil te maak.

Spesiale Dienste🔗

Dit het goed by die godsdiensbelewing van die meerderheid burgers ingepas om ter geleentheid van besondere gebeurtenisse spesiale dienste of byeenkomste te hou. Dit kon wees ter geleentheid van ’n oorwinning of by dreigende gevare. Met name in die guerrillafase van die oorlog, waartydens die dreiging vir die burgers te velde en die leed in die konsentrasiekampe groot was, is daar dikwels besondere byeenkomste beplan. Hierdie dank- en bidure was partykeer plaaslik van aard, maar daar was ook pogings om landswyd byeenkomste te hou. In sommige kommando’s is weekliks bidure gereël.

Dan was daar natuurlik ook die reeds gebruiklike besondere dae wat hulle tydens kommandodiens probeer nakom het. Hier kan in die besonder gedink word aan Pinksterbidure en Kersfeesvieringe. Tydens die oorlog het by sommige kommando’s ook die Dingaansdagvieringe ’n verandering ondergaan en ’n meer godsdienstige karakter gekry.

Godsdienssin🔗

Daar was ’n groot verskil in die godsdiensbelewing tussen die verskillende kommando’s. Dit het algaande veroorsaak dat burgers wat hulle in die een kommando nie tuis gevoel het nie, by ’n ander kommando aangesluit het. Hierdie ontwikkeling het die onderlinge verskille versterk.

Die kommando’s onder bevel van generaals Beyers en Kemp, wat veral in die noordelike dele van Transvaal geopereer het, het bekend gestaan vir hulle streng godsdienssin. Beyers en Kemp het weekliks met hulle offisiere bidure gehou waarby die tekortkomings in die geestelike lewe onder die burgers bespreek is en maatreëls ter verbetering oorweeg is. Hierdie streng godsdienstige karakter was vir sommige skrywers aanleiding om ’n vergelyking te tref tussen die Boerekommando’s en die ‘Ironsides’, die leër van Oliver Cromwell uit die 17e eeu.

Die houding van die bevelvoerende offisiere was in hierdie opsig van groot betekenis. Onder hulle vind ons, soos onder die burgers, alle variasies van godsdienssin van byna oorgodsdienstigheid (Beyers en Kemp) tot nouliks verborge onverskilligheid (Viljoen).

Verveling🔗

Kommandodiens kan, hoe vreemd dit ook mag klink, aanleiding gee tot verveling. Tydens die eerste fase van die oorlog was daar die geesdodende afwagting aan die Tugela of die al ewe vervelige omsingeling van dorpe. Tydens die laaste fase van die oorlog het die lewe bestaan uit veg-en-vlug aanvalle en die daaglikse sorg om kos, klere en ammunisie in die hande te kry.

Offisiere het gepoog om meer afwisseling in die eentonige bestaan te skep. Godsdienstige byeenkomste was een van die hulpmiddels wat daartoe aangewend is. Af en toe is daar boeresport gereël en wedstryde gehou. Die voorbereiding daarvan en die dag self het die verveling effektief bestry. Ons lees selfs van konserte wat gereël is ter geleentheid van feesdae soos Kersfees. Sangkore is ook gevorm, wat waarskynlik beter geluidskwaliteit gehad het as die sang tydens die huisgodsdiens, want daar is oor en weer voor gehore opgetree.

Vormediens🔗

Uit die oorlogsdagboeke van gelowige skrywers wat nie net gebeurtenisse noteer nie, maar ook die lewe en dade van mense probeer evalueer het, kom dikwels klagte van oppervlakkigheid na vore. Die eredienste mag dan bygewoon word en die huisgodsdiens en bidure voortgaan, maar daar word min vrugte gesien. Hoewel daar ’n Christelike vertoon is, is dit dikwels slegs vormediens, so lui die klag wat meer as een keer gelees word.

Dit is baie moeilik om die klagte na waarde te skat. In die godsdiensbelewing van die burgers het dikwels sterk piëtistiese elemente na vore gekom. Wanneer die behoefte aan vroomheidservaringe ’n maatstaf word waarmee die geestelike lewe van ’n ander persoon gemeet word, sal baie opregte gelowiges wat dalk minder hul hart op die mou gedra het, veroordeel word. Die preke van Spurgeon het in hierdie opsig dalk ook bygedra om ’n harde oordeel uit te spreek.

Dit is heeltemal anders wanneer daar aanwysbaar ’n verskil tussen lewenswandel en geloofsoortuiging aanwesig is. Wangedrag en ’n gebrek aan dissipline het herhaaldelik voorgekom. Diefstal, plundering, leuenagtigheid en drankmisbruik was dalk nie algemeen nie, maar daar het ’n hele aantal voorvalle van die aard plaasgevind. Losbandigheid is tereg uitgewys as in teenstelling met die Christelike norme. Die klag dat daar nie voldoende hoorbare en sigbare verandering in lewenstyl gevind is nie, het dus wel enige grond gehad. Origens is dit ’n verskynsel wat nie net onder oorlogstoestande plaasvind nie.

Onverskilligheid🔗

Van blote vormediens na openlike onverskilligheid is in wese ’n klein oorgang, maar in ’n samelewing waarin kerk en godsdiens ’n belangrike rol speel, is dit ’n stap van groot betekenis. In sulke omstandighede is daar baie sake wat mense daarvan weerhou om hulle innerlike onverskilligheid uit te spreek en uit te leef. Tog sal dit by tye openbaar word.

Daar is duidelike voorbeelde van openlike onverskilligheid. Een dagboekskrywer vertel van ’n burger wat sonder enige aarseling bladsye uit ’n Bybeltjie as sigaretpapier gebruik en dan boonop verklaar dat hy darem die boek Openbaringe geniet.

Uit opmerkings en optrede van generaal Viljoen word duidelik dat ook by hom ’n groot mate van onverskilligheid gelewe het. Hierdie element kom ook tot uiting in die manier waarop burgers dikwels met leuenagtige voorwendsels verlof gevra het. President Steyn het hulle in sulke gevalle oor meineed aangespreek.

Onverskilligheid kan ook tot uiting kom in dade van skynvroomheid wat lafhartigheid moet verberg. Ds J du Plessis het tydens ’n geveg burgers werkloos sien skuil agter klippe met die verskoning dat hulle Bybelstudie gedoen het. Hy het hulle met klippe verwilder en gedwing om hulle plig na te kom.

Generaal Kemp het op ’n soortgelyke voorval afgekom waarby burgers tydens ’n geveg biduur gehou het met die verskoning dat hulle soos Josua en Kaleb by die geveg met die Amalekiete vir Moses se hande moes versterk. Kemp het darem sy sambok gebruik om hulle te verwilder.

Hierdie voorvalle het ’n insidentele karakter en mag seer seker nie gebruik word om ’n algemene beeld te skets nie, maar aan die ander kant leer ons dit wel om ’n alte eensydige beeld van ’n soort Christelike volksleër te voorkom.

Sabbatsrus🔗

Teenoor uitermatige vroomheid is alles al gou onverskilligheid. Dit kom onder andere tot uiting in ’n oordrewe wettisistiese drang na Sondagsheiliging, liefs Sabbatsrus genoem. So kla Jan FE Celliers dat hy daaroor aangespreek is dat hy op ’n Sondag ’n deuntjie gefluit het. Nog erger was dat hy op ’n Sondag die verveling met houtsnywerk probeer verdryf het. Dat hy hom toe ook nog ’n slag raaksny is duidelik as ’n Godsoordeel gesien. Hy vra hom origens wel af hoe hy dit moet vertolk dat een van die vrome burgers saans sy hand seer gemaak het toe hy ’n stuk hout op die vuur gegooi het. Gevegsoperasies op Sondae was uitsonderings maar het wel voorgekom. Generaal De Wet is op ’n Sondag aangeval in die beroemde geveg by Stormberg en het ook self eenmaal op Sondag ’n aanval gedoen. Generaal De la Rey het twee maal op Sondag ’n aanval op die Britse magte geloods, maar beide kere het die aanval misluk. Daarna het hy dit nie weer probeer nie.

Ook die beroemde en gevierde slag by Amajuba in die vryheidsoorlog van 1880-1881 het op ’n Sondag plaasgevind en by hierdie slag het die Boeremagte onder generaal Joubert die aanval geloods. Soos dikwels die geval is, blyk dat ons ook wat betref die godsdienstige lewe tydens die oorlog, baie versigtig moet wees met idealistiese swart-wit uitbeeldings. Die destydse samelewing was ook in dié opsig baie meer divers as wat dikwels aanvaar word.