Bron: De Wekker. 3 bladsye.

Hanteer Verbittering en Rusie

Die Bybelkennende leser herken die woorde uit Hand. 15: 39. Lukas skryf daar dat Paulus en Barnabas rusie kry en hulle paaie skei. Twee “grotes” in die Koninkryk en die Kerk van God en Christus staan lynreg teenoor mekaar. Die konflik is hewig. Hulle kan nie meer dieselfde pad volg nie. Die verhouding raak ernstig versteur. Hulle was op daardie oomblik nie in staat om die rusie te beheers en by te lê nie.

Oor konflikte in die kerk en hoe om daarmee om te gaan🔗

Rusie in die kerk. Twis en nyd in die gemeente. Die teendeel van rus en vrede: die vrug van die inwoning van die Heilige Gees in die gemeente. Verbittering tussen lede van die gemeente van Christus veroorsaak groot skade. Veral as daar ’n verbittering tussen mense wat leiding gee in die kerk kom. Daar kan selfs skeuring kom uit rusies tussen mense wat die kerk liefhet en hulle in haar diens stel, maar mekaar in ’n bepaalde saak nie meer kan bereik nie.

Kon Lukas nie die twis tussen Paulus en Barnabas weggelaat het nie? Wie het iets daaraan? Wie word daardeur gebou? Die feit is dat Lukas nie hierdie droewige gebeurtenis weggelaat het nie. Die rusie tussen Paulus en Barnabas het bekend gebly in die jong christelike kerk. Die skerp konflik het nagevolge gehad vir die sendingswerk! In plaas van een groep sendelinge gaan nou twee klein spanne op reis om die evangelie in die wêreld van dié dae te versprei. Met ander woorde: Die saak van die Evangelie is nie deur hierdie verbittering geskaad nie en die verbreiding van die Evangelie is nie belemmer nie. Daarin sien ons hoe die Heilige Gees tog die leiding behou selfs as geestelike mense mekaar tydelik kwytraak.

Deel in die genade🔗

En tog Byna elke gemeente ken in haar geskiedenis voorbeelde van onenigheid, rusies en ongeestelike optrede, harde woorde oor en weer. Dit mág nie so wees nie, maar dit gebeur en sal ook bly gebeur. Paulus en Barnabas het beide genade geken. Hulle was vooraanstaande broeders in die jong christelike kerk. Die kerk van die Nuwe Testament het geweldig baie aan die apostels te danke!

Christus het immers ’n groot geskenk aan sy kerk in die figuur van dié Paulus gegee. Hoe het hierdie broeder insig in die Wet en die Evangelie, in kruis en opstanding, in die groot toekoms van die Here Jesus Christus gehad. Hy was een van die allerdiepste christelike denkers. Watter groot werk het ons nie om hom te verstaan nie. Hy was ’n man wat met die Heilige Gees besiel was.

Maar ook ’n man soos Paulus bly sy persoonlikheid en sy karakter behou. Genade heilig ons persoonlikheid maar verander dit nie. Ons behou ons karakter. Maar ons probeer om met die swak kante van ons karakter positief christelik om te gaan. Die apostels het in die begintyd van die christelike kerk veel gehad om oor te besin. Alles was vir hulle nuut.

Daar was vir die lewe van die jong kerk weinig reëlings getref. Juis Handelinge 15 beskryf vir ons ’n uiters belangrike vergadering van die apostels in Jerusalem. Paulus het aan die begin van sy tweede sendingreis gestaan. Hy wil dit saam met Barnabas onderneem. Barnabas wil vir Johannes Markus saamneem op die nuwe sendingreis. Maar Paulus wil pertinent nie vir Johannes Markus meer saam hê nie. Markus het tydens die eerste sendingreis dit afgesê. En sowel Paulus as Barnabas het niks aan mekaar toegegee nie. Daar ontstaan ’n verbittering, as’t ware ’n koorsaanval. En die temperatuur het hoog opgeloop, tot ’n krisis gelei.

Die gevolg is dat Paulus vir Silas (dus Lukas) uitkies om op die sendingreis met hom saam te gaan. En Barnabas het saam met Johannes Markus na Ciprus vertrek. Ons hoor daarna niks meer van hulle nie.

Kan ons uit die konflik leer?🔗

Twee arbeiders in Berlyn het oor die kerk in gesprek geraak: “Daar sien hulle my nie weer nie”, sê die een vir die ander. “Glo jy dan nie in God nie?” vra laasgenoemde.

Waarop die eerste een antwoord: “Ek glo wel in God, maar ek het geen vertroue in sy grondpersoneel nie.” So ’n uitspraak stem tot nadenke. Hoe hou ons die mense in die kerk en die gemeente bymekaar? Al die mense in hulle verskeidenheid, met hulle nie altyd enerse ingesteldheid en insigte, hulle agtergrond, hulle karakters nie. Hoe hou jy hulle byeen in die een band van die geloof, hoop en liefde? Moet daar dan altyd skeuring kom?

’n Kerkskeuring is alleen geoorloof as die Woord van God duidelik en aantoonbaar in gedrang kom. As die vrysinnigheid sterk word, as kerklike vergaderings die evangelie verswyg of daaraan gaan torring. As die mense op ’n manier daarmee gaan optree wat duidelik in botsing kom met die Evan­gelie self. Dan is reformasie van die kerk gebiedend.

Só ’n reformasie van die kerk het in die 16e eeu plaasgevind en ook die terugkeer na die ware kerk van Christus in Nederland in die 19e eeu (die sogenaamde Afskeiding) mag as ’n vorm van wettige reformasie van die kerk gesien word. Maar oor ’n bepaalde klemverskil, oor ’n verskil in plaaslike gewoontes mag daar geen kerksplitsing wees nie, en dus seker nie oor die sogenaamde middelmatige sake nie, al is dit nie so maklik om te sê wat tot die middelmatige sake behoort nie.

In ’n gemeente kan nie elkeen sy of haar sin kry nie. Om die geringste redes staan ons teenoor mekaar. ’n Kerkraad mag hom nooit laat verlei om tussen groepsdenke of meningsverskille ’n keuse vir die een teen die ander te maak nie. Ook hierin is die kerkraad eiesoortigheid in denke en optrede. Hy staan net in diens van Christus. Deur middel van sy Woord en Gees regeer Christus die hele gemeente. By die geestelike regering het die kerkraad ’n eie taak.

’n Kerkraad moet dus altyd bokant partye bly staan en dit word deur geeneen van die partye met dank aanvaar nie. Maar dit is die enigste geestelike krag van die kerkraad en daardeur sal hy die gemeente bou en uiteindelik die eenheid bevorder en bewaar. Al te veel ellende spruit daaruit wanneer bepaalde mense na die oë gekyk word. Uiteraard moet ’n kerkraad luister na wat mense sê. Maar die kerkraad het ’n eie bevoegdheid om wat gesê word te toets aan die Woord en die belydenis.

Die hele gemeente🔗

Daarby moet die kerkraad die hele gemeente voor oë hou. Almal moet oor die algemeen soms toegee, ook in wat ons in ons gewete as geoorloof beskou en graag wil hê. Maar die eerste vraag is: Dien ek die geheel of soek ek my eie belang of die groep wat ek probeer versterk? Ook onder Christene is niks menslik onmoontlik nie. Maar elke lid van die gemeente moet hom van tyd tot tyd afvra: hoe gedra ek my in die gemeente met die opbou van die geheel voor oë? Is ek ’n bouer of ’n afbreker? Of nog iemand anders? Bou ek brûe of breek ek hulle weer af?

Soms gebeur dit dat mense wat swaar storms met mekaar deurstaan het, uit mekaar gaan vanweë ’n storm in ’n glas water. Volle mondigheid behaal ons nie altyd in die praktyk nie, al moet ons daar na strewe!

Die groot hervormer Johannes Calvyn het in sy buitengewone werksame lewe baie moes deurstaan. Die storms het oor hom heengegaan. En hy waarsku die Christene van sy tyd en dus ook vir ons as hy sê: “As so iets gebeur onder mense wat in teëspoed of beproewing ’n heilige eenheid bewaar het, hoe maklik sal Satan dan nie die geleentheid kry om mense, wat geen enkele verlange ken om die vrede te bewaar nie, uit mekaar te dryf”.

Versoening moontlik🔗

Konflikte hoef nie die laaste woord te hê nie - hulle mág nie. Dit geld selfs van (kerk) historiese konflikte. Later praat Paulus in sy briewe sonder enige verwyt oor Barnabas (1 Kor 9: 6). En drie keer noem hy in sy briewe die naam van Johannes Markus met ’n goeie getuienis (Kol 4: 10; 2 Tim 4: 11 en Fil 24). Dit kan weer goed gaan tussen broeders en susters wat rusie gehad het. Hoe kan dit anders as hulle weer tot die nuwe en deurleefde besef kom wie hulle saam en wie hulle persoonlik voor God is? Dat hulle almal deur een en dieselfde Saligmaker behoue moet word.

Hou dus konflikte bespreekbaar. Praat op ’n vriendelike toon. Die kerk is nie die wêreld nie. En: hoe staan ek bekend? As ’n man of vrou van vrede of as iemand wat skoor soek? Hoe ken God ons? Indringende vrae. Maar in selfondersoek mag ons nie wegskram van die mees indringende vrae in die lig van die Woord en Gees nie. Want die eenheid van die kerk en die vrede van die kerk is vir ons dierbaar.

Ek eindig met ’n woord van Paulus: “En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei” (Fil 1:9, 10a).