4 bladsye.

Hemel en hel - kan dit wees?

Die vraag in die titel van hierdie artikel leef teenswoordig by baie mense. Hemel en hel – bestaan dit? Gaan dit nie oor uitgediende voorstellings waaraan gelowiges van ons tyd nie meer gebonde hoef te wees nie?

ʼn Opname in Europa het getoon dat selfs ’n redelike groot groep van meelewende kerklidmate nie glo aan ʼn lewe na die dood nie. En van die algemene bevolking in Europa was dit nog baie hoër. Daar is in ons tyd ʼn sterk antimetafisiese tendens. Dit wil sê dat baie mense niks wil weet van ʼn ander werklikheid as die sigbare en tasbare realiteit nie. Wat nie wetenskaplik bewys is, en wat nie met ons sintuie of instrumente waargeneem kan word nie, word na die ryk van fabels gerelegeer. So glo mense nie aan die lewe na die dood, engele of duiwels, hemel of hel of in die bestaan van God nie.

Die tradisie wankel🔗

Die kerke het ook nie die ysigheid van hierdie denkklimaat vrygespring nie. Baie lank was die vraag of daar lewe na die dood is, in die Christelike kerke nie eers ter sprake nie. Daar is algemeen  met die onomwonde uitsprake van die kerkvaders hieroor ingestem. Tertullianus (ca. 200 n. C.) begin sy boek oor die opstanding van die liggaam met die woorde: ‘Die opstanding van die dode is die vertroue van die Christen; deur daardie geloof is ons wat ons is’. Twee honderd jaar later sê Augustinus dat mens sonder die geloof aan die opstanding van die gestorwenes nie ʼn Christen kan wees nie (in sy groot werk Die Stad van God, Boek XX.20). Die Geloofsbelydenis van Atanasius uit die vyfde eeu bely aan die slot: ‘En die wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie’. Die kerk deur die eeue het dan ook altyd vasgehou aan ʼn tweërlei afloop van die geskiedenis van die mensheid: ʼn ewige wel of ʼn ewige wee.

In ons tyd verskyn egter boeke waarin Christelike teoloë die vraag bespreek of die dood nie die einde is nie. Die meeste teoloë wat aan die gesprek deelneem, wys wel die gedagte van ‘die dood is dood’ af, maar is dit nie insiggewend dat die belydenisartikel van die ewige lewe hoegenaamd tussen Christene vir bespreking oopgestel word nie? Teenswoordig word deur baie in die kerke die standpunt gehuldig dat mens ook Christen kan wees sonder geloof in die lewe na die dood. Ek haal aan: ‘Oor die geloof aan ʼn lewe na hierdie lewe word op allerlei maniere geargumenteer. ’n Groot groep Christene glo dit nie; met die dood hou dit op, sê hulle; mens kan heeltemal goed in God glo sonder om iets na hierdie lewe te verwag. Ander glo in reïnkarnasie. So bestaan daar verskillende beskouings – binne en buite die kerke – oor die vraag: hou dit by die dood op? Mense het baie vrae daaroor

Kom vraende, soekende en twyfelende geloof in die plek van ʼn standvastige belydenis van die dinge wat onder ons volkome sekerheid het?

Die hel verloor grond🔗

Ek het reeds na die opnames in Europa verwys. Dit is telkens opmerklik dat daar meer mense is wat glo dat daar ʼn hemel is as dié wat die bestaan van die hel glo. Die hel behaal ʼn lae telling in die opinie-opnames. Minder as 20% van die respondente in die peiling het geglo dat daar ʼn hel is, teenoor 36% wat geglo het dat daar ʼn hemel is. Op die vraag ‘Is daar ʼn oordeel in die hiernamaals oor goeie en slegte mense?’, antwoord 23% ja, maar nie minder nie as 60% antwoord nee. Daar is dus sprake van groot afkerigheid aan die gedagte van ʼn oordeel en vergelding na hierdie lewe. Menslikerwys kan ’n mens dit goed begryp, hoewel ons ons kan afvra of mense nie hier besig is om die stem van die gewete te onderdruk nie.

Die neiging onder moderne teoloë is om by hierdie neiging in die openbare mening aan te sluit. In verskillende geskrifte uit die laaste jare is die vraag gestel of die kerk nie die voorstelling van die hel moet laat vaar, of dan ten minste ingrypend herinterpreteer nie. Die pleidooi hang nie net saam met die genoemde antimetafisiese tendens nie, maar ook met nuwe ontwikkeling in die denke van hierdie tyd. In ʼn sekere sin sou mens van ʼn kentering kon praat.

Nuwe belangstelling🔗

Miskien kan ons tog sê dat ons vandag ʼn kentering beleef wat betref die antimetafisiese tendens. Daar gaan steeds meer stemme op wat praat van lewe na die lewe, byvoorbeeld na aanleiding van die sogenaamde byna-dood (‘near death’) ervarings. Van vele kante hoor ons getuienisse oor verskynings van ligtende gestaltes, engele en ontvangs van boodskappe uit ʼn ander dimensie. Die boeke van R. A. Moodey jr. Het byvoorbeeld baie invloed gewerf. Die man op straat word daarvan oortuig dat daar meer tussen hemel en aarde is as die sintuiglik waarneembare. Die belangstelling vir die okkulte en die mistieke neem toe en die media doen gretig mee. Dit alles beteken egter allermins dat daarmee terugkeer word na die Christelike beskouing van die ewige bestemming van die mens.

Reïnkarnasie🔗

Dit is opmerklik dat verskeie Christelike teoloë in die laaste tyd die gedagte van reïnkarnasie begin verdedig. Mens dink aan die Remonstrantse teoloog Dr. Joanne Klink. Sy verwys in haar boek Die onbekende venster (Nederlands: Het onbekende venster) na allerlei getuienisse van klein kindertjies wat, volgens haar, teruggaan op herinneringe van ʼn vorige bestaan. Die radio-pastor van IKON, Ds. Hans Stolp, het ook in ʼn onderhoud verklaar dat hy tot die (volgens hom bevrydende) insig gekom het dat elke mens verskeie kere na die aarde terugkom, om so in opeenvolgende lewens op die ewigheid voorberei te word.

Die hel as tydelike fase🔗

Dr. R. Kranenborg, wat ʼn paar boeke oor reïnkarnasie geskryf het, toon aan hoedat die oplewing van die geloof in reïnkarnasie saamhang met, en voortvloei uit, ernstige besware teen  tradisionele beskouings binne die Christendom. Kan die kort lewe tussen wieg en graf werklik beslissend wees vir die nimmereindigende ewigheid? Die teenstelling tussen hemel en hel is so absoluut en definitief. Is dit nie onbarmhartig om so ʼn beslissende onderskeid te grond op die een, kort lewe wat mens hier op aarde lei nie? Jy kan dit nooit oor doen of regmaak nie. Dit word as onregverdig, selfs sadisties, geag as mense op grond van hierdie enkele lewe ewig verlore sou wees.

Hoewel Kranenborg self nie in die geloof in reïnkarnasie deel nie, vind hy tog in hierdie kritiek op die Christelike beskouing van die hel rede om na ander opvattings van, en inhoud aan, die hel te soek. Hy wys op die gedagte van die heilsuniversalisme, waarvolgens dit met alles en almal uiteindelik goed afloop, al moet dit deur ʼn louteringstyd, deur ʼn soort vagevuur, voorafgegaan word.

Die opvatting van die hel as voorlaaste werklikheid, as die plek van tydelike vrees en gewetensoortuiging, word vraenderwys of stellingingsgewys deur teoloë soos K. Barth, H. Berkhof, en op meer populariserende wyse deur A. J. R. Brussard, J. Bonda en H. G. Fonteyn na vore gebring. Na die verblyf in die hel volg dan nog die saligheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Die wêreld as hel🔗

Ander gaan ʼn stap verder. Vir hulle bestaan die hel nie in ʼn hiernamaals nie, maar uitsluitlik in hierdie wêreld, waar mense die lewe vir mekaar tot  hel kan maak. Wanneer die kerk dan hel en verdoemenis preek, moet dit verstaan word as radikale samelewingskritiek en as ʼn konkrete oproep tot bekering hier en nou. Dit gaan dan oor die bekering van die Mafia- of staatsgeorganiseerde misdaad van dobbel- en seksklubs, van die bewapeningsbedryf, gifgas, volksmoord, en godsdienstige hoogmoed wat lei tot verdrukking en diskriminasie. Dit sou veel ernstiger probleme wees as ʼn eventuele hel en verdoemenis in die hiernamaals.

Teenstemme🔗

Dergelike tendense in die rigting van alversoening is in die lug en word op teologiese vlak selde weerspreek. Wie dit wel doen, kan daarop reken dat die ‘fiole van toorn’ op hom of haar  omgekeer sal word.  Hoe kan jy as Christelike teoloog nog oor die ewige verdoemenis praat of skryf? Dit is tog seker in stryd met God se liefde en regverdigheid? Dr. B. Wentsel is een van die hedendaagse teoloë wat hier ʼn teenstem laat hoor. Op die vraag ‘sal die geluk van die uitverkorenes nie geskaad word deur die wete dat ʼn groot deel van die mensheid hulle in ʼn  toestand van ewige ellende bevind nie?’ antwoord hy eenvoudig: ‘Die gelowiges sal heeltemal aan God se kant wees’. Wentsel skryf tereg: ‘Ons moet daarmee rekening hou dat baie (die meerderheid) op die breë pad na die verderf is... Die ware kerk (weiniges) sal altyd in die minderheid wees en onderdruk word ... Bekeer julle van die dwaling van julle versinsels, julle aanhangers van alversoening!’

Andreas Symank wys treffend wat gebeur as die Bybelse hoogspanning weggewerk word in ʼn leer van alversoening: ‘Wanneer mens die liefde sover rek dat dit onvermydelik almal insluit, hou dit op om liefde te wees; die weegskaal van die liefde skiet omhoog, omdat dit alle gewig verloor’.

Sorgsaamheid vereis🔗

Dit hoef nouliks gesê te word dat daar net met groot huiwering en terughoudendheid oor die hel gepraat moet word. Ook waar dit gaan oor die hemel is dit goed om te besef dat die Bybel in beeldende taal praat oor ʼn werklikheid wat ons begripsvermoë te bowe gaan. Ten aansien van die hel geld dit in ʼn nog groter mate. Hierdie terughoudendheid is nie in die loop van die eeue altyd in ag geneem nie. Die Middeleeuse volkspredikers by name, maar nie hulle alleen nie, is berug vir hulle grafiese beskrywing van die helse verskrikkings en kwellinge. Skilders soos Jeroen Bosch het, in afgryslike voorstellings van die laaste oordeel en die hel, op die linnedoek uitdrukking gegee van wat onder die kerkvolk geleef het. Hierteenoor staan die somber en sober Bybelse taal oor die ontsettende werklikheid van ewige verlorenheid.

Bewoënheid🔗

Naas sorgsaamheid is ook bewoënheid nodig. Sommige handhaaf stoer die belydenis van die twee paaie, maar daar is by hulle niks te bemerk van ʼn heilige lewe nie. Paulus het die vrees van die Here geken en word deels daardeur gedryf tot vurige evangelieverkondiging en gedronge bediening van die versoening (2 Korintiërs 5:11-21).

Die bekende skrywer C. S. Lewis het die uitspraak gedoen: ‘Daar is nie ʼn leerstuk wat ek, as ek kon, eerder uit die Christendom sou wou verwyder as dit (dié van die hel) nie’. Dit is begryplik dat ook ʼn gelowige soms dink: ‘was daar maar nie ʼn hel nie’. Maar Lewis het geweet dat hy die leerstuk van die ewige verlorenheid nie kón verwyder nie. Daarvoor word dit te duidelik in die Skrif geopenbaar. In die evangelies is daar nie minder nie as 75 uitsprake oor die hel en die ewige vuur uit die mond van Jesus self opgeteken. Die Skrif praat met soveel erns oor sonde as brute opstand teen die goeie en regverdige God, dat dit vir die geloof duidelik word en deur die onderrig van die Heilige Gees bevestig word dat ons as sondaars tydelike èn ewige strawwe verdien het. Die bloedige erns van die sonde van hardnekkige ongeloof, is dat daardeur ʼn ewige verderf oor die sondaar afgeroep word. God se gekrenkte en versmade liefde kan ook toorn. Die hel word tereg die gevolg van God se verworpe liefde genoem. So kan mens selfs sê dat God Hom ook in die hel as Liefde openbaar, maar dan as gekrenkte liefde, dit is sy toorn. Om nogmaals vir Lewis aan die woord te stel: ‘Ten slotte is daar net twee soorte mense: hulle wat vir God sê: “Laat U wil geskied” en húlle tot wie God uiteindelik sê: “laat jou wil geskied”. Almal wat in die hel is, het dit self gekies.

Die roeping van die gelowige🔗

Dit gaan oor ʼn huiweringwekkende werklikheid. Toe ek as jong student onder Prof. Dr. H. Berkhof studeer het, is ek getref deur wat hy oor die leer van die ewige verlorenheid gesê het. As Christene dit werklik glo, het Berkhof gesê, verstaan ek nie waarom hulle nie soos die Jehova getuies van deur tot deur gaan om mense oor die vreeslike toekoms te waarsku nie. Die uitspraak het op my ʼn indruk gemaak wat my nooit verlaat het nie. Nie omdat ek die metode van die Jehova getuies bewonder nie, maar omdat hier die vinger tereg gelê is op die onbewoënheid en onaandoenlikheid wat deur vele regsinnige gelowiges getoon word  ten aansien van hulle medereisigers na die ewigheid.

Bestaan die hemel en die hel? Glo ons dit nog? As dit so is, sal ons ons saligheid met vrees en bewing uitwerk en, met opregte bewoënheid teenoor ons naaste, getuig van die enigste Naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word (Handelinge 4:12): die Naam van Jesus, wat deur sy bloed red van die ewige verderf en deur sy Gees lei tot die ewige saligheid. Deur die geloof in sy Naam wyk die dreiging van die hel en wink die uitsig op die hemel, ja op die voltooiing van die koninkryk van God: ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde, waarop geregtigheid woon.

Literatuur🔗

J. Bonda, ‘De zorg om het heil van de velen – Apokatastasis?’ Kerk en Theologie, 1985 1,  17-31.

A. J. R. Brussaard, Als en mus op het dak, wrede trekken in het christelijk belyden, Baarn 1978.

H. G. Fonteyn, Laatste (on)mogelijkheid? Over de (on)werklijkheid van die hel, Kampen 1988.

Joanne Klink, Het onbekende venster, nieuwe ervaringen met leven en sterven, Baarn 1989.

R. Kranenborg, Reïncarnatie en christelijk geloof, Kampen 1989.

R. A. Moodey jr., Leven na dit leven, Naarden 1977 en Gedagten over leven na dit leven, Naarden 1978. (Kritiese kommentaar hierop in J. Hoek, Leven en dood in Hoger hand, Kampen 1988, pp. 68-77).

A. W. Musschenga, Dichterbij dan ooit..., over verlichtende ervaringen en Kijk, maar kijk met verwondering, over geloven in een nieuwe tijd, Baarn 1989.

Andreas Symank, Worden alle mensen gered? Gedachten over de leer der alverzoening, ‘s-Gravenhage, 1989.

B. Wentsel, ‘De eeuwige zaligheid en de eeuwige verdoemenis’ in Credo, 2/89, 7-12.

Herman van Wijngaarden, ‘Allen die in de hel zijn, hebben dat zelf gekozen”, in Koers, 18-08-1989 (hierin aanhalings uit C. S. Lewis, De grote scheiding).