Bron: Kerk en Woord, 2001. 4 bladsye.

Hervormingsdag

Luther se 95 Stellings🔗

Dit het deur die jare ’n kerklike tradisie geword om op die Sondag naaste aan 31 Oktober spesifiek aandag te skenk aan die groot Reformasie van die kerk gedurende die 16e eeu. Want op 31 Oktober 1517 het die reformator Maarten Luther sy bekende 95 stellings aan die deur van die slotkapel van Wittenberg vasgespyker. Hierdie daad van ’n enkele persoon het geweldige gevolge gehad en was van groot betekenis vir die verdere ontwikkeling van die kerk- en wêreldgeskiedenis. Dié datum word algemeen beskou as die begindatum van die Reformasie.

Baie mense verkeer onder die indruk dat die 95 stellings van Luther ’n volledig uitgewerkte program vir die reformasie van die kerk bevat het. Dit was egter geensins die geval nie, want die stellings het spesifiek gefokus op een saak, naamlik op die aflaathandel. Uiteraard was daar ander onderliggende teologiese kwessies wat indirek ook aangespreek is. Maar terwyl daar ’n magdom van ernstige dwa­lings binne die destydse Roomse kerk voorgekom het, was die inset van Luther se stryd vir kerkherstel juis die saak van die aflaathandel. Waarom?

Dit was hoegenaamd nie Luther se bedoeling dat dié stellings onder die volk versprei sou word nie. Daarom was hulle dan ook nie in die Duitse taal geskryf nie, maar in Latyn, wat destyds die gebruiklike teologiese voertaal was. Toe Luther verneem dat die stellings in Duits vertaal is en onder die volk versprei word, het hy die volgende in ’n brief aan ’n vriend geskryf: “Dit was nie my bedoeling om hierdie stellings onder die volk te versprei nie, maar slegs om met ’n paar geleerdes in en om Wittenberg ’n gedagtewisseling oor die onderhawige sake aan die gang te sit. Hiervan sou dit afhang of die saak in die doofpot sou beland of met hulle goedkeuring uitgegee sou word. Nou word hulle egter, teen my bedoeling in, gedruk en versprei, terwyl hulle nie daarvoor geskik is nie. Want van die stellings is daar sommige waaroor ek self nog twyfelagtig is. Indien ek sou besef het wat tans besig is om te gebeur, sou ek sommige stellings beter geformuleer of selfs weggelaat het.”

Feit is ewenwel dat die 95 stellings in Duits vertaal en binne ’n baie kort tydsbestek deur die hele Duitsland versprei is. Luther wou ’n teologiese bespreking uitlok. Maar, onbewus van die draagwydte van sy daad, is op 31 Oktober 1517 die Reformasie gebore! Die reaksie van Jan en alleman op die stellings was oorweldigend.

Vanwaar hierdie geweldige reaksie op die enkele saak van die aflaathandel?

Die Aflaat🔗

Wat is ’n aflaat eintlik? Die geskiedenis van die aflaat gaan ver terug in die kerkgeskiedenis. Reeds vanaf die sesde eeu na Christus het die aflaat ’n rol begin speel in die destydse teologiese denke en kerklike lewe. Aanvanklik, na dit voorkom, in 'n redelik onskuldige vorm. Maar mettertyd het dit ontaard in die goddelose vorm en god-onterende praktyke wat Luther daartoe genoop het om dit heftig te bestry.

Die gedagte agter die aflaat was, en is, dat die kerk as instituut deur God gemagtig is om sondes te vergewe of te straf. Hierin vind ook die biegpraktyk van die Roomse kerk sy oorsprong. Die priester, aan wie tydens die bieg die sondes bely word, het gaandeweg die kerklike bevoegdheid gekry om absolusie, vergifnis van die belede sondes aan die biegteling te skenk of om ’n straf op te lê in die vorm van ’n boete. Die boetedoening het aanvanklik gewoonlik bestaan uit die onthouding van sekere genoeëns, die verpligte uitvoer van ’n aantal godsdienstige handelinge soos om honderd keer die “Onse Vader” te bid, om te vas, aalmoese te gee, goeie werke te doen, ensovoorts.

Gedurende die later middeleeue het die praktyk ontstaan om die boetedoening af te koop deur die koop van ’n aflaat. Die aflaat het dus ’n geldboete geword om vergewing van sondes te verkry. Dit kon ook geskied deur besondere prestasies, soos die deelneem aan ’n kruistog of bedevaart, skenkings aan kerke of kloosters ensovoorts. Die Roomse leer van die vaevuur het hierby ook ’n groot rol gespeel. Want as jy as sondaar nie genoeg boetes vir jou sondes betaal het nie beland jy, as jy te sterwe kom, in die vaevuur. Die vaevuur is ’n plek van lyding waar gelowiges na hulle dood verdere suiwering ondergaan om op te maak vir die tekort aan boetedoening gedurende jou lewe. Slegs daarna kan jy die hemelse saligheid beërwe.

Die angs vir die vaevuur was algemeen gedurende die middeleeue. Dit het die kerkvolk in groot onsekerheid en angs gedompel. Die enigste redmiddel daarteen was die stiptelike uitvoering van die boetedoening of die afkoop van jou tekort aan die boetedoening deur middel van die aankoop van ’n aflaat. Die genade van God kon dus gekoop word: dit is as ’n handelsartikel op die godsdienstige genademark te koop aangebied! Sommige kerkleiers het besef dat hulle die aflaatstelsel, mits “goed” aangewend, in ’n goudmyn kon verander. Slegs ’n goeie bemarkingstelsel met goeie verkoopsagente, wat op ’n kommissie-basis sou werk, was nodig. So het ’n goed georganiseerde handel in aflate begin, met as verkoopsagente priesters wat spesifiek daarvoor aangestel is.

Die Aflaathandel🔗

Dit sal geen verbasing wek nie as gestel word dat die aflaatstelsel grootliks bygedra het tot die verwêreldliking van die kerk. In die tyd van die kruistogte het die destydse pous selfs ’n volledige aflaat belowe aan almal wat daaraan deelneem. Let wel: ’n aflaat vir sondes wat reeds begaan was asmede vir sondes wat nog begaan sou word, sodat jy verseker was van jou onmiddellike ingang in die hemelse heerlikheid na jou dood. So het die gedagte dat die genadegawes van God as handelsware op die genademark gekoop kon word, steeds meer begin posvat onder die volk. Die aflaat is massaal en meganies verleen en die gesindheid van die ontvangers het hoegenaamd geen rol meer gespeel nie. Dit het uiteraard veruitwendiging van die geloof in die hand gewerk.

Die Roomse kerk het geleer dat die kerk oor ’n oorskot van goeie werke beskik wat ontstaan het deur heiliges wat meer goeie werke gedoen het as wat nodig was vir hulle eie sondes en dat die pous, as plaasvervanger van Christus, daaroor die seggenskap het. Deur die koop van ’n aflaat kon jy as sondaar ’n deel van daardie oorskot as ’n krediet op jou persoonlike sondebetalingsbalans by God verkry. Ook kon jy deur die koop van ’n aflaat ’n reeds oorlede familielid of vriend uit die vaevuur bevry. Die huis van die Here het weereens ontaard in ’n huis van koophandel.

In die dae van Luther het die geld-honger van die pous en geestelikheid die aflaathandel laat ontaard in ’n skaamtelose swendel soos nooit tevore nie. Wittenberg, waar Luther gewoon en gewerk het, was ’n heel besondere “genade-oord”. Want in die einste slotkapel, waar Luther sy 95 stellings aan die deur vasgespyker het, was daar ’n buitengewone ryk relikwieë-skat gehuisves. Relikwieë is werklike of vermeende oorblyfsels soos klere, bene, hare, ensovoorts van gestorwe heiliges. Die relikwieë is as heilig beskou en wonderdadige krag is daaraan toegeskryf.

In Luther se dae het die versameling in Wittenberg meer as 17 000 items beloop! Die merkwaardigste voorwerpe is daarin gevind. Soos ’n beentjie van Elisabet (die moeder van Johannes die doper), ’n pluisie haar van Maria, ’n stukkie hout van die krip in Bethlehem, een van die dorings uit Christus se doringkroon ensovoorts. Aan almal wat hierdie skatte kom besigtig het, is aflate verkoop. Luther was ongetwyfeld ten volle bewus van hierdie praktyke. Heel moontlik en waarskynlik het hy self die relikwieë gaan besigtig en van die “genade” aanbiedings gebruik gemaak voor sy bekering.

Die destydse pous het hom voorgeneem om ’n groot en pragtige katedraal in Rome te bou, die bekende Sint Pieterkerk. Maar die finansiering daarvan was ’n probleem. Nou het die Duitse aartsbiskop van Mainz, Albrecht van Brandenburg, ’n groot uitstaande skuld by die pous gehad. Dit het onder meer ’n groot som ingesluit as betaling vir Albrecht se benoeming as aartsbiskop. Kerklike ampte is dikwels gekoop. Albrecht het nie oor die nodige fondse beskik om sy skuld aan die pous te betaal nie. ’n Bankier se hulp is ingeroep wat die nodige geld voorsien het.

Die pous het op sy beurt aan Albrecht die reg gegee om, gedurende ’n tydperk van agt jare, aflate te laat verkoop in sy gebied. Die helfte van die opbrengs was dan bestem vir Rome, die ander helfte is bestee om Albrecht se skuld by die bankier te delg.

In Albrecht se gebied tree as aflaatverkoopsagent die dominikaanse priester Tetzel op. Hy het op ’n kommissiebasis gewerk! Hy het van dorp tot dorp getrek en met groot welsprekendheid sy “godsdienstige” ware aan die man gebring. As deel van sy verkoopstrategie het hy gewoonlik begin om te preek en die mense bang en benoud gemaak vir gruwelike lyding wat hulle te wagte sou staan, indien hulle sonderegister ’n wanbalans sou toon teenoor hul goeie werke. Hy het groot sukses gehad.

Met ware boetedoening het een en ander uiteraard niks te make nie. Die aflaathandel het ’n baie winsgewende finansiële besigheid geword waarby die kosbare genade van Christus verkwansel is vir geldelike gewin.

Die keurvors Frederik die Wyse het Tetzel verbied om in die gebied onder sy gesag wat Wittenberg ingesluit het, die aflaathandel te bedryf. Die rede hiervoor was egter nie van prinsipiële aard nie. Hy was bang dat sy eie aflaathandel met sy relikwieë daardeur skadelik getref sou word. Hy wou geen konkurrensie in sy gebied toelaat nie!

Tog het mense uit sy gebied in die grensgebiede agter Tetzel aangeloop om te kan profiteer van die goedkoop “ryk genade” wat op gesag van die pous aangebied word. So het Luther as priester dit ervaar dat mense wat publiek in sonde geleef en daarin volhard het op grond van die gekoopte aflaat, rustig met hulle sondige lewenswandel voortgegaan het. Daar was geen sprake van berou of bekering nie. Dit het Luther as sieleherder geweldig verontrus.

Luther die Herder🔗

Dit sal uit die voorgaande duidelik wees waarom Luther hom geroepe gevoel het om verset aan te teken. Hy self het geworstel met die vraag: hoe kry ek ’n regverdige God? Hy het gaan insien wat die betekenis was van die begrip “die geregtigheid van God”. Dit was vir hom ’n openbaring om weer te ontdek dat die regverdige deur die geloof sal leef. Hy het ontdek dat ons nie lewe deur ons dade nie, maar slegs deur God se skenkende geregtigheid in Christus.

Vir Luther het dit met betrekking tot die aflaatstelsel daarom ook duidelik geword dat hiermee die hart van die evangelie in die geding was. Hy het ’n groot deernis gevoel vir die arme skape wat so gruwelik mislei word. By die Duitse volk in die algemeen was daar ook reeds ’n weersin teen die stelsel, veral omdat die geldelike opbrengs bestem was vir die bou van ’n katedraal in Rome. Hierdie mense het gretig Luther se stellings gaan lees en bespreek. So het baie se oë oopgegaan vir die voosheid van die stelsel en die valse gerustheid wat dit gekweek het en is die grond vrugbaar gemaak vir die reformasie wat sou volg.

Teenoor die aflaathandel het Luther die ware noodsaaklike boetvaardigheid van ’n christenmens aan die orde gestel. So lui die eerste van sy stellings: “Ons Heer en Meester Jesus Christus bedoel as Hy sê “bekeer julle ensovoorts” dat die hele lewe van die gelowiges op aarde een gedurige boe­tedoening moet wees”. En stelling 36 sê: “Elke christen, sonder uitsondering, wat werklik berou toon oor sy sondes; besit volledige kwytskelding van straf en skuld, ook sonder aflaatbriewe”. Luther het die “sola gratia” die “uit genade alleen” weer ontdek. Geen menslike verdienste nie maar volkome versoening deur die voldoening van Christus. Geen menslike daad, hoe vroom ook al, kan of mag daaraan iets toevoeg. Maar wél eis God van ons geloof en bekering.

Calvyn het Luther by geleentheid “ ’n voortreflike herder van die christelike kerk” genoem. Ons wil dit hom nasê ook al stem ons as gereformeerdes nie in alles met wat Luther geleer het saam nie. Maar hy, wat die kerk volhardend daarop gewys het dat daar vir ’n christenmens geen ander lewe is nie as die lewe van boetvaardigheid, dit wil sê om die ou mens daagliks af te lê en die nuwe lewe aan te doen in die geloof, hy is onder Christus waarlik ’n herder in die gemeente van God. As sulks wil ons Luther dan ook eer.