Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Het Mense Volgens die Skrif Regte?

Algemene Spreektaal🔗

Menseregte kan sonder veel teëspraak daarop aanspraak maak om die mees oorheersende etiese onderwerp te wees aan die begin van die 21’ste eeu. Dit is die saak waar rondom wetgewers, regeerders en teoretici gedurig weer met mekaar vergader, of hulle altyd met mekaar saamstem, al dan nie. Respek vir menseregte is die taal wat in die internasionale gemeenskap verstaan en gebruik word. Selfs in lande waar menseregte geensins konstruktief funksioneer nie (dink maar aan Mugabe se Zimbabwe!), bly dit deel van die retoriek van elke dag.

Dwars oor kulturele verskille (van Oos tot Wes) en selfs godsdienstige groeperings (van Buddis tot Moslem en Judaïs), het die taal van menseregte verstaanbaar vir almal geword. Regte het die lingua franca van byna alle etiese besinning geword. Daar sal nie meer gesê word dat ons vir diere goeie sorg moet gee nie, eerder word sommer regstreeks gepraat van diere-regte! Ons kom soms uitsprake teë wat praat van die regte van bome, die mens se fundamentele reg om voort te plant en net meer as tien jaar gelede moes ons van die destydse Britse premier Tony Blair (in alle erns!) hoor van die fundamentele (sic!) reg wat elke mens het om sy eie vakansiebestemming te mag kies!

Ongemak🔗

Christene neig om oor die algemeen ongemaklik te voel met die met die tendense van die afgelope dekades. Vrae word gevra soos: “Is dit nie inherent selfsugtig om altyd weer te appelleer op my regte nie?”, “Leer Christus ons nie juis navolging van Hom in selfverloëning nie?”

Enige gesprek oor menseregte is veel meer gekompliseer as wat dikwels aanvaar word. Nie almal praat altyd van dieselfde saak wanneer die woord “menseregte” gebruik word nie. Nie elkeen wat dieselfde sê, bedoel ook dieselfde nie! Die taal van menseregte word in verskillende gesprekke gebruik, soos bv. wetgewende, politiese, juridiese of etiese kontekste. Die regter en die politikus bedoel nie noodwendig dieselfde wanneer hulle van regte praat nie. Maak die teoloog ook deel van die gesprek en dit word nog net meer moeilik om nie verby mekaar te kommunikeer nie.

Aanvaar of Verwerp?🔗

Die uitdaging waarmee Christene in die samelewing gekonfronteer word, is nie in die eerste plek die vraag of die steeds groeiende regte-woordgebruik aanvaar of verwerp moet word nie. Dit is my uitgangspunt dat ons nie hoef te kies tussen klakkelose aanvaarding of totale verwerping nie. As kerk van Christus het ons ook as volledige deelnemers aan die openbare lewe in die samelewing, eerder die roeping om te werk aan die ontwikkeling van ʼn aanvaarbare konsep van regte. Só ʼn konsep moet deeglik herkenbaar wees as deel van die openbare debat oor regte. Tegelyk moet dit deeglik en genoegsaam onderskei kan word van ander vreemde konsepte van regte om ʼn eie identiteit te verwoord en ʼn eie bydrae aan die openbare gesprek te maak.

Om van my kant ʼn eerste bydrae te probeer lewer aan die besinning oor die invulling van ʼn bruikbare en diensbare begrip van regte, wil ek in die res van hierdie kort artikel slegs aandag gee aan vergelykbare begrippe soos wat dit in die Ou Testament voorkom. So hoop ek om aan ons konsep van regte invulling te kan gee.

“Regte” in die Ou Testament🔗

Net soos ander antieke regsisteme, bestaan daar nie in die Hebreeuse taal ʼn word wat regstreeks ooreenkom met die begrip regte soos wat dit in ʼn hedendaagse konteks funksioneer nie.

Die woord “regsaak” (Hebr.: dîn) kom baie naby aan die begrip regte soos ons dit vandag ken. Koning Lemuel word aangemoedig om op te kom vir die “regsaak” (Spreuke 31:8) van die stomme en die wat wegkwyn. Jeremia kritiseer die volk wat nie pleit vir die regsaak van die wees nie. Hulle verskaf nie reg nie, selfs nie die reg van die wees nie! Hulle handhaaf nie die reg van die behoeftige nie (Jeremia 5:28). Hier is sprake van ʼn duidelike juridiese reg wat gehandhaaf en beskerm moet word.

Die woord wat in die Ou Testament die meeste gebruik word vir die regte wat ons op die oog het, is “reg / geregtigheid / regverdig” (Hebr.: mishpat). Die woord word vir ʼn wye reeks betekenisse gebruik. Van praktiese regspraak tot abstrakte reg, tot wetgewing, regsbesluite en – uitsprake en iemand (veral die Here) se getrouheid. Hierdie “reg” word dan ook baie dikwels verbind aan spesifieke kategorieë van mense, bv. die reg van dogters of van konings of van die wees en die weduwee. Dit is belangrik om by te voeg dat die woord dan altyd in die enkelvoud gebruik word en dus nie kan funksioneer vir sommer algemene “regte” van ʼn bepaalde kategorie mense nie. ʼn Baie korrekte weergawe van die frase kan dan ook telkens wees: “die wet met betrekking tot…” of “die wet van…”.

Geen “Onvervreembare” Reg nie!🔗

Verder is dit uitsonderlik dat daar ʼn objek saam met die woord “reg” (mishpat) gebruik word. Ons vind dus byna nooit dit wat ons sal ken in vandag se menseregtekultuur nie, t.w. die uitdrukking soos “reg op lewe” of “reg op eiendom” of “reg op voedsel”. Daar is blykbaar slegs drie voorbeelde van sulke objekte wat wel saam met “reg” gebruik word. Ons dink hier aan die reg van “eersgeboorte”, “(ver)lossing” en “besit” (vgl. Deuteronomium 21:17; Jeremia 32:7; Jeremia 32:8). Dit is telkens uit die konteks van die teksgedeeltes duidelik dat die “reg” hier geen hefboom is waarmee beheer en mag oor ander uitgeoefen word nie. Dit het elke keer te doen met goddelike opdragte en afsprake wat ʼn bepaalde kategorie mense bevoordeel of beskerm.

Om ʼn “reg” te hê beteken dus dat jy slegs voordeel trek uit die verpligting wat die een mens teenoor die ander het. Wanneer die Here se Wet gehoorsaam word, ontvang mense sekere “regte” of te wel “voordele” of “nut” uit die ander se gehoorsaamheid. ʼn Reg as ʼn wetlike en wettige gesag oor iemand anders se optrede bestaan byna nie in ʼn Ou Testamentiese konteks nie. Let byvoorbeeld op Jeremia se beskrywing van die lossingsreg. Hier moet in ag geneem word die mate waarin die “losser” vry was om die reg oor die eiendom uit te oefen al dan nie.

Kortom: reg kan die beste verstaan word as “dit wat regverdig is” vir ʼn persoon of “dit wat behoort te wees”. Die woord “reg” beskryf dus bloot die omstandighede waaronder almal gesamentlik as volk van die Here, die beste af sal wees. Vir die spesifieke individu kon dit beide voordelige, maar ook nadelige aspekte gehad het. As dit die beste is dat jy byvoorbeeld in die Jubeljaar jou broer se skulde kwytskeld, ly jy op die oog nogal verlies. En tog was dit die uitoefening van die reg! Die reg van die Ou Testament het dus duidelik oog vir dit wat bevorderlik is vir die gemeenskaplike belang van die (geloofs)gemeenskap. Wanneer ons met 21’ste eeu se oë kyk na die Ou Testament, sou ons dus wel bepaalde “regte” kon identifiseer wat implikasies vir individue sal hê. Tog is die leef-en denkwêreld van die Ou Testament glad nie so gerig op die voordeel van die individu soos ons tydsgees dikwels wil dikteer nie.

Slot🔗

Graag sou ek in ʼn opvolgartikel die Nuwe Testament ook ter sprake wil bring. Dit behoort in elk geval nou reeds duidelik te wees dat ons nie hoef bang te wees om die taal van reg en geregtigheid te gebruik nie. Dit sou heeltemal moontlik wees om sonder angstigheid deel te neem aan die hedendaagse gesprek in die openbare sfeer oor die regte van mense. Die uitdaging is om die invulling vanuit die doelstellings en horisonne van die Skrif self konkreet te maak.