Bron: Die Kerkblad, 1997. 5 bladsye.

Het Ons nog Profete Nodig?

profeet🔗

Die Roep om Profete🔗

Die kerk staan voor die drumpel van 'n nuwe eeu. Wat het die kerk nodig om ook ná die jaar 2000 te kan voortbestaan?

Hier en daar hoor ons die roep: Ons kerk het profete nodig. Daar is 'n dringende behoefte aan profete wat die gawe van die profesie besit en met gesag kan sê: "So spreek die Here! Dit is die wil van God vir die jaar 2000." Die Heilige Gees praat direk deur hulle en in krisisbelaaide situasies sal hulle vir ons sê wat die wil van die Here is.

Niemand kan ontken dat ons profete nodig het nie. Totius het aan die begin van hierdie eeu reeds daarvoor gepleit. Maar dan moet ons wel seker maak watter soort profete die kerk vandag en in die toekoms benodig. Laat ons luister wat die profeet van Mooirivier hieroor vir ons te sê gehad het.

Om sy advies in perspektief te plaas, gaan ons eers luister na wat die Bybel vir ons sê oor profesie en wat die kerkgeskiedenis vir ons leer.

Die Gawe van die Profesie🔗

Aan die kerk van die Nuwe Testament is die gawe van die profesie gegee. Die Heilige Gees wat met Pinkster in die kerk gekom het, het 'n groot aantal gawes saamgebring. Elke gelowige het die gawe van die Heilige Gees ontvang. Wanneer jy die gawe van die Gees ontvang het, ontvang jy daarby nog een of ander gawe. Almal kry nie dieselfde gawe nie. Dit verskil van persoon tot persoon. Een van die gawes is die profesie (Romeine 12:6). Jy kan 'n profeet wees.

Profesie in die Vroeë Kerk🔗

Om presies te weet wat die gawe van die profesie inhou en wat die profiel van 'n profeet is, moet ons eers kyk na die beginperiode van die kerk. Daar vind ons die apostels. Hulle is die eerste en die groot gawe van Christus aan sy kerk. Die apostels lê naamlik die fondament vir die kerk van die Nuwe Testament. Hulle was oor- en ooggetuies van Christus. Op hulle verkondiging is die kerk van die Nuwe Testament gebou.

Die apostels het twee sekondante gehad. By hulle arbeid is die apostels vergesel van twee groepe mense: evangeliste en profete. Hulle was ook gawes wat Christus vir sy kerk gegee het (Efesiërs 4:11). Die evangeliste het die apostels gehelp in hulle missionêre en instituerende arbeid.

Wanneer 'n gemeente gestig is, kom die profete by. Die profete het die apostels gehelp in die opbouende, stigtende en lerende werksaamheid in die gemeente.

Die Taak van die Profete🔗

Wat was die taak van die profete? Hulle het onder die direkte leiding van die Heilige Gees die wil en die weg van God in 'n bepaalde situasie aan die gemeentes bekend gemaak.

Ons kan dit so stel: die apostels het saam met die evangeliste orals die evangelie gebring en die profete het deur middel van openbaringe verder aan die opbou van die gemeente gewerk.

Aangesien die profete onder die direkte leiding van die Heilige Gees gespreek het, was daar ook die moontlikheid dat hulle hul eie gedagtes uitgespreek het. Daarom was daar vir die profete 'n beperking. Hulle moes profeteer, so skrywe Paulus in Romeine 12:6, na die maat van die geloof. Dit wil sê: hulle profesie was gebind aan die inhoud van die geloof. Met geloof word hier bedoel die evangelie of die Christelike leer.

Hebreews

Hoekom was Daar Profete?🔗

Die Ou Testament wys vir ons die pad. In die Ou Testament, voordat alles op skrif gestel was, het baie profete opgetree. Hulle was openbaringsprofete. Hulle het die wil van God deur middel van hulle profesieë aan die volk geopenbaar. Hulle profesieë is te boek gestel.

Daar was in Israel ook 'n ander soort profeet. Daar was selfs profeteskole. Jy kon leer vir profeet. Ons sou hulle gemeente-profete kon noem. Hulle moes die volk met die kennis wat God reeds geopenbaar het, lei.

Toe die Ou Testament gereed was, het die openbaringsprofete verdwyn. Daardie tipe profesie is na Maleagi nie meer gehoor nie. Die Nuwe Testament vertoon dieselfde patroon. In die beginperiode van die kerk was daar nog nie 'n geskrewe Nuwe Testament nie. Wat sien ons nou? Toe die fondament van die kerk klaar gelê is en die kanon afgesluit is, het die apostels en die profete van die toneel verdwyn.

Die profeet wat verdwyn het, kan ons die reisende profeet of die openbaringsprofeet noem.

Maar dan kom daar namate die kerk uitbrei 'n ander soort profeet tevoorskyn. Die reisende profeet of openbaringsprofeet maak plek vir die gemeente-profeet. Ons ontmoet hulle in groot getalle en bykans in alle gemeentes: in Jerusalem (Handelinge 6:5, 8; 11:27), in Antiogië (11:27; 13:1), in Caesarea (Handelinge 21:9, 10), in Korinte (1 Korintiërs 12). Ook in die geskrifte van die Apostoliese Vaders soos die Didaché en Pastor Hermas vind ons baie aanduidings van hierdie gemeente-profete.

Die Gemeente-Profete🔗

Nie alleen mans nie, maar ook vrouens het as profetesse opgetree soos ons kan aflei uit Handelinge 21:9 en 1 Korintiërs 11:5. In 1 Korintiërs 12 en 14 gee Paulus baie aandag aan hierdie tipe profete, omdat hulle in die kerk te Korinte besonder bedrywig was en daar allerlei probleme rondom die profete ontstaan het.

Wat het hierdie profete in die samekoms van die gemeente gedoen? Wat was hulle taak? Ons lees dit in 1 Korintiërs 14:3 – hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Nou het daar probleme in die gemeente te Korinte opgeduik: baie profete het dikwels gepraat en gesê hulle het 'n boodskap van die Heilige Gees ontvang. Soms het die profeet nie onder die leiding van die Heilige Gees gespreek nie, maar uit sy eie hart geprofeteer.

Daarom is dit noodsaaklik, so skrywe Paulus in 1 Korintiërs 14:29, dat hoogstens twee of drie moet profeteer en dat daarna die gemeente dit moet beoordeel, dit moet toets. Is wat gesê word, werklik tot stigting, troos en bemoediging van die gemeente? Daar kan ook valse profete wees.

Die apostel Johannes waarsku teen valse profete (1 Johannes 4:1). As toetssteen vir beoordeling of iemand wat profeteer 'n ware of 'n valse profeet is, is volgens Johannes die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God is wat in die vlees gekom het (1 Johannes 4:2-3).

'n Aksentverskuiwing🔗

Saam met die verskuiwing van die openbaringsprofeet na die gemeente-profeet vind daar ook 'n ander verskuiwing plaas. Ons kry reeds in die Nuwe Testament 'n merkwaardige aksent­verskuiwing. Met betrekking tot die profesie verskuif die aksent van 'n persoon na 'n boek.

Wanneer die profesie ter sprake kom, gaan dit by die ontstaansperiode van die Christelike kerk oor persone. Profete tree op in die jong kerk. Hulle was nie skaars nie en daarby baie bedrywig, want Paulus moes hulle optrede selfs aan bande lê (1 Korintiërs 14:29).

veerpen

Ons sien egter in die Nuwe Testament dat die profesie meer en meer verskuif van 'n persoon na 'n boek. Petrus skryf vir sy lesers: "Ons het die profetiese woord wat baie vas is" (2 Petrus 1:19). Ook spreek hy van "die profesie van die Skrif' (2 Petrus 1:20). In die eerste plek bedoel Petrus die geskrifte van die Ou Testament. Maar hy plaas die briewe van Paulus ook onder die­selfde noemer (2 Petrus 3:16).

Die apostel Johannes bind ook die profesie aan die woord. Hy skryf in Openbaring: "Die woorde van hierdie profesie" (1:3), "die woorde van hierdie profetiese boek" (22:7, 10, 18, 19). Ook hier is met die woorde van die profesie in die eerste plek die Ou Testament bedoel. Maar Johannes beskou ook sy eie uitsprake as profetiese woorde.

Die profesie van die Skrif is nie 'n saak van eie uitlegging nie (2 Petrus 1:20). Die verligting van die Heilige Gees is daarby nodig.

'n Profeet word meer en meer iemand wat die gawe van die Gees besit om die profetiese Woord te verklaar en toe te pas.

Het Ons nog Profete Nodig?🔗

In 'n volgende artikel sal ons nagaan hoe in die loop van die kerkgeskiedenis tot op hede volgens hierdie beginsel gehandel is.

In die loop van die kerkgeskiedenis het gemeente-profete soos ons hulle in die Nuwe Testament ontmoet het, meer en meer verdwyn. So nou en dan verskyn daar profete soos by die Montaniste wat die profesie wou laat herlewe. Maar dit het vir hulle gegaan om openbaringsprofete.

Ook in die tyd van die Hervorming is daar opnuut 'n geweldige belangstelling vir die profesie en verskyn daar weer profete. Ons ontmoet hulle veral by die Wederdopers, en met name in Duitsland tree die sogenaamde Zwickauwer-profete op. Hulle het beweer dat hulle direkte openbaringe uit die hemel van die Heilige Gees ontvang. Die fanatici onder hulle het selfs die Bybel as die Woord van God geminag. Hulle profesieë was belangriker. Hierdie profete is as openbaringsprofete beskou.

In die 17de eeu kry ons weer 'n sterk opbloei van die profesie by die Quakers in Engeland. Vandag kry ons dit opnuut in charismatiese kringe. Dan gaan dit om profete wat direk van die Gees besondere openbaringe ontvang.

Die Siening van die Reformatore🔗

Die Hervormers het aan die een kant die uitwasse van die profesie van die Anabaptiste afgewys, maar andersyds het hulle aandag gegee aan die gawe van die profesie. Dit het vir hulle gegaan om gemeente-profete.

Sowel Luther as Calvyn het die profesie met die uitleg van die Woord van God verbind. Profesie is volgens hulle nie nuwe openbaringe nie, maar 'n fris en nuwe verstaan van die openbaring wat ons vind in die Bybel, 'n verstaan van die tekens van die tye in die lig van die Woord van God. Profete is hulle wat 'n besondere insig in die Bybel het en wat dit dadelik kan toepas op die situasie van vandag. Die Hervormers was baie bang gewees vir mense wat sê: "Die Heilige Gees het met my gepraat" of: "Die Here het aan my geopenbaar."

'n Nuwe Vorm van Profesie🔗

Tog het daar in die tyd van die Hervorming 'n nuwe vorm van profesie ontstaan. Dit was die Switserse Hervormer Zwingli wat daarmee begin het. Op grond van 1 Korinthiërs 14:28-33 het Zwingli begin met wat hy genoem het "die profesieë". Oorspronklik was dit bedoel om predikante op te lei. Later het dit uitgebrei tot verklaring van die Bybel en daarna beoordeling van lidmate.

Hierdie profesieë het soos 'n veldbrand oor Europa in die kerke van die Hervorming versprei. Ons vind hulle in Genève, in die vlugtelinggemeentes in Duitsland en Engeland, in Frankryk, Skotland, België en Holland.

Die Reformatore was oortuig dat die charisma, die Geestesgawe van die profesie, nie met die afsluiting van die kanon verdwyn het nie. Ons moet wel goed daarop let dat hulle die profesie verbind het met die uitleg van die Bybel.

Die profesie is beoefen in wat ons sou kon noem gemeentelike byeenkomste, dus nie in die erediens nie. Nie net predikante of ouderlinge nie, maar ook gewone lidmate van die kerk het die profesie beoefen. Hulle het na aanleiding van 'n behandelde Bybelgedeelte dit bespreek en toegepas op hul eie lewe, op die kerk en op die situasie in die wêreld.

TOTIUS

Die Oproep van Totius🔗

Dit is interessant om te weet dat 'n man soos Totius in 1911 by die aanvaarding van die amp van hoogleraar sterk gepleit het vir die herinstelling van die profesieë. In sy boeiende en nog altyd aktuele rede Die sestiende-eeuse profesie en die betekenis daarvan vir ons tyd het Totius in sy siening op die profesie aangesluit by die Reformatore en profesie verbind met die uitleg van die Woord van God. Hy het die verskillende Reformatoriese en Puriteinse modelle noukeurig bestudeer en beveel dan die Londense model van á Lasco aan.

Hy het die noodsaak bepleit van 'n gemeentelike samekoms waar die Heilige Skrif in vervolggedeeltes behandel word en waar nie alleen die predikante nie, maar ook die ouderlinge en daartoe aangewese lidmate voorgaan. Daar is ook lidmate wat die gawe van die profesie ontvang het, wat as gelowiges van die Heilige Gees 'n besondere insig in God se Woord gekry het en wat die gawe besit om in 'n konkrete situasie op grond van God se Woord te sê: dit is die wil van die Here.

'n Ernstige Waarskuwing🔗

Totius wys in sy rede op die gevaar van 'n Gereformeerde Kerk wat onmondig blyk te wees, 'n kerk wat net moet luister (na preke) en ewig moet swyg.

Met volle erkenning van die noodsaak van die besondere ampte en die hou van eredienste pleit Totius vir 'n kragtige beoefening van die amp van die gelowiges. Die gawe van die profesie is nie net aan professore, predikante en ouderlinge gegee nie. Die Heilige Gees gee hierdie besondere gawe ook aan gelowige lidmate van die kerk.

Daar is predikante wat bang is vir 'n sterk aktivering van die amp van die gelowige. Hulle sien Bybelstudiekringe as broeineste vir dwaling. Maar Totius het tereg met voorbeelde uit die kerkgeskiedenis daarop gewys dat dwaling in die meeste gevalle nie deur lidmate nie, maar deur professore en predikante in die kerk ingebring is. "Priesters, pastoors, predikante het dikwels geblyk kerkbederwers te wees, terwyl die eenvoudige volk van God wat in sy trou vir die afval bewaar is, telkens die bewaarder van die heilige kleinood van die suiwere leer was", so skrywe Totius.

Praktiese Aanwysinge🔗

Totius gee allerlei praktiese aanwysinge en wys tegelyk ook op die gevare wat so maklik 'n goeie saak kan laat misluk. Hy toon aan dat die gemeentelike samekoms waarin Skrifwaarhede behandel en bespreek word, vir die oudste Gereformeerde Kerke 'n lewensbehoefte was. Daar moet egter gewaak word dat nie die ervaring op die voorgrond geskuif word nie. Dan staan die mens in die middelpunt en nie God se Woord nie.

Verder pleit Totius daarvoor dat by die "profesie" nie enkele lede van die gemeente in aparte groepies moet saamkom nie. Die Woord van God moet uitgaan tot die ganse gemeente.

Hy beklemtoon ook dat die kerkraad leiding moet neem en dat die gemeentelike samekoms ingerig moet word na die plaaslike omstandighede.

Die "profesie" eis van die kant van die gemeente 'n sekere werksaamheid. Die ampsdraers tree nie alleen op nie. Totius wys daarop dat A. Kuyper in sy Encyclopaedie aan hierdie belangrike saak wetenskaplike aandag gegee het. Kuyper beskryf die medewerksaamheid van die lidmate as die werksaamheid van die "laos", die "populos ecclesiae" en het dit daarom in sy teologiese wetenskap as Laïek aangedui.

saambou blokkies🔗

Totius se Wens🔗

Helaas het die Gereformeerde Kerke tot haar eie nadeel nie na prof. Du Toit geluister nie. Aan die einde van hierdie eeu is dit nog nie te laat om weer aandag aan die wekroep van die profeet van Mooirivier te gee nie.

In 1931, 20 jaar na sy indrukwekkende rede, het Totius weer aandag vir hierdie belangrike onderwerp gevra. Hy het toe die wens uitgespreek: "Ons hoop dat hierdie weinige woorde mag dien om die aandag van ons kerkrade te vestig op 'n saak wat vir ons kerklike lewe van die grootste gewig is."

Ons het juis vandag in die kerk profete nodig: manne en ook vroue wat 'n besondere insig in die Bybel het, wat die tekens van ons tyd verstaan en kan belig vanuit die Woord van God, wat die Bybel dadelik kan toepas op 'n konkrete situasie en wat deur die kragtige werking van die Heilige Gees ongelowiges tot oortuiging van sonde en gelowiges tot verdere geloofsopbou kan bring.