8 bladsye. Vertaal deur Janet Vermaak.

Hulp aan die Versorger: om Uitdagings Aan Te Pak met Begrip en Krag

ou man in stoel

George is nie dieselfde man wat hy voorheen was nie. ʼn Jaar gelede het hy ʼn beroerte gehad wat hom gedeeltelik verlam het. Die beroerte het nie net ʼn effek op sy liggaam gehad nie, maar ook op sy persoonlikheid en sy gedrag. Waar George voorheen ʼn suksesvolle en bekwame advokaat was en getroue diens aan sy kerk gelewer het, bring hy deesdae die grootste deel van sy dag in ʼn stoel deur. Die meeste van die tyd is hy passief en afgetrokke, maar hy kan ook ongeduldig en veeleisend wees. Party dae ontstel die kleinste dingetjies hom, dan kry hy woede-uitbarstings, of hy raak tranerig en klouerig. Dikwels is sy sin vir humor kru en seksueel suggestief. George se optrede is heeltemal buite karakter, en sy gesin weet nie hoe om te reageer nie. Wanneer hulle probeer om hom aan te spreek oor sy gedrag, is hy óf onbewus daarvan, óf verdedigend.

Sy familie is hartseer, verward, ontmoedig en kwaad. Hulle wil medelye hê met George se swaarkry, maar hulle voel uitgeput deur sy knaende behoeftes. Hulle treur oor sy verandering van ʼn liefdevolle en nederige pa en eggenoot, na ʼn man wat lyk asof hy nie veel vir hulle omgee nie. En hulle het baie vrae. Hulle sukkel om George se persoonlikheidsveranderinge te verstaan, en hulle is onseker hoe om hierdie “nuwe” George te ondersteun en lief te hê en hoe om met hoop te leef onder die las van voortdurende versorging.

As jy iemand versorg wat kronies siek is, vra jy moontlik dieselfde tipe vrae. Hierdie gids sal dien as raamwerk om jou te lei in jou versorging van persone met kroniese liggaamlike en verstandelike probleme.

Hoewel beroerte-slagoffers, Alzheimer-pasiënte, en persone wat aan bipolêre gemoedsteurnis ly, verskillende tipes sorg nodig het, is daar algemene beginsels wat jy op jou situasie kan toepas sodat jy Bybels dink, liefdevol optree, en volhard selfs wanneer jy voel asof jy wil tou opgooi.

Almal is geskep na God se beeld🔗

Wanneer ons sê dat iemand die ewebeeld van sy pa is, verwys ons gewoonlik na die fisiese kenmerke van sy aardse pa. Hy lyk (en tree miskien op) soos sy pa. Op ʼn soortgelyke maar diepsinniger manier lyk ons soos die God van die heelal, wat beide sy karakter en sy dade betref. Jy en die persoon wat jy versorg is geskep na die beeld van God (Genesis 1:26-28; Psalm 8:4-8).

God het ons gemaak om sy beeld te weerspieël in die wêreld. Ons doen dit nie perfek nie, as gevolg van sonde en siekte, maar ongeag ons gebreke, hou ons nooit op om God se beeld uit te straal nie! George is net soveel ʼn beelddraer van God ná sy beroerte as wat hy was voor sy beroerte. Die persoon wat jy versorg dra ook God se beeld.

versorger

Die evangelie gaan oor die hernuwing van die ware beeld van God deur Jesus Christus (Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10). Hierdie proses word nie omver gegooi deur siekte of gebrek nie. God gebruik eerder hierdie dinge sodat ons meer soos Hy kan word. God belowe dat hy die werk sal voltooi wat hy in elkeen van ons begin het (Filippense 1:6). Dit beteken dat God sy transformerende werk doen in die persoon wat jy versorg en dat hy jou terselfdertyd verander wanneer jy voor die uitdagings van versorging te staan kom. Hy vervolmaak die karakter van Christus in beide van julle te midde van julle stryd.

Elkeen het ʼn liggaam en ʼn gees🔗

Jy en die persoon wat jy versorg het ʼn liggaam en ʼn gees (Genesis 2:7; Prediker 12:7; Johannes 3:6; 2 Korintiërs 4:16-18). Volgens die Bybel bestaan ons uit twee elemente: die gees (of siel, hart, verstand, innerlike persoon) en die liggaam (of vlees, uiterlike persoon).

Wanneer ons praat van die “gees” of “hart”, praat ons van kwessies van motivering, geloof, om teen of vir God te wees, geregtigheid en ongeregtigheid, emosies, en die wil om op te tree. Wanneer ons praat van die liggaam dink ons in terme van gesondheid teenoor siekte en krag teenoor swakheid. Party van hierdie onderskeidings is makliker as ander: skinder en haat is duidelik kwessies van die hart. Daarteenoor is ʼn beroerte, Alzheimer se siekte, of traumatiese breinbeserings duidelik liggaamlike kwessies. ʼn Mens kan berou hê oor haat en jou daarvan bekeer, maar ʼn mens kan jou nie bekeer van Alzheimer se siekte nie.

Ons moet hierdie twee aspekte van ons identiteit onthou omdat ons geneig is tot uiterstes. Ons fokus óf op die fisiese aspekte van ons bestaan en heg minder belang aan die geestelike aspekte van ons rol as beelddraers, óf ons fokus op die geestelike aspekte van ons menswees en onderbeklemtoon die fisiese aspekte.

Beide die liggaam en die hart moet egter in ag geneem word wanneer dit kom by liggaamlike swakheid en sonde wat spruit uit ʼn hartstoestand. Dit wat sigbaar is in die persoonlikheid van die persoon wat jy versorg – die totaalpakket van die persoon se interaksie met God en sy naaste op die vlak van gedagtes, emosies, motiewe en dade – is ­ʼn kombinasie van sowel liggaamlike krag en swakheid­ as hartsmotiverings.

By party dinge lê die klem by die liggaam/brein (George se verlamming) en by ander speel die hart ʼn groter rol (George se woede-uitbarstings en suggestiewe aanmerkings), maar daar is tog dinge wat oorvleuel, nie waar nie? George se passiwiteit is moontlik die gevolg van ʼn liefde vir gerief en gemak wat daartoe lei dat hy van sy familie onttrek, eerder as om hom in te span om met hulle te kommunikeer. Maar fisiese en verstandelike uitputting is algemene simptome van die naskok van ʼn beroerte, wat aandui dat fisiese swakheid ook ʼn rol speel. Die volgende vrae is daarom belangrik as dit kom by wyse, effektiewe sorg:

  • By watter gedrag speel die geestelike aspek ʼn oorheersende rol (kwessies van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid)?
  • By watter gedrag speel die fisiese ʼn oorheersende rol (kwessies van swakheid en swaarkry)?
  • Of is hierdie gedrag – soos wat dikwels die geval is – ʼn kombinasie van beide liggaamlike beperkings en geestelike kwessies?

ouer persoon

Hierdie vrae sal meer duidelikheid verskaf en rigting gee aan jou versorging. Jou onbegrip en onvermoë om hierdie gedrag te begryp en te verwerk bemoeilik jou taak as versorger. ʼn Begrip van die onderskeid tussen die geestelike en die fisiese sal jou help om te weet wanneer jy troos moet bied, en wanneer jy die persoon se optrede moet uitdaag.

Moenie verbaas wees dat mense meer geestelike probleme ervaar ná ʼn fisiese gebeurtenis soos ʼn beroerte, of in die geval van ʼn kroniese siekte nie – daar is ʼn baie nou verbintenis tussen die liggaam en die hart. Liggaamlike swakhede beïnvloed ons geestelik. Die fisiese affekteer die geestelike, hetsy dit positief of negatief is. Maar jy kan die persoon wat jy versorg herinner dat Jesus sy innerlike vernuwing in ons lewens voortsit, selfs al verswak ons liggame (2 Korintiërs 4:16).

Moedig die persoon na wie jy omsien aan om daagliks die Gees om hulp te vra. Hoewel unieke versoekings aan sy of haar gebrek verbonde is, herinner die apostel Paulus ons aan die volgende: “Geen versoeking wat meer is as wat ʼn mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Korintiërs 10:13). Herinner elke dag die persoon wat jy versorg aan God se getrouheid, en bid saam dat die genade sal voortduur.

Wees bewus van jou versoekings🔗

Net soos wat die persoon waarvoor jy sorg bepaalde versoekings beleef, sal jy as versorger ook in sekere areas versoek word. Drie struikelblokke wat algemeen voorkom is woede, vrees en ʼn gevoel van onmisbaarheid.

Sukkel jy met woede? Hoe weet jy of jy sukkel met woede teen God, of teen die persoon vir wie jy sorg? Vra jouself af of enige van die volgende gedagtes in jou kop omgaan:

  • Ek wil verligting hê, maar God voorsien dit nie.
  • Kan enige iets glad verloop? Al wat ek wou gehad het was...
  • Ek verdien beter as hierdie.
  • Al waarvoor ek vra is om ʼn normale familie te wees.
  • God het vir my ʼn swaarder las gegee as wat ek kan dra.

Sukkel jy met vrees? Jou vrese en angs kry dikwels uitdrukking in die volgende gedagtes:

  • Wat as dinge erger word? Ek sal dit nooit kan hanteer nie!
  • Daar is geen manier dat ek hierdie op die lang duur kan doen nie.
  • Ek sien niks meer as hartseer vir die res van ons lewens nie.
  • As ek nie op die regte manier dien nie, gaan ek die situasie erger maak.
  • Hoe gaan ons ooit die mediese rekening betaal?

versorger

Dink jy jy is onmisbaar? As jou hele lewe rondom die versorging draai sodat jy naderhand jou ander verhoudings en selfs jou fisiese en geestelike lewe afskeep, dan ly jy moontlik aan die “onmisbaarheid-sindroom”. Hierdie sindroom sluit die volgende in:

  • Niemand kan dit beter doen as ek nie.
  • Niemand gee om behalwe ek nie.
  • As ek dit nie doen nie, gaan niemand nie.

As jy hierdie drie dinge (en meer!) in jou hart sien, draai na die Here toe en vind sy genade, barmhartigheid, en ondersteuning te midde van jou swaarkry (Hebreërs 4:16). Om woede te oorkom, oordink die feit dat God, wat nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom aan ons gegee het as die grootste geskenk wat bestaan, ook nie dit wat ons werklik nodig het van ons sal weerhou nie (Romeine 8:32). Wat vrees betref, neem Jesus se woorde ter harte: “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee” (Lukas 12:32). Teen die gevoel van onmisbaarheid en selfgenoegsaamheid, onthou: God se krag “kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Korintiërs 12:9).

Onthou, daar is meer ooreenkomste tussen jou en die persoon wat jy versorg as verskille. Julle is beide gemaak na God se beeld. God wil albei van julle transformeer sodat julle ʼn pragtige spieëlbeeld van sy karakter vir die wêreld sal wees. Hierdie transformasie gebeur soos wat jy Hom elke dag vra vir wysheid en krag deur sy Gees, en deur geloof op Hom vertrou in alles wat jy nodig het vir lewe en diens aan God (2 Petrus 1:3).

Kyk uit vir tekens van “versorgersuitbranding”🔗

Wanneer versorgers “uitbranding” ervaar, beteken dit dat die geestelike, fisiese en sosiale bronne wat die enjin van hulle daaglikse lewens voortdryf, uitgeput is. Watter tekens waarsku jou dat jou brandstoftenk leegloop? Kom ons kategoriseer hierdie tekens in sosiale, fisiese en spirituele terme.

Sosiale waarskuwingstekens:

  • Jy het min of geen tyd vir verhoudings buite jou huishouding nie.
  • Jy en jou eggenoot staan min tyd af om met mekaar te praat.
  • Jou betrokkenheid by jou kinders se lewens het drasties verminder.
  • Daar is langdurige, onopgeloste spanning tussen jou en jou eggenoot of tussen jou en jou kinders.
  • Dit voel asof daar niemand is om mee te praat wat jou probleme sal verstaan nie.
  • Jy voel eensaam en alleen.
  • Jou werksproduktiwiteit neem af.

Fisiese waarskuwingstekens

  • Jou slaap word dikwels onderbreek.
  • Jy voel die meeste van die tyd moeg en fisies uitgeput.
  • Jy het opgehou om fisiese oefening te doen.
  • Jy eet te veel of te min.
  • Jy het dikwels kopseer of jy ervaar probleme met spysvertering.
  • Jy het ander nuwe gesondheidsprobleme.

verpleegster

Geestelike waarskuwingstekens

  • Jy het ophou Bybel lees en bid.
  • Jy het onttrek uit die kerkgemeenskap.
  • Jy voel asof niemand vir jou omgee nie.
  • Jy voel gefrustreerd en onvergenoegd oor die hoeveelheid tyd wat jy aan versorging afstaan.
  • Jy ervaar min of geen lewensvreugde.
  • Jy voel depressief en wanhopig.
  • Dit voel asof jy jou take meganies uitvoer, sonder dat jou hart daarin is.
  • Jy ervaar huilbuie.
  • Jy voel dikwels angstig en oorweldig.
  • Jy is dikwels geïrriteerd en kort van draad.
  • Jy ervaar nooit meer God se teenwoordigheid en krag wat jou toerus vir jou taak as versorger nie.

Waak daarteen dat jy nie ʼn outomatiese, altydlopende versorgingsmasjien word nie – wat beide die fisiese en die verstandelike betref. Ongetwyfeld, soos wat jy reeds besef het, is dit wel nodig om meer pro-aktief, meer bedagsaam en self-opofferend te wees as wat jy ooit verwag het. Hoewel dit ʼn cliché is, is dit waar: As dit kom by diensbaarheid, kan jy nie gee wat jy nie het nie. As jy Christus se genade wil oordra aan ʼn geliefde, moet jy self sy genade en barmhartigheid ervaar in tye van nood (Hebreërs 4:15-16). Moet dus nie hierdie waarskuwingstekens in jou lewe ignoreer nie, maar laat dit jou lei tot ʼn dieper afhanklikheid van Jesus. Jy sal hierdie afhanklikheid aanleer soos wat jy die volgende praktiese stappe volg.

Praktiese strategieë om verandering teweeg te bring🔗

Op jul merke, gereed, bedaar!🔗

As jy nie oefen om te bedaar en stil te word voor God nie, gaan jy vergeet wie God is: “ʼn toevlug en ʼn beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood” (Psalm 46:2, 10). Daarom, te midde van die druk in jou lewe, moet jy seker maak dat jy nie ophou om eenvoudig by Jesus se voete te sit en by Hom te leer nie. Maar omdat jy soveel tyd afstaan aan versorging, sal jy miskien jou verwagtinge moet verander wat die tyd wat jy saam met God spandeer betref. Ek het altyd gedink dat ek nie ʼn ontmoeting met God kon hê sonder vyf-en-veertig minute of meer se “stiltetyd” nie. In hierdie tyd het ek myself afgesonder vir Bybellees en bid. Ek dink steeds dat individuele gebed en Bybelstudie belangrike praktyke is, maar daar is baie ander maniere om ʼn verhouding met God te onderhou. Al kry jy ʼn tydgleuf waarin jy Bybel kan lees en bid, beteken dit nie dat jy noodwendig daardie tyd effektief gaan aanwend nie. Ek het al baie stiltetye gehad wat so stil was dat ek aan die slaap geraak het! Jy moet dalk jou verwagtinge aanpas wanneer dit kom by individuele Bybelstudie en gebed – miskien sal dit meer uitvoerbaar wees om verskeie 10-minuut-sessies in plek te stel, eerder as ʼn langer tydperk.

Bo en behalwe jou persoonlike stiltetyd, dink na oor maniere waarop jy kan oefen om die teenwoordigheid van God te ervaar (“practice the presence of God”, soos wat Broer Lawrence dit stel) te midde van jou daaglikse aktiwiteite. Hier is ʼn paar idees:

  • Leef voortdurende, afhanklike gebed uit. Te midde van enige aktiwiteit, besef en verwoord (of dit nou hardop of in stilte is) dat God deur sy Gees by jou is. Roep uit na hom in swaar tye. Praat met Hom terwyl jy alledaagse take doen soos skoonmaak of beddegoed oortrek. Hierdie “aan-die-gang-gebed” bou ʼn voortdurende afhanklikheid van God se genade in jou lewe in. Gebed word ʼn leefstyl, eerder as bloot ʼn gebeurtenis.
  • Bly dankbaar. Dikwels verswak ons verhouding met God as ons sy voorsienigheid in ons lewens uit die oog verloor. Onderneem om op ʼn pro-aktiewe manier dank aan God te bring en prys Hom vir die vele maniere waarop Hy na jou as versorger omsien. Vra Hom vir oë om te sien watter klein seëninge Hy alles op jou pad bring (Romeine 8:32).
  • Indien moontlik, betrek die persoon wat jy versorg. Die uitvoerbaarheid hiervan sal afhang van die persoon na wie jy omsien. Maar jy kan probeer om kort gedeeltes uit die Bybel hardop te lees, lofliedere te sing (selfs al het jy nie ʼn mooi stem nie!), en te bid (selfs al is jy die enigste een wat kan praat).
  • Luister lofliedere of preke terwyl jy werk. Dit mag dalk aanvanklik ongefokus voel, maar jy sal verbaas wees hoeveel jy daarby baat om goeie musiek en goeie lering in die agtergrond te hê.

musiek luister

Gemeenskap met God vind ook plaas wanneer Sy mense saamkom om te aanbid, veral tydens nagmaal. Maak seker dat jy genoeg hulp het sodat jy gereeld saam met medegelowiges byeen kan kom (Hebreërs 10:25).

Let op jou eie gesondheid🔗

Onthou dat Jesus, in die warrelwind van bediening, geëet en gedrink het, geslaap het, en tyd deurgebring het saam met beide sondaars en gelowiges. Voortdurende fisiese uitputting, slapeloosheid, of uitstel van jou eie gesondheidsverwante kwessies sal uiteindelik jou vermoë om met wysheid en medelye te dien, belemmer. Maak dus seker dat jy vir jouself sorg, selfs wanneer jy omsien na die behoeftes van iemand anders.

Ondersoek jou eie hart🔗

Die konsentrasiekamp-oorlewende Victor Frankl het eenmaal gesê: “As ons nie meer in staat is om ʼn situasie te verander nie, word ons uitgedaag om onsself te verander.” Jy mag dalk nie in staat wees om iets te doen aan die kroniese, lewens-veranderende aspekte van jou geliefde se fisiese of verstandelike stryd nie, maar jy kan seker wees dat God van plan is om jou deur die versorgingsproses te vorm sodat jy meer en meer die karakter van Christus sal aanneem.

Ondersoek jou eie hart deur vas te stel hoe jou begeertes, eise, vrese, onsekerhede, behoeftes en verwagtinge jou vermoë om te bedien beïnvloed. Kyk weer na die afdeling oor versoekings. Vra vir God om vir jou te wys met watter areas van jou lewe jy sukkel. Waarheen lei jou versugtinge? Hierdie vrae sal openbaar wat jy die meeste op prys stel en wat jou onderwerping aan God se wyse ontwerp vir jou lewe kan terugplaas.

hart

Wees ʼn instrument van verlossing🔗

Vra God om jou die wysheid te gee om te onderskei tussen jou verantwoordelikhede en dit waarvoor jy nie verantwoordelik is nie. Jy word geroep om jou broer se oppasser te wees, nie sy verlosser nie! In elke situasie is daar dinge waartoe ons geroep word, wat ons nie aan enige iemand anders kan oorgee nie. Dit is ons verantwoordelikhede, en God beloof om die middele te voorsien om getrou te kan bly aan sy opdrag op daardie spesifieke oomblik. Maar daar is baie dinge wat ons bekommer, maar wat tog buite ons beheer of bo ons vuurmaakplek is.1 Dink aan George. Watter spesifieke verantwoordelikhede lê God op George se familie se skouers? Hulle word geroep om vir George te bid. Hulle word geroep om Paulus se woorde in Efesiërs 4:31-32 uit te leef: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.”

Dit beteken nie dat hulle vriendelik sal reageer as George hulle woedend te na kom nie; dit beteken dat hulle verdraagsaam en vergewensgesind sal wees as George teen hulle sondig. Maar daarby word hulle geroep om die waarheid van die evangelie in George se lewe in te bring, en om hom met sagmoedigheid reg te help (Galasiërs 6:1). Hulle word geroep om George se wêreld binne te tree, om te leer verstaan waarom hy met spesifieke dinge sukkel en om dan die liefde van Christus aan hom oor te dra.

Waaroor moet George se familie besorg wees, sonder om dit te beskou as hulle uiteindelike verantwoordelikheid? Wel, vir seker George se reaksies! Hulle is nie verantwoordbaar vir die manier waarop George reageer nie, selfs al mag dit baie ontstellend vir hulle wees. Al wil hulle hoe graag hê George moet verander, en al mag God hulle roep om ʼn omgewing te skep wat George kan help om te verander (hier kom ons weer terug by dit wat gesê is oor verantwoordelikheid), kan hulle doel nie wees om George “reg te maak” nie. Net God kan daardie soort verandering teweeg bring. Moet hulle bewus wees van George se voortdurende toewyding aan God deur die manier waarop hy met ander omgaan? Ja! Moet hulle bewus wees van sy sondebelydenis? Ja! Maar wat hierdie dinge betref, moet hulle George aan God toevertrou. Om ʼn houding in te neem van biddende vertroue, sal help om vas te stel wanneer meer direkte optrede (verantwoordelikheid) nodig is.

biddende hande

Partykeer gaan jy die fout maak om eerder te wag en sien wanneer jy eintlik korrektiewe, herstellende stappe moes neem om die persoon te help. Ander kere weer gaan jy dalk te veel verantwoordelikheid op jouself neem wanneer jy jou familielid moet versorg. Dank die Here wanneer Hy jou wys dat dit dalk beter sou gewees het as jy ʼn ander pad geneem het. Maar beweeg dan vorentoe en bid vir sy beloofde wysheid om jou te lei deur jou voortdurende uitdagings (Johannes 1:2-5).

Wanneer jy glo dat jy geroep word om op te tree (en nie bloot te wag en te bid nie), pas jou benadering tot die probleem aan op grond van die liggaam-gees onderskeidings wat ons reeds bespreek het. Herken die beperkinge wat die liggaam/brein op jou familielid plaas en reageer daarvolgens. Jou verwagtinge vir die ander persoon sal varieer afhangende van sy fisiese krag en swakhede.

Leef in gemeenskap🔗

Die Bybel maak dit duidelik dat afhanklikheid van ander die normale manier is om te leef. Moet asseblief nie swaarkry in stilte nie, vra eerder om hulp. Vra familie, vriende en jou kerkgemeenskap om jou te help. En aanvaar dan die hulp wat aangebied word. Selfs as dié wat help nie noodwendig dinge presies doen soos wat jy dit sou doen nie, kan hulle steeds ʼn seëning vir jou wees. Stry teen jou geneigdheid om die “onmisbare een” te wees deur jou swaarkry met dié rondom jou te deel en deur die ondersteuning wat ander mense aanbied te aanvaar.

Om holistiese versorging te bied aan iemand met ʼn kroniese siekte waaraan jy niks kan verander nie, is moeilik, maar terselfdertyd ook bevrydend. Laat Paulus se woorde jou vandag aanmoedig: “Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie”(1 Korintiërs 15:58).

God het jou die unieke taak gegee om die evangelie van Jesus Christus uit te dra in beide woord en daad. Hoewel jy dalk soms voel dat niemand weet waardeur jy gaan nie, sien God jou raak. Hy weet van al jou swaarkry en opofferings en Hy is by jou, gereed om te help in jou tye van nood.

Endnotes🔗

  1. ^  Sien Paul David Tripp, Instruments in the Redeemer’s Hands, (Phillipsburg, NJ: P&R, 2002), 250-257.